Schalk Schoombie deel sy indrukke oor kykNET se dramareeks Mooiweer en warm wat die skerms hierdie week getref het.
Klik op die foto om die lokprent te kyk:
Donker wolke dreig in die nuwe kykNET-dramareeks Mooiweer en warm, wat van 7 Februarie af uitgesaai word. ’n Natuurramp kan ’n poskaartdorpie digby ’n dam en ’n berg se einders negatief verskuif as daar nie dringend oplossings gevind word nie. Honderdduisende lewens is in gevaar. ’n Apokaliptiese vooruitsig, en die soort hoë risiko wat naelkou-opwinding beloof.
’n Mens skuif nader met hoë verwagtinge as jy sien die teks is deur die veteraan-draaiboekskrywer Paul C Venter, die meesterbrein agter dramareekse soos Vlug na Egipte, Vierspel, Sterk skemer, Arende, Onder engele, Samaritaan en tientalle ander. Hier kom ’n ding.

Beer Adriaanse en Carla Smith in kykNET se slinternuwe dramareeks Mooiweer en warm (Alle fotomateriaal: kykNET)
Die ensemble spelers wat hier saamgebring is, lees soos ’n ererol; waarlik die room van Afrikaanse TV en teater, en onder die jonger garde ’n paar welkome vars talente: Brümilda van Rensburg, Antoinette Kellerman, Deon Lotz, Tinarie van Wyk Loots, Marisa Drummond, Carla Smith, Beer Adriaanse, Kim Cloete, Susan Danford en ander.
Die aanvangsepisode, wat tydens ’n vlooimark by die kerk afspeel, open heel belowend. Die sleutelkarakters word bekendgestel in die steeds omstrede opset van tradisionele godsdiens en handeldryf, waarvoor die Saligmaker waarskynlik ’n swepie sou vleg. ’n Uitstekende scenario vir kleindorpse skinder en konkel, politiekery en ambisie.
In die knap geredigeerde en uiters visuele titelsekwens word die kyker voorberei: “Hierdie storie is gebaseer op regte mense met regte probleme ... hulle weet dit net nog nie.”
Die hartstogtelike titelsnit “opgevoer deur Amanda Strydom” (uitgevoer? Of sommer maar gesing?) trek jou aandag op die regte manier. Ongelukkig is die reeks elders (in latere episodes) nie oral so mooiweer en visueel-ouditief warm nie.
Dis deursigtig om te meld dat dié resensent net vyf van ’n dosyn episodes kon bekyk. Die karakters en stories kan nog ontwikkel in onvoorsiene rigtings. Dit plaas die resensent in ’n dilemma; dis om die maal aan die voorgereg te oordeel. Iets kan goed begin en swak eindig. Gaan die “proof” dalk eers in die poeding wees? Dit sou onregverdig wees om raaiskote te waag oor deurlopende gehalte en waarheen alles op pad is, en of die reeks dramaties die paal gaan haal.
Wat ons uitvind van die hegte klein gemeenskappie is dat hulle verlig genoeg is om ’n vrouepredikant op die kansel te duld, of soos die knorrig-konserwatiewe Willem (Deon Lotz) sê, ’n “rokpredikant”. ’n Vrou aan die roer van kerksake mag maar blond en mooi wees ook (die aanvallige Marisa Drummond); ’n sterk vrou wat nie huiwer om probleme sommer met die knie uit te sorteer nie.
Twee situasies in vroeë episodes plaas kerklikes in ongemaklike situasies. (SPOILER ALERT)
Dominee Issie (Drummond) is op huisbesoek by die immer gebelgde Willem (Lotz) en vlieg orent om ’n huishoudelike onderonsie wat fisiek wil raak met ’n aanvalstaktiek te besleg. Sy mik laag. Sou ’n manlike/vroulike leraar ter plaatse ooit so iets doen, selfs op die ingewing van die oomblik? Dit oorskry die perke van geloofwaardigheid.
