Moedertaalgebaseerde tweetalige onderrig: kommer oor inheemse tale

  • 0

Die toekoms van moedertaalonderrig in Afrikaans en Engels is rooskleurig, maar volgens Michael le Cordeur kan dieselfde nie van ons inheemse tale gesê word nie.

...
Wat sou Madiba dus sê as hy vandag, op sy verjaarsdag, na ons taallandskap kyk? Ek glo hy sou baie hartseer gewees het om te verneem dat sy visie vir inheemse tale ’n muis gebaar het.
...
Onvervulde visie

Van 1925 tot 1994 het Suid-Afrika twee amptelike tale gehad: Engels en Afrikaans. Dié twee tale het ’n bloeitydperk beleef omdat hulle deur die regering befonds is. Veral Afrikaans het baat gevind hierby en in minder as 100 jaar tot ’n volwaardige akademiese taal ontwikkel; iets wat in die taalwetenskap as ’n taalwonderwerk beskou word.

Ongelukkig het dit geskied ten koste van ons inheemse tale, wat nie dieselfde steun van die regering geniet het nie. Ek hoor dikwels mense vra waarom die sprekers van ons ander inheemse tale (ek beskou Afrikaans ook as ’n inheemse taal) nie self hul tale uitbou nie. Wat mense uit die oog verloor, is dat die vorige regering Afrikaans finansieel ondersteun het. So byvoorbeeld is en word die Taalmonument en -museum in die Paarl en sy personeel se salarisse deur die regering voorsien. Dieselfde word nie die ander tale gegun nie.

Met die aanbreek van ons demokrasie in 1994 is ’n nuwe rigting ingeslaan. Oudpresident Nelson Mandela kon kwalik sy opgewondenheid oor die toekoms van ons inheemse tale wegsteek:

[W]e are extremely proud that the new Constitution asserts equality among South Africa’s languages, and that, for the first time, the languages particularly of the Khoi, Nama and San communities will receive the attention they deserve, after years of being trampled upon in the most humiliating and degrading manner …

Situasie vandag

Maar die hoop het beskaam. Van Madiba se visie vir gemarginaliseerde tale soos Nama, Khoi en San het weinig gerealiseer. In 1994 was die stand van moedertale as volg (kyk tabel): Afrikaans was 13,3% van Suid-Afrikaners se moedertaal, terwyl slegs 8,2%  Engels as moedertaal gehad het. Die kleinste amptelike taal was Ndebele met 1,6% sprekers.

Twintig jaar later het 90% van alle laerskoolkinders in graad 4 tot 6 in Engels skoolgegaan, terwyl 10% leerders in Afrikaans onderrig is. Altesaam 91% van alle leerders in graad 9 tot 12 het Engelse onderrig gekry. Moedertaalonderrig vir inheemse tale geskied net in die Grondslagfase.

Wanneer leerders ná die Desembervakansie in Januarie terugkeer na graad 4, moet hulle summier oorskakel na Engels. Hoe ons dit kan verwag van kinders wat sonder Engels grootgeword het, gaan my verstand te bowe. Dan is almal kamma verbaas as ons laaste eindig in internasionale toetse vir geletterdheid en syferkundigheid en word sonderbokke agter elke bos gesoek, terwyl die fout eintlik by die onderwysstelsel gelê het.

So was en is dit reeds vir die afgelope 100 jaar.

Na 30 jaar van demokrasie het die situasie egter verander. Volgens die Departement van Basiese Onderrig (DBO) het 718 247 leerders in 2024 matriek geskryf. Altesaam 25,2% van die matrieks het Zoeloe as ’n eerste taal geneem; 18,1% (130 000) Engels; 15,9% Xhosa; 10,5% Pedi; en 6,6% Afrikaans. Hier moet ek dadelik noem dat byna 100 000 matrieks Afrikaans as Eerste Addisionele (tweede) Taal neem. Afrikaans is dus inderwaarheid in ’n gunstige posisie.

My kommer is by kleiner inheemse tale: Slegs 2,5% matrieks neem nog Venda en Siswati terwyl die getalle vir Ndebele sedert 2022 met 1 300 tot 5 070 gedaal het (1,6% tot 0,7%). Teen dié koers kan dié tale as skoolvak binne 10 jaar uitsterf. Hulshof en Kooy (2010) is tereg bekommerd: “Mother-tongue education is in a state of flux, even turmoil, as it struggles to find its way and map out its place.”

’n Negatiewe houding

My eie navorsing wys dat wanneer leerders in graad 4 met Engelse onderrig gekonfronteer word (nadat hulle in die Grondslagfase moedertaalonderrig ontvang het), sukkel hulle so baie dat hulle ’n renons in hul moedertaal ontwikkel. Hulle verkies om liefs in Engels onderrig te word – ’n taal wat hul nie ten volle begryp nie.

Ouers wat steeds worstel met die feit dat hul moedertaal in die ou Suid-Afrika gemarginaliseer is, het ook oor die jare ’n negatiewe houding ontwikkel jeens moedertaalonderrig. Dié ouers kies toenemend om hul kinders in Engels te laat onderrig sonder om die negatiewe impak daarvan op hul kind se ontwikkeling te besef. Ons sien dit reeds in die getal matrieks wat verlede jaar Engels as Eerste Taal geneem het, naamlik 18,1%. Dit verteenwoordig ’n verskuiwing van 10% weg van inheemse tale na Engels.

