Momentum Aardklop 2026: #op’it ... soos’it hoort!

  • 0

Foto van Alexa Strachan deur Pieter Lombaard

Die aarde klop kultuur op en in Potchefstroom!

Vanjaar se slagspreuk is “... soos’it moet wees” en nooi feesgangers: Op’it! – koop’it, hoor’it, sien’it, beleef’it: ... soos’it moet wees!

Daar is teater (drama en komedie), musiek (kabaret en klassiek), gesins- en kindervermaak by die Pronkpodium, gratis boekgesprekke en debatte by The Roots en musiekoptredes by die terreinverhoog, kunsuitstallings by die NWU-galery en markstalletjies by die joolplaas aan die oewer van die Mooirivier.

Dié wat nooit aan Potchefstroom as ’n natuurbestemming gedink het nie, kry vanjaar die kans om met nuwe oë na die dorp en omgewing te kyk, danksy die Elgro River Lodge se lieflike aanbod vir buitelugliefhebbers. Die natuur bly die gróót kunstenaar!

Die feesterrein is oop van 29 September tot 3 Oktober om 9:00 tot 20:00 en die terreinkroeg is oop tot 23:00.

Christiaan J de Swardt is ook in’it en klets met die aktrise, teatermaker en vervaardiger Alexa Strachan. Sy is ook die feesbestuurder.

“Vanjaar se program bied weer eens iets vir almal – van fynproewer tot feesjoller, van grootjie tot kleinding, van diepdenker tot dopdrinker, van woordwurms tot feesflerries. Aardklop is ’n gesinsfees, nie net vir geharde, stoere teatergangers nie. Die feesterrein is die hart van die fees: hordes stalletjies vir smulpape en snuffelaars – én ’n terreinverhoog met sakpaspryse. Aardklop is waar feesgangers, kunstenaars, skeppers, skrywers, stalletjiehouers en skoonmakers bloot gewone mense is. Waar almal met dieselfde finansiële kommers en onsekerhede, maar ook met dieselfde behoeftes en planne bymekaarkom met een gedagte: Laat die vure van hoop en vriendskap hoog brand! Soos dit hoort!” sê sy.

Alexa is ’n energieke, kreatiewe en vrolike vrou, maar sy is ook ’n berekende kunstevraat en kultuurvreter wat vure kán blus.

Aardklop is in 1998 gestig. Wat was die oorspronklike doel en hoe het daardie doel verskuif tot 2026?

Ek weet nie wat tot 2016 gebeur het toe ek aangestel is nie. Ons artistieke doelwit sedertdien is egter om te verryk (nie finansieel nie), maar wel ver reik: die gees. En ons wil ook verras, vermaak – én versoen.

In 2016 was die fees se voortbestaan in die weegskaal en in 2020/1(Covid-tyd) moes die fees as opwipfeeste na die Voortrekkermonument in Pretoria skuif. Wat het jy uit daardie krisisse geleer oor oorlewing?

Jy moet vinnig op jou voete kan dink en krisisse nie as ’n katastrofe sien nie. Dit is bloot ’n uitdaging waarvoor jy ’n oplossing gaan vind. En dit is wat ons gedoen het, want ons wou steeds geleenthede en ’n platform vir ons kunstenaars bied om ’n inkomste te verdien. Dit was juis die tyd wat hulle dit die nodigste gehad het.

Ons was teen 2019 op ’n opwaartse trajek, maar toe tref Covid ons. En al die feeste sal met jou eerlik wees: Ons het sedertdien nog nie een volkome finansieel herstel nie.

Momentum is nou as hoofborg betrokke. Wat verwag ’n beleggingsmaatskappy van ’n kunstefees?

Ek is geseënd. Ons naamborg verwag nie geweldig baie en stel nie vereistes nie. Hulle wil net hê mense moet die fees bywoon. Die hele Gauteng is vol van borde oor snelweë en hier oral in en rondom Potchefstroom. Hulle adverteer en bemark verskriklik goed. Hul enigste behoefte is dat die fees suksesvol is en dat mense kom feesvier: soos dit moet wees!

Jul dagkaartjie is R80 (Dinsdag en Woensdag) en R120 (Donderdag tot Saterdag), weekkaartjie R350. Hoe bepaal julle pryse om bekostigbaar te bly én volhoubaar te wees?

Die kaartjies is die eerste twee dae goedkoper, met die klem op Dinsdag as ’n nostalgiedag. Natuurlik verloor ons dan inkomste. Met jou dag- en weekkaartjie kan jy die feesterrein besoek en al hierdie wonderlike kunstenaars sien optree. Daar is groot name – van Mango Groove, Early B, Juanita du Plessis en Die Piesangskille (oud-Potchefstromers, nogal!).