Die lomp verleidingstoneel tussen Sonica (Brümilda van Rensburg) en die bitterbek oom Bokkie (André Samuels) is ewe vergesog. Sonica is ’n vrou wat “baie hou van mans” en wanneer sy misgryp, ontaard dit in ’n taai spul; ’n klugtige moment wat belaglik eerder as komies aandoen. Komiese afleiding kan ’n tameletjie wees. “Cringe comedy” is ’n waagstuk.
Sulke gedwonge situasies ondermyn die andersins deurlopende realisme en voel ’n bietjie outyds. Daar is debatte en demonstrasies oor die gevare van oorvol damme, en vergaderings en komitees oor die vlooimarkpolitiek wat herinner aan Jans Rautenbach se Die kandidaat (1968). Te veel statiese situasies word uitsluitlik deur dialoog eerder as handeling gedryf. Gelukkig is Venter ’n ou hand met dialoog wat ver uitstyg bo die herhalende getjommel van sepies. Hy onderskei karakters vernuftig deur hul taalgebruik en gewoontes. Verder het hy ’n poging aangewend om geykte karakters te vermy; minder plat protagoniste en aaklige antagoniste wat eensydig heldhaftig of boos is, en eerder mense wat die saadjies van verderf én verlossing in hulle dra. Getroudes verneuk mekaar, romanses blom en ambisie skemer deur. In die meeste van die karakters is ’n tikkie eksentrisiteit en dus menslikheid te bespeur.
Die A-storie behels die dreigende damkrisis waarvan nie almal weet of wil weet nie, omring deur kleiner intriges en gedoentes by die vlooimark, waaruit die lidmate en dorpenaars ’n bestaan probeer knyp. Oorlewing in alle vorms is die dryfveer. Gaan ’n vloed almal en als wegspoel?
Ruben (Carlo Daniels), ’n dambewaarder wat sy weerballon sy “baby” noem, verwys na die storms wat die dam voller maak en ’n ekologiese ramp voorspel. Al wat die kyker hiervan gewaar, is kunsmatige blitse buite (sigbaar deur die venster) en straaltjies water teen donker glas. Die stortreën word nooit in buitetonele gewys nie; bedags is daar nie ’n modderpoel, blare, verspoelings of ’n gebreekte tak in sig nie. Die kerkgronde bly kurkdroog. Dis jammer dat daar nie in die beplanning en produksieontwerp meer aandag daaraan gegee is vir so ’n sentrale motief nie.
Die visuele voorkoms van die reeks wissel, van die vaal kerksaal vir die vlooimark tot kleurryke glasvensters in die kerk. Blote glimpe van die dorpstrate kontrasteer met soel panoramas van die dam en die omringende groen wildernis. Binnetonele word warm belig, maar is vervelig en voorspelbaar geraam om die speler telkens kaplaks in die middel van die skoot te plaas. Dit noop akteurs dikwels om direk in die kamera te staar. Daar is min variasie van kamera-opset en -beweging in die meeste binnetonele en sommige buite-gesprekke; ’n statiese opset wat op gesprekke en konfrontasies fokus. Goed en wel. Soms bevoordeel dit die spel en vertelling, waar dit genuanseerd en filmies subtiel is, maar in te veel gevalle verhoog dit die melodrama. Die ou neiging van ons mense om te wroeg.
Sommige van die meer gesoute spelers besef blykbaar nog nie dat die kamera se kyk genadeloos ontblotend is, dat elke geit en maniertjie oorbeklemtoon kan lyk, en veral dat verhoogprojeksie kras voor hipersensitiewe mikrone opklink nie. Van die jonger geslag, waarskynlik minder ervare op die planke en dus minder geneig tot grootse momente, sondig minder hiermee – hul interaksies is meer beteueld en eg. Die ouer generasie gaan by tye skril of bulderend oorboord. Sulke oordaad behoort deur die regie in die bek geruk word.
