Die Potchefstroomse rockgroep Monark se eerste album, Negatives, is gebore. Eugene Coetzer, die groep se hoofsanger, beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Eugene. Hoe’s dinge?

Foto: Waldo Pretorius
Dinge is ongelooflik. Die wêreld is nog in sy wentelbaan en die son gee ons energie. Wat meer kan mens vra. Ten spyte van die ongelooflik besige skedule met Monark kan ek regtig net dankbaar wees vir al die blootstelling en waardering van ons produk.
Geluk met julle eerste vollengte-album, Negatives, wat die rakke aan die tref is! Ongeveer ’n jaar gelede het ek met Deon ’n onderhoud gevoer, toe die enkelsnit “Smiling” so goed gedoen het. Wat het intussen alles gebeur aan Monark se kant? Enige groot skuiwe of veranderinge?
’n Jaar is genoeg om mens se lewe te verander. Die land het ons met ope arms verwelkom en al drie ons enkelsnitte het sover ongelooflik gevaar. Die grootste skuif was van geen album tot een album. Dit was een van die mees intensiewe projekte wat ons ooit aangepak het, beide fisies en emosioneel. Intussen het ons ook natuurlik die voorreg gehad om verskeie dele van die land te besoek en ons ondersteuners bietjie meer persoonlik te ontmoet.
Luidens jul Facebook-beskrywing het jy en Ewald omtrent twee jaar lank gewerk om die klank wat julle wou skep, te ontwikkel voor die res van die band-lede betrek is. Dis nogal ’n lang tyd! Voel jy dit wat julle daar gevind het, is wat op die Negatives-album gereflekteer word? Hoe lank het julle as band aan die tunes geskryf en hoe was die opneem-ervarings?
Ja, dit is. Maar in dieselfde asem kan mens eintlik sê dat elke kunstenaar maar sy hele lewe lank aan die tegniek werk wat sy hart se diepste geheime op die mees effektiewe manier kan kommunikeer. Die “bepynsing” was die moeite werd en word vir seker gereflekteer op die album. Dit is ’n klank wat groot genoeg is om jou siel in beweging te bring, maar oop genoeg sodat die stem van beide die sanger en die song duidelik gehoor kan word. Ons het ’n volle jaar aan die album gewerk en voel dat elke sekonde die moeite werd was. Ons het gegroei deur die hele proses in terme van die skryfproses sowel as die opneemproses. Ons het nog altyd geglo in ’n minimalistiese benadering, maar het vooruitgegaan in die kuns om dit in die praktyk te behaal.
Julle dui aan die album word uitgegee deur Universal Music. Hoe het dié ooreenkoms gebeur en hoe (indien enigsins) het dit julle aanslag en die inhoud van die album beïnvloed?
Ons is baie gelukkig dat die ooreenkoms geen struikelblok veroorsaak het in terme van ons musiek en loopbaankeuses nie. Ons het ’n ontmoeting gereël met Randall Abrahams en Kevin Grenfell (Universal) net nadat "Smiling" begin goed doen het op die radio en besluit dat ons na ’n punt toe sal werk waar die ooreenkoms die beste sal wees vir die produk. Hierdie besluit is beslis deurgevoer en ons is baie gelukkig om Universal agter ons te hê, nie net finansieel nie, maar ook as ’n organisasie wat ten volle in ons glo.
Dis seker ’n moeilike ding vir ’n jong band om te besluit – om met ’n record company te gaan, of nie. Hoe werk dit vir julle tot dusver en watter tips sal jy gee vir jong bands wat deur ’n record company genader word? Moes julle ooit voet neersit oor enigiets?
Dit was vir seker ’n moeilike besluit. Dit beïnvloed die band vir vyf of ses jaar in die toekoms in. Vir elke band is dit ’n unieke situasie wanneer hulle moet besluit om met of sonder ’n record company te gaan. Ons situasie het dit nodig gemaak om in ’n kort tydjie soveel as moontlik vordering te maak. Die infrastruktuur en hulpbronne van Universal was in ooreenstemming met hierdie ideaal. Dit is egter moontlik om hierdie vordering oor ’n lang tydperk onafhanklik te maak en elke band moet dit vir hulleself uitmaak wat die beste opsie is.
Dit lyk of (omtrent) almal in die band Afrikaans is, en julle kom van Potch af, waar ’n swetterjoel Afrikaanse bands al gebore is. Het julle ooit oorweeg om die Afrikaanse scene uit te probeer, of wat was die besluitneming in daardie opsig? Wat dink jy van die Afrikaanse toneel op die oomblik – en die Engelse toneel?
Die Afrikaanse toneel is beslis besig om te ontplof en dit hou groot belofte in vir die toekoms. Die nadeel kan dalk wees dat die mark op die oomblik oorstroom word. Met die taal is daar vir seker geen fout nie. Afrikaans is tops. Maar ons het die besluit geneem vir Engels, aangesien dit die taal is wat Suid-Afrika bymekaarbring. Dit is universeel en juis daarom is dit die beste taal om ons musiek die beste uit te druk.
Op die EPK verduidelik julle dat almal in die band al ’n lang pad saam stap. Dink jy dit maak dit makliker om met die uitdagings en spanning van toer, skryf en optree te gaan, of bring dit soms ’n ander soort moeilike element?
In meeste opsigte maak dit dinge makliker. Ons ken mekaar baie goed en weet wat is die moets en moenies van elke persoon. Maar hierdie lang pad het ook gemaak dat ons uiters hoë verwagtinge het van mekaar en soms stel ons mekaar teleur. Dit alles gesê, ek sal nie my medelede vir enigiemand veruil nie.
Monark is relatief jonk, maar julle het ’n groot jaar gehad … Enige spesifieke hoogtepunte tot dusver? Enige laagtepunte of plekke waar julle dalk nie gou weer sal optree nie?
Ons kan nie vir meer gevra het met die nommer 1 wat ons enkelsnit "Build it up" op verskeie nasionale radiostasies behaal het nie. Dit is beslis een van die hoogtepunte. Ons is so bly en dankbaar vir die ongelooflike blootstelling wat die radio bied en ook vir die warm verwelkoming van ons ondersteuners. As daar enige laagtepunte was, onthou ons dit nie. Ons probeer om nie vasgevang te word deur negatiewe momente nie.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir Monark in?
Ons is ongelooflik opgewonde oor ons albumvrystelling op 9 Julie in Sandton. Die tyd is hier. Dit is byna onwerklik. Dit is fantasties dat ons volgelinge uiteindelik ons songs saam kan deurluister en ’n geheelbeeld kan vorm van wie ons is en wat ons doen.
Wat is die sin van die lewe?
Wel, die sin van die lewe is beslis om die sin van die lewe te verstaan. Ek glo ons is op hierdie aardbol gesit om te leer presies wat dit is. En die leraar van hierdie les is die gevolge van ons aksies. ’n Paar goeie keuses het selfs die krag om ’n hele klomp slegtes se gevolge te laat verdwyn.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

