Motorrepubliek: Jou motorrande koop nou silikon pleks van spoed. Goed?

  • 0

Foto: Nvidia

Private vervoer het oor die afgelope 120 jaar sy eie bewussyn ontwikkel deur die uitvloeisel van elementêre persoonlike vervoermiddels na uitdrukkings van identiteit, viriliteit, klassestand en selfs politieke affiliasie.

Weinig ander bedrywe getuig van sulke verbysterende evolusionêre vermenigvuldiging soos die motorwêreld. Vandag se voertuie is megamutasies van die eerste gemeganiseerde kaste op wiele.

Groei? Onteenseglik. Groeipyne? Ewe onbetwisbaar.

Vandag nog.

Die Europese Unie se instelling van uitlaatbelasting het oor die jare ’n ekstra stem aan die ekogesanik van Greenpeace en, meer onlangs, Greta Thunberg verleen. 2015 se Dieselskandaal, waarin die Volkswagen-groep skuldig bevind is aan die toerus van ’n konkeltoestel om uitlaattoetse te fnuik, was die dikwels ongerekende kantelpunt.

Maatskappye met ’n ryke verrigtingsdinastie is gedwing om meer selfondersoekend met die kompeteringsdrang en machismo van die binnebrandenjin te begin handel.

Laasgenoemde is verder, uhm, versnel met die koms van elektriese motors. Hulle onmiddellik beskikbare wringkragpieke bied ’n onoorkombare voordeel in die 0–100 km/h-versnelren, wat binnebrandverrigting ietwat kortasem en oornag minder aantreklik laat blyk.

Foto: Audi

Maar waar een deur toegegaan het, het ’n ander geopen.

Elektriese voertuie en die FOMO-era het hoofstroom motormakers die geleentheid gebied om die stophorlosie as bemarkingshaak met waardigheid te verruil vir dié van sagteware. Verpak onder die vaandel van skerper intuïsie, geriefs- of veiligheidskenmerke.

Dit maak sin. Primêr weens toenemende rekenarisering (’n moderne motor bevat tot ongeveer 300 miljoen reëls kode), maar ook om kommersiële redes.

Waarheen is die knoppies op ’n kontemporêre motor se instrumentpaneel? Alles binne sy raakskerm. Alles beheer deur sagteware. Navigasie. Lugversorging. Stemassistent en slimfoonintegrasie. Met minder bewegende dele is dit goedkoper om te maak; en wie vandag vrek nie oor ’n raakskerm nie?

Klik op die tabel om dit te vergroot (Tabel deur Porsche)

Oor ’n paar jaar word jou elektriese voertuig se brein met ’n opgegradeerde sagtewarepakket verskerp en wen jy ’n paar kilometer reikafstand. Die verskeidenheid vermaakprogramme word ’n tombolatafel van nuwe aanbiedinge. En hy parkeer voortaan sommer homself.

Die stroombaan kon nie méér vrugbaar gewees het vir die toevoeging van KI nie, veral wat betref voorkoming en verpersoonliking.

Kameras en sensors aan boord sal jou bestuursgewoontes waarneem, gevaarsituasies akkurater voorspel en gouer noodwaarskuwings of intervensies maak.

En nes jy ’n KI-assistent op jou rekenaar begelei, raak stemhulp agter die stuur ook slimmer. Pleks van “Bel Mel” gaan jy sê “Bel Mel en sê ek haak nog by die hof vas en sal daarom nie haar bikiniwakssessie kan bywoon nie.”

Jou elektriese motor kan sy eie batteryvlak monitor, tesame met rem- en bandslytasie – en sélf ’n bespreking by die handelaar maak om dit te laat nagaan. Selfleer? Bewapen met historiese inligting oor jou tipiese rygewoontes en energieverbruik sal hy met roete- en laaibeplanning help.

Daarmee saam kan jou eie voorkeure soos klimaatverstellings, sitplekposisie, musieksmaak en verkose bestemmings aangeleer en die ry-ervaring dienooreenkomstig aangepas word.

Perdekrag is dus passé; die nuwe motormarkpioniers is skyfievervaardigers soos Nvidia en Qualcomm. Dis die tyd van die sagteware-gedefinieerde voertuig. Met onbetwisbare voordele: sentrale beheer, bywerkbare funksies en KI wat jou al beter leer ken.

