MM Walters (1929- )

  • 2

Gebore en getoë
Verdere studie en werk
Publikasies
MM Walters as samesteller
MM Walters as redakteur
MM Walters as vertaler
Artikels oor en deur MM Walters beskikbaar op die internet

Gebore en getoë

Mattys Michielse Walters is op 23 Januarie 1929 op Moorreesburg in die Swartland gebore. Sy pa was Gerhardus Walters; sy oupa, MM Walters, was ’n bekende in onderwyskringe in die Swartland. Van sy familie was ook sakemanne en koringboere in die Swartland. Hy gaan aanvanklik skool op Moorreesburg, maar voltooi sy skoolloopbaan aan die Hoër Jongenskool op Wellington in die Wes-Kaap.

Terug na bo

Verdere studie en werk

Thys Walters, soos hy beter bekend is, gaan studeer na skool aan die Hugenote Universiteitskollege in Wellington. Hy sit sy studie voort aan Unisa, asook aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy in 1972 sy MA-graad behaal met ’n verhandeling oor Peter Blum onder leiding van Merwe Scholtz.

Vanaf 1950 gee hy onderwys onder andere in Natal, by SACS in Kaapstad en op Ladismith in die Suid-Kaap. In 1960 word hy aangestel aan die Onderwyskollege op Graaff-Reinet as dosent in Afrikaans. Vanaf 1967 is hy verbonde aan die Paarlse Onderwyskollege as dosent in die Afrikaanse letterkunde tot in 1971, toe hy as dosent in Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van Kaapstad aangestel word – ’n pos wat hy tot en met sy aftrede beklee, waarna hy hom in Simonstad vestig. Hy is getroud en het twee kinders.

MM Walters se eerste gedigte word in die letterkundige tydskrif Standpunte gepubliseer. Later word hierdie gedigte saamgevat in sy eerste bundel Cabala, wat in 1967 verskyn. Hierdie bundel word in 1968 bekroon met beide die Eugène Marais-prys en die Ingrid Jonker-prys en in 1969 met die WA Hofmeyr-prys.

TT Cloete (Die Burger, 6 Oktober 1967) beskryf dit as ’n bundel van opspraakwekkende poësie, hoe rustig en effe dit op die vorm af by ’n eerste oogopslag ook al mag lyk. “Walters is een van ons digters wat met sy eerste bundel al iets buitengewoon te sê het en dit op die wyse van poësie buitengewoon vir ’n debutant sê, ook al deur die gebruik van ’n onverskillige taal in die grootste erns.” Cloete beskou ook hierdie bundel as waarskynlik die belangrikste eersteling-bundel wat na Breytenbach s’n verskyn het.

SJ Pretorius (Transvaler, 23 September 1969), wat saam met DJ Opperman die beoordelaars vir die Ingrid Jonker-prys was, spreek die volgende mening oor Cabala uit: “Walters is op sy beste in gedigte waarin hy objektiewe gestalte gee aan sy siniese kyk op sake. Dit kom veral te voorskyn wanneer hy van landelike beelde – veral dierbeelde – gebruik maak. (...) Wat ook te waardeer is, is dat Walters in ’n kompromie met die meer gebonde vers, ’n eie losser styl – byna ’n heffingsvers – ontwikkel het vir sy Reynaerde-agtige satiriek en La Fontaine-agtige fabelistiek. ’n Mens waardeer hierdie verse om hul on-, byna anti-sentimentele ruheid, waarin die realisme jou soms aan ’n Goya (Saturnalia) laat dink. Veel kan nog seker in die toekoms van Walters verwag word. Hierdie werk is eg.”

