
Foto: Mini
In die motorjoernalistieke leksikon beskryf “eerlike motor” gewoonlik prysbewuste, fieterjasievrye private vervoer sonder aanstoot, en bygesê, opwinding.
Vantevore was dié etikettering ’n onuitdagende oordeel. Die Volkswagen Kewer, die BMW Isetta, die Mini en die Volkswagen Golf en ander was almal gelykmakende kinders van hul ekonomiese tyd: van die soberheid van naoorlogse Europa, tot die brandstoftekorte van die Suez- en oliekrisisse. Eenvoudig, pretensieloos en ’n onpoetsbare verklaring van jou rang op die welstandsleer, ’n CV van jou identiteit en tekort aan koopkrag.
Vandag leef daardie klas motor slegs voort in ons ouers se fotoalbums. Terwyl gierigheid en inflasie die tipiese leke-antwoord op die vraag na die oorsaak is, is die spaarvarkie se hongerpyne eintlik maar één antwoord op ’n veel meer genuanseerde vraag.
Nostalgie is ’n kragtige tydkapsule. Dis ook ’n onbetroubare outobiograaf. Ons verlang na die gloed van sorgelose gesinsvakansies by die Wildtuin en Hartenbos, die onskuld van ongebreidelde kindergegiggel en somersdae sonder ophou. Jy vergeet egter gerieflikheidshalwe dat ’n Desember in ’n kar met vinielsitplekke sonder lugversorging deur die Karoo pure hel was vir ’n verveelde kaalvoetkind, veral wanneer die motor klokslag oorgekook het saam met Pa se geduld met die konstante kakofonie vanuit die agterbank.
Die demokratisering van luukse, maar bowenal wetlik voorgeskrewe veiligheidsgeriewe in gemiddelde passasiersmotors het dié romantiese beeld onomkeerbaar verander: ten goede én teen ’n prys. Vandag bestaan selfs die nederigste moderne motors uit veel meer as net ’n enjin, bakwerk en basiese draadwerk. Ewigstygende minimum veiligheidstandaarde, sowel as strenger emissiegraderings en toetsprosedures, het produksiekostes vir álle motors opgejaag – ongeag hulle teikenmark.
Soos ’n reeks onrusbarende onthullings van gewilde bekostigbare modelle vanjaar deur die AA in Suid-Afrika blootgelê is, ontstaan ’n ongemaklike vraag oor die noodsaak van ’n goedkoop motor teenoor die noodwendigheid van gekompromitteerde veiligheid wanneer produksiekostes gesny word, laasgenoemde gewoonlik deur middel van ’n ontoereikende aantal lugsakke en afwesige stabiliteitsbeheer, asook onvoldoende impakbeskerming.

