
Vra ons die verkeerde vrae oor elektriese motors?
Het die wêreld, dronk op die afgodsvleis van petrol en diesel, tot nou toe té veel gefokus op angs rondom reikafstand, ontoereikende laai-infrakstruktuur en die noodwendige kompromisse wat daarmee saamgaan?
En het elektriese motors op hulle beurt genoeg rede gebied om die evolusionêre kopskuif ten gunste daarvan te regverdig?
Tot onlangs (en spesifiek in Suid-Afrika weens die addisionele invoerheffing) het hoon en smaal ’n mens se eerste instink aan die gedagte van inpropvoertuie gekaap. Dié tegnologie is vir te lank voorgehou as die onafwendbare Eerste Wêreld-toekoms. Ons hier in die Suide moes leer gewoond raak daaraan, en tot onlangs was hulle nie finansieel baie haalbaar nie.
Hutsmerk: geloofwaardigheidskrisis.
In 2026 het daardie aanname minder vanselfsprekend geword. Beurtkrag is grotendeels iets van die verlede en die stortvloed (en toenemende aanvaarding) van oortuigender Chinese motors teen billike pryse het albei ’n rol gespeel. Die aanbod van veral die bekostigbare elektriese motor sélf het ook verbeter en staan vandag vergelykbaar met petrol-eweknieë, wat al hoe swaarder deurloop onder rekordbrandstofpryse.
Met die geleidelike verdwyning van dieselopsies oor die jare staan kopers van kompakte stadsmotors nou voor die keuse van uitsluitlik elektries óf petrol. Vergelykings is voortaan meer objektief – dit gaan nie meer bloot om ’n aangetrokkenheid tot die byderwetsheid van batterykrag as ’n uitdrukking van ’n sekere leefstylkeuse nie.
Wanneer sou ’n e-motor van minder as R400 000 meer sin kon maak as ’n vergelykbare Volkswagen Polo?
Geely het einde verlede jaar na Suid-Afrika teruggekeer, en vergeleke met sy vergeetbare debuut hier in die middel-2000’s het hulle grondgevat met ’n raakvatreeks wat uit middelslagsportnutse, ’n dubbelkajuitbakkie en die elektriese E2-stadsmotor bestaan.

Voor jou skeptisismenaald aan die gedagte van ’n klein, goedkoop Chinese batterymotor – die bekostigbaarste van sy soort in Suid-Afrika – die rooi lyn tref, is daar ’n paar dinge om te weet.
Eerstens is die E2 nie sommer ’n hierjy produk aanmekaar getimmer net vir storting in Trump se shithole-lande nie. Met 465 775 eenhede was dit 2025 se topverkoopmodel in China oor alle voertuigsegmente heen (terwyl ’n totaal van 597 000 nuwe motors algeheel in Mzansi verkoop is). Verder word hy wêreldwyd, behalwe in Noord-Amerika (R50 as jy verbaas is), van die hand gesit, en die motor beskik oor ’n vyfster-Euro NCAP-veiligheidstaksering.
Daar’s twee, uhm, E2-variante om van te kies: die Aspire (R339 900) en die Apex (R389 900). Elkeen se elektriese motor produseer 85 kW en 150 Nm. Laasgenoemde is gekoppel aan ’n LFP-battery met ’n kapasiteit van 39,4 kWh wat ’n aangevoerde reikafstand van 325 km beloof.

Die E2 se binne- en buitevorme getuig van ’n doeltreffende baardvrywery tydens die ontwerpfase. Sy snoet is roosterloos om die wind te fnuik. Sy stert sluk net soveel inkopiesakkies soos ’n Golf. ’n Plat vloer beteken ’n middelpassasier pas op die agterbank terwyl die voorstes in ’n paar Chesterfields luier.
Sou beurtkrag terugkeer, kan die motors selfs van jou minder kraghongere tuistoestelle aan die gang hou.
Die Apex-weergawe se opsionele witkunsleerbinneruim is die epitoom van Zen. Dit het die aura van ’n glashuis, terwyl die reuse skerm en minimalistiese ontwerp nader aan sjiek as aan sente-omdraai voel. Kennelik sal nie alle oppervlakmateriale die gehalte van die Sultan van Brunei se paleis haal nie, maar die oorheersende sensasie is tegnominimalisme wat jou verwelkom pleks van oorweldig.