In sy huldigingswoord met die toekenning van die Eugène Marais-prys aan Cabala sê PD van der Walt (Jaarboek van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 1968) dat die selfstandigheid van die digter hom seker die sterkste openbaar in die satiriese poësie in hierdie bundel. “In dié opsig lewer Walters baie beslis ’n bydrae tot die Afrikaanse digkuns wat eintlik arm is aan die gerypte satiriese vers. Gedigte soos dié van Walters verstoor die idille, vestig die aandag op seker misstande in ons samelewing. Die satire is skerp en moedig, maar die digter is nooit beledigend of haatlik nie; daarvoor is hy poëties ook te vindingryk (...) Maar bowenal kom Walters in aanmerking omdat hy hom nie deur allerhande modes en modetjies laat heen en weer slinger nie, omdat hy hom besig hou met ’n wêreld wat hy ken en omdat hy met sy mag oor woord en beeld, belewenisse en probleme kan oorhewel na die gebied van die poësie. Die geheelindruk wat die bundel Cabala laat, is dat hier ’n digter aan die woord is met ’n sterk ondersoekende houding teenoor die lewe, dat dié poësie ’n selfverworwe neerslag is van sy geestelike verkenning, dat Walters iemand is met waaragtig poëtiese talent en vermoë.”

Merwe Scholtz (Die Burger, 28 Oktober 1969) sê in sy motivering vir die toekenning van die WA Hofmeyr-prys aan Cabala dat dit vir hom geen verrassing is dat Nasionale Boekhandel ’n versetdigter met ’n prys bekroon het nie. “Die Pers was nog altyd lojaal teenoor werklik lojale verset. Walters se verset is dikwels ’n soort hartseer oor die heroïese in ons tradisie wat ons ten dele verloor het. Dit geld vir baie van sy gedigte, hoewel Walters ook veel meer is as net ’n versetdigter. In baie van sy werk is die digter satirikus, hekelaar. Hy praat pront.”

Die Paarlse Opleidingskollege het in 1969 besluit om op ’n oorspronklike manier tot die fonds vir die Afrikaanse Taalmonument by te dra. MM Walters, wat senior lektor aan die Kollege was, het ’n spesiale geleentheidstuk in verse oor Afrikaans geskryf. Studente het dit opgevoer en die inkomste is in die monumentfonds gestort. Die naam van die stuk is Taalfees en twee vertellers tree op om die geskiedenis en ontwikkelingsgang van die Afrikaanse taal aan die gehoor voor te dra.

Walters is ook in 1970 deur die Paarlse tak van die Afrikaanse Taal en Kultuurbond gevra om ’n geleentheidstuk vir daardie jaar se Taalfees te skryf.

In 1969 word Walters se tweede digbundel, Apocrypha, deur Nasionale Boekhandel gepubliseer. In Die Huisgenoot van 27 Maart 1970 skryf die resensent dat die verse ’n bietjie geduld vra. Al begin ’n mens nie sommer daarmee ’n heftige vriendskap met die digter te sluit nie, sal jy met toenadering van jóú kant in sy geselskap onverwagte plesier vind.

PD van der Walt (Transvaler, 29 Desember 1969) skryf dat Walters in hierdie bundel sy digterlike vindingrykheid en veral sy fyn satiriese talent bevestig het.

Oor Heimdall, Walters se derde bundel, skryf AP Grové in Hoofstad van 22 November 1974 dat ons hier poësie het wat waarskuwend die aandag vestig op onheilstekens van die tyd, gevaartekens in ons gemeenskap. “Dis egter nie poësie wat in die proses suur of swaarwigtig wil wees nie; dit wil eerder op speelse, plek-plek geniepsige wyse en met ’n jeugdige, byna kwajongagtige glinstering in die oog die spot dryf met alles wat lyk op vertoon, lamsakkigheid of vernaamdoenery. Naas die kompromislose verset teen aanstellerigheid bied hierdie verse ’n gesonde aardsheid en eerlikheid. Menslike begrip en spot lê soms verenig in dieselfde gedig, soos bv te sien is in die pragtige "Hoekie vir eensames". Terwyl daar gespot word met dié soort rubrieke, kry ons terselfdertyd ’n ontroerende kyk op die menslike situasie en die onvermydelikheid van die oudword.”