Dit is só goedkoop om dit te kan bywoon en ons betaal maar in, want ons stalletjiehouers is vir ons ontsettend belangrik. As ons ons toegangsfooi te duur maak, dan gaan die feesgangers voel hul geld is klaar op inganggeld spandeer en daar is niks oor om die stalletjiehouers te ondersteun nie. Hulle is vir ons van kardinale belang en ons wil regtig hê hulle moet goed doen. Ons hoor dikwels Aardklop se stalletjies is die beste en dit laat ’n mens trots voel. Ons fokus op handgemaakte produkte, kunsvlyt en tuisgemaakte geregte. Vanjaar bied ons selfs eetkeuses vir gesondheidsbewuste feesgangers aan.

Die aanbod is ruim en uiteenlopend. Daar is sowat 100 gelyste aanbiedinge. Ek tel dus ±80 kaartjieproduksies, plus 25 gratis gesprekke, plus 31 terreingebeure. Feesgangers kan boonop uitsien na meer as 300 kunsvlytstalletjies en sal kan smul by meer as 50 kosstalletjies. Hoe op aarde kies ’n mens om jou begroting te laat klop?

Besoek sommer nou al ons webwerf en hou ons spesiale aanbiedinge en promosieveldtogte dop. Maar koop sommer ’n weekkaartjie vir die feesterrein. Dit is nou wragtig sakpas. Onthou ook kinders onder 12 kry gratis toegang en daar is ook spesiale afslag vir pensioenarisse. Ons probeer werklik om die fees so bekostigbaar moontlik vir almal te maak. Daar is ook ’n pendeldiens en veilige parkering om jou ervaring gerieflik te maak.

Aristoteles het gesê teater moet katarsis bied, nie net afleiding nie. Kuns is immers die spieël wat ’n samelewing met sosiale kommentaar voorhou. ’n Aantal produksies val veral op: Athol Fugard se Boesman en Lena, die vlagskipproduksie Vlindervry (oor gestremdheid), Belofte van vere (wat Breyten Breytenbach se ballingskap en vryheid herbesoek), ‘KUNS’ (wat vriendskap teen finansiële gewin meet) en Liefde, Lafras (oor verlies en verdriet in die skadu van ’n spook). ’n Kunstefees is inderdaad daardie spieël wat krake moet reflekteer en teatergangers moet dwing om die werklikheid te konfronteer – en nie nét vermaak te word nie. As ons aanvaar kuns moet (ook) konfronteer en geensins ’n skermbewaarder wees nie, maar ’n spieël wat werklikheid weerkaats: Watter ongemaklike waarheid oor Suid-Afrika in 2026 belig jy vanjaar op die verhoog – en watter produksie is jou waagstuk daarmee?

Almal wat jy uitwys, maar ongetwyfeld Athol Fugard se Boesman en Lena. Jy gaan ongemaklik rondskuif, jouself konfronteer met die ongemaklike waarhede van Suid-Afrika nou en jy gaan wonder of jy nie tog maar nog net dieselfde is as soveel jare terug se mense nie. Dis hartseer, maar in ons beeldskone land is ons ná al die jare eintlik steeds rassisties.

Dan is daar ook, en veral, Belofte van vere. Ons bring dié produksie met rede terug. Ons bied dit as musiekteater aan. Eintlik is die woorde en digkuns hier irrelevant, want die musiek maak dit toeganklik. Dit is uitstekend!

Vlindervry, met ’n puik teksverwerking, regie en rolverdeling, moet ook gesien word. Dit handel oor gestremdheid. Sonder om oor die jongman se blindheid te spot en/of op die tragiese te fokus. Dit is met rede ons vlagskipproduksie.

Liefde, Lafras is ’n lieflike produksie. Dit is geweldig ontroerend, maar dit is ook komies. Jy gaan ’n traantjie pink, maar jy gaan die goeie skeut humor ook geniet: Daar word immers gespook ...

Dan is daar ook Ek is nie Danie (oor vervreemding), Die ander dogter (oor hartseer en verlies) en Seun (oor mag en identiteit).

Die onderskeie feeste – Aardklop, KKNK, Woordfees, Vrystaatfees, Innibos en Suidoosterfees – is deurentyd onder finansiële druk. Wat kan feeste by mekaar leer?

Ons het ’n feesteforum wat gereeld informeel vergader. Dié ses feeste ondersteun mekaar, leer uit mekaar se foute en ons deel raad uit. Ons gesels openhartig, want ons dien almal dieselfde doel: die kunste.

Jy is al as ’n “vreeslose leier” beskryf en jou “lojaliteit en toewyding” jeens jou grootworddorp, sy mense en die land se kunstenaars word waardeer. Hoe bevorder Aardklop werkskepping en volhoubaarheid?

