
Sommige dinge voeg onbeskaamd die daad by hulle voorkoms. Ander probeer lyk soos wat hulle wíl wees, maar kry dit nie altyd reg nie.
Die verskil is nie altyd sigbaar nie.
Daar is kwalik ’n sterker ikoon van Suid-Afrikaanse suburbia as die Toyota Corolla Cross, wat in 2021 plaaslik onthul is. Nes ander vervaardigers, is Toyota destyds genoop om op die kruisnutssneltrein te spring en om daarmee die sterwende Corolla-sedan, waarvan daar meer as 1 miljoen eenhede oor 11 generasies vanaf 1966 plaaslik verkoop is, te reduseer tot ’n motor vir toeproeptransport.
Weens dalende vraag word die sedan slegs as ’n enkelmodel ingevoer nadat die Corolla Cross sy plek op die produksielyn in Prospecton oorgeneem het.
Want die motorwêreld, uhm, staan nooit stil nie. Die sedansilhoeët het oor die afgelope dekade so uit die mode soos Vernon Koekemoer-grappe geraak. En verbruikers word al hoe meer verlief op die rithoogte en veelsydiger ruimtebenutting van die sportnuts (asook die verbeelde verbeterde veiligheidsaspek). Dis nou vir diegene met weinig regverdigbare behoeftes vir ’n hardebaard Baviaanskloof-bosbreker.
Soos die Corolla-kenteken sy Grasshoppers stil-stil, dog onvermydelik, vir ’n paar Salomons verruil het, was die transformasie van die sedan na ’n kruisnuts dus een van die mees ongeprotesteerde paleisrevolusies in die Suid-Afrikaanse motorgeskiedenis.
Die Corolla Cross het gedebuteer as ’n meesterklas van voorstedelike pragmatisme. Maandag tot Vrydag karwei hy skoolkroos. Saterdagoggend by die hardwarewinkel (vir daai selfdoenprojek wat nooit vlerke gaan kry nie). Saterdagaand? Wyksvergadering toevallig naby die ontkleeklub. Sondag? Vroom op Mevrou Dominee se parkeerplek langs die oulike koster s’n.
Die motor is betroubaarder as jou gewillige buurvrou wanneer jy ’n laaste bietjie sout vir ’n skaapboud kort. Dit is ekonomies soos ’n goeie huishoudster en onopvallend genoeg dat jy hom maklik twee keer buite die Checkers kan miskyk.

Of, soos Theunis Engelbrecht in “Jong Dames Dinamiek” op die Voëlvry-album sing: “Sy’s voorbeeldig. Sy vloek nie. En sy drink niks wyn.”
Ha?
Nee, in ons toetsmodel skuil daar ’n rooi-en-swart tatoeëermerk onder dié netbalspankaptein se plastiekslimhorlosie: Dit is die letters G, R en S, vir Gazoo Racing Sport.
Wie?
Op praat van Toyota se fiksheidsvleuel.
- In die kompetisiearena: by Le Mans en die Dakar-tydren.
- Op die pad: verantwoordelik vir die maatskappy se rasegte adrenalienmasjiene soos die GR Yaris- en GR Corolla-bukse, asook die GR86.
In die geval van die Corolla Cross dui die S (vir Sport) in GR-S egter ironies op iets makker. Ja, daar is meer gespierde vering en skerper stuur vir beter, sportiewe hantering. Ons kry ook ’n sterk spoedsoekbinneruim (dink rooi veiligheidsgordels met bypassende stiksel), ja. Tog, nieteenstaande die visuele belofte van ekstra spoed is daar nie ’n duit ekstra perdekrag vergeleke met hulle mindere sibbe nie.

Trouens, met vervaardigingsdoeltreffend as ’n godsdiens by Toyota doen dieselfde 1,8-liter-enjin diens in elke Corolla Cross. Al verskil is dat hy hibried is in die HEV-weergawes en ’n bietjie ekstra batteryondersteuning op kennisgewing het om die petrolenjin by te staan.
Daar’s nie ’n toereteller nie – net ’n energiemeter wat wys of jy op daardie oomblik met battery- of binnebrand-aandrywing ry. Moet ook nie dink jy gaan soggens die bure met ’n leeubrul wakkermaak wanneer jy sy GR-S-gemerkte aansitknoppie druk nie – hy skakel amper altyd in sy elektriese modus aan en seil daarna swygend in die strate – tot die petrolenjin aanmeld wanneer die batteryvlak laag is, of daar ’n groter aanvraag na krag is en die petrolenjin intree.
Nes Toyota se oorspronklike Prius. Want die Corolla Cross ís in wese die moderne Prius. Net met minder fanfare oor sy hibriditeit.

Om die duiwel sy eer te gee: Die GR-S se hoërgraadvering help tóg as jy deur die draaie aanstoot. Maar in grade van ritgehalte is dit ’n jellie wat jy vir die Vroue-Landbou-Unie se jaareinddinee met ’n halfkoppie té min water aangemaak het: ferm, maar nie onvriendelik nie.
Dis alles bevredigend – maar stadig oor die klippe (of teer). Sodra jou regtervoet die belofte van die GR-S-wapen wil beproef, tree die hibriede stelsel se gewete tussenbeide. Nie veroordelend nie, sonder verontskuldiging – dis net sy aard.
Is die GR-S HEV teen R569 700 as vlagskip dan noodwendig die slimste koop in die Corolla Cross-reeks?
Vir R17 300 minder bied die XR HEV-weergawe ’n meer ontspanne rit, dieselfde grootte skerms (as dít jou geval), ’n identiese dryfstelstel, asook die GR-S se aktiewe veiligheidsuite. Laasgenoemde behels onder meer botsvoorkoming- en baandwaalbeheer, sowel as hoofligte wat outomaties verdoof wanneer aankomende verkeer bespeur word.
Die XR is minder aandagsoekerig, dog ewe ekonomies; meer besadig en dalk effens meer sinvol.
“Dare I disturb the universe?” vra TS Eliot in “The love song of J Alfred Prufrock”.

Hy het nie. En die Corolla Cross GR-S het ook nie, want die stelsel het reeds vir hom besluit. Juis in daardie aarseling – in die ruimte tussen die tatoeëermerk en die werklikheid daaronder – skuil iets onmiskenbaar menslik: die stil vrede van ’n lewe netjies binne sy grense. Hier is nooit té van enigiets nie.
Die tatoeëermerk vervaag.
Die parkeerplek bly.
Toyota Corolla Cross 1.8 GR-S HEV
Taksering: ***½
Prys: R569 700
Dryfstelsel: 1,8-liter-petrolenjin + elektriese motor, 4 silinders, 72 kW @ 5200 r/min, 142 Nm @ 3 600–4 000 r/min (gekombineerd: 90 kW); outomatiese ratkas, voorwielaandrywing
Verrigting: 0–100 km/h 11,96 sekondes, topsnelheid 170 km/h
Verbruik: 4,3 l/100 km (volgens die vervaardiger)
Naverkope: 3-jaar/100 000 km-waarborg, 6 dienste/90 000 km-diensplan, 8-jaar/160 000 km-hibriedebatterywaarborg
- Fotografie: Toyota

