Motorrepubliek: Die stille, sinlose sterfte van die sedanmotor

  • 0

Foto deur Annie Spratt van Unsplash

Vir meer as ’n eeu beslaan die sedanvorm die lywigste hoofstuk in die geskiedenis van die motor. Dekades lank was sy silhoeët onbestrede: oombliklik herkenbaar, visueel gebalanseerd en eenvoudig om te skets en bou. Enjin voor; passasiers in die middel; kattebak agter. Slegs die vernuf waarmee sy metaalvel gemanipuleer is ten doel die skep van meer eksotiese kurwes, het oor die jare verskerp.

En nou is hy dood, elders en hier. In Maart was die gewildste motor in hierdie kategorie, die Volkswagen Polo-sedan, 29ste op Suid-Afrika se lys van topverkopers.

Volkswagen Polo sedan (Foto: Volkswagen Suid-Afrika)

Wat plaaslik vandag oorbly, is vername handelsmerke wat goedkoop weergawes van hulle gewildste luikrûe uit Indië, China en Thailand invoer; en amper uitsluitlik met een afsetdoel. Toep-roep jou rit en na 20 minute kry jy ’n bestuurder wat weier om die motor se lugversorging aan te skakel, en ’n groot kattebak om te vergoed vir die karige binneruim waarvan die oorsoet reuk jou neusvleuels verskroei.

Natuurlik droom hy groot. Van ’n BMW 7-reeks – steeds beskikbaar in die prysstratosfeer. Vir die middelklas tussenin, wat grootgeword het met Jettas en Corollas as die steunpilare van gister se suburbia – is dié kattebakkategorie nou egter net nostalgie. Die dominee se W123-Mercedes. Die skoolhoof se Toyota Cressida. Die huisvrou se Honda Ballade.

Foto deur Vitali Adutskevich van Unsplash

Almal daarmee heen.

Anders as met die destydse ondergang van videowinkels, Nokia of die iPod, vind die sedanmotor se afname in gewildheid oor die afgelope kwarteeu egter nie net sy oorsprong by veranderende verbruikersvoorkeure nie.

Eintlik andersom. En amper per abuis.

In 1994 is die eerstegenerasie Toyota RAV4 onthul, ’n kruisnuts met veldrystilering saamgetimmer uit ’n Corolla-vloerpan, Camry-enjin en Celica-viertrekstelsel. En dit was deurslaggewend. Voor sy koms was sportnutsvoertuie almal bakkiegebaseerde kolosse met rateltaai leerraamonderstelle. Hulle het hard gestamp, swaar gestuur en straf gedrink.

Foto deur Y S van Unsplash

Onwetend het die RAV4, en die Honda CR-V wat ’n jaar later gevolg het, as eertydse nismodelle ’n nuwe motorgenre ontsluit wat gesinsvervoer in die nuwe millennium sou herdefinieer.

Vervolgens kon kopers ’n veelsydiger voertuig bekom waarin of -uit daar makliker geklim kon word en wat strydig veiliger gevoel het danksy ’n hoër sitplekposisie wat oor die verkeer uitkyk. Boonop het dié genreversmeltende kruisnuts die houding van ’n bergklimstewel uitgestraal, maar desnieteenstaande soos ’n gewone padmotor bestuur – vandaar sy naam.

Die totstandkoming van diesulke veeldoelvoertuie het oor die een faset beskik wat ontbreek het by die nutswaarde van die konvensionele sedanmotor: die bemarkersdroom van die sogenaamde leefstylvoertuig. ’n Switserse knipmes wat benewens kerk en werk ook die ontvlugting van wegbreekavontuur en ligte grondpadry geïdealiseer het. 

Hoewel reklamemateriaal dikwels poog om die teendeel te bewys, is daar deur die meeste kopers besef, destyds en vandag nog, dat uiterste veldryvermoë in ’n voertuig oorbodig is. Ondanks sy tekort aan werklike vaardigheid is die beeld daarvan, en wat jy vir jou medepadgebruikers van jouself wil vertel, soos verteenwoordig deur die kruisnuts se bushveld chic-beeld met sy oorgroot bande, egter die basis van sy belofte.

Jy koop immers ’n leefstyl; nie ’n voertuig nie.

Daar was kwalik ’n beter voorbeeld hiervan as Land Rover se Freelander in 1997, ’n stadsnuts bruisend met visuele viriliteit maar wat gestroop was van veldryvermoë – én, sal velerlei voormalige eienaars getuig, betroubaarheid.