Dit help ook nie dat twee van die karakters (Willem en Aletta) medikasie benodig om hul uitbarstings te beheer nie – waarvan daar genoeg is om te irriteer. Antoinette Kellerman, spierwitgrys en immer ’n deurwinterde teenwoordigheid, lyk of sy te oud kan wees om Aletta se ma te wees. Dalk eerder haar ouma. Sy speel Berta, ’n knorrig-liberale handelaar van tweedehandse boeke met ’n voorliefde vir zol, en ’n siniese ateïs wat ’n opdringerige Christen reghelp: “Ek lees baie boeke, nie net een nie.”
Oom Skip (Royston Stoffels), ’n blinde bejaarde wat mense se ware aard kan sien, boots ’n Egiptiese mummie in dreunende inkantasie na by sy dogter, Soettand Carmen (Kim Cloete), se lekkergoedstalletjie. Dié voorstellings is nie altyd vreeslik humoristies nie.
’n Karakter wat klokslag die tone laat krul, is die skynheilige skriba, Bokkie (André Samuels). Hy wil die vlooimark tot niet maak en verpes dobbel en dagga. Sy verkrampte sienings word in bryende sarsies en teksverse uitgeryg. Wanneer hy tot sy val kom, is dit wel bevredigend en vermaaklik.
Drie moderne gesinne word gekenmerk deur chroniese disfunksie. Berta (Kellerman) se impulsiewe dogter Aletta (Tinarie van Wyk Loots) is waarskynlik ’n skisofreen wie se vloermoere die aarde laat bewe. Paul du Toit as Lood, ’n tatoeëerkunstenaar en verloopte rockster, is die Samaritaan met ’n Kersvaderbaard wat ingryp en die kat in die donker knyp. Berta waarsku hom dat hy hom inlaat vir ’n nagmerrie.
Willem is ’n voormalige radioman wat snik en ween oor sy CD-bundels Afrikaanse gedigte (Winternag) wat nie verkoop nie. Hy tree haglik op teen sy oorwerkte gade, Nerine (Ira Blanckenberg), wat haar hygende heenkome vind in die arms van Doons (Wynand Ferreira), ’n eendstert wat ’n kindertrein tydens die vlooimark beman. Nerine herinner haar chauvinistiese man telkens daaraan om sy blerrie pil te sluk.
Brümilda van Rensburg is ’n regte Disney-booswig as Sonica, die raakvat-skoonma van Alex (Geon Nel), ’n bekkige mark-argitek wat konserte, vlooimarkte en feeste bestuur. Sonica en Alex hou meer van mekaar as wat haar dogter (geskei en hier afwesig) van albei hou.
Predikant Issie is uitstedig wanneer Bokkie sy bose planne onthul om die vlooimark te sluit. “Mans loop ’n draai om ’n girl wat teologie swot,” bieg Issie aan Alex, wat eers sy beheptheid met Sonica moet afskud voor hy behoorlik by Issie kan vlerksleep. Arme Issie moet eweneens, soos Sonica, desperaat wees vir ’n man
Van al die romantiese komplikasies is dit die ontluikende aangetrokkenheid tussen die skatryk weeskind Cezanne (Carla Smith) en die brandarm voëlkenner Meyer Basson (Beer Adriaanse) wat oortuigend ontwikkel met humor en deernis. Hulle is die helde van die hoofstorie – dam-oppassers met ’n groen gewete. Hul interaksies is eg en hulle takseer mekaar met sielvolle donker oë en hoop in die hart. Die liefde kruip harmansdrup, met ’n tikkie ongemak, wat die kyker laat wonder wanneer die vonke gaan spat. En hoe ver sal Meyer gaan om sy liefde te bewys?
Op dieselfde manier wat daar te min variasie in karamerahoeke is (middelpuntvliedend) en ewe min kamerabeweging, is daar baie min variasie in die klankbaanmusiek. Pieter Bezuidenhout se klavierkenwysie klingel voortdurend om die humoristiese of dramatiese stemming te sein – ’n oorwurm wat aan jou nagrus vreet. By die vlooimark hoor jy genadiglik soms ’n ander deuntjie (blues, rock) en in Cezanne se dubbelverdieping sweef ’n welkome druppel klassieke musiek. Ruben se ballon styg op Wagner se Vlug van die Walkure. Maar die getokkel keer knaend terug.
