Moederskap ondersoek in vyf tekste

  • 0

Moederskap is ’n vreemde ding. LAPA Uitgewers het vandeesmaand vyf boeke wat handel oor moeders en moederskap. Twee is ernstig, twee is lig en een is ’n sprokie.


Smit Motors

Réney Warrington

Literêre fiksie

Druknaam: Wenkbrou

9780799394566

R285,00

Smit Motors is ’n moderne, plaaslike dorpsroman met intertekste in die wêreldliteratuur.

Petra Smit erf onverwags haar oupa se werkswinkel in ’n klein Vrystaatse dorpie. Daar is kopers wat tou staan vir die gebou, maar Petra gaan, heel nuuskierig, kyk na hierdie eiendom waarvan sy nie glad nie geweet het nie.

Daar aangekom, ontdek sy die erf vol motorwrakke wat aan die plaaslike slagter behoort. Die einste slagter is ook die buurman. Hy is ’n vroueslaner en skeep sy seun af, maar het kontant en staan gereed om Smit Motors te koop. Petra, wat baie lief was vir haar oupa, wil nie die erflating aan so iemand verkoop nie en ’n mini-oorlog breek uit.

Petra, eintlik ʼn stadsjapie, besef sy hoort nie in hierdie dorp nie. Sy mis haar mooi meisie en die roman wat sy wil skryf, bly tweede kom.

Dinge word nog moeiliker toe Arno, ’n reus van ’n man met die psige van ’n kind, aan haar deur kom klop. Arno word dan vriende met die slagter se seun, Monty.

Hierdie drie buitestaanders se diep menslike storie word vervleg met dié van Susan, ’n kunstenaar wat nie meer kuns maak nie en vasgevang voel in ’n luukse Sweedse kunstepark. Gaan sy kan vrede maak met die Afrikademone wat haar al veertig jaar lank jaag?

Vanuit die skaduwees hou Johanna, Monty se kinderlose oppasser, alles met wantroue dop.

Moederskap, die vrees vir moederskap, die gebrek aan kinders... Hierdie boek ondersoek al hierdie kwessies, soms op ’n ontstellende manier.

Smit Motors sluit by ’n internasionale tendens aan. Aan die einde van 2018 skryf Arthur van Amerongen in De Volkskrant ’n siniese stuk oor die moderne “dorpsroman” en “over de aantrekkingskracht van het Germaanse platteland op grootstedelijke Grünen-hipsters die op zoek gaan naar het verlorene – wat dat ook moge wezen”. Hy verwys ook na twee topverkopers: A Year in Provence (Peter Mayle) en Driving Over Lemons (Chris Stewart). Albei neem hy met ’n knippie sout.

Warrington skroom nie om die mooi én die lelik van ’n kleindorpse verblyf te wys nie. Sy laat nooit toe dat haar karakters net stereotipes word nie.

Die skrywer en regsgeleerde Bettina Wyngaard sê oor Smit Motors die volgende:

“Onthutsend, ontstellend, hartverwarmend: Smit Motors is ’n moetleesboek wat die leser nie sommer gou sal vergeet – of kan neersit – nie. Noem dit Afrikaanse fiksie se antwoord op Of Mice and Men, behalwe dat Warrington se skryfstyl uniek en uitsonderlik haar eie is. Hierdie eerste publikasie van Wenkbrou gaan meer doen as wenkbroue lig. Dit gaan harte vermurwe. Moenie loop nie. Hardloop. Gaan koop Smit Motors. Hierdie teks verdien ’n ereplek in elke boekrak.”

Johan Jack Smith, die uitgewer, sê: “So hoekom hoort die boek by Wenkbrou? Maklik. Die val buite genres. Die laat die leser vrae vra en dink as hulle die boek toemaak. Dit kyk anders na verhoudings. Dis oor randfigure.”


Lira

Chanette Paul

Druknaam: LAPA

Vrouefiksie

9780799394474

R340,00

Lira kan feitlik enige gebreekte ding mooi of bruikbaar maak, maar met liefdesverhoudings vaar sy minder goed, veral waar daar kinders betrokke is. Sy het geen benul hoe om ’n ma te wees nie. Tog het sy geglo sy sal iets kan uitwerk wat waarde toevoeg tot Frank en Debbie se lewe. Dit is immers wat sy vir ’n lewe doen: Sy neem ou goed en maak hulle nuut, nuttig en mooi.

Lira beland op Vywerbaai, waar sy ’n winkeltjie vir haar opsikleerprodukte wil oopmaak. Die finansiële risiko’s wat sy neem, is enorm en teenspoed bly nie uit nie, maar sy bly vasberade om ook haar eie lewe te kan opsikleer.

Daar is ’n legende wat almal op Vywerbaai ken: Ter wille van sy kinders sal ’n man sy taaibosspies deur ’n vywervrou se hart druk en haar visstert gaarmaak sodat die kinders kan eet. Lira neem die legende, opsikleer dit en maak dit die tema van haar winkel.

