
Vir elke keer wat Mike Schutte by ’n kroeg instap, wag daar reeds ’n Porsche 911-ontwerper wat na die onderkant van sy glas staar. Oorkant hom sit sy Toyota Hilux-eweknie, peinsend en baardvrywend. Dié paartjie se klandisie kon nie verder van mekaar verwyder wees nie, tog is hulle verenig onder dieselfde juk. Hoe vernuwe jy iets wat reeds gevestig, vertroud en geliefd is?
Die 911-skilder se doodsvrees is visuele vervreemding. Vir die Hilux-skepper is dit verwagting: die versigtige omgang met sy verlede as die rou materiaal waarmee sy toekoms met die bekendstel van elke nuwe model gegiet word.
Braai. Bier. Boer. Biltong. Brandewyn. En tog, voor jy gebliksem word: Bakkie. Onteenseglik Suid-Afrikaanse ikone. Maar waarom? Omdat die bakkie so ’n veelsydige karteerder van die Suid-Afrikaanse sosiokulturele evolusie is. Van aanvanklik ’n nederige gereedskapstuk na gesinsvervoer tot ’n hedendaagse statussimbool.

So heilig soos die Familiebybel in die wakis. Onwrikbaar vir dekades in sy weiering om sy identiteit in te boet.
Vir 58 jaar lank was die Toyota Hilux die draer van hierdie geakkumuleerde assosiasies. Nege generasies van werk en kerk.
Juis hierom is sy las so swaar. ’n Nuwe, onbewese bakkie – en deesdae is daar ‘n legio tussenlopers – moet jou eers oortuig van sy duursaamheid. Daarteenoor moet die Hilux jou laat glo sy kulturele kapitaal is verdien op die rûe van al sy voorgangers.

So hoe skaaf jy aan ’n instelling gebou op voorspelbare vertroubaarheid, en voortleef of uitsterf op die dryfsand van veranderende verbruikersverwagtings?
Tegnologie het die moderne motorkoper kieskeurig gemaak. Rateltaaiheid is nou die vertrekpunt, pleks van die einddoel, van enige bakkie. Suburbia vereis die verfyndheid van gesofistikeerde binneruime, veiligheid, konnektiwiteit, doeltreffendheid en leefstylonderskrywing.
Terwyl nuwelinge dié maatstaf sonder sorg kan haal, balanseer die Hilux boonop erfenis met verwagting vir sy erfsonde.

Dat sy onderstel, dieselenjinreeks en bakwerkstruktuur oorgedra is van sy voorganger te midde van beloftes van ’n nuwe Hilux, maak jou eerste gedagtes oor die nuwe negende generasie ’n antiklimaks – tot jy besef dat Toyota terselfdertyd ’n handvol voorheen ongerekende vraagstukke met die nuweling moes beantwoord.
Die bakkiemark het wegbeweeg van suiwer werkesels na dubbeldoel-leefstylvoertuie, en Toyota kon dit dus met groter gemoedsoortuiging waag om die Hilux se kulturele verwagting effens te skei van sy meganiese identiteit. Hoef hy daarom steeds so ’n leeumelker te wees soos wat sy reputasie beloof, wanneer taaiheid vir al hoe meer voorstedelike eienaars net ’n abstrakte begrip is?

“Kontinuïteit deur aanpassing” herinner aan post-1994 se spookasem “eenheid deur diversiteit”.
Die goeie nuus – mits jy sy miljoenrandprysplakker in die geval van die jongste Legend-vlagskip sonder sweet kan bekostig – is dat sy kajuit so ’n kwantumsprong is dat jy gou vergeet van leë klinkslae, of dat jy inderwaarheid in sy voorganger met ’n nuwe baadjie en binnegoed ry.
Twee verbeteringe val dadelik op. Digitalisering (twee 12-duim-skerms – een vir infovermaak en die ander vir ry-instrumentasie) staan aan die voorpunt – met die luguitlate, rathefboom en stuurwiel almal afkomstig van die nuwe Land Cruiser Prado.