Fanie Olivier (Rapport, 16 Maart 1975) beskou hierdie bundel van Walters as sy sterkste en belowendste bundel tot op daardie stadium, veral vanweë die groter deernis wat hy met sy “slagoffers” het en die werklik goeie integrasie van mitologiese, Bybelse en digterlike materiaal, sowel as sy vermoë om binne ’n betreklik vaste versvorm die rykdom van ons taal te ontgin.

In 1975 wend Walters hom na ’n nuwe genre en verskyn die eerste van sy dramas, Die vroue van Kores: ’n spel oor die lot van mense. Die geskiedenis waarop hierdie versdrama gebaseer is, kan ’n mens breedvoerig in die Bybelboek Esra vind: die Israeliete wat teruggekeer het uit hul Babiloniese ballingskap en hul stad begin herbou – en dan deur die profeet aangesê word om al die “vreemde” vroue in hul midde (die Persiese “vroue van Kores” met wie hulle in ballingskap getrou het en wat saam met hulle na Kanaän teruggekom het om hulle lot met hulle te deel), na Babilon terug te stuur ten einde die volk suiwer te hou. Volgens André Brink slaag die stuk ás stuk nie, hoewel die boodskap lofwaardig is. Meestal praat die figure nie werklik binne die konteks van hul stuk met mekaar nie, maar spreek hulle óns toe, onderrig en leer en profeteer hulle in óns rigting. Tog hoop Brink opreg dat die drama oor die radio gehoor sal word.

In 1975 word Walters se geleentheidstuk vir die Paarlse Taalfees in Augustus 1972, Die wingerdstok sal rank, gepubliseer. Na die opvoering in die Paarl skryf KS in Rapport dat dit so maklik brakdroë volkskultuurheid kon geword het, maar dat MM Walters se druiwe soet is. Hy het die ou soort lote vernuftig weggesnoei. Hy bou rondom die taalstryder ds SJ du Toit ’n verhaal wat met genoeg intrige die taalgeskiedenis lekker vertel. In Die Transvaler word geskryf dat hierdie stuk eerder ’n tablospel is as ’n drama en dat dit daarin slaag ten spyte van gebreke soos breedsprakigheid.

In sy volgende drama, Miskien woon julle onder ons, keer Walters weer terug na Bybelse stof. Hy lê die verhaal van die Gibeoniete bloot wat onder valse voorwendsels ’n verdrag met die Israeliete sluit. Dit red hulle lewens, maar hulle word tot slawerny verdoem. In Walters se werk fokus hy veral op die aanloop tot die besluit wat Gibeon geneem het om ’n vreedsame uiteinde vir die probleem te kry.

Dorothea van Zyl resenseer die drama in Die Burger van 29 Mei 1979 en volgens haar maak die interessante perspektief op die Bybelse gegewe, die aktualiteit, ens ongelukkig nog nie ’n goedbeplande stuk groots nie. “Daarvoor bly die karakters te veel verteenwoordigers van standpunte en te weinig mense. [Dit] is nogtans ’n verdienstelike bydrae tot ons dramaliteratuur.”

Vir sy volgende publikasie wend Walters hom weer tot die poësie en weer tot die satire. Saturae word in 1979 deur Tafelberg gepubliseer en die belangrikste temas daarin is die ydelheid van die mens, die betreklikheid van ons oordele wat dui op ’n gebrek aan perspektief, en ook versteurde prioriteite.

Johann Johl skryf in Volksblad (6 Februarie 1980) dat die vermenging van ’n elegiese toon met die satire binne ’n satiriese opset ’n distansiëring bring, ’n op-’n-afstand-beskryf in die spel, en tas die werking van dié satires en die satire self dus wesenlik aan. Die clichés en bekende gegewens uit ander bundels val in dieselfde kategorie en skaad die impak wat andersins tot oortuiging sou kon lei.