’n Deelskerm (“split screen”) is ’n redigeertruuk wat kontras of konflik verbeeld of spanning opjaag. Dit is suksesvol ingespan in die misdaadriller The Boston strangler (1968) met Tony Curtis in die titelrol. Die wyedoekbeeld word by tye verdeel in twee of meer beelde van verskeie handelinge op dieselfde tydstip, soos die booswig wat die trappe bestyg na sy slagoffer se woonplek terwyl sy teiken salig onbesorg in haar woonstel werskaf.
In Mooiweer en warm word die tegniek sporadies onsamehangend ingegooi, dalk vir komiese effek. Dis nie nodig om in ’n nabyskoot te vertoon hoe iemand sy selfoon in sy sak steek terwyl dieselfde handeling reeds duidelik sigbaar is nie. Deelskerm is ook onnodig waar twee karakters letterlik langs of oorkant mekaar sit.
Issie som haar nemesis, die perfeksionistiese Sonica, so op: “Sy’s té. Te alles.”
Deelskerm, die dominee se skop, Willem se outydse versies, Bokkie se pynlike preutsheid, die klavier se getokkel, die eenderse kamerahoeke is alles voorbeelde van té.
Sonica, Bokkie en Issie patrolleer die kerkgronde tydens die vlooimark met walkie talkies – “Kom in, Bravo!” – en dit in die glorietyd van slimfone. Hulle snuffel rond vir dagga, iets wat deesdae wettig is en lankal nie meer ’n aartssonde of bedreiging vir die volk se welsyn of sedes nie. Maar hier verloop sake nog uit ’n vervloë tyd, met ’n “rokpredikant” as enigste toegewing aan die hedendaagse kerk. Effe outyds. Maar onthou, dis kykNET-gesinsvermaak. Vermy alle omstredenheid, en alles kom met ’n suikerlagie vir verteerbaarheid.
Mooiweer en warm is allesbehalwe ’n mistasting. Dis ’n eklektiese keurprojek wat hoog mik, en daarvoor moet jy respek hê. Daar is momente wat aangryp, soos Cezanne se droom van die dam wat in haar bad eindig. Dis geheimsinnig en visueel treffend. En as die hele reeks maar so meesleurend was soos die titelsekwens en die droom, kon dit trots langs die beste van oorsee staan.
’n Groot storie verdien ’n groot produksie. In Paul C Venter se Mooiweer en warm word ’n epiese verhaal op ’n klein skaal vertel. Dié kyker smag na meer visuele waagmoed, lugskote van dam en dorp, die omgewing, maar die begroting het waarskynlik nie ruimte gelaat vir ’n hommeltuigkamera nie. Jy hoor die mediese helikopter wat Cezanne kom oppik ná haar ongeluk by die dam, maar jy sien dit helaas nie. ’n Mens het begrip vir sulke besnoeiings en noodoplossings wat produksiemense moet bedink.
En hoekom op aarde is die polisiemanne in gitswart uniforms geklee? Hulle lyk soos Suid-Afrikaners en praat ons taal, maar dis die voorkoms van fascistiese stormtroepe.
Wanneer dit vloei (in vlooimarktonele en by die dam) is Mooiweer en warm ’n lekkerte; ’n bruisende rivier op pad see toe. Wanneer dit opdam en sloer (in melodramatiese binnetonele), begin die krake wys.
Mag ’n mens redelelikshalwe hoop op ’n ekologiese ramp vir meer skouspel en opwinding?
- Mooiweer en warm word vanaf Dinsdag 7 Februarie op KykNET uitgesaai. Die reeks het 12 episodes.



Kommentaar
Ai, ou Schalkie. O, en die reeks het toe 13 episodes.
Ek het in my jonger dae by die departement Waterwese gewerk, maar ek kan nie uitmaak watter dam dit is nie. Kan julle dalk met my deel? Net nog een ding: julle lingo vir gedeeltes van damme is nie heeltemal reg nie, maar dis die minste.
My guess is the Roode Elsberg Dam near De Doorns, Hex River Valley, Western Cape.