Foto: AA Suid-Afrika
Die kort(sigtige) antwoord is dat tegnologiese vooruitgang van die moderne motor die grootste spyker in die doodskis van bekostigbaarheid was. Tot ’n tweede, Trojaanse faktor sy kop uitgesteek het. Nie die kwynende wêreldekonomie of bou-inflasie nie, maar aspirasie.
’n Motor is lankal nie meer net ’n vervoermedium nie. Dis ’n uitdrukking van die verbruiker as indiwidu, van vordering, van selfverbetering en van sy blik na die sterre plaas van grondwaarts na sy afgesloofde pote op die lewe se tollende hamsterwiel.
Niemand wil arm of gemiddeld voorkom nie, daarom moet selfs die laaggeprysde motors reeds ’n graad van substansie en sofistikasie bied en geriefskenmerke met duurder motors deel. In bemarkingstaal simboliseer ’n onopgesmukte, kompakte luikrug nugterheid, ’n kompakte stadsnuts met ’n onontsyferbare modelkode is die droom van ’n Nirvana-wat-wag.
Van wanneer af het motors hulle eie bekostigbaarheid begin verbloem?
Om rand te rek is selde sexy, dog kan geen koper se strewe na verhoogde veiligheid, luukshede of status bevraagteken word nie. Wat opval, is hoe bemarking hierdie behoeftes oor die jare omskep het in verwagtings én daaruit kon munt slaan.
Motormaatskappye wil ook nie noodwendig die goedkoopste moontlike karre verkoop nie. ’n Lae verkoopprys plaas druk op die ontwikkelingskoste, marges, handelaarsondersteuning en onderdeleverskaffing – elkeen met ’n invloed op ’n produk se winsgewendheid oor sy leeftyd. ’n Sakpasryding is daarom dalk ’n noodsaaklikheid in ’n sekere mark, maar kan om dieselfde rede kommersieel onaantreklik wees.
Dit help uiteraard nie dat die koste en verwagtinge rondom moderne voertuie al hoe meer onversoenbaar raak nie.
Krisis? Aikona!
Die geldwêreld – die voeraar vir die werkende klas se leefstylverbetering – staan reeds reg met die kitsoplossing: die verlengde afbetalingsooreenkoms. ’n Swaarder beursie elke maand (wél heelwat ligter na ál die rente), ’n blinker kar op die oprit en die prysloosheid van die Smitte oorkant die pad se ewige groen gesigte. Ka-tjieng.
Destyds het ’n mens die pryslyste in Donderdag se dagblad nagegaan om die goedkoopste motor te vind. Vandag raadpleeg jy ’n aanlyn kosteberekenaar om vas te stel hoeveel jy maandeliks kan bekostig.
Gestruktureerde afbetalingsooreenkomste, ballonbetalings en gewaarborgde terugkoopprogramme laat almal ’n duurder motor toegankliker voorkom – sonder om die ware koste van eienaarskap te verlaag.
Die goedkoop motor is vandag byna ’n museumartefak, vervang deur die bekostigbare paaiement as bemarkingskonsep ter ondersteuning van ’n leefstylkeuse.

Foto: Changan
Die ironie? Hoewel die verbruikerskultuur se verslawing aan krediet ’n kankerkelkie is, het dit ’n silwer rand.
Ongeag die teenwoordigheid van Toyota, Ford, Volkswagen, Isuzu, BMW en Mercedes-Benz (eersdaags ook Chery) as plaaslike motorbouers in Suid-Afrika – en ’n motorvervaardigingsbedryf wat gesamentlik aldus NAAMSA 3,3% tot die bruto binnelandse produk bydra – beskik die land nie oor ’n ten volle onafhanklike ekosisteem vir intreemotors nie. Modelle word op internasionale vlak ontwikkel vir streke en dan aangepas vir elke plaaslike mark.
Die gevolg is produkte wat aan globale veiligheids- en emissievereistes voldoen, maar terselfdertyd onlosmaaklik aan wêreldhandel- en wisselkoersskommelinge blootgestel is. Dit word ook die maatstaf waarteen motorkopers hulle verwagtings meet, al strook dit al hoe minder met die ouwêreldse definisie van bekostigbaarheid.
Die ouer garde was lief vir vermaning. Jy mog mos nooit te enigiets wees nie, behalwe tevrede. Die bekostigbare motor het duidelik nie saam met die tyd beweeg nie, en saam met hom die idee dat sulke mobiliteit bevredigend én vry van aspirasie kan wees.

Foto: TATA
Dis ’n verstaanbare evolusie. ’n Eerstegenerasie-Mini het bestaan in die skimmeryk tussen praktiese noodsaaklikheid en begeerbaarheid. Dit was funksioneel sonder om ’n leefstylstelling te wees.
Toe besef die bedryf dat aspirasie meer winsgewend is as eenvoudigheid, omdat ons nie meer produkte koop net om behoeftes te vervul nie. Omdat genoeg nooit meer genoeg is nie. En omdat ons hulle koop uit die selfoortuiging dat elke tekortkoming ’n uitnodiging na die volgende aankoop is, ’n halfwegstasie op die nimmereindigende pad na iets beters.


