Motorrepubliek: ’n Ry-indruk van die Citroën Basalt 1.2T Max 6-Spoed Outomaties

  • 0

Wanneer die beursie begin knyp, ontkom niemand aan die lang arm van korporatisering nie.

Die stigting van die Stellantis-groep in 2021 was ’n interkontinentale oorlewingsooreenkoms tussen die FCA- (Abarth, Alfa Romeo, Chrysler, Dodge, Fiat, Jeep, Lancia en Maserati-) en die Franse staatsbeheerde PSA-groepe (Peugeot, Opel, Vauxhall, Citroën en sy affiliaal DS Automobiles).

’n Uiteenlopender poespas van diverse handelsmerke, markte en produkstrategieë was kwalik denkbaar. Nood breek egter wet. Stellantis was ’n reddingsboei vir hierdie sinergiesmorgasbord – en die verhandelbaarheid van individualiteit betaalbaar vir die prys van insluiting.

Onder dié spulletjie twyfel staan Citroën sonder twyfel uit as die grootste verloorder van sy veelkleurverejas: ’n kenteken wat die 20ste eeu geroem het op die uitspattigste stilering en vervaardigingsvernuwings wat sy tyd dekades vooruit was.

Dink aan die Traction Avant van 1934 – voorwielaangedrewe met onafhanklike voorvering in ’n skulpromp (monocoque) – toe nog ongehoord; vandag die norm.

Die 2CV (bo) was dié Franse motorikoon van die 20ste eeu: ontwerp vir die gepeupel, hoewel radikaal ontwerp (’n lugverkoelde plat-tweesilinder-enjin en horisontale pleks van vertikale vering) om ’n baie ordinêre probleem aan te spreek, naamlik die vermoë om spesifiek vier mense én ’n lewensnoodsaaklike mandjie eiers ongedeerd oor ’n geploegde landery te karwei.

Dan was daar 1955 se DS – ’n verdere voorbeeld van Citroën se mitiese gemanikuurde middelvinger vir konvensie. Met ’n ruimteskipvorm, hidropneumatiese vering en ’n rits tegniese ongehoordhede wat sy tydgenote vaalpens laat vertoon het, soos die debuut van skyfremme in ’n massavervaardigde motor.

Duidelik het Citroën nie met koddige karre vorendag gekom net omdat hy sy skuldeisers se geduld wou toets nie (hoewel hy dit, soos Vader Tyd herhaaldelik sou bewys, keer op keer gedoen het). Nee. Sy aweregse benadering was die uitleef van ’n filosofie waarvolgens sy ontwerp die algehele motorervaring – van besigtiging tot bestuur – moes transformeer. 

Ongelukkig staan onkonvensionaliteit amper altyd gelyk aan onverantwoordelikheid in die motorwêreld. Die Traction Avant se ontwikkelingskostes was só buitensporig dat Citroën in dié model se geboortejaar deur sy landgenoot, die Michelin-rubbermaatskappy, uit patriotisme oorgevat moes word.

Opvolgmodelle soos die SM (met sy Maserati V6-enjin) en die CX het voortgebou op die geproklameerde roekeloosheid wat bepaal het dat alledaagse vervoer tot ’n ingenieurseksperiment verhef is – die avant-garde über alles en te hel met die winsgrens.

Kwalik volhoubaar, selfs in die vrugbare tydsgees van die naoorlogse ekonomiese opbloei. In 1974 het Peugeot ’n beherende aandeel in Citroën bekom. En twee jaar later die PSA-groep gevorm.

Die C6 van 2005 was moontlik die laaste strooi: ’n tegnologies ambisieuse luukse sedan waarmee Citroën hom ’n beter Vyfreeks as BMW wou probeer verbeel. En voorspelbaar té na aan die son gevlieg het: verkeerde kenteken, verkeerde bakwerkvorm, verkeerde tydvak.

(Eintlik verkeerde álles.)

Die dubbele Chevron sou ook hierdie oorskatting oorleef, maar binne die PSA (waarin die Franse regering ook ’n aandeel gehad het) was sy geldstrop nou stywer as wat sy spaarvarkie se sentegleuf smal was. In die nuwe millennium sou dié twee handelsmerke se produkte meestal klone van mekaar word soos gedeelde platforms, enjins en onderstelkomponente al hoe meer ekonomiese sin gemaak en die resessie gedruk het.

Toe die PSA en FCA saamsmelt om Stellantis te vorm, was die samebindende grondslag om soveel moontlik bloed uit dié vergrote vennootskap te tap.

As een van vele is die Citroën Basalt so ’n uitvloeisel. Beslis nie ’n Franse skepping aangepas vir die buitewêreld nie; wel die bemarker se droom van ’n sportnutskoepee (met, uhm, vier deure) doelgebou in Indië, teen ’n roepee-rek-prys, vir ontluikende markte.

Daarom koop R370 000, in die geval van die Basalt 1.2T Max, vir jou die Stellantis-spens se 1,2-liter- turboaangejaagde driesilinderenjin en ’n outomatiese ratkas: so identiteitloos soos ’n grys pak en meer Frans as ’n Vindaloo.