Moedertaalgebaseerde tweetalige onderrig

Die oplossing lê by moedertaalgebaseerde tweetalige onderrig (MTTO), ’n teorie bekendgestel deur wyle Neville Alexander (en nie deur ’n LUR van die Oos-Kaap soos sommige bronne beweer nie). Alexander was die stigter en uitvoerende direkteur van Praesa (Project for the Study of Alternative Education in South Africa) aan die Universiteit van Kaapstad en ook die vader van die nuwe taalbeleid van Suid-Afrika soos vervat in die 1994-Grondwet. Terwyl ek onder leiding van Neville Alexander ’n medesamesteller van die Wes- Kaapse taalbeleid was, het hy die konsep van MTTO met my gedeel, waarna ek twee artikels hieroor gepubliseer het: een op LitNet in Afrikaans (2011) en een internasionaal in Engels (2012). (Kyk bronne.)

MTTO is niks nuuts nie. U wat nou hierdie artikel lees, is waarskynlik produkte van MTTO. Dit prioritiseer die kind se moedertaal as die primêre taal van onderrig. Die uitgangspunt is dat die taal wat die kind van die huis af saambring, ’n bydrae kan lewer tot sy opvoeding en dat dit daarom as basis vir leer benut moet word. Swart kinders in Suid-Afrika en die meeste kinders van Afrika het nooit die voordeel van MTTO gehad nie. Hulle was en is steeds gevangenes van ’n koloniale verlede waarvan hulle nie kan ontsnap nie. Dikwels moes hulle deur die skool worstel met die gepaardgaande onderprestasie terwyl Afrikaanse en Engelse leerders voortgaan met MTTO en die gaping al groter word.

Transtaligheid

’n Kind kan in Engels skoolgaan, terwyl sy huistaal (inheemse taal) aangewend word om meer begrip by die leerder te skep. Sou ’n kind byvoorbeeld sukkel om ’n woordsom te verstaan, word ’n woord uit die kind se huistaal in die vraag ingevoeg, wat die som vir die kind ontsluit.

Dié proses heet transtaligheid (translanguaging) en is ’n benadering wat meer as een taal in die leerproses gebruik. Transtaligheid word wêreldwyd erken as ’n opvoedkundige meganisme wat leer bevorder. Dit benut die kognitiewe en akademiese voordele van onderrig in ’n bekende taal (die moedertaal), terwyl dit terselfdertyd meertaligheid bevorder wat kodewisseling en vertaling insluit.

Opleiding

Gelukkig het die Departement van Basiese Onderrig (DBO) die waarde van MTTO ingesien en besluit om dit te implementeer. Die doel is om dit stelselmatig beskikbaar te stel sodat alle leerders uiteindelik daarby sal baat. Vanjaar is begin in graad 4, met die aanvanklike fokus op wiskunde, wetenskap en tegnologie.

MTTO vereis dat die huidige onderwysbeleid aangepas word. Ten einde effektiewe implementering te verseker, vereis dit ook indiensopleiding van huidige onderwysers in tweetalige-onderwys-pedagogiek en die aanleer van strategieë om in twee tale klas te gee. Die grootste taak is die ontwikkeling en skryf van tweetalige leermateriaal.

Doelwit

Die doelwit van MTTO is ’n meer gelyke en meer inklusiewe onderwysstelsel wat leerders binne ’n veeltalige en multikulturele samelewing bemagtig. Dit erken die waarde van die moedertaal en kulturele agtergrond van die kind. Sodoende bevorder dit kulturele bewaring en erfenisnalatenskap terwyl dit ook die dekolonialisering van die onderwys bevorder.

Die uiteindelike doelwit van MTTO is dat leerders vaardig moet wees in hul moedertaal én minstens een addisionele taal. Die onderrig is moedertaalgebaseer, maar ’n tweede taal word gaandeweg bygevoeg. Meestal is dit die algemene kommunikasietaal, byvoorbeeld Engels in Suid-Afrika of Chinees in China of Spaans in Brasilië.

MTTO wil dus ’n nuwe generasie skep wat trots is op hul taal, waardes en erfenis.

Taal van die hart

Dit was Madiba wat gesê het: “As jy met iemand praat in ’n taal wat hy verstaan, praat jy met sy verstand. Maar, as jy met hom in sy eie taal praat, praat jy met sy hart.”

Wat sou Madiba dus sê as hy vandag, op sy verjaarsdag, na ons taallandskap kyk? Ek glo hy sou baie hartseer gewees het om te verneem dat sy visie vir inheemse tale ’n muis gebaar het. Die Khoisan-gemeenskappe se tale het uitgesterf. Dit is geen goeie getuigskrif vir strukture soos panSAT (met die begrotings wat binne die nuwe bestel aan hulle beskikbaar gestel is) wat sedert demokrasiewording die taak van taalontwikkeling gehad het nie.

Met behulp van MTTO kan ons dalk voorkom dat dieselfde met Ndebele en Venda gebeur. Anders sal ons huidige president moet toekyk hoe ook sy moedertaal (Venda) uitsterf!

Bronne
  • Le Cordeur, M. 2011. Moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys: ’n oplossing vir Suid-Afrika se geletterdheid- en syferkundigheidsprobleme. LitNet Akademies, 8(3):435–61.
  • —. One nation, eleven languages: Improving literacy and numeracy in South Africa through mother-tongue education. L1 Educational Studies in Language and Literature. International Association for Mother Tongue Education.

Michael le Cordeur is emeritus professor in Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, en voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA).

Lees ook:

Genadendal-onderwysberaad spreek onderwyskrisis aan

Reading for comprehension deur Michael le Cordeur: ’n onderhoud

Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel en Afrikaans-kurrikulum: ’n Afrikaans-onderwyser van die Kaapse Vlakte deel sy ervarings

’n Wenslysie vir onderwys in Suid-Afrika: Alana Bailey soek na oplossings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top