Moonrise Kingdom
Regisseur: Wes Anderson
Rolverdeling: Jared Gilman, Kara Hayward, Edward Norton, Bruce Willis, Frances McDormand, Bill Murray, Tilda Swinton

Van Wes Anderson, regisseur van onder meer The Royal Tenenbaums en Darjeeling Limited, kan ’n mens altyd iets buitengewoons verwag.
Die absurde, surrealisme en satire is kenmerkend van sy werk, maar omdat hierdie verhaal oor kinders handel, werk hy met ’n ligte aanslag en ’n sagte hand.
Die verhaal speel in 1965 af. Die twaalfjarige Sam (Jared Gilman) is deel van ’n klein eilandgemeenskap, en ná sy ouers se dood word hy in pleegsorg van die een gesin na die volgende aangegee.
Soos al sy klasmaats is hy ’n toegewyde Boy Scout om hom op die grootmenslewe voor te berei. Tydens ’n skoolkonsert raak hy verlief op Suzi (Kara Hayward), net so wêreldvreemd soos hy, en hulle besluit om weg te loop sodat hulle bymekaar kan wees. ’n Holderstebolder soektog volg, terwyl die moeder van alle reënstorms die eiland bedreig.
Hierdie film is ’n plesier van begin tot einde. Hou die ore oop vir daardie bietjie bluegrass in die klankbaan.

