Monique Bisschoff is die hoofkarakter van 'n LAPA-boek

  • 1

Monique Bisschoff het onlangs ’n unieke LAPA-kompetisie gewen. Monique is ’n regte mens, maar verskyn ook binnekort as hoofkarakter in ’n roman. Sy vertel vir Naomi Meyer nog van die kompetisie en hoe sy gewen het.

Hallo Monique, baie geluk dat jy hoofkarakter is in Leon van Nierop se boek Snydokter. Maar waarvan praat ek alles? Wil jy nie vir ons lesers vertel wat was hierdie LAPA-kompetisie en hoe het dit gekom dat jy ’n hoofkarakter in ’n roman geword het nie?

Ek het maar van nature so ’n nuuskierige klap weg en toe ek so ’n paar maande gelede op Facebook opmerk dat een van my pelle aan die kompetisie deelneem, het ek die skakel gevolg en so op LAPA se webtuiste beland. Daar het ’n videogreep van einste Leon my begroet en verduidelik presies hoe die storie sou werk.

In ’n neutedop: Soos wat akteurs vir rolle in ’n fliek geplaas word deur ’n oudisie af te lê, so is daar basies “oudisies” afgelê om die hoofkarakter in Leon se nuwe boek, Snydokter, te word. Die voorstorie, die newekarakters, die basies intrige, is als reeds vooraf uitgedink en beplan; al wat nog kortgekom het, was die hoofkarakter.

Die “oudisies”: ons deelnemers moes ’n fiktiewe karakter, ene Xander Stroewig, op Facebook bevriend en daar is ons in kennis gestel van takies en raaisels wat ons moes oplos deur ons lyf speurder te hou. Oor ’n tydperk van twee maande moes ons 19 leidrade oplos. Alles het elektronies geskied en ons het gebruik gemaak van multimedia soos YouTube, Facebook, Gmail en selfs foonoproepe, om maar ’n paar te noem.

Die finale opdrag het behels dat jy moes kyk na al die los drade van die 19 opgeloste leidrade en dan jou eie gevolgtrekking te skryf oor wat presies gebeur het – so ’n bietjie “connect the dots”. Wat dink jy het werklik gebeur? Ek het my storie gestuur, is gekies onder die top vyf en is, na ’n persoonlike onderhoud met Leon en die mense van LAPA, as die hoofkarakter gekies.

Ek lees jou blog hier. Skryf jy nog altyd graag?

Nog altyd! Skryf maak vir my sin. Ek verwoord myself beter op papier. Ek is alewig besig om gedagtes, woorde, beskrywings en oomblikke neer te pen. Opstelle, briewe, sketse, gedigte, lirieke – as ek ’n pen het, skribbel ek. Nog nooit professioneel gedoen nie, maar hopelik eersdaags … Ek is ook obsessief oor spelling en korrekte taalgebruik en het gedurig met ’n pen op kampus rondgeloop en spel- en taalfoute op al wat ’n plakkaat en kennisgewingbord was, gekorrigeer! Ek doen dit eintlik nou nog en wens eintlik dat ek vir die mensdom kon verduidelik hoe onprofessioneel dit is om verkeerd te spel. Woorde is my maats, my sielsgenote. Hulle verstaan my en ek vir hulle en ons het baie respek vir mekaar.

Wat is jou agtergrond en watter werk doen jy as jy nie ’n hoofkarakter in ’n fiksieboek is nie?

Ek is ’n nooi gebore in ’n vaal, saai Klerksdorp, maar my verbeelding en omgewing het my wêreld in helder kleure getooi. Ek was jonk toe ons na die Jakarandstad verhuis het en het uiteindelik onlangs my droom bewaarheid deur Kaap toe te trek. Nou bly ek in die lieflike Bloubergstrand en sien elke dag die berg en see. My siel kan nou asemhaal: ek’s nie meer so beduiweld nie en mense hou meer van my vandat ek hier bly. Ék hou meer van my vandat ek hier bly! Ek werk as ’n professionele “recruiter” – die Afrikaanse term “werwer” is baie onbekend en iemand mag dalk dink ek verf mure vir ’n lewe … 😉 Ek spesialiseer in die finansiële sektor en ontmoet elke dag nuwe mense. Dit is vreeslik vinnig en opwindend – ek is mal oor my werk. Ek het drama geswot by die Method Acting Training Centre in Pretoria, onder leiding van Stephanie van Niekerk. Dit is hier waar ek as mens ongelooflike kennis en vaardighede opgedoen het wat my as mens help verdiep en ontwikkel het. Die jare se studies is baie intens en uitdagend, maar dis hier waar ek geleer het dat tou opgooi nie ’n moontlikheid is nie.

Ís Snydokter ’n fiksieboek? Wat is die aard van die boek – is dit regtig jy, is Leon ’n spookskrywer, skryf hy jou lewensverhaal neer, of is dit “net ’n storie”? Watse soort boek is dit?

