Motorrepubliek: ’n Ry-indruk van die Toyota Land Cruiser FJ 2.7 4x4 6AT VX

  • 0

Had jy ’n rand vir elke “motorkenner” wat jou wil wysmaak oor die nuwe Toyota Land Cruiser VX se ongesonde dors, het die nulle in jou banksaldo mak-mak gelyk gestaan met die 2 700 kubieke sentimeters wat die nuweling se taxi-enjin beslaan.

Dog dalk nie heeltemal vergelykbaar met Don Fabrizio Corbera, die prins van Salina in Giuseppe Tomasi di Lampedusa se Il Gattopardo van 1958 nie. Dié boek vertel hoe die Siciliaanse aristokraat worstel met die onvermydelikheid van verandering. Die Bourbon-monargie se houvas op die eiland is besig om te glip terwyl Giuseppe Garibaldi se jong, revolusionêre Italië begin gestalte kry en ’n nuwe bourgeoisie gereedstaan om die ou aristokrasie se plek in te neem.

Fabrizio is ’n elegiese tragiese held. Nie omdat sy persoonlikheid ’n argetipiese katastrofale fout vervat nie: hy is intelligent genoeg om die ondergang van sy eie wêreld te begryp, maar ontbreek die vermoë om die man te word wat dit kan red.

En dis ’n ideale vertrekpunt vir die vierde en jonkste toevoeging wat Toyota se Land Cruiser-kenteken dra. Want hoe behou jy ’n legende wanneer die wêreld om hom aan die verander is?

Ná 75 jaar en 12.4 miljoen eenhede verkoop, keer die FJ-naam triomfantelik terug in 2026. Met korter afmetings as sy voorganger, asook onder die enjinkap waar die kragbron krimp van 4.0- na 2.7-liter krimp. Die knaap maak ’n buiging met ’n sessyferprys agter sy naam, vergelykbaar intree-Fortuners, pleks van sy ’Cruiser grootboeties (die 300, die 70s en die Prado) se sewesyferplakkers.

Toyota het dié jong prins – gebou in Thailand – opgeroep te midde van die opgang van die nuwe bourgeoisie soos die GWM Tank 300, BAIC B40 Plus, Mahindra Scorpio-N en die vyfdeur-Suzuki Jimny. Almal ewe vaardig en toegerus met leerraamonderstelle en hardebaardviertrekaandrywing. Kompak genoeg vir Bantry Bay. Vreesloos in die Baviaanskloof.

Die verskil? Die FJ- en BJ-regime heers al sedert 1951.

Terwyl kajuitgerief lankal nie meer ’n ononderhandelbare is nie, balanseer die nuwe FJ duursaamheid met veelsydigheid op ’n sinvolle wyse. Dis maklik om plastiekbedekking in voertuigbinneruime as goedkoop of laegehalte af te maak, maar in die veldrygenre, waar stof en sand deel is van jou alledaagse lewe, is dit ’n praktiese noodsaaklikheid.

Die VX-vlagskipmodel beskik oor ’n paar ekstra luukshede bó die intree-GX-weergawe. Dit sluit in 18-duim-allooiwiele, ’n faux-leer-binneruim, en ’n aktiewe veiligheidsuite wat onder meer baandwaalbeheer, botsvoorkoming, aanpasbare snelheidsbeheer en selfverstellende hoëstraalhoofligte insluit.

Terwyl die viertrekbeheerstelsels (ook die moontlikheid om in tweede rat op geoliede gruis te kan wegtrek), gerieflik aangrensend aan die rathefboom geplaas is, is die karige, laeresolusie 8-duim-inligtingvertoon-raakskerm ’n teleurstelling. Dis wel opgradeerbaar. Natuurlik teen ’n prys.

Dis onwys (en ietwat onelegant) om die Land Cruiser FJ met sy 245 mm-grondvryhoogte sonder hulp van sy treeplanke te probeer betree. Daarna is die skipperstoel gemaklik vir selfs die langpad; en, ten spyte van ’n Hilux-onderstel bied die FJ se veelskakel-agtervering (pleks van bakkie-tipe-bladlemme) ’n verbasend sussende rygevoel vir ’n motor wat steeds ’n hardebaard veldryer bly.

Op 1855 mm is hy net so breed soos ’n Fortuner, maar sy 220 mm korter lengte en 165 mm asafstand beteken hy draai skerper as wat jy verwag, wat hom minder lomp in die verkeer maak.