Met die verskyning van Walters se klug, Drakenstein. My Drakenstein skryf André Brink (Rapport, 5 September 1982) dat dit Walters op sy mees vaardige in die genre van die drama toon en dat dit genoeg egte gevatheid en vlotheid bevat om die maagsnare te kielie. Die opset is baie eenvoudig, naamlik die ontdekking, deur ’n staatsbeheerde organisasie Soekom, van olie in die Drakensteinvallei.

Walters se vyfde drama, Oor die limiete, is ’n opdragwerk vir die honderdste bestaansjaar in 1986 van die Goodnow-saal uit die dae van Andrew Murray toe die gebou deel was van die destydse Hugenote-seminarie op Wellington. Die stuk is gesetel in die stryd van Ware Afrikaner, Frans Malan, teen verandering op Wellington totdat sy vrou en dogter, in hul ondersteuning van Murray se seminarie en sy sogenaamde “liberalisme”, teen hom draai. Die stuk is in Oktober 1986 opgevoer en in 1988 deur Perskor gepubliseer.

MM Walters is ook die skrywer van drie boeke oor onderskeidelik die Weskus, Saldanhabaai en die Swartland, sy geboortegrond. Christo S Botha was die fotograaf in Droom van die Weskus, waarvoor Walters die byskrifte geskryf het met enkele verse tussen mymeringe wat aansluit by die foto’s. In 1990 verskyn Die Swartland is my tuisland: ’n nostalgiese reis. Die foto’s is deur Siegfried Behm geneem, wat ook verantwoordelik was vir die foto’s van Die Weskusvan die Kaap wat in 1998 deur Tafelberg uitgegee is.

In 1994 word Walters se bundel satiriese essays Saturae: die essays by Tafelberg gepubliseer. Hennie van Coller skryf in Volksblad van 9 Januarie 1995: “Hy bewys dat hy die derde satiriese genre, die essay, net so vlot kan hanteer as die satiriese poësie en drama waarmee hy al naam gemaak het. (...) Hierdie versameling essays bevat vermaaklike geleentheidstukke vol humor, skerp kommentaar op eietydse waardeoordele en indringende bevraagtekening van geykte ‘universele’ waarhede. Dit alles in geslypte Afrikaans waarin moeiteloos oorgeskakel word van register en selfs variëteit. ’n Satirikus veg nie met ’n veer nie, maar met ’n rapier. Wees daarom gewaarsku: ’n mens kan dié boek nie ongedeerd neersit nie.”

Volgens Fanie Olivier (Beeld, 29 Julie 1996) sluit Walters se volgende digbundel (sy eerste sedert Saturae) in 1996, Sprekende van God, direk by sy vorige vier bundels, sowel as sy bundel hekelstukke, Saturae: die essays, aan. Van die heel eerste vers af word die vertroostende waarhede ondermyn. “God is geen sekerheid nie, altans nie in die sin wat ons dit voorstel nie. Hy verken in die 66 verse die gesprek oor die godheid van die tyd van die Grieke tot hier digby die einde van die twintigste eeu.” Olivier meen dat Walters met hierdie digbundel sy belangrikste bydrae nog tot die Afrikaanse poësie lewer en ’n betekenisvolle stem in ons religieuse digkuns word.

George Weideman (Oor skrywers en boeke, Afrikaans Stereo, Junie/Julie 1996) meen dat die satiriese element nie afwesig is in Sprekende van God nie. “Die satirikus wil, sonder om noodwendig moralis te wees, bewus maak van wantoestande of wanopvattings. Indien ons die siening moet glo dat die satirikus óf remediërend wil spot, óf dat daar ‘geen helende warmte in sy lag’ is nie, dan verskuif Walters met hierdie bundel die grense.”

