Morele leierskap

  • 0

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

What’s on your mind? vra Facebook wanneer jy die toepassing oopmaak.

Waaraan dink ek vandag? Gewoonlik skryf ek in die week rondom Vrouedag oor een of ander kwessie rakende vroue. Hierdie week dink ek aan leierskap. Ons het sedert einde 2019 voorbeelde gesien van uitskieterleierskap, en voorbeelde van klaaglike mislukking as leiers. Die uitskieters het ferm besluite geneem tydens die vroeë dae van die pandemie, en heelwat lewens gered. Die klaaglike mislukkings het almal probeer teverede stel en in die proses hul burgers vir die wolwe gegooi.

Mense hou van leiers wat ferm besluite kan neem. Kyk maar hoe is Rudi Giuliani opgehemel na die terreuraanvalle op 9/11. Andrew Cuomo was ’n ster in die vroeë dae van die pandemie. Hier by ons het Zweli Mkhize groot bewondering ontlok vir die koelkop manier waarop hy beheer geneem het van die mediese krisis.

Maar is dit genoeg om net met ’n ferm hand en ’n koel kop die regte besluite tydens ’n krisis te neem, of verwag ons meer van ons leiers?

........

Maar is dit genoeg om net met ’n ferm hand en ’n koel kop die regte besluite tydens ’n krisis te neem, of verwag ons meer van ons leiers?

..........

Vir my is die eenvoudige antwoord altyd dat ons leiers ook op eties en moreel onkreukbare wyse moet optree. As ons die kultuur van selfverrykking ten alle koste wil hokslaan, moet ons begin met leiers wat nie dink ’n pandemie is die tyd om te steel nie. Hulle moenie hul vroulike werknemers as hul persoonlike speelgoed beskou nie. Hulle moenie syfers aanpas om hulself beter te laat lyk vir ’n beplande boek wat hulle potensieel miljoene in die sak kan bring nie.

Morele leierskap beteken dat ‘n leier met empatie moet optree. Leiers moet in staat wees om hulself in die skoene van die “ander” te plaas, en nie net optree asof die wêreld bestaan uit die elite in besigheid, in finansies, in sport en vermaaklikheid nie. Dit beteken dat die “regte” besluite tot die uiteindelike voordeel van alle burgers sal lei, nie net van die uitgesoekte klompie nie. Dit beteken dat veiligheid en welstand belangriker sal wees as welvaart en ’n ekonomie wat ’n paar skatryk maak en die res sonder ’n werk en ’n dak oor hul koppe laat.

Morele leierskap beteken standvastigheid in die beste belang van alle burgers, nie net die politieke elite wat mense rondskuif soos pionne op ’n skaakstel nie.

Voldoen die ANC aan hierdie standaarde?

Wanneer kabinetsposte uitgedeel word om alliansies tevrede te stel, in stede daarvan om die beste belange van die land te dien, dan wonder ek. Maak nie saak hoeveel van ’n ekonomiese swaargewig ons nuwe minister van finansies is nie – die vraag is hoeveel beleggers sonder voorbehoude in ons land gaan belê. Maar nog belangriker, hoeveel belastingbetalers gaan met ’n lied in hul hart hul swaarverdiende geldjies aan Jan Taks oorbetaal as hulle nie seker is hoeveel geld gaan in iemand se sak beland nie?

Is daar so ’n morele vakuum in die topleierskap dat niemand wat eerlik en bevoeg is, beskikbaar is vir sleutelposte nie? Wat is die waarde van ’n kabinetskommeling as dieselfde groep maar net in verskillende posisies ingeskuif word?

........

Is daar so ’n morele vakuum in die topleierskap dat niemand wat eerlik en bevoeg is, beskikbaar is vir sleutelposte nie? Wat is die waarde van ’n kabinetskommeling as dieselfde groep maar net in verskillende posisies ingeskuif word?

...........

Is dit morele leierskap om eers jou eie politieke bas te verstewig, al beteken dit jy maak moreel aanvegbare keuses, met die hoop dat jy op lang termyn meer vir die mense van jou land kan doen?

Maar kom ons raak meer prakties.

Kom ons gesels oor inentings. Inentings werk. Rotary is ’n organisasie wat hulself die doel gestel het om polio in die wêreld uit te wis. Hoe? Deur seker te maak soveel mense as moontlik word teen die siekte ingeënt. Hulle is grootliks suksesvol. Net in gebiede waar mense gekant is teen inenting, is polio nog nie heeltemal uitgewis nie.

Ons is besig om dieselfde pad met COVID-19 te loop. Die gemengde boodskappe wat daar uitgestuur word oor inentings bekommer my. Ek luister Sondag na ’n boodskap deur ’n bekende prediker, iemand wat self Covid gehad het en wie se kerk saam met al die ander telkens gesluit word. Dra jou masker, kondig hy met groot bravade aan. maar ek kan nie vir jou sê wat om te doen omtrent inentings nie. Dit moet jy maar vir jouself besluit.