Maar terug in die kort termyn: Hoe maak jy ’n mededingende sagtewarevoordeel bemarkbaar? In die ou dae was die vinnigste of sterkste kar die beste. Spoed is sigbaar; sagteware nie. Hoe verkoop jy dit?

Foto deur Ansis Kančs van Unsplash

Sagtewareverskille kan vergelyk word slegs na gelang van die gehalte van die ervaring wat elke platform bied. Dink aan slimfone: Een flikflooi tussen verskillende programme, die volgende een steier. Een navigasieprogram is intuïtief, ’n ander laat jou deur die spitsverkeer ploeg.

Bowenal moet die interaktiewe ervaring inspanning verminder. Die bestuurder moet voel dat sy motor hom teen verkeersdruk isoleer. Of dat hy hom nie hoef te bekommer oor of hy die volgende laaiplek sal haal nie. ’n Slim motor verhit sy sitplekke voordat sy bestuurder inklim wanneer dit vriesend buite is. Hy raai jou aan om vroeër te ry omdat hy weet daar's ’n vertraging op jou daaglikse roete.

En hy integreer met jou lewe. Jou slimfoonprofiel dra outomaties na die motor oor wanneer jy nader stap. Jou voorkeure en verstellings ook: ’n verlenging van jou huis- en kantoorlewe. Een motor se sagteware laat jou dit naatloos doen. Die ander s’n frustreer en stel teleur.

Buiten die bemarkingsuitdaging het die oorgang van binnebrandenjins na elektriese ekwivalente motormaatskappye met nog ’n nuwe kopseer gelaat. Want hoe maak jy geld uit ’n motor met byna geen bewegende dele as jou vorige besigheidsmodel juis geskoei was op inkomste uit onderdele en naverkoopsdiens?

Die antwoord lê by die daarstel van sagteware as ’n diens. ’n Motor sonder een of ander vorm van ’n intekenmodel het beperkte langdurende inkomstepotensiaal, veral as die eienaar besluit om dit nie meer by die handelaar te laat versien nie.

Foto deur Cătălin Dumitrașcu van Unsplash

Onder die bruikhuurmodel is kopers minder gewens as deurlopende verbruikers. Jy hou aan betaal, maar besit nooit die produk nie. Die ware winste lê vir die maatskappy daarin om die aanbodwaarde daarvan voortdurend te vermeerder.

In 2024 het McKinsey voorspel dat motorgebaseerde intekenaarsdienste teen 2030 tussen $250 miljard en $400 miljard sal haal: Netflix en Spotify vir die snelweg.

Maar eers nie sonder ’n dwarsklap deur verbruikers se gesigte nie.

In 2022 kon jy inteken vir verhitte sitplekke in jou BMW 7-reeks teen $18 per maand. En in 2025 kon jy ekstra krag in jou elektriese Volkswagen ontsluit teen £16,50 per maand. Dis reg – vir funksies wat reeds in die motor beskikbaar was.

As die idee van sagteware as ’n diens jou teen hierdie stadium laat jeuk, is jou vrese gegrond.

Want ’n sentraal beheerde stelsel se skadukant lê voor die hand.

Daar is die loerbroeraspek rondom verpersoonliking, maar wat die meeste pla, is dat die motorvervaardiger dienste en ondersteuning na willekeur kan opskort ter wille van beplande veroudering. ’n Kenmerk wat jy vandag geniet, is dalk môreoggend weg – of nie meer gratis nie.

Jou gesag oor jou motor het verdwyn. Jy kan nie meer kies wie hom moet diens nie, want die sagtewarekode is die motormaatskappy se intellektuele eiendom, en hulle sal dit onmoontlik aan derde partye beskikbaar stel. Sou jy nogtans probeer, kan die sagteware ongemagtigde versienings blokkeer of deaktiveer.

Ja, die motor is joune. Maar jy weet nie vir hoe lank nie. Die gerief is daar, ja. Maar soewereiniteit? By die deur uit.

Vra – en ry – was nog altyd vry. Nou’s dit kiek en betaal om toegang en funksie te verseker.

Die nuwe wet van Transvaal.

Lees meer hier:

Die Motorrepubliek se padkaart

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top