Vir ’n paar pakke boerewors bo die sielkundige sewesyferkerf was Toyota nie skaam met die toedien van leer in die binneruim nie, hoewel plastiek sinvol ingespan word in die mees blootgestelde areas.
Pappa en Mamma sit nou gemakliker as vantevore, maar vanweë die hoekige kajuit se skeidsmuur met die laaibak sit die jongspan steeds betreklik regop, en met die verwagte beperkte beenruimte tipies van dubbelkajuite.
Een kwelpunt oor die voorsitplekke: Geeneen is verhit- of verkoelbaar nie, en slegs die bestuurder s’n is elektries verstelbaar. Teen ’n miljoen rand?
As die Hilux se snoet eers horison toe wys op die snelweg, begin sy skaafwerk éérs te wys. Ritgehalte – wat die huidige-generasie Ford Ranger, en die Hilux se nemesis, met sy bekendstelling in 2022 herskryf het – is nou aanvoelbaar beter: stil en verbasend sag vir ’n agterbladveeropset wat vragte bo ryvreugde prioritiseer.

En die kragstuur is nou elektries, eerder as hidroulies, wat veral draaiwerk teen lae snelhede vergemaklik. Teen bulte en hoër snelhede, waar die enjinkrag optimaal aangewend moet word, is die behoud van die ou 6-spoed- outomatiese ratkas egter ’n jammerte, gegewe dat die Prado oor twee ekstra ratte in syne beskik – en elke Ford Ranger spog met ’n volle 10.
Die Legend-spesifikasie word slegs verkoop as ’n hibriede model (sy voorganger is bemark as die Hilux 48V). Dié kenteken het iewers op die fabrieksvloer in die oorgang tussen die laaste en die nuwegenerasiemodel verlore geraak.
Moet egter nie dink Toyota het nou die knie vir Greenpeace gebuig en ’n viertrek-Prius saamgegooi nie. Dieselfde 48V- elektriese stelsel bestaan steeds primêr om die stop/ry-funksie in staat te stel, asook ’n laer luierspoed en gladder wegtrekke aan te help: vandag se elektriese bystand vir (eer)gister se binnebrandtegnologie. En omdat die battery bo-op die dieselenjin gemonteer is – sonder om die Hilux se vermoë om deur 700 mm diep water te ploeg, prys te gee.

Ondanks die Hilux se posisie as markleier is sy troon egter nie onaantasbaar nie. Vir tussen R40 000 en R50 000 minder bied Mitsubishi en Isuzu elkeen ’n ekwivalent met vergelykbare kragsyfers. En die Ford se troefkaart – sy Ranger met ’n kragtiger, breëbors V6-enjin – word teen slegs R600 goedkoper van die hand gesit as die Hilux se vraprys van R1 001 900.
Het Toyota daarin geslaag om die Hilux op nuwe terrein te laat voortleef? Meganies en eksistensieel is dit steeds dieselfde bakkie. Maar die ervaring is nou veel nader aan dié van ’n passasiersmotor. Dié jongste snyerspak-met-vellies is die verfynde eindproduk wat dit regkry om die boer én meenthuisburger se oë ewe veel te vang.

Die Hilux-naam – ’n portmanteau van High Luxury – is in 1968 geskep met meer as ’n tikkie ironie toe die oerkarweier so skurf soos ’n weermag-Jeep was.
Vandag is dit ondenkbaar, want die Toyota Hilux se betekenis lê nie in sy onsterflikheid nie, maar in die wisselwerking tussen hom en die samelewing wat hom telkens herdefinieer het, terwyl hy op sy beurt oor die jare die persepsie van wat ’n bakkie kán wees, sélf radikaal verander het.
Toyota Hilux 2.8 GD-6 4x4 Legend 6AT MHEV
Taksering: ****½
Prys: R1 001 900
Dryfstelsel: 2,8 liter-turbodieselenjin, 4 silinders, 150 kW @ 3 000–3 400 r/min, 500 Nm @ 1 600–2 800 r/min, 48V- ligte hibriede stelsel; 6-spoed outomaties, vierwielaandrywing met lae- en hoëstrek; agterewenaarslot.
Verrigting: 0–100 km/h in 10,72 sekondes (getoets); topsnelheid 176 km/h (aangevoer).
Verbruik: 10,1 l/100 km (getoets).
Naverkope: 3-jaar-/100 000 km-waarborg, 8-jaar-/160 000 km-hibriedebatterywaarborg, 9 dienste-/90 000 km-diensplan.

