Sondag 8 Oktober was die tweede jaarlikse Rescue Expo by die Bryanston Market gewees. Dit het my bietjie laat dink aan die aard van dierebeskerming en die diere wat soms vergete is.
...
“Dis R500 ’n bal!” het my boetie verbaas uitgeroep toe ek hom vertel wat dit kos.
...
Meer as 40 organisasies, waaronder FORA, Cheeky Beaks Parrot Rescue en Rat Angels Rodent Rescue, het uitgestal by vanjaar se geleentheid. Die meeste van hierdie organisasies beywer hulle vir honde en katte. Enkele ander organisasies was daar om ’n pleidooi te lewer namens voëls, donkies en rotte. Die reptiele, visse en dergelike eksotiese diere is helaas nie verteenwoordig nie, hoewel ek twee baie oulike bearded dragons raakgeloop het.
Toe ek en my vrou begin wonder het oor troeteldiere was daar ’n lang onderhandelingsproses gewees. Ek wou ’n vistenk hê en sy wou ’n kat hê. Sy het aangevoer dat visse vervelig is en ek is allergies vir katte. Met die invloed van beurtkrag is die besluit geneem dat niks wat afhanklik is van elektrisiteit vir verwarming of suurstof, aangeskaf gaan word nie. Na vreeslik baie navorsing en onderhandeling besluit ons toe ons gaan rotte kry. Ek is ook een van daardie mense wat nie by ’n troeteldierwinkel diere sal aankoop nie. Ons keuses was dus ’n etiese teler of ’n “rescue”, soos die term maar in die spreektaal gebruik word om te verwys na ’n dier wat gered is en ’n beter heenkome soek.
Ons maak toe kontak met Rat Angels nadat ons baie gaan lees het oor hoe om vir rotte te sorg en ons het sommer ’n veearts ook opgespoor. Jy sal nie glo hoe siek ’n rot kan word nie, maar ons het dit nie op daardie stadium geweet nie. Ons was net opgewonde om diertjies in die huis te hê wat ons kan liefkoos, al het ons nie besonder veel geweet op daardie stadium nie.
Tussen die kundigheid by Rat Angels, die veearts en betroubare internetbronne het ons goed reggekom met ons kennis oor rotte. Hulle is die lieflikste diere wat ek al in my lewe aangehou het.
Moet my nou nie verkeerd verstaan nie: Ek motiveer jou nie om jou naaste reddingsentrum te kontak en rotte aan te skaf nie. Glad nie. Dis harde werk om enige dier aan te hou en die veearts kan ’n pretty penny kos. Om al drie ons mannetjies op een slag te laat regmaak, het omtrent R3000 gekos.
“Dis R500 ’n bal!” het my boetie verbaas uitgeroep toe ek hom vertel wat dit kos.
Baie mense spring net in wanneer hulle ’n diertjie wil aanskaf. Ek was self skuldig daaraan toe ek my eerste (en laaste) slang gekoop het. My teoretiese kennis was in plek (want ek het ’n boek of twee gelees), maar in die praktyk kon ek nie eers vir myself sorg tussen my studies en my depressie nie. Ek het die diertjie toe gegee aan iemand wat haar wou hê en beter vir haar kan sorg. Dit was die beter opsie.
Mens dink ’n troeteldier is ’n maklike ding. Almal het mos honde en katte, tensy jy kontraktueel verbied word om een aan te hou, so dis maklik. Bietjie water, bietjie kos, elke jaar ’n inenting... maar daar is mense wat dit nie eers doen nie.
Dit is waarom sulke organisasies bestaan. Hulle probeer om vir diere wat mishandel word of vergete is, ’n tweede kans te gee. Waarom is sulke organisasies dan nodig? Dit gaan oor geld.
As jy ’n hondjie het wat “per abuis” ’n werpsel verwag, kan jy mos die hondjies vinnig verkwansel: R250 of so per hondjie, no questions asked. Sulke praktyke laat die DBV oorloop en laat etiese telers sleg lyk. Ek’t ’n pel wat ’n geregistreerde teler is by SARBU, die South African Rat Breeders Union, en hy werk net so hard om ’n goeie huis te vind vir troetelrotte soos Rat Angels. Dis mense wat nie weet wat hulle doen nie wat reddingsentrums besonder besig hou.
Rat Angels weet hiervan en jy word kontraktueel verplig om die geslagte te skei of om jou diertjie reg te laat maak wanneer jy een van hulle rotte aanneem.
