Die Potchefstroomse groep Monark maak groot opslae met hul treffer "Smiling". Deon de Klerk, baskitaarspeler, beantwoord enkele vrae.
Goeiemôre, Deon. Hoe’s dinge?
Hei Henry, great thanks en aan daai kant?
Eerste dinge eerste – jul enkelsnit “Smiling” klim op die oomblik teen die ranglys op met die 5fm top 40. Vir so ’n jong band is dit nogal groot. Het julle dit verwag? Hoe reageer julle hierop?
Dit was regtig ongelooflik om die reaksie van die mense te sien! Ons het geweet “Smiling” is ’n great song met baie potensiaal, maar dit het vir seker ons verwagting oortref. Dit inspireer ons vir seker om harder te werk aan dit wat kom.
’n Eerste musiekvideo en enkelsnit stel die band aan die wêreld voor. In hoe ’n opsig reflekteer die inhoud van die video (die Sinterklaas-storie) en die snit jul algemene inslag en waarna julle mik?
Ek dink dit is ’n great introduction vir waarheen ons op pad is en wil wees. Ons wil graag iets vars na die mark bring, maar iets wat tog nog steeds lekker is om op die radio na te luister. Die video weerspieël ook die cinematic inslag waarvan ons hou, om deur ons musiek en video en hopelik wat ons doen great stories te vertel.
Volgens amptelike inligting het julle einde 2012 aan jul liedjies begin skaaf, tog is daar snitte op Soundcloud wat meer as ses maande gelede opgelaai is. Wat is die situasie in hierdie verband?
Haha ... Ja, daai songs moet seker nie meer daar wees nie. Ons het as vriende al seker so agt jaar terug begin musiek maak, en daar is CD’s vol sulke snitte waarvan die sound baie verskil van dié van ons nuutste single. “Smiling” is egter die styl waarop ons besluit het en al ons nuwe musiek is in daardie trant.
Gepraat van die Soundcloud-snitte: veral “Can’t stop” het nogal ’n sterk Coheed & Cambria-soort alternatiewe vibe. Het die klank sedertdien sterk verander, aangesien julle julself nou as “cinematic pop” beskryf – ’n genre waar sê maar Fun en Florence & The Machine tuis is?
Yes, vir seker, die klank het baie verander. Deels bewustelik en deels ook onbewustelik deur die tipe musiek wat ons begin luister het. Ons het besef ons moet ’n balans en kombinasie vind tussen kompromie (is daar so ’n woord?) en ons passie vir musiek en die klank wat natuurlik vir ons kom. “Smiling” is die produk van die reis.
Julle is van Potchefstroom afkomstig en het noue bande met die ander groepe daar – onder meer het twee van jul lede se ateljee, Lighstain Studios, die onlangse albums van Dans Dans Lisa en Straatligkinders vervaardig. Bouwer Bosch het die video vir “Smiling” geregisseer en Deon Meiring het daarin gespeel. Watter invloede oefen die Potch-groepe op mekaar uit? Is daar iets in die water wat soveel bands daar laat ontstaan?
Blykbaar het ons water heeltemal te veel uraan in, so maybe is dit dit? Nee, ek dink Bouwer en Straatligkinders het ’n groot invloed gehad op die musiekbedryf in Potch. Baie van die jonger ouens het opgekyk na hulle en besef “Hei, ons kan dit ook doen.” Ons probeer mekaar hier en daar help en aanspoor om nie moed op te gee nie. Daar is byvoorbeeld nou ’n band, Bruce Noble, wat seker die mees talentvolle ouens in die land is, wat dit oorweeg om te quit. So as hulle hierdie lees: “MOENIE QUIT NIE DAMMIT!!”
Luidens inligting op die web handel “Smiling” oor “realistic, uncompromised and true battles of love”. Kan jy ’n bietjie uitbrei oor hoe (en of) die groep glo hierdie stryd opgelos kan word? Ek reken almal wil weet …
Maybe kan dit nie opgelos word nie … maar miskien kan ons dit beter hanteer? Die idee is nie noodwendig dat daar ’n battle is wat gewen moet word nie, maar eerder om te kies om in die verhouding/situasie te bly en te kan kies vir liefde eerder as om weg te hardloop en die ander persoon seer te maak. Dit geld vir baie meer as net romantiese verhoudings. Dit is dalk iets wat ons almal as Suid-Afrikaners kan begin probeer.
Die uitdaging bly natuurlik om ’n suksesvolle eerste enkelsnit of album/EP op te volg met iets wat ’n soortgelyke (of groter) impak kan hê. Hoe en wat beplan julle in hierdie opsig?
Ons is al stadig maar seker in die proses om ons eerste album op te neem (dit help nogals om iemand in jou band te hê wat ’n studio het!), so daar is al baie materiaal. Die probleem is nou net om te kies watter snit die beste gaan wees vir die tweede single.
Gepraat daarvan: Wat is julle langtermyn-mikpunte met die band? En die kort termyn, wat dit betref?
Ons wil hierdie so groot en so ver vat as wat ons kan. Ons sal vir seker die internasionale mark wil beproef. Ons glo ons klank kan goed werk internasionaal. Maar terwyl ons daaraan werk is ons maar besig om te werk aan ons live shows sodat dit regtig op ’n internasionale standaard kan kom. Ouens soos Gangs of Ballet en ISO is baie inspirerend in daardie opsig.
Wat is die sin van die lewe volgens Monark?
Daai vraag kort ’n koffie of ’n bier om te beantwoord! Kortweg sou ek sê ons sou graag deur ons lewens en musiek ’n goeie verhaal of storie wil vertel wat ’n verskil kan maak in ander se lewens. Al is dit net om hulle te laat “Smile” op pad werk toe as hulle ons song hoor speel. En dalk kan ons musiek ander mense inspireer om ’n great storie te leef.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