Deur harde werk wen sy die kosbare vriendskap van drie eiesoortige vroue en die respek van ’n vierde, maar dan verloor sy haar hart op die verkeerdste man denkbaar: Hy het ’n sterwende vrou en ’n kind wat Lira haat.

Gaan die waarskuwing in die legende Lira se hart aan flarde ruk? Nie as dit van haar en die sterk vroue om haar afhang nie! Soos haar vriendin Corali sê: “Ons vywervroue laat ons nie f*kken opvreet nie. Deur geen man, vrou of kind nie.”

Chanette Paul is self besig om legendaries te raak. Lira is die skrywer se 45ste boek en is die eerste van haar nuwe trilogie wat in 2019 sal verskyn. Soos Langenhoven van ouds skryf Chanette suiwer om te vermaak, maar daar is baie diepte in haar werk.

Lesers wat haar Maanschijnbaai-tweeluik verslind het, sal bly wees om te hoor dat die vroue van Vywerbaai dieselfde sterk eienskappe toon as die vier legendariese “Calitz-slette”.

Hierdie boek vra baie vrae oor die rol van ma-wees, pa-wees en ouma-wees. En wat doen ’n grootmaakma as daar nie geld is vir al die honger monde by die huis nie?


Betsie, Meneer Tier en die blou maan

Sally Gardner

Illustrasies: Nick Maland

Kinderfiksie

Ouderdom 7+

9780799391121

R180,00

Betsie se lewe is fantasties. Haar pa is ’n roomysmaker. Hy maak die lekkerste roomys op aarde in elke geur waaraan jy kan dink. Haar ma is ’n meermin wat in die see bly en gereeld kom kuier.

Betsie het twee drome: Sy wens dat Meneer Tier se sirkus haar eiland sal kom besoek, en sy droom oor roomys wat van towerbessies gemaak word sodat al haar drome waar kan word wanneer sy daarvan eet.

Dan daag Meneer Tier en sy Goebelgop-sirkusakrobate op. Dit is die begin van ’n enorme avontuur. Saam met ’n getoorde padda, ’n eensame reus en haar ma en pa vertrek Betsie om die maan te gaan blou kleur en om towerbessies te soek. As hulle dít kan regkry, kan hulle ’n baie belangrike wens laat waar word …

Betsie, Meneer Tier en die blou maan is ’n vernuwende, moderne feëverhaal met ’n sterk vroulike hoofkarakter.


Soet beloftes

Dina Botha

SuperRomanza

9780799394504

R240,00

Lezanne moet as rykmansdogter skielik, sonder geld en heenkome, as twee-en-twintigjarige op ’n vreemde dorp ’n nuwe bestaan maak as au pair.

Benjamin Streiger word onverwags die voog van sy oorlede broer se drie kinders. Hy het geen behoefte aan popspeel nie, en dis waar Lezanne betrek word.

Gou word sy lief vir die drie kinders in haar sorg, maar dis nie so maklik om dieselfde te doen met die ontoeganklike Benjamin nie.

Omdat Lezanne verstaan wat dit beteken om ’n ouer te verloor, tree sy uiters beskermend teenoor die kinders op – tot Benjamin se argwaan én heimlike vermaak.

Op hierdie manier wen Lezanne egter meer as net die kinders se harte. Saam met die leser sien sy hoe Benjamin geleidelik ontdooi teenoor die kinders en al hoe gemakliker raak in sy rol as kitspa.

Dan daag haar eksverloofde, Pieter Cronjé, op en hy lig haar in dat al haar finansiële probleme opgelos is. Sy kan terugkeer na haar lewe van gemak en rykdom. Sy vertel Benjamin; hy wend geen poging aan om haar te keer nie. Lezanne keer terug na Johannesburg, met Benjamin wat nie te lank neem om haar te volg nie.

Dina Botha se boeke is altyd vol humor. Hierdie teks vergelyk met oorsese boeke soos A Perfect Homecoming (Lisa Dyson) en Small-town Redemption (Beth Andrews).


Liefde vir ’n feëprinses

Didi Potgieter

9780799394382

R95,00

Inge se nuwe werk as die Jouberts se au pair beteken sy hoef nie meer slapelose nagte oor finansies te hê nie. Sy sal niks doen wat dié standvastigheid kan bedreig nie.

Omdat sy haar tweelingsibbe van kleins af grootgemaak het, wen Inge gou Robbie se vertroue en liefde, en raak John ook teen sy sin besonder geheg aan haar. Inge het nie tyd of plek in haar lewe vir verhoudings nie, maar aangetrokkenheid tot haar baas, die aantreklike John Joubert, volg nie dié klousule nie en hy is nie by die werkskontrak ingesluit nie.

Liefde vir ’n feëprinses gaan oor ’n ouer suster wat ma vir haar jonger boetie en sussie moet wees. Ouerlose gesinne is ’n algemene maatskaplike probleem wat in Suid-Afrika voorkom.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top