Die Koreaanse affiliaalpaar, Hyundai en Kia, sou in die nuwe millennium onderskeidelik die meganies identiese Tucson en Sportage bekendstel, hoewel geposisioneer as kompakte viertrekvoertuie eerder as stadsnutse. En was toe nog as sulks as koddighede pleks van kanniemis karre beskou.

Foto: Nissan

Die kantelpunt het egter in 2006 gevolg. Met dié dat die Nissan Qashqai op die Almera-sedan se platform gebou is, is die wenformule van die hedendaagse kruisnuts gegiet: ’n luikrug beplak met ’n paar skaafwerende plastiekpanele (natuurlik vir al die Richtersveldse doringpenne) in hoëhakskoene; goedkoop gebou op ’n padmotor se eenstukskulpromp (monocoque). En natuurlik winsgewender bemark vir die luukse van ’n hoër rithoogte.

Ontwerp vir die alledaagse; geklee vir die eksotiese.

’n Tsoenami van soortgelyke produkte is ontketen. Die Volkswagen-groep in besonder het sy spiere gebult met sy tóé nuwe MQB- (van Duits Modularer Querbaukasten-) modulêre vervaardigingsbenadering, waarvolgens verskillende bakwerkstyle op ’n enkele aanpasbare platform gebou kon word. Só was die Tiguan (’n Golf op stelte) en Audi Q3 spieëlbeelde van mekaar, hoewel verskillend van mekaar geposisioneer om verskillende marksegmente tegelyk te kon dek.

Dit het al hoe duideliker geword dat die sedanmotor ’n hopelose tekort aan pyle in sy koker gehad het om die kruisnuts die stryd aan te sê. Binne die Suid-Afrikaanse konteks bied laasgenoemde buitendien addisionele gerusstelling teen slaggate, asook verhewe aansien vergeleke met die vaalheid en persepsieperk van die sedan se sogenaamde driekas-ontwerp.

Die sedan is tradisioneel beperk tot elementêre nutswaarde, bekostigbaarheid, verrigtingsgeoriënteerdheid of luuksheid, terwyl die kruisnuts oor veel breër segmenteringspotensiaal beskik. (Of dalk het die bemarkingstrategie net meer gefragmenteerd geword en die uitvoering net meer verbeeldingryk.)

Foto deur Newpowa van Unsplash

Die luikrug sou binnekort dieselfde paadjie stap. Nie weens praktiese tekortkominge nie, maar omdat hy nie ’n antwoord gehad het vir die vreesbeswerende veiligheidspersepsie wat die kruisnuts se ekstra rithoogte bied nie. Die (on)geriefsfaktor om babas in stoeltjies in ’n lae motor te laai (of mense wat sukkel met swak rûe of horrelknieë) moet ook nie misgekyk word nie.

Die kruisnuts se opkoms bly ’n anomalie van verbruikersgedrag. Meganies is dit nie ’n beter motor as die sedan of luikrug nie. Dis minder ekonomies (groot bande en groter grondvryhoogte maak hom ’n bietjie dorser) en opmerklik veelsydiger. Maar met twee keer soveel winspotensiaal.

Dis oplaas nie ’n produk gebore uit behoefte nie, maar uit die besef dat ’n behoefte geskep kan word. Dat ’n luikrugmodel met ’n paar Merrells en ’n cargobroek meer geld kan maak solank verbruikers glo dat daardie ekstra hoogte ononderhandelbaar is. (Al beteken dit ook die voertuig kan makliker omrol.)

Foto deur Rydale Clothing van Unsplash

’n Laaste lansie vir die sedanmotor: Iewers in die assimileringsproses van die kruisnuts het die argument vir nutswaarde dié van uitnemendheid verbygesteek. Vantevore is motors gemeet aan hulle rygenot, ontwerp en emosie. Vandag is die maatstaf vir die alomteenwoordige kruisvoertuig met sy generiese voorkoms agterbeenspasie, die slimheid van sy sagteware, en die grootte van die raakskerm.

Die handelaar wen ongetwyfeld wanneer die braaiworsrook draai en die windhanswors Saterdagoggend op die straathoek sy dronkmansdans doen.

En die koper wen omdat hy ’n meer volronde produk bekom.

En die sedan? Hy het nie sy stryd teen Vader Tyd verloor nie, maar eindelik net teen die oortuiging van sy noodsaak in ons lewens.

Lees meer hier:

Die Motorrepubliek se padkaart

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top