En daai olifant onder die enjinkap? Toyota het die 2TR-FE reeds in 2004 bekendgestel. Die kragbron het al diens gedoen in die Hilux, sowel as in die HiAce-, Quantum- en Innova-bussies op die plaaslike mark. Sy kragsyfers (122 kW/245 Nm) is net so onindrukwekkend soos die beweerde gemiddelde 10,7 liter-verbruiksyfer (in werklikheid nader aan 13 liter per 100 km).

Die sesspoed- outomatiese ratkas doen sy bes om die enjin se beste kant te wys, maar omdat die kragpieke eers in die stratosfeer van die toerestrek gelewer word, is die ratkas ewig aan die soek vir ’n laer rat terwyl jou ore – en beursie – die prys daarvoor betaal.

Bygesê, waar jy wringkrag by die verkeerslig soek, is ’n skielike oormaat daarvan ongewens wanneer rotse en gruis trapsuutjiesgewys gemaneuvreer moet word. Dit kan die wiele laat tol en die bestuurder sodoende beheer teen ’n helling laat verloor.

Die FJ se tekort aan wringkrag teen lae toere word in wese ’n meganiese vastrapbeheer wanneer hy skaatsterrein aandurf.

En hier – waar bepalings van stedelike normaliteit en die konvensie van cool nie meer geld nie – is die FJ oplaas terug in sy element. ’n Wiel in elke hoek dra by tot van die hoogste nader- en vertrekhoeke in sy klas. Bultklimbeheer (op- en afwaarts) tesame met ’n agter-ewenaarslot en stabiliteitsbeheer laat jou uitsien na velerlei “Hou my dop vas”-oomblikke. Sonder ’n rooi gesig agterna.

Vat jy hom bó ’n Fortuner? As kwasi-7-sitplekker is laasgenoemde toegerus met die dieselenjin waarvoor almal in die FJ smeek. Daarvoor sal jy eers nog moet wag, sê Toyota. Intussen is dit die moeite werd om te weet die goedkoopste viertrek-Fortuner-ekwivalent wat ’n VX-kenteken dra, R209 000 meer kos.

Daar staan iewers geskryf dat in ’n wêreld waar intelligensie gratis bekombaar geword het,  outentiekheid prysloos is.

Die Land Cruiser FJ is vasgevang tussen twee definisies van vooruitstrewing: die romantiek van meganiese bemeestering teenoor die slimheid van sagteware en doeltreffendheid.

Regte enjin, verkeerde voertuig? Niemand ken gesofistikeerde hibriede aandrywing beter as Toyota nie (die Prius is al amper 30 jaar oud). En die FJ se meganiese intelligensie, wat Prado- en Fortuner-DNS deel, bly ewe onbestrede.

Tien, twintig of dertig jaar gelede sou die keuse van kragbron jou nie gepla het nie. Dis eerder die hedendaagse obsessie met doeltreffendheid wat intussen die maatstaf vir wat ’n moderne motor se deugde bepaal, herdefinieer het.

Jy kan vra op watter punt die behoud van identiteit begin gelykstaan met die onwilligheid om te moderniseer. Of jy kan sê die Toyota Land Cruiser FJ is een van die laaste oorblywende argumente ten gunste van ’n motorfilosofie wat besig is om uit te sterf. Óf jy kan, soos Don Fabrizio, aanvaar dat die wêreld nie stilstaan nie – en desondanks besluit dat dít wat oud is, nie verouderd is nie.

Dís tog die definisie van ’n ware legende: iets wat sy identiteit behou, al het alles om hom verander.

Toyota Land Cruiser FJ 2.7 4x4 6AT VX

  • Taksering: ****
  • Prys: R761 400
  • Dryfstelsel: 2,7 liter-petrolenjin, 4 silinders, 122 kW @ 5 200 r/min, 245 Nm @ 4 000 r/min; 6-spoed-outomaties, vierwielaandrywing met lae- en hoëtrek
  • Verrigting: Nie beskikbaar
  • Verbruik: 10,7 l/100 km (aangevoer)
  • Naverkope: 3-jaar- of 100 000 km-waarborg, 9 dienste/90 000 km-diensplan
Lees meer hier:

Die Motorrepubliek se padkaart

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top