Bernard Odendaal (Volksblad, 7 Maart 1998) skryf dat Walters se stem met hierdie bundel sommer baie aan helderheid en resonansie wen en dat dit ’n waardevolle toevoeging is tot die Afrikaanse religieuse poësieskat.

Na ’n stilswye van bykans nege jaar word Walters se volgende bundel, Satan ter sprake, in 2004 deur Protea Boekhuis gepubliseer. Joan Hambidge (Volksblad, 18 April 2005) beskou Walters as ’n bestendige digter en ’n voorste satirikus binne die Afrikaanse digkuns. In hierdie bundel gee hy ’n aweregse blik op die “geding met God”. Want om oor Satan te skryf, beteken dat jy ook óór en mét God praat. Volgens haar gaan hierdie gedigte teen haar geloofsiening in en sy beoordeel dit slegs as gedigte. “Soms is dit skerp, navrant in die uitwys van teenstrydighede (geloof helaas berus nie op redelike bewysvoering of logika nie), in skerp metaforiek. Dikwels is die gedig nog te veel betoog en te min vers. Maar vir wat dit wil wees, is dit ’n bundel wat nie-gelowiges sal behaag en waarskynlik menige predikant sal aanstig om hierteen te preek.”

In die 1990s is Walters die redakteur van die reeks Poësie uit verre lande wat deur Perskor uitgegee is en wat vertalings van Portugese en Spaanse gedigte deur Uys Krige bevat, asook vertalings deur Marthinus Versveld. Walters is self later verantwoordelik vir die bekendstelling van Chinese en Japannese gedigte in Afrikaans met die bundels Shih-Ching liedereboek en Aki no kure – Herfsskemering: ’n bloemlesing Japannese gedigte wat onderskeidelik in 2004 en 2006 by Protea Boekhuis gepubliseer is. In resensies deur Joan Hambidge en Gunther Pakendorf is dit duidelik dat hierdie twee boeke op elke poësieliefhebber se boekrak tuishoort.

Walters se werk is deur Johann Nel vir die verhoog verwerk en Praat van die duiwel, Uitverkoop!, Boer Loer en Ha-ha-ha! Afrika! is met groot sukses by Kunstefeeste en ander teaters landwyd op die planke gebring. Nel is die voordraer en Juanita Swanepoel die regisseur van hierdie stukke. Nel vertel aan Francois Smith (Die Burger, 7 Desember 2000) dat hy nie genoeg kan kry van Walters en sy werk nie. Die sukses van die vertonings het ook daartoe bygedra dat Walters weer gewild gemaak is. Volgens Nel rol Walters se poësie soos prosa van ’n mens se lippe. Hy sê dat om met Walters te werk ’n uiters verrykende ervaring is, miskien omdat hy, nes Nel, baie privaat is. Walters vul voortdurend Nel se teks aan met nuwe en aktuele verse, want “die satire se probleem is dat dit dateer, (...) maar sy gepubliseerde werk bly aktueel. En dit is die toets vir ’n satirikus.”

In 2004 skryf Walters die drama Die meester met Johann Nel en Pieter Retief in die rolverdeling en regie weer eens deur Juanita Swanepoel. Dit is daardie jaar by die KKNK opgevoer, sowel as by die Klein Libertasteater op Stellenbosch. Die onderwerp van Walters se spot is die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel oor die dekades heen.

In 2015 is Praat van die duiwel weer tydens die Woordfees op Stellenbosch op die planke gebring nadat Walters die teks aangepas en bygewerk het om tred met die tye te hou. Tydens die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein in 2019 bied Johann Nel ’n praatjie aan oor MM Walters en sy werk as deel van Naln se “Hulde aan Helde”-reeks.

Volgens Cor Scholtz op LitNet word daar heerlik die spot gedryf met die belaglikhede en die verwronge waardes van ons onderwysstelsel, terwyl bytende kommentaar gelewer word op die heersende ideologieë wat die jeug van ons land se gedagtes oor die afgelope eeu gevorm het.