Die nadeel van ’n instrumentpaneel sonder veel knoppies is natuurlik dat alles agter skermspyskaarte skuil, wat steurend is om te navigeer wanneer jy bestuur. Daar is wel knoppies wat kitstoegang tot die lugversorging en ruitontmisting bied.
Dit help natuurlik dat Geely vir Volvo – as die ur-skeppers van die Zen-kajuit – besit, en ruimskoots dekor-idees wettiglik by hulle kan leen. Vir R50 000 meer as die Aspire kry jy daarbenewens 16-duim-wiele, ’n volle suite met aktiewe veiligheidsintervensies, panoramiese kamera, ’n koordlose laaifasiliteit vir jou foon, asook atmosfeerbeligting.
Jy wíl hier wees. Vir die kort pad. Vir dalk so nou en dan ’n bietjie verder. Net tussen dorpe; nie stede nie.

Want die E2 se top snelheid is beperk tot 130 km/h. Nie omdat hy kortasem is nie, maar omrede sleur, bulte en lugversorging die gulsigste ioonwolwe is. Dis immers ’n stadsmotor met ’n kleinerige battery, wat Geely sê ’n gemiddelde 15,2 kWh vir elke 100 km verbruik. Verskeie plaaslike toetse kon nóg meer kilometers uit die battery kry.
Die ry-ervaring – en aai, so vervloek soos ’n ligkleurige binneruim is, dog onmisbaar in sy ongeërgdheid – is onrusbarend kalmerend. As die voorsitplekke jou kon masseer (soos in ’n Mercedes-Benz S-Klas, en ander), sou jy elke keer agter die stuur aan die slaap kon raak. Padwoede se Moses! Of miskien net totdat jy sien geeneen van die bêreplekke het ’n rubbermat nie, so alle los items gly aanmekaar soos ’n baba sonder ’n badmat rond. A nee a, Geely!
Nou ja.

Jy. Jou gedagtes. Suislose versnelling. En die fluisterfluit van die motor wat elektrisiteit getrou terugstoot na die battery wanneer jy die ankers tot diens roep.
Nee. Jy gaan nooit die Le Mans 24-uur-uithouren met hom wen nie.
Jy wil ook nie.
Terug in die werklikheid: Jy kan nie ’n gesprek oor elektriese motors hê sonder om reikafstand te noem nie. Die verskyning van al hoe meer laaistasies en tuislaai verwater egter hierdie argument – soveel dat infrastruktuuruitdagings en nie ’n stamelende battery nie jou grootste bedreiging word.
Is daar genoeg laaipunte beskikbaar waar jy wil inprop, of sal jy eers in ’n tou moet wag? Is hulle snellaaiers of trapsuutjies? Werk almal of net die helfte van hulle? Is die betaaltoepassing aanlyn en watter een moet jy gebruik?
Sou jy jou E2 se battery vir die geskatte 6,5 uur by die huis van 10% tot vol herlaai, sal dit jou tussen R140 en R195 in Kaapstad kos, afhangende van jou kragtariefplan.
Die Geely E2 hoef nie elke vraag oor die toekoms van stadsvervoer te beantwoord nie. En dit kan onmoontlik ook nie almal se beweeglikheidsbehoeftes aanspreek nie.
Waar hy wél slaag, is om kopers te laat kopkrap of die familiêre gerief van ’n petrolenjin die standaardkeuse moet bly wanneer ’n geloofwaardige alternatief bestaan wat verdere ondersoek verdien. Ook of daardie moontlikheid bestaan nie omdat dit elektries is nie, maar bloot omdat dit in ’n beter motor ontwikkel het om te koop.

Geely E2 Apex
Taksering: ****
Prys: R389 900
Dryfstelsel: Enkel elektriese motor, 85 kW, 150 Nm, agterwielaandrywing
Battery: 39,4 kWh LFP
Verrigting: 0–100 km/h in 11,5 sekondes; topsnelheid 130 km/h (beperk)
Reikafstand: 325 km (WLTP, aangevoer)
Verbruik: 15,2 kWh/100 km (aangevoer)
Laai: AC (10–100%) in ongeveer 6,5 uur; DC (30–80%) in ongeveer 25 minute (maksimum 70 kW)
Naverkope: 4-jaar/150 000 km-voertuigwaarborg; 5-jaar/100 000 km-diensplan; 8-jaar/200 000 km-batterywaarborg.