Dit ís ’n fiksieboek en ek verskyn as myself in ’n fiktiewe storielyn, met ander woorde die karakter is Monique Bisschoff, ’n 29-jarige vrou van Bloubergstrand wat in Groenpunt werk en baie praat. Sy het lang bruin hare, groen oë en dra graag rooi. Maar dan raak sy/ek betrokke by ’n fiktiewe storielyn wat deur Leon uitgedink is. Hy gebruik my persoonlikheid en my omstandighede en pas dit aan om by die storielyn te pas. Dit is soos Meryl Streep wat as haarself in ’n fliek verskyn, maar waar haar “karakter”, wat steeds sy is, gebonde is tot die storielyn, die intrige. Dis ’n lekker riller, ’n “whodunit”. Leon was die skrywer, maar my insette is gebruik. Hy sou elke dag vir my die nuwe hoofstuk stuur en dan moes ek veranderinge aanbring om my persoonlikheid en wie ek is te weerspieël. Ek moes soms weergee hoe ek op ’n spesifieke situasie sou reageer. Ek het ook baie gehelp met die gebruik van tegnologie wat in die boek voorkom. Die storie en karakters maak baie van sosiale media, blogs, e-posse ensovoorts gebruik. Dit is beslis nie my lewensverhaal nie – genade, wie sou dít wou lees buiten ’n niksvermoedende ou tannie op Welkom en miskien my ma – en dit het ’n lekker verrassende kinkel in die kabel. Die verhaal handel oor ’n plastiese chirurg wat onder vreemde omstandighede verdwyn – ek moet die verdwyning ondersoek en wanneer die gebeure en omstandighede al hoe vreemder begin raak, word ek ingesuig by ’n komplot waarmee ek nie rekening gehou het nie …

Waarom sou jy lesers aanraai om hierdie storie te lees?

As jy ’n boek lees soos ek hom lees, raak jy intens emosioneel betrokke by die karakters en hul wel en wee. Dit is vir my altyd geweldig traumaties en ontnugterend om ná die lees van ’n boek vaarwel te moet roep aan geliefde karakters juis omdat hul nie werklik bestaan nie. Maar met Snydokter is dit anders. Hierdie keer bestaan die karakter werklik! En nie net ek nie, ook George Kellerman en Rozanne Kotzee verskyn in die boek as newekarakters en is ook regtig-egtig! (Hahaha.) Dus, na ’n heerlike storie vol intriges, spanning, humor en interessante karakters saam met wie jy gelag, geskrik en gehyg het, is daar die gemoedsrus wanneer jy weet: iewers, êrens loop hul werklik rond … Dis vir my die gróót lekkerte van hierdie boek en hierdie konsep! En as dit jou nie oortuig nie, sal Leon van Nierop se talent as skrywer en meesterverteller die ding doen. Leon ken nie grense nie. Hy laat toe dat ’n karakter en ’n storielyn ontwikkel in die rigting waarin dit wil, waarheen dit lekker is. Die boek is iets anders as wat nog ooit in Afrikaans geskryf is en jy móét daaraan deel hê – dit sal jou oorrompel.

Wil jy graag jou eie boek ook skryf, of is die blog lekker nes dit is?

Ja. Dit is my droom. Dit is waarnatoe ek werk en waarvoor ek mik. Ek is lief vir blog en het voorheen ook op ’n ander forum geblog. Maar die tyd is nou ryp vir my om te begin skryf aan my boek. Ek is nou 29 en ek voel uiteindelik ek het nou iets om te sê. Dit het 29 jaar se leef en beleef gekos, maar as ek tien jaar gelede ’n boek moes geskryf het, sou ek niks gehad het om te vertel nie. Ek begin eersdaags ’n skryfkursus onder Madri van der Walt. Verder het ek het ook baie geleer van Leon deur hierdie skryfproses. Die dissipline wat dit kos, die harde werk, die skryf en herskryf totdat jy tevrede is … Ek besef nou dat die romantiese idee van ’n gefolterde siel wat met ’n magdom koppies koffie sit en “bloei voor ’n tikmasjien” – soos wat Hemingway dit voorstel – nie werklik bestaan nie. Die formule is: agterent op stoel + harde werk en navorsing = sukses! Ek sien dit as ’n uitdaging, een wat my terselfdertyd bang én opgewonde maak.


Die Hoofkarakter-soektog is ’n item op vanjaar se Woordfeesprogram.

Datum: 9 Maart 2013
Tyd: 14:00
Plek: Boektent
Duur: 50 minute
Prys: R30

  • 1

Kommentaar

  • Daleen Kingma

    Goeie middag
    Ek behoort aan 'n boeklub, Die Leesladies, in die hartjie van die Bosveld, Leeupoort.
    Ons het nou Snydokter gelees en ons almal wil weet: WIE WAS PANDORA?
    Asb, help ons uit ons pyn en leiding...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top