
Die Morena en Rorisang-leesreeks deur Refiloe Moahloli word deur Pan Macmillan uitgegee. Die titels in die reeks is:
- ’n Fantastiese verrassing
- Hoera! Dis vakansie!
- Stop die bus!
- Die straatpartytjie
Lesers in die Intermediêre Fase sal moontlik Dis my naam en Spanmaats deur Refiloe Moahloli onthou, waarin die tweeling Morena en Rorisang na ’n nuwe skool moes gaan en by baie nuwe skoolaktiwiteite, reëls en tradisies moes aanpas. Dis my naam is uit Rorisang en Spanmaats uit Morena se perspektief vertel.
Nou kan beginnerlesers in die Grondslagfase ook die tweeling se avonture eerstehands ervaar in ’n splinternuwe leesreeks van vier titels. In dié stories is Morena en Rorisang jonger, en soos hulle lesers ook in die Grondslagfase. Katlego Keokgale, wat die twee dikker boeke in swart-en-wit illustreer het en danksy wie ons dus weet hoe die tweeling lyk, het ook die vier nuwe titels prettig en modern in volkleur geïllustreer.
In die eerste boek, ’n Fantastiese verrassing, is die tweeling aanvanklik teësinnig om op ’n gesinsuitstappie mark toe te gaan. Lekker kos, die speelgebied met ’n springkasteel en glybaan, én ’n musiekvertoning met ’n kinkel sorg wel vir ’n heerlike dag. In die tweede boek, Hoera! Dis vakansie!, kom kuier Morena en Rorisang se nefie en niggie, Wande en Litha, by hulle vir die vakansie en gaan die vier rolskaatsbaan toe. Die twee nefies kry na die eerste ruk van skaats en val meer selfvertroue en die uiteinde is ’n resies wat nie heeltemal uitwerk soos hulle dit wou gehad het nie.
Die derde boek, Stop die bus!, neem lesers saam met die tweeling op ’n skooluitstappie op die rooi bus deur die stad tot by die pretpark. ’n Boelie van ’n busbestuurder versuur byna die uitstappie, maar ’n ekstra rit op die Mamba maak alles die moeite werd. Die straatpartytjie is die titel van die vierde boek. Dis Saterdagoggend, Morena en Rorisang se enigste skermtyddag, en die krag is af. Baie jong lesers sal hiermee kan identifiseer. Hulle ouers se voorstel om ’n ou speletjie, mgusha, te speel, klink vir hulle baie vervelig. Maar, soos met die ander drie boeke in die reeks, word dit ’n onvergeetlike dag in hulle woonbuurt.
Jong lesers sal hulle maklik met Refiloe Moahloli se prettige, eietydse stories en die situasies waarin haar karakters beland, kan identifiseer. Moahloli se stories is deur Jaco Jacobs in gemaklike, alledaagse Afrikaans vertaal om toeganklik vir die teikengroep te wees. Soos met die twee vroeëre titels vir sterker lesers, word woorde in die Ngam-gesin se huistaal ’n paar keer natuurlik in dialoog gebruik.
Morena en Rorisang se reeks is meer as ’n leesreeks. Dis ’n lekkerleesreeks en ek beveel dit met groot vrymoedigheid vir seuns én meisies aan. Wanneer kinders agter lekker aan lees, word lesers gekweek.
Hierdie leesreeks is ook in Engels, Xhosa en Zoeloe beskikbaar.
Ander titels deur dieselfde skrywer na verwys:
- Dis my naam
- Spanmaats

