
Foto: Porsche
In die dae van vasbyt, vrywillige TV-lisensiebetaling en Vetkoekpaleis kon die deursnee-bandeskopper klokslag elke drie jaar ’n blinknuwe ryding aanskaf.
Net om daai bliksemse Van der Merwe oorkant die straat te wys wat sit in Pappa se broek. Maar veral in sy beursie.
Vandag druk die ekonomie. As onprofessionele studente het die kroos Pappa reeds een nuwe generasie van die BMW 3-reeks moes laat oorslaan. Daar’s ’n swak hart in die familie en Discovery se spieëlkasteel in Sandton betaal nie homself nie.
Ná dekades se vuisbal en spoegspat by raadsvergaderings is die kerkpakke eenkant in die kas geskuif; die rolbaluitrustings nou voor in die middel langs die blinkgestrykte sweetpak. ’n Balletjie motgif in die bosak waar die netjies gevoude sakdoek eens op aandag was.
Hetsy vir perfeksionistiese versamelaars of platsak pensionarisse – íéwers in jou motorloopbaan word ’n verbintenis tot ’n voertuig ewe blywend as dié tot ’n lewensmaat.
Elke kilometer vertel ’n storie van jare se skaaf en vergladding. Frustrasie, volbringing en vreugde. Die keersy? Die onrustigheid dat elkeen se behoeftes, relevansie en vermoë mettertyd gaan verander; verwater; verwelk.
Die haakplek is die armdruk tussen staatmakerskap, sentimentaliteit en hardkoppigheid.
Ouer voertuie is dikwels eenvoudiger om aan die lewe te hou, meestal vry van peuterige elektronika, esoteriese vervaardiging wat versiening verfoei; asook beplande veroudering. Aan die ander kant is jou verhouding ’n beproewing van emosionele oorleefbaarheid: Voel jy nog dieselfde oor jou ou voertuig op die dag wanneer hy jou nie meer beïndruk nie? Staan jou hare orent met elke nuwe reuk of wanklank – of plak jy sommer net daardie knaende ry rooi liggies toe? En laastens: Maak hy vandag nog sin terwyl hy eintlik gebou is vir ’n vergange era van goedkoper brandstof, tegemoetkomender paaie en ruimer parkeerplekke?
Vele word geroep; min gekies. Hier volg vyf immergroen voertuie wat wél die toets van die tyd, temperament en die teerpad geslaag het. En jou kinders laat appels swaai oor wie die sleutels kry nog voor Avbob se stasiewaentjie voor jou deur stilhou.
Toyota Land Cruiser 79

Foto: Toyota Suid-Afrika
Kaas. Rooiwyn. Leer. Goeie hout. ’n Stanley-skaaf. Almal verouder met grasie, maar die Cruiser vergaan moeiliker as ’n Weskusbokkom. Elke rit is ’n toets teen jou eie toleransie, eerder as die Toyota teen die elemente.
Want hy’s vreesloos. Fieterjasievry. En kanniedood.
Onvernietigbaarheid? Eerste. Gerief? Liefs elders.
Vergeet van Idi Amin, Francisco Nguema of Mobuto Sese Seko. Met vering en ’n leerraamonderstel wat ratelkloue soos gelnaels laat versag en ’n enjin wat sing selfs met laegehalte diesel in sy 130 liter-tenk, is dié taaiste Toyota die ware diktator van Afrika. En die Outback. En die Tundra.
Sy onslytbaarheid, dravermoë en veldryvaardigheid maak die bakkieweergawe van die Land Cruiser die voorkeurvoertuig vir guerrillagroepe om swaarkalibermasjiengewere agterop te monteer. En sodra die regime geval het, doen die nuwe bevrydingsleier sy segetoer in die kajuitmodel. Tussen die stinkrook van brandende bande en koeëlbespatte gebouebeendere.
Kies hom vir: Kilimandjaro, die zombie-apokalips, natuurrampe en die dag wanneer jou spoglandgoed se elektriese veiligheidsheining ophou werk.
Probeer ook: Suzuki Jimny, Mercedes-Benz G350d.
Toyota Fortuner

Foto: Toyota Suid-Afrika
Want ondanks Suid-Afrika se gissende maatskaplike onstabiliteit sal die suburbiadroom onsterflik voortleef. As Johannes Kerkorrel in 1989 gesing het van die BMW wat ons ry, het die bo-middelklas-motorhuis vanaf 2006 ’n gevolglike viertrek-opgradering geniet.
Jammerlik bied Toyota “For-tjoe-ner” nie naastenby soveel rympotensiaal nie. Dog hy bly die land se oorspronklike sportnuts met ’n veldhonger leerraamonderstel – slegs Ford en Isuzu bou ekwivalente. Sy Hilux-bene verleen nuwe potensie aan die heelpad-grondpad reistydskrifvakansiefantasie, wat sy betroubaarheid en bevoegdheid tot heiligdom verhef, sonder dat sy voorstedelike rygerief noemenswaardig ingeperk word – destyds ongehoord.
Staan in jou ry.
Hare kort sny.
Altyd netjies bly.
Trou en kinders kry.
In jou Fortuner ry.
Soos ’n groeiende aftree-annuïteit is die Fortuner-belewenis daarom ’n wete in stede van ’n ervaring: nie altyd ’n adrenalienbom nie, maar deurgaans met die belofte van ’n gewaarborgde uitkoms. ’n Belegging in jou motortoekoms. Vir vandag. Vir môre. Vir altyd.
Kies hom vir: sy Sandton/safari-dubbelpersoonlikheid, onvergeetlike pyltjie-na-die-kaart-gooi wegbreke, onwankelbare betroubaarheid tesame met bekostigbare onderhoud, die definiërende 4x4-kenteken waarna jy smag maar nie werklik verstaan nie, en sy sypaadjieklimkapasiteit by die skool en winkelsentrum.
Probeer ook: Isuzu MU-X, Ford Everest.
Porsche 911 Carrera 3.2 (1984–1989)