Die fees bestaan immers uit mense en soos almal in die land onder die ekonomiese druk en gepaardgaande uitdagings gebuk gaan, so ook knyp ons begroting, terwyl lewenskostes styg. Ons bied tydens die fees aan sowat 3 000 kunstenaars werk. Maar dit gaan ook oor al die ander mense wat ’n inkomste uit Aardklop verdien: ons personeel, ons tegnici, ons skoonmakers, ons sekuriteitswagte, ons voorportaalpersoneel, ons plekaanwysers. Ons skep werk – al is dit net tydelik – vir duisende mense. Dit is eintlik hartseer om te sien hoe mense letterlik toustaan om ’n tydelike werk tydens die fees te kry. Dan bloei ’n mens se hart as jy besef hoe arm en desperaat mense is. Ons probeer natuurlik om soveel moontlik plaaslike mense – inwoners van Potchefstroom – en die plaaslike besighede te ondersteun. Potch is immers Aardklop. Daarom werk ons ook nou saam met die Noordwes-Universiteit. Ons gebruik die universiteit se kampusgeriewe. Dit is ’n ongelooflike lekker borg- en vennootskap. Ons is daardeur teen ’n klomp dinge – soos kragonderbrekings en dies meer – gewaarborg.

Tydens die feestyd moet die plaaslike ondernemings ekstra personeel aanstel: van skoonmakers by gastehuise en kelners by restaurante, tot petroljoggies by vulstasies. Wanneer die feesgangers Potchefstroom na die fees verlaat, voeg ons in ’n tydperk van slegs ses dae sowat R70 miljoen aan die dorp se ekonomie toe. Dit is ’n welkome ekonomiese inspuiting. Ons invloed en impak op die welvaart van die dorp is beduidend.

Wat is die een ding wat jy wil hê feesgangers moet opsit en nooit weer afhaal nie?

Die doel van die fees is om te ontsnap aan jou daaglikse probleme. Dit is ’n ontsnappingsruimte en sorgelose ontvlugtingsoord. Vergeet ’n oomblik van jou sorge en vier in samehorigheid fees. As jy uit die dorp ry, moet jou olielampie gevul wees – sodat jy jou lig kan laat skyn.

Oor ditjies en datjies, sommer net moedswillig! Kunsfeeste verkoop menswees: sweet, stem, lyf, stories … Nou kom KI wat in sekondes ’n gedig, ’n skildery, ’n stem kan namaak. Is daar plek op jou verhoog vir kuns wat nie deur ’n mens geskep word nie, of is Aardklop juis die plek wat sê: Hier bly dit mensgemaak? As jy môre ’n KI-produksie sou toelaat – sou jy dit op die program sit, in ’n debat by The Roots hou – of bên’it?

Ek lag net oor die hele KI-ding. Ek gebruik die goed glad nie. Ek sal eerder as ek twyfel, na my woordeboeke gryp en soek om myself te vergewis. Partykeer is ek aspris en kyk sommer net vir die pret wat kan gebeur. Ons het gaan loer wat KI met ons televisie-advertensie se finale meng kon doen, en dit was skreeusnaaks. Ek het gekruip soos ek gelag het vir dié grappie ...

En daarop kan ons net sê: Dêmmit!

Keuseproduksies

Boesman en Lena

Met: Veronique Jephtas, Brendon Daniels en Tshamano Sebe

Teks: Athol Fugard, in Afrikaans vertaal deur Vinette Ebrahim

Regie: Christo Davids

Boesman en Lena is twee hawelose randfigure: uitgelewer aan mekaar, die elemente en aan ’n politieke bestel wat hulle nie ag nie. Athol Fugard se ikoniese stuk is ’n boeiende blik op die verwikkeldheid van verhoudings en sosiale ongeregtigheid. Dit is ook ’n viering van die krag en weerbaarheid van die menslike psige, en ons universele neiging tot hoop en behoefte aan meelewing en menslikheid. ’n Gepaste huldiging aan een van Suid-Afrika se grootste dramaturge.

Ek is nie Danie

Met: Albert Pretorius en Schalk Joubert

Teks: Danie Marais

Albert Pretorius trek onder die opruiende begeleiding van Schalk Joubert die skrapnel van ’n vreesaanjaende gewone lewe, skerf vir skerf, uit ’n mislukte huwelik in die buitenste ruimte van Duitsland en die bevoorregte, haglike gemors van middelklas-Suid-Afrika. Dis ’n storie oor ouerskap en die soeke na behoort en sin maak, gewikkel in die vlamjas van verse en verbysterende musiek, geweef rondom ’n keur uit Danie Marais se vier digbundels. Dis rock-teater oor ’n verlede wat die hede wurg en ’n wit ou wat saam met sy dogter in ’n progressiewe wêreld net een ding vir Kersfees wil hê: “Om nie meer altyd te moet weet hoe ’n middeljarige wit man voel oor alles nie.”

