Mossie en Merv en die verlokking van die langpad

  • 9

“It was a source of both terror and comfort to me then that I often seemed invisible – incompletely and minimally existent, in fact. It seemed to me that I made no impact on the world, and that in exchange I was privileged to watch it unawares.” – Marilynne Robinson, Housekeeping.

Presies soos hierdie aanhaling uit een van my gunstelingboeke het ek dikwels gevoel toe ek baie jonk was. ’n Bron van terreur sowel as troos, my onsigbaarheid. Ek wou die wêreld dophou en dinge ervaar sodat ek kon skryf. En ek wou aan die beweeg bly. Rusteloosheid het my voortgestu. Ek het nie ’n motor besit nie en min geld gehad, maar ek het dikwels gereis: per trein of selfs duimgegooi.

Ek het op ’n dikwielfiets met ’n groot mandjie soos ’n wafferse Ertjies Bezuidenhout deur die strate van Potchefstroom gejaag. Ek het lag-lag Klerksdorp toe gefiets. Nie dat daar veel in Klerksdorp aangegaan het nie, maar ’n vriendin was eendag daar in die hospitaal en ek het besluit om te gaan kuier, douvoordag.

Met die terugry kry my fiets ’n pap wiel. Ek staan die band langs die pad en pomp (tjierie-tjierie) toe twee redelik gehawende mans in ’n garerige, vierkantige bruin tjor – ’n Mazda of Datsun of iets – langs my stilhou. Ek was destyds oop vir die lewe en belewenisse; ek wou alle soorte mense leer ken om oor hulle te skryf. RR Ryger en Jeanne Goosen sou my voorspring, maar Beertjie en sy boytjies was nog nie gepubliseer nie, ook nie Ons is nie almal so nie.

Die mans het soos bergies gelyk en geruik met lang, verslonste lokke, ruie baarde en ’n rooibruin gelaatskleur. Hulle stel hulle voor as broers: Mossie en Merv. Hulle woon in Stilfontein en werk op die myn. Hullle sal my ’n lift Potch toe gee, no time. Hoe, wonder ek? “Nee, ons sit jou bike in die boot, chop-chop.”

Dit doen hulle ook en die kattebak wil nie toe bly nie, maar Mossie is nie links nie en pluk soos ’n Wes-Transvaalse MacGyver sy tekkie se veter uit, haak dit deur die kattebakdeur, om die fietswiel en die modderskerm, en die kattebak bly toe. Ek klim in.

Dit was roekelose dae. Word my afkop lyk oormôre in die rivier gevind, dan het ek darem geleef, was my roekelose redenasie. Dit het in elk geval meestal gevoel asof ek droom, asof die moontlike gevolge van enige besluit wat ek neem, sou oplos en verdamp wanneer ek wakker word.

Ons draai by Stilfontein in, want ons moet eers verversings vir die rit aanskaf. Vloeibare verversings. Stillies is ’n lelike plek, ’n harige moesie op die gat van dees aarde.

Wanneer hulle soggens vroeg van nagskof af kom, vertel hulle, kan hulle glad nie slaap nie en drink dan maar tot hulle omkap. Staan op, gaan werk en herhaal. Ek is die ene ore, want ek wil mos skryf.

Ek reken toe: So vroegerig in die oggend kan ’n rosé dalk afgaan. Die broers is dik in die dollars en koop vir my ’n bottel Nederburg, yskoud, met ’n plastiekstrooitjie. Ek sit dit op die agtersitplek en drink dit soos ’n kinderkoeldrank. Hulle drink zamalek (bruin quarts Black Label) gechase met brannas.

My beskermengele was vroeg in my lewe al moeg, want ek is in my studentedae dikwels deur dronk mense rondgekarwei.

Ek vra uit oor Mossie en Merv se lewe. Hulle woon by hulle ouers. Hulle pa het hulle gereeld gebliksem, maar hulle skiem toe hy laas sy hand wou lig vir hulle en die oulady, toe het hulle sy ribbes afgeskop. Nou strip hy nie meer so maklik sy moer nie.

Ek onthou ek kon die teerpad sien deur kar se deurgeroeste vloer. In so ’n motor het ek nog nooit gery nie. In daardie dae het ek (wat in elk geval nie geweet het of ek Arthur of Martha was nie) ’n onskuld besit wat my uit vele netelige situasies gered het. Wanneer mans suggestiewe voorstelle maak, het ek hulle onbegrypend aangestaar en vriendelik geglimlag soos ’n kind wat met gestremdheid saamleef. Nie dat Mossie en Merv suggestief of onwelvoeglik was nie – hulle was ware here, met ’n outydse hoflikheid.

Ek het destyds meestal in my kop geleef, moeilik uitgereik na mense, en wanneer ek met mans op universiteit praat, moes ek dikwels hoor dit klink asof ek ’n woordeboek ingesluk het en ek praat sulke suiwer Afrikaans dat hulle voel hulle kan nie met my praat nie. Die broers het aan my lippe gehang. Ek was eksoties. Kaatjie van die baan. ’n Vorstin van ver.

Ek wou lieg oor my adres, want ek wou nie hê hulle moet weet waar ek woon nie, maar ek het te sleg gevoel. Ek wou nie ’n snob wees nie. Hulle het my by die huis wat ek met drie ander studente gedeel het, afgelaai en daarop aangedring om my papwielfiets binnetoe te dra. Hulle wou dit sommer fieks ook, maar ek het gesê ek moet klas toe gaan.