........

Ons is besig om dieselfde pad met COVID-19 te loop. Die gemengde boodskappe wat daar uitgestuur word oor inentings bekommer my.

..........

In my eie kerk het my priester een oggend tydens die diens mense aangemoedig om vir inenting te registreer. Onmiddellik het een gemeentelid gesê hy gaan hom nie laat inent nie. Die priester het afgeblaas soos ’n ballon. Hy kan nie vir enigeen sê wat hulle moet doen nie, het hy gemompel en dadelik aanbeweeg na die volgende onderwerp. Dit was die einde van die gesprek. Dit is nie weer opgehaal nie, deels omdat kerke kort daarna (weer) toegemaak is.

Wanneer gaan die leiers besef dat ons elke keer die siklus gaan herhaal omdat hulle nie een enkele besliste boodskap oor inentings kan lewer nie? Hoeveel keer moet ons almal se lewens nog onderbreek word omdat die leiers nie die moed het om inentings te verplg nie? Veral nie in ’n verkiesingsjaar nie, behoede ons. Dan is die maklike uitweg maar om die verantwoordelikheid na besighede uit te kontrakteer met die hoop dat geld nie vir hulle belangriker is as hul werkers en klante se welstand nie.

Die probleem is natuurlik nie net in topleierskap nie. Elke aand wanneer dit donker word en ek die sproeilig voor my deur aanskakel sodat mense wat laat van die werk kom, darem kan sien waar hulle loop, besef ek ook op plaaslike vlak faal ons leiers ons. Daar is in ons straat drie straatligte. Hulle het laas in 2019 gebrand. Die slaggate in die pad reg voor my huis was ook omtrent toe laas reggemaak.

........

Daar is ’n WhatsApp-groep wat hulle bemoei met die veiligheid van die dorp. Die twee aktiefste lede is mense met politieke ambisie wat tot onlangs toe nie veel vir die dorp gedoen het nie, maar wat nou skielik baie besorgd is – solank dit die deel van die dorp is waar hulle kiesers kan werf.

..........

Daar is ’n WhatsApp-groep wat hulle bemoei met die veiligheid van die dorp. Die twee aktiefste lede is mense met politieke ambisie wat tot onlangs toe nie veel vir die dorp gedoen het nie, maar wat nou skielik baie besorgd is – solank dit die deel van die dorp is waar hulle kiesers kan werf. Word daar bekommernisse uit die ander, ekonomies minder welaf dele van die dorp gelug, is daar ’n oomblik stilte voordat die gesprek herlei word na die varke wat grasperke omdolwe, straatligte wat nie werk nie en bergies wat in die dorpskern slaap. Onlangs is daar met groot fanfare aangekondig dat ’n struktuur waar mense in die dorpskern slaap, afgebreek is. Nou lyk die aangesig van die dorp beter, word dar trots gesê.

Was daar een enkele persoon wat besorg was oor die welstand van die mense wie se dak oor hul koppe nou afgebreek is? Natuurlik nie. Hoekom jou bekommer oor iemand anders as jy self versorg is?

Die sterkmantaktiek werk gewoonlik korttermyn, maar op langer termyn kan ons waarlik net groei as ’n samelewing wanneer ons empatie toepas. Noem dit ubuntu. Noem dit welwillendheid.

Noem dit wat jy wil, maar tot tyd en wyl ons besef dat die ketting net so sterk is soos die swakste skakel, en aktief werk om daai skakel te versterk, gaan ons as ’n samelewing aanhou agterbly. Tot tyd en wyl ons besef dat ons lewens verweef is, en die lot van die bergie wat nou nie meer slaapplek het nie, ook jou lot in jou knus huis beïnvloed, kan ons nie vorentoe beweeg nie.

........

Noem dit wat jy wil, maar tot tyd en wyl ons besef dat die ketting net so sterk is soos die swakste skakel, en aktief werk om daai skakel te versterk, gaan ons as ’n samelewing aanhou agterbly. Tot tyd en wyl ons besef dat ons lewens verweef is, en die lot van die bergie wat nou nie meer slaapplek het nie, ook jou lot in jou knus huis beïnvloed, kan ons nie vorentoe beweeg nie.

...........

Dalk beteken dit dat ons op kort termyn sekere goed moet prysgee sodat ons almal op die lang duur kan wen.

Maar is ’n volhoubare samelewing nie die opoffering werd nie? Of is ons so selfsugtig dat ons nie bereid is om een enkele voorreg selfs tydelik prys te gee nie?

As dit die geval is, en ek vermoed dit is, dan kan ek net soos Alan Paton sê “Cry the beloved country.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top