Die erns van ’n huisbesoek kan nie onderskat word nie. Telers en reddingsentrums maak seker dat die diere na ’n goeie huis toe gaan. Dit ontbreek by ’n oepsie en soms ook by ’n troeteldierwinkel.
Daar is baie organisasies en selfs veeartspraktyke wat teen verminderde koste (of gratis) honde en katte van minder gegoede eienaars laat regmaak. Dis goed dat ons bewus is van sulke organisasies. Dit help ongelukkig nie veel as daar nie opvoeding daarmee gepaard gaan nie. As ons nie mense leer dat hulle hul troeteldiere moet laat regmaak nie, dan gaan daar ongewensde hondjies, katjies of rotte opdaag. Ons moet leer om beter troeteldiereienaars as ons voorsate te wees sodat ons nie dieselfde foute maak nie.
Ons moet ook ophou om ’n mark te skep waar goedkoop diertjies vinnig en aanhoudend geproduseer word om die mark te vul. Dit skep net ’n bose kringloop of lei tot ’n reddingsentrum waar jy gelukkig is as ’n diertjie aangeneem word.
Tussen die reddingsentrums en die etiese telers is daar meer as genoeg honde, katte en ander gediertes om ons almal knie-diep in geluk te dompel vir jare. So wees asseblief verantwoordelik wanneer jy ’n diertjie (of twee) wil aanskaf.
Ons het dit gedoen met ons rotte en almal sê dat hulle besonder bederf is. Maar dit kos ook ’n klomp geld om hulle gesond te hou. Die laaste besoek aan die veearts het ’n blaasinfeksie by een en asma by ’n ander gediagnoseer. Dit kos alles geld, tyd en geduld om reg te maak. Jy gee nie die diertjie terug as dinge moeilik raak nie. Hulle is ook deel van die familie.
Aangesien die feesseisoen nie te ver is nie, wil ek ook mooi vra: Moenie ’n dier koop as ’n geskenk nie. As jy regtig ’n dier moet koop as ’n geskenk, maak seker dis ’n teddiebeer of gemaak van sjokolade; nie vlees en bloed nie.
Ek is ook van mening dat die verkoop van lewende hawe by troeteldierwinkels gestaak moet word, maar dit is ’n kwessie van wetgewing. As dit hoegenaamd vir die regering winsgewend is om dit te laat gebeur, gaan dit nie verander nie. So dan moet ons maar ons bes doen om seker te maak dat die diere by sulke sake goed behandel word. Dis ook eintlik ’n onbegonne taak, veral omdat daar so baie winkels is. Sonder wetgewing in tandem met opvoeding gaan niks werklik verander nie. Ons kan darem die opvoedingsaspek self beetpak deur sulke expos te hê. Verantwoordelike eienaarskap is ’n stap in die regte rigting.
Ek hoop van harte dat daar volgende jaar weer ’n Rescue Expo gaan wees. Maar ek hoop ook vir ’n dag dat so ’n expo nie meer nodig is nie. Tot dan moet ons almal ons bes doen om verantwoordelike troeteldiereienaars te wees, ander op te voed oor dierewelsyn en seker te maak dat ons probeer om die rescues se hokke leeg te hou.
’n Volledige lys van vanjaar se uitstallers is beskikbaar op Rat Angels en The Rescue Collective SA se Facebook-blaaie. Leer meer oor die verskeie organisasies:
- Rat Angels Rodent Rescue: https://www.facebook.com/ratangels
- The Rescue Collective SA: https://www.facebook.com/profile.php?id=100083170848635
- Cheeky Beaks Parrot Rescue: https://www.cheekybeaks.org.za/?fbclid=IwAR3QXSFBBHM5wtjsfoRRTLvl0RxlpPLLjgtfscxk1yCR_pO2JO1UkQsgnO4
- Fur-Get Me Not: https://www.facebook.com/furgetmenotSA/
- FORA: https://www.forasa.co.za/
- Paws for People: http://pawsforpeople.co.za/
- Vulpro: https://www.vulpro.com/
- Rest ur Ass Donkey Sanctuary: http://www.resturass.co.za/about.html
Kommentaar
'n Ware nagmerrie helder oordag destyds in Parys - die troeteldierwinkel se hokkies met onderskeidelik die jong gevlekte hiëna, drie vrugtevlermuise en 'n luislang uit Angola daarin opgesluit.
Baie dankie vir hierdie belangrike artikel!