Liefde, Lafras

Met: Antoinette Kellermann en Gerben Kamper

Teks: Caitlin Wiggill

Verwerking: Antoinette Kellermann

Lafras sterf, maar verlaat nooit die huis nie. Nou sukkel Gertie om haar lewe met haar man se spooklewe te versoen. Elke gesin het sy spoke, maar hierdie een kan ongelukkig nie bly nie. Namate hulle ’n tweede wittebrood in hul huwelik beleef, verloor Lafras stadigaan sy krag en teenwoordigheid en bevraagteken alles – van God tot liefde en die sin van die lewe. Gertie weet wat sy moet doen, en ten spyte van Lafras se protes, besluit sy om ’n slag beheer oor haar lewe te neem. ’n Lewe sonder Lafras is immers nie die moeite werd nie ...

‘KUNS’

Met: Ludwig Binge, Wessel Pretorius en Wilhelm van der Walt

Regie: Marthinus Basson

Drie jarelange vriende se vriendskap word getoets wanneer ’n duur skildery uiteenlopende menings oor kuns ontketen en diep konflikte blootlê. ’n Gevierde, bekroonde, vlymskerp komedie oor die “kuns” van vriendskap.

Die ander dogter

Met: Sandra Prinsloo

Regie: Lara Foot

’n Tienjarige dogter vind toevallig uit van ’n suster wat twee jaar voor haar geboorte oorlede is. Dié dogter was die Franse skrywer Annie Ernaux, wat in 2022 die Nobelprys vir letterkunde ontvang het. Skielik was Annie nie meer ’n enigste kind nie, maar die plaasvervanger vir ’n groot afwesigheid wat voortleef in haar ouers se woordelose verdrietigheid. Haar suster moes sterf, sodat sy as die “vervanging” kon leef. ’n Ragfyn stuk oor skuld, familie en verlies.

Seun

Met: Wilhelm van der Walt

Teks: Johann Smith, gegrond op die boek van Dana Snyman

Ná etlike suksesvolle speelvakke, vyf Momentum Aardklop-pryse en ’n Woordtrofee keer Seun op gewilde aanvraag terug. Seun belig Dana Snyman se reis, terwyl hy die uitdagings van mondigwording te midde van onrus navigeer. Dana, wat vir diensplig geroep is, se ervarings vorm sy wêreldbeskouing en dwing hom om manlikheid, eer en identiteit te bevraagteken. Dit vertel ook van deurslaggewende oomblikke en hoe Dana liefde en ’n konneksie vind wat sy perspektief verander.

Vlindervry

Met: Cindy Swanepoel, Heinrich Wentzel, Jeanne-Marié Koekemoer en Geon Nel

Teksverwerking en regie: Wessel Pretorius

Daan Bekker, ’n blinde jong aspirant-musikant, verlaat vir die eerste keer sy ouerhuis om sy vlerke in die groot stad te sprei, weg van sy beheersugtige ma, Frieda. Daar raak hy spoedig verlief op sy vrygeestige buurvrou, Griet. Frieda kan egter nie die onsekerheid verduur nie en besoek haar seun teen sy wil. Daar volg ’n onafwendbare stryd tussen ma, seun en nuwe liefde.

Belofte van vere

Met: Rolanda Marais, Eben Genis, Ilse Klink, Concord Nkabinde, David Klassen, Leon Gropp en Laurinda Hofmeyr

Artistieke regisseur: Anna Davel

Spelleiding: Philip Rademeyer

Terug op openbare aanvraag bring Momentum Aardklop vir die laaste speelvlak hulde aan die geliefde Breyten Breytenbach. Hierdie spesiale program sluit in opnames van sy eie voorlesings, ’n keur van sy gewilde gedigte, sowel as besondere toonsettings (hetsy nuut of nuwe verwerkings). Ook aan die woord, by wyse van spreke, is sy dogter, Daphnée Breytenbach, in gesprek met haar pa – aan die hand van haar voorlesing vroeër vanjaar by die huldigingsbyeenkoms in Wellington. Kom saam op reis met uitstaande kunstenaars om Breyten op sy beste te beleef, die allemansdigter wat tot die menigte kon spreek in gedigte soos “Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif”, “Mag die bome groen bly” en “Slaap klein beminde”. Belofte van vere is ’n intieme blik op die verhouding tussen ’n pa en dogter, te midde van al die verwikkeldheid rondom sy wêreldwye roem, berugtheid, aktivisme en taaldebatte.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top