Foto: Porsche
In die motorwêreld is die lugverkoelde Porsche-enjin die ekwivalent van NP Van Wyk Louw se Die beiteltjie: ’n eenvoudige instrument wat deur dekades se skaafwerk aan ’n enkele idee aristokratiese eenvoud verkry om die onmoontlike te vermag.
Porsche se plat sessilinderenjin, wat teenintuïtief ver oor die 911 se agteras uithang en daarom ’n pendulumeffek in die verkeerde hande deur ’n draai het, het sy duursaamheid verkry deur die afwesigheid van oorbodigheid. Terwyl ander motorvervaardigers voortgesukkel het met lekkende waterpype en gebarste verkoelers by die moordende Parys-Dakar-tydren van 1984, was die Porsche 911’s reeds verby die geruite vlag: Stuttgart se lojale verset teen die zeitgeist van meganiese modernisering.
’n Lugverkoelde Porsche het nie ten doel onmiddellike bevrediging nie. Die roggelkeel van sy halfdosyn silinders wat teen mekaar boks is die epitoom van ’n raakvatontwerp sonder ’n dringende behoefte aan vernuwing: tydlose kulturele karkapitaal. Die saamflans van die fisiese met die filosofiese. En die bloudruk van meganiese stoïsisme wat die ry-ervaring tot suiwerheid transendeer.
Kies hom vir: spoed met eenvoud, versamelwaarde, onversadigbare nostalgie vir ouwêreldse Porsches en Dag Zero.
Probeer ook: Motorgewys? Vergeet dit. Buite die motormilieu? ’n Zippo-aansteker of ’n Rolex Submariner.
Mercedes-Benz E-Klas (W212)

Foto: Mercedes-Benz
Om die waardigste ou Mercedes aan te wys is soos om koppe te stamp oor die beste braaihout of Springbok-skrumskakels.
Die W212 E-Klas (2009–2016) was ’n reuse sprong vorentoe vergeleke met sy voorganger. Ontwerp- en spesifikasiegewys was dit nader aan ’n S-Klas teenoor net ’n C-Klas wat bevordering gekry het en hom elke naweek aan skaaptjops vergryp.
En tog was die W212 nie die aantreklikste, of opwindendste E-Klas van almal nie.
Hy was wel gerieflik sonder om soos ’n seiljag te ry. Solied sonder om militêr-industrieel te voel. En modern maar nie vervreembaar nie. Waar ouer Mercedes’e se sjarme in hul karakter was, en die jongstes oorweldigend is met tegnologie, is die W212 se sterkste persoonlikheidstrek dié van stille selftevredenheid.
En, allerbelangrik, hy verpersoonlik die laaste Driepuntster wat uit graniet gebeitel pleks van onder die Damokles-swaard van ’n balansstaat saamgeflans is. Eenvoudige dieselenjins, kuise inspan van elektronika. Die aandklok van ’n vergange era se analoë rotsvastheid voor die digitale oordadigheid van die huidige.
Onslytbaar eerste, indrukwekkend tweede. Mercedes se megamiddelkind – met sy prioriteite in orde.
Kies hom vir: bakwerk soos ’n brandkluis, elegansie wat uitstyg bo die tydigheid van modegiere, moeitelose bekwaamheid.
Probeer ook: BMW 5-reeks, Lexus GS.
Volvo 240

Foto: Volvo
Veiligheid was vir Volvo ’n morele verpligting lank voordat dit ’n bemarkingsklingel geword het.
Daarna het die handelsmerk ’n nugterder alternatief geword vir denkers wat nie gehou het van die Duitse drie-eenheid van Audi, BMW en Mercedes se ewige egoïsme nie.
’n Motor wat 19 jaar lank oor die seldsame vermoë beskik het om grense te deurbreek: die keuse van beide die intelligentsia en die middelklas.
As die Porsche 911 ’n sonnet oor spoed is, was die Volvo 240 ’n ensiklopedie van betroubare veiligheid. In 1976 het die Amerikaanse padveiligheidsagentskap, die NHTSA, die motor as ’n maatstaf aangewys waarteen alle passasiersmotors voortaan gemeet sou word.
Baksteenontwerp wat veiligheid bo vaartbelyning op die spits stel (en onwetend funksionaliteit tot kunsvorm verhef). Vering wat Sweedse sinkplaatpaaie kan kafdraf. En ’n enjin doelbewus eenvoudig ontwerp om met basiese gereedskap en modulêre onderdele aan die gang te bly – en daarom lag-lag 500 000 km sal hou.
Die 240, getoë en getoets in die nydigste ysweer, verteenwoordig nie die fantasie van ’n leefstylkeuse nie, maar die onomstootbaarste uitdrukking van ’n oorlewingsdrang.
’n Volvo gebou om jou te laat oorleef. En om jou te oorleef.
Kies hom vir: Skandinawiese soliditeit, Calvinistiese eerlikheid en meganiese deursettingsvermoë.
Probeer ook: Mercedes-Benz W123, Saab 900, Peugeot 504.