In 2011 word Braille-briewe by Protea Boekhuis uitgegee – Walters se eerste digbundel sedert 2004. Dit is weer ’n bundel satires en op LitNet skryf Charl-Pierre Naudé dat die bundel geskryf is as "briewe": "aan die Groot Onbekende", "aan Lucifer", die "ontslape Arnoldus" (Pannevis), aan die Ou Gode, en die Nuwe Gode; Calvyn kry ook ’n ou notatjie, en die "Boertjies in die Binneland" word ook vermeld.

Naudé gaan voort: "Die briefmotief herinner onmiddellik aan die briewe van Paulus, wat self ook ’n onverpoosde korrespondent was, en wie se geopinieerdheid oor die heelal nie hoef terug te staan vir Walters s’n nie, hoewel met veel minder humor gedoen as by renegaat-apostel Walters.

"Alreeds in die titel is ‘n groot gevaar vir Walters se huidige bundel geleë: die gestroopte helderheid van sy seggingsgwyse loop hier gevaar om te direk te word en sodoende die subtiliteit waarvoor hy bekend is, te kelder. Braille-briewe: geskryf vir die blindes.

"Maar die digterstem (j.w.w.) bou ook selfafstand in sy bundel in deur sake van twee kante te beskou, soos die brief aan die ou gode, wat onvermydelik jukstaponeer met die brief aan die nuwe gode. Die 'jy-weet-wie' oftewel 'j.w.w.' waarmee elke brief afgesluit word, suggereer iets van die uitgeslote, die profane, die apokriewe, die alter ego, die anima selfs – wat hier honend terugskryf aan die onbevraagtekende en onbevraagtekenende, piëtistiese 'sentrum' – en só sy eie plekkie in die annale opeis. Die effek is dikwels skrynend. En heerlik. As jy die brief aan Lucifer saam met die een aan Calvyn lees, wonder jy oplaas maar wie is die régte Lucifer ... Die brief aan Calvyn begin so: 'Verstaan my goed:/ Ek wil nie aanstoot gee nie.' Maar dis presies wat die digter wel gee, op die mees verteerbaar denkbare manier, omdat dit net so fyn en skerpsinnig gestel is.

"Sarkasme (die aspoester van humor) is selde so fynsinnig as in die afloop van die brief aan Calvyn, veral in die veelduidigheid van die woord 'lig', waar gesinspeel word op al die mense wat deur Calvyn tot die brandstapel verdoem is: 'Die vuur van louter liefde/ wat jy aangesteek het,/ is lank nie uitgewoed nie./ In die Genève wat jou naam dra,/ moet elke nuwe Servetus steeds lig loop.' Die woord 'kanon' kom onmiddellik op as jy Calvyn deur hierdie bril sien. Die kanon van die godsdiens, van kennis, selfs van die letterkunde. Want die satire is ’n uitkringende vuurtjie.

"Walters skryf in ’n effens gedrae, sonore en beeldryke Afrikaans wat wissel tussen erns en humor, swaarwigtigheid en speelse vlugvoetigheid. Woorde soos 'blufferige' bewyse; vrugbare jong meisies wat nie ophou 'molstoot' nie; die 'kerk van afsonderlike voortreflikheid'; 'die "windpomp-kerk" wat draai onder druk/ en wind pomp' ... dit hou nie op nie.

"In ’n onderhoud beskryf Walters homself as iets in dier voege: verknog aan die grond, bodemgebonde (my woorde), gebind aan sy mense. Hier is ’n uiters kritiese digter, maar hy bly deel van sy mense. Die posisie laat mens dink aan 'lojale verset', die beginsel van Van Wyk Louw. Dis ’n bundel wat dieper bespreking verg as wat ek hier geleentheid het om te gee. Dit beloon herhaaldelike lees en vervaal nie.

"Ja, daar ís slaggate waarin die digter trap. Waarna die slaggate beter daaraan toe is."

