Moenie dat hulle jou sien aankom nie – my pa was my held

  • 8

Foto van Stef Bos na aanleiding van die lied "Papa": YouTube

As kind het ek my ma ademloos bewonder. Sy was betowerend, met geamuseerde selfvertroue soos ’n sysjaal terloops oor haar skouers gedrapeer. Sy het haar bors uitgestoot soos ’n gesonde duif en haar borsgleuf het elke straight man verbouereer. Daar was ’n aura van tevredenheid en feestelikheid rondom haar. Haar lag was klokhelder.

Haar broers en susters – daar was tien van hulle – was groter as lewensgroot, warmbloedig, opruibaar en dramaties soos Italianers. Haar broer Nicolaas was sy ma se oogappel en is van jongs af verwen, aanbid en ingestop. Hy het toevallig soos Clark Gable gelyk. Hy het graag op ’n kitaar getokkel en treurige ballades gesing. Sy bruin oë was vol verwonderde selfliefde en droewige selfempatie. Hy was ’n platjie en poetsbakker, die hart en siel van elke paartie.

My pa, daarenteen, was ’n stil figuur op die agtergrond, altyd aan die werk. Toe ek baie klein was, en voordat die feite van die lewe aan ons bekend was, het ek vir my boeties – ’n identiese tweeling wat my kortstondig as orakel beskou het – gesê: “Weet julle, Pappa is eintlik niks van ons nie. Hy is maar net ’n oom met wie Mamma getrou het. Ons het uit háár maag gekom.”

Wanneer ons gesin by oom Nicolaas gaan kuier het (op die plaas wat my ouma se erfgeld vir hom gekoop het, met die gevolg dat sy op haar oudag ’n kerkmuis was), het ek soms jammer gevoel vir my pa. In my oë was my ma en haar broer skitterend soos silwerdoeksterre, aangrypend en melodieus terwyl hulle ’n dramatiese lied harmoniseer. In die teenwoordigheid van soveel glorie het my pa vir my vaal en effens vervelig voorgekom. Hy het die spulletjie so betrag, met koel groen oë agter sy horingraambril. Sy snor was nie so welig soos oom Nicolaas s’n nie en hy het homself nooit voorgestoot nie.

Eers veel later het ek besef dat my pa loshande die briljantste, interessantste mens in die geselskap was. Min of meer in enige geselskap. Dat die blasers van eie beuels kortstondig flonker en vinnig verskiet soos sterre, dat die praal en glans klatergoud was. Nicolaas het die plaas verloor en later op ’n versukkelde plot in ’n huis gebly wat hy nooit klaar gebou het nie en plastiekwatertenks en veselglasdoodskiste gemaak om liggaam en siel aan mekaar te hou. Hy het ’n kinderlike heldeverering vir sy AGS-pastoor gekoester en hom konstant bederf en ingestop, ten koste van sy eie gesin. Daar was iets hartseer omtrent hom, soos ’n mooi seun wie se fleur verdof het, van wie se rykwordskemas dadels gekom het, wat nooit weer deur enigiemand so vurig bemin is soos deur sy ma nie.

My pa het aristokraties ouer geword, met silwer hare en lagduiweltjies in sy oë. Hy was kreatief, nuuskierig en vol verwondering, en dit nie oor sy eie talente of skoonheid nie. So wil ek wees, het ek uiteindelik besef, nie soos ’n matineeliefling wat stoom verloor nie.

’n Mens moes my pa alleen aantref om enige woorde uit sy mond te hoor. In die teenwoordigheid van my ma en haar familie het hy nie ’n woord ingekry nie. Hy het my eenkeer vertel toe hy die eerste keer by my ma se familie in Swaziland gaan kuier, was hy verstom. Sowat het hy nog nooit gesien nie: dat mense mekaar so in die hare vlieg en so lawaaierig tot kort duskant vuisslaan baklei, sonder uitsondering oor godsdiens of politiek.

My pa se familie, daarenteen, was koel, terughoudend en immer beleefd – die teenpool van my ma se luidrugtige, spoggerige spul sibbe. Hulle het nooit oor emosies gepraat nie. Wanneer ’n mens my pa se ma, ’n trotse Victoriaanse vrou, ’n drukkie gee, het sy jou ná ’n sekonde of wat rusteloos op die rug geklop asof om te sê: “Toe, toe, dis nou genoeg.”

My pa het ook nie oor gevoelens gepraat nie. “Pappa is baie lief vir julle,” het my ma altyd gesê, en: “Gaan gee vir Pappa ’n drukkie.” Hy was my ma se juigkommando, die een wat my toe ek ’n tiener was, kom smeek het: “Gaan vra asseblief vir jou ma om verskoning; sê maar net jy is jammer, al voel jy jy het niks verkeerd gedoen nie. Sy eet nie en sy slaap nie, sy kry swaar.” Nooit het hy my kant gekies teen haar nie, en daaroor was ek jare lank vir hom kwaad.

Ek het eendag in my kamer gelê en huil in die greep van ’n tienerbui. Hy het aan die deur geklop, op die puntjie van my bed kom sit en sonder om aan my te raak, gesê: “Toe ek jonk was, was ek ook baie keer eensaam.” Ek onthou dit, want dit was raar.

Op tagtig, nadat hy by die dood omgedraai het (hy het nog vyf jaar daarna geleef), het hy ’n selfoon gekry en my soms op ’n Sondagaand gebel, sonder veel om te sê, behalwe, uiteindelik: “Ek is baie lief vir jou.”

Ek droom weer gereeld oor hom. In my drome glimlag hy altyd en probeer my ma in ’n goeie lig stel. Net in een droom het hy vir haar gesê, drie maal: “Ek het geen behae in jou nie.” Dit was nie waar nie; hy het haar bemin en op die hande gedra.

Ek wens ek kon vir hom sê hy was ten slotte my held. Kinders word verblind deur prag, praal en grootpraat. Maar later gaan jou oë oop en imponeer die blaaskake jou al minder.

Dis nie dat ek die waarde van selfs oormatige selfvertroue geringskat nie. Dit gaan jou ver bring in die lewe. Menigtes gaan altyd glo dat daar agter soveel vertroue eenvoudig substansie moet skuil.

En ek voel hulle soms stoei in my: die kwerulante kolligsoekers aan die een kant en die terughoudende introverte aan die ander. Ek wil graag, soos ’n professor eenmaal vir my gesê het, wees soos die slagspreuk destyds op TDK-kassette: “High output, low noise.” Soos my pa.

Pappa, ik wil steeds meer op jou lijken.

  • 8

Kommentaar

  • Breyten Breytenbach

    Wow Deborah! Wat 'n lieflike stuk skryfwerk! (En die song van Stef Bos kon baie beslis ook maar gekom het.) Julle maak mos dat die lewe mooi is.

  • Julio Agrella

    Ek dink selfs baie seuns (soos ek ook) sou kleintyd blinker, dinamieser pa's wou hê, net om later agter te kom dit wat hulle wel het/ gehad het, was die regte super-pa's. Ek het ook 'n stil, stemmige super-pa gehad, met 'n droë sin vir humor en 'n skadu wat hy lank na sy afsterwe nog los.

  • Gerrit Boonstra

    Jy kan, en jy kan maar skryf. n Woordkunstenaar met iets sinvols om te sê. Sal van nou af uitkyk vir jou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top