Punjab via Parys. Ekonomiese klas.

In ’n nanosekonde van selfbewustheid: Resensente moet daarteen waak om kontemporêre produkte teen dié van hulle vergange goue eras te vergelyk en uit die staanspoor te wil afskiet. Die 2CV was ’n produk van sy tyd wat rondom ekonomiese werklikhede ontwerp is.

Die Basalt óók. Met ander spelreëls.

Die 2CV het ’n behoefte deur sy vindingrykheid aangespreek. Die Basalt se bewyslas is swaarder. Boonop met ’n kleiner koker, want hy moet jou oortuig daar steek meer in hom as net ’n Excel-formule wat die boeke laat klop.

Slaag hy?

Sy BMW X4-agtige silhoeët help – prakties en onderskeidend – genadiglik nie sy segment se soveelste pseudostapstewel nie. Beenruimte voor en agter is ruim, en sy 470 liter-kattebak is heerlik ontvanklik. Aan die ander kant, ten spyte van ’n 180 mm-grondvryhoogte, is die kofferbak steeds dwingend van ’n rukbuigaksie wanneer jou kerriebevlekte baguettes uitlaai.

Elders is die sentbespaardery onbetwisbaar: deure wat blikkerig toemaak en die aanwend van harde plastiek vir die meeste oppervlakke. (Kuns)leer sou ’n lieflike laat-hulle-koek-eet-toevoeging wees, maar teen die Basalt Max-topmodel se R370 000-vraprys bly eersgenoemde ’n kuns tipies beskore vir Chinese kandidate in hierdie prysklas.

Dis egter nie te sê dat die Basalt se skeppers toegang tot die koekieblik verbied was nie. Inteendeel. Daar is daar LED-koplampe, stabiliteitsbeheer, sleutellose toegang, banddrukmeters, agterparkeersensors en ’n trukamera, outomatiese lugversorging en snelheidsbeheer: geeneen aardskuddend op hulle eie nie, maar meng hulle saam in die Citroën se spesifikasiesoufflé en sy algehele aanbod begin al hoe aanlokliker te lyk.

Tog moet jy weet dat die sub-R400 000-prysklas een van Suid-Afrika se brutaalste veghokke is. Die Kia Sonet, Haval Jolion en Chery Tiggo Cross bied elkeen óf meer krag óf ’n meer uitgebreide toerustinglys. Die Citroën se meriete lê, daarteenoor, in die balans van sy bruikbare eienskappe, met stilering en ’n ruim kajuit as sy sterkste troefkaarte.

Die gedeelde trippelsilinderturbo is lekker lewendig (ál sy wringkrag wink reeds teen 1 750 r/min) en merkbaar verhelp deur die Basalt se betreklik ligte 1 240 kg – die gendarmerie in jou spieëls is dikwels net ’n enkelstyfmaak-aksie weg. Drie is egter wel nie vier nie; die silinderargitektuur is inherent ongebalanseerd, wat hom voortdurend vals laat sing en skud.

Van duur lug- of hidrovering kan jy maar in hierdie prysklas vergeet. Die Basalt se rit is gerieflik en onopvallend. Uitsig na buite en binneruimte is beter as die geval met ’n sedan – dog hy is moontlik die naaste aan wat jy jou ooit aan ’n kontemporêre Franse Toyota Corolla sou kon indink.

Net met ’n windmakeriger ontwerp en blinker kenmerkkortlys.

Só verdien die Citroën Basalt sy sterre. Hy’s lankal nie meer die art deco-argitek-artefak van sy goue bankrotskapsera nie. Nuwe maatskappybase en vervaardigingsdoeltreffendheid het hom van sy eiesoortigheid gestroop na iets meer generies. Geoptimaliseer. En tien teen een volksvreemd in sy hartland. Sy snoet seg Citroën, tog sou die gom net so goed werk met ’n Peugeot-, Opel- of Alfa-wapen.

En jou indruk onveranderd laat.

Tog is iets kosbaars van die ou Citroën behou: verwagting. Nie die nostalgie van Franse hoenderkopgevry na finansieel verlammende boumetodes en ’n rugdraai op konvensie nie, maar die bevraagtekening van wat om vandag van ’n motor te verwag.

En van die maatskappy wat hom gemaak het.

Citroën Basalt Max 1.2 Turbo 6-Spoed Outomaties

Taksering: ***1/2
Prys: R369 900
Dryfstelsel: 1,2 liter-turbo-petrolenjin, 3 silinders, 81 kW @ 5 500 r/min, 205 Nm @ 1 750 r/min; sesspoed- outomatiese ratkas, voorwielaandrywing
Verrigting: 0–100 km/h in 10,8 sekondes; topsnelheid nie beskikbaar
Verbruik: 6,3 l/100 km (aangevoer)
Naverkope: 5-jaar/100 000 km-waarborg, 4-jaar/60 000 km-diensplan.

Lees meer hier:

Die Motorrepubliek se padkaart

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top