Op Versindaba is Zandra Bezuidenhout die resensent. Sy begin haar bespreking deur Walters te vergelyk met Juvenalis wat snydende, maar tog ook komiese kommentaar op die samelewing van die 2de eeu nC gelewer het. Die bundelopdrag lui dan ook: “Opgedra, ter afskeid aan Juvenalis” en Bezuidenhout skryf dat die woorde “ter afskeid” dalk daarop kan dui dat hierdie bundel dalk Walters se "afskeid" is van Juvenalis, asook van die satiriese versvorm, maar sy hoop van harte nie van sy rol as skrywer nie, want ’n mens kan jou dit nie indink dat die letterkundige mantel van MM Walters op iemand anders se skouers moet val nie.

Bezuidenhout gaan voort: "Getrou aan die aard van die satirikus gaan Walters hiperbolies en brutaal te werk. Hy stel 'ongeskikte vrae', soos Johann Degenaar na die aard van die filosofiese vraagstelling verwys het, want Walters is ten diepste ’n denker eerder as bloot ’n eietydse spotvoël soos dit op die oog af mag voorkom. Dit is die 'manewales van die mens', sy praktyke (of wanpraktyke) en sy gode (of afgode) wat hier ondersoek en bedink word, maar dan deur ’n werkwyse wat daarop gerig is om te ontbloot, te skok, te vermaak en desnoods te vervreem. Deur hierdie berekende retoriese truuk word die aandag vir die boodskap opgeëis, want soos die kabaretgenre wil die satiriese vers die toehoorder uitlok en uiteindelik tot nadenke stem.

"Die beeldende titel Braille-briewe kan geïnterpreteer word as persoonlike geskrifte aan ’n ontvanger wie se sig of insig by implikasie aangetas is. Die sender gee dus voor dat die opgehewe tekens van ’n kodetaal (’n metafoor vir die satire) nodig is om die boodskap in te skerp sodat dit letterlik aan die lyf gevoel word. Daarby is die briefvorm met sy informele toon by uitstek geskik om die distansie tussen die sender en ontvanger op te hef, en die leser by die argument te betrek. (...)

"In meerdere opsigte is die bundel tipies postmodernisties. Afgesien van die vermenging van hoë en lae stylregisters en situasies word intertekste mildelik maar funksioneel aangewend, grense word oorskry en niks is heilig nie, selfs nie die ou, gevestigde verhale of narratiewe waarvolgens die mens nog altyd sy lewe gerig het nie. Die subteks is dat mensgemaakte gebruike, gode en konstruksies opnuut bekyk en desnoods gedekonstrueer moet word. Hierdeur verkry die bundel ’n sterk intellektuele lading. Die erns waarmee die bundel open, rig ’n waarskuwende vinger dat 'die mens se manewales' ’n geheimenis bly waarvoor die spreker antwoorde soek en waarvoor hy hom tog met piëteit tot die ‘Groot Onbekende’ rig. Die krag van die bundel lê in hierdie wisseling tussen wete en nie-wete; tussen sekerhede en onsekerhede, lag en erns.

"Juvenalis het natuurlik in Latyn geskryf en volgens die stylgebruike van sy tyd ’n strenger versvorm hanteer. Walters skryf losser en gemakliker en die praattoon is in pas met hedendaagse ontwikkelinge in die digkuns. Daarby dien die gemeensame geselstrant in hierdie geval om die intieme aard van die brief na te boots. Lesers sal maar hul verwagtinge van die poësie moet aanpas by eietydse digters se voorkeur vir die prosagedig waar struktuur en binding nie altyd afhang van bekende digpatrone nie. Soos in die denke, word daar in die vormgewing van die gedig wegbeweeg van 'rigoreuse rituele, reëls en reglemente'. Die hedendaagse vers, mits dit noukeurig gekonstrueer word, verkry ’n eiesoortige struktuur wat gebaseer is op die inherente klank, ritme en melodie van taal, en op goedgekose sleutelwoorde en beelde wat met mekaar verband hou. Dit is juis deur die manier waarop die digter die taal hanteer dat die informele styl ’n poëtiese kwaliteit verkry. By tye laat Walters egter die spanning verslap en gaan hy te direk en betogend te werk. Ook steur hy hom opsetlik en opsigtelik min aan politieke korrektheid, waarteen daar op sigself geen literêre besware is nie, maar die fasiele rym en gebrek aan subtiliteit, hoe speels ook al, pas na my mening nie by sy statuur as digter nie. Maar ook hierin wou hy waarskynlik die grense van die elitistiese poësie oorskry."