In my kamer het Mossie iets gesê van koffie, maar Merv was ferm: “Nee my china. Sy’s haastig. En jy kan sien ons is nie haar soort nie, sy’t class.”

Mossie het wel die adres gememoriseer, want daar het ’n reeks blou koerverte in die posbus geland. Wie sou kon dink hy was ’n digter? Ek onthou een versreël: “Debora dier, duur-bare tier-barbaar”. Dit het nie soveel anders geklink as die studentemans in ons Skrywerskring se pogings nie: woordslaai wat met vuilerige vingers tas na erotiek.

Ek is redelik seker Mossie en Merv het al verhuis na die goudmyn anderkant die reënboog – so laat ’n lewer hom nie mishandel nie. Maar hulle en daardie een rit van Klerksdorp na Potchefstroom lewe in my geheue voort, terwyl ek die gesigte en name van byna elke man wat ooit saam met my klasgedraf het, lankal vergeet het.

Nog ’n aanhaling van Marilynne Robinson, sy wat my briewe gesteel het en elkeen hardop lees: “She conceived of life as a road down which one traveled, an easy enough road through a broad country, and that one's destination was there from the very beginning, a measured distance away, standing in the ordinary light like some plain house where one went in and was greeted by respectable people and was shown to a room where everything one had ever lost or put aside was gathered together, waiting.”

  • 9

Kommentaar

  • Johan de Nysschen

    Pragtig mens. Jy skryf mooi prentjies in hierdie tyd waarin ons nie baie uitkom nie.

  • Deborah, wat ’n heerlike storie!
    Ek moet tog vertel van my ervaring eendag op pad na Potcefstroom.
    Ek ryloop na ons studentedorp en kry ’n geleentheid net buite Randfontein. Ook so ’n tjorrie. Man drink kort-kort uit ’n liter-bottel-soetwyn. Dan weer sy vrou se beurt.
    Vra vir my of ek ook wil hê.
    Jigg!
    Naderhand is die bottel leeg en ’n bottel brandewyn kom aan die beurt. Die twee raak al hoe meer geselserig. Erg gekruide taal.
    Die tjor kuier heen en weer oor die pad, verlaat die pad en ry in ’n sandwal vas. Darem nie teen ’n hoë spoed nie . Die tjor sit vas in die sand.
    Ek gryp my naweektassie en klim vinnig uit.
    “Gaan jy nie help sjtoot nie? Onsj moet hie ytkom.”
    “Nee dankie,” seg ek en stryk aan, rigting Potch.
    Toe ’n volgende motor my oplaai het daardie twee nog by hul tjorrie gestaan.

  • Laantie le Roux

    Ek het die leesstuk baie geniet. Dié drie dorpe is aan my bekend. Ek kon myself in jou situasie inleef. Die beelde wat jy beskryf is sigbaar in my gedagtes. Leesgenot!

  • Jacques Wessels

    Deborah, My werêld, het oor die water in Viljoenskroon groot geword en hoenders saam met Ma op die myne verkoop. Ek ken die mense rof onbeskof maar hulle klim maklik in mens se hart. Daai gedig is beter as baie ander né!

  • Hi Debora
    Dit was nou ’n lekker lees so op ’n renerige oggend! Tye was so ongekunsteld en veilig, en mense was net mens! Wonderlike belewenis! Dankie

  • Henning Janse van Vuuren

    Allawêreld, Debora dier, duur-bare tier-barbaar, (barbaar?) dié skakel na jou gedagtegang ná jou ervaring met Mossie en Merv en jou baie sukkel moes ek eers met ʼn siel of twee deel.
    Johann Rossouw, gerekende filosoof skryf vandag in Rapport: “In die boek bespreek Aristoteles ook ‘melancholie’, oftewel dit wat ons vandag depressie noem, en hy beveel aan dat om tot deugsame handeling oor te gaan die beste behandeling vir melancholie is.”
    Vat nou maar vir Mossie en Merv.
    Johann sê: “Om aan te sluit by Aristoteles, kan ons sê dat niks so vernietigend vir ʼn mens of vir ʼn samelewing is as wanneer die idee eers posvat dat jy of ons niks aan jou of ons lot kan verander nie. Regdenkende Suid-Afrikaners behoort hierdie gek idee vandag op elke moontlike manier met deugsame handeling aan die kaak te stel ...”
    Ek wil my nie kom slim hou nie, maar sien jy ook die posisionering van denke in “Regdenkende Suid-Afrikaners BEHOORT ...” Ek gaan nou die knoppie op die kamera druk en daarom BEHOORT alle regdenkendes vir die opkomende kiekie te glimlag. Nee-nee, moenie gestres of depressief lyk nie. Wat is fout met jou?
    M’m.
    Melancholie is nie lekker nie, maar “niemand het gesê dit gaan maklik wees nie”. Hoe haat ek nie hierdie frase nie. Nietemin, dink ek, op ʼn dag sal almal berus by hoe dit met haar (of hom) hier is. Intussen behoort almal te streef om die wêreld ʼn beter plek te maak ‒ soos in die ander staat waar Mossie en Merv ook klas het.
    “Dis tog so eenvoudig: Dis jy, alleenlik jy en die groter sorge gaan vanself verby.
    Niks om te verhaal nie, net die vrede bly;
    Niks om te betaal nie, en skielik is jy vry.”
    (’n Paar woorde deur Koos Doep wat ek gou spoeg en plak van iewers uit die internet se maag opgediep het.)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top