Bezuidenhout sluit af: "Dit sal sinvol wees om Walters se jongste bundel saam met sy hele oeuvre te lees of herlees, met inbegrip van sy meevoerende vertalings van Chinese en Japannese gedigte. Lesers sal nie koudgelaat word deur hierdie digter se werk nie. En diegene wat al saliger is (indien wel!), sal by tye in die graf omdraai, warm of koud, met permissie gesê."

Fanie Olivier beskou MM Walters as die voorste satirikus onder die huidige geslag skrywers en ook miskien die enigste wat dit as genre bestudeer en deurlopend beoefen.

Walters se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde kan opgesom word in Riana Scheepers se woorde: “In enige letterkunde is die satire ’n skaars, en ’n moeilike genre. Die satirikus se bydrae is een van die eksotiese speserye wat ’n bitter ondertoon het, maar dan ook dié bydrae wat diepte en substansie aan die letterkunde verleen. ’n Letterkunde (en ’n samelewing) sonder satire is onvoltooid.”

In sy resensie van Braille-briewe op LitNet begin Charl-Pierre Naudé sy bespreking met ’n oorsig oor die poësie van MM Walters: "Min digters het die soomlose resonerende en ritmiese slag van ’n Walters, waarin ’n sekere informele poëtikale indruk met onopsigtelike en baie effektiewe onderliggende rigour gekombineer word. Trouens, dis hierdie 'loslit' inslag van Walters se poëtiese woord, hierdie misleidende 'gemaklike' indruk, wat al gemaak het dat sy digkuns verkeerdelik as 'soos prosa' beskryf is. Dat so ‘n beskrywing vir iemand moontlik kon wees met verwysing na Walters, sê baie oor die histories eng kategorieë waarmee ’n sektor van die Afrikaanse poësiekritiek werk. Walters se poësie bevat al die elemente van goeie poësie, hoewel nie altyd op die tradisionele manier nie.

"Eerder is dit werk wat ’n baanbrekende voorgangerrol vir die hedendaagse losser – en andersoortige – ritmes in die digkuns gespeel het. Walters is niks minder as ’n tegniese meester wat vir homself met hierdie spreektalige inslag ander ruimtes geskep het om te verken wat nie aan bod kom in die meer tradisionele, 'hegter' digkuns nie. Hy maak byvoorbeeld interessante kombinasies van die liriek met die beskoulike en die betragtende; en kombineer ook die betogende met die liriese.

"Betogende verse word met reg deur vele gesien as die teenpool van hoogstaande poësie, as satire wat die fyn balans van suggestie en meervoudige beduidenis ingeboet het, en dis dikwels ook so die geval. Maar soos alle aannames wanneer die digkuns ter sprake is, het hierdie aanname sy perke; dit het sy presiese plek waar dit sneuwel, en jy kan daardie plek gaan opsoek soos jy Bles Bridges se gedenksteen op die pad buitekant Bloemhof kan gaan opsoek, as jy so wil. Die spel met ironie en satire, die vindingryke en beeldende segswyses wat binne hierdie 'onpoëtiese' verband (betoging) by Walters voorkom en plek-plek so diggepak 'opdam', is ’n versagtende omstandigheid en maak die geheel weldeeglik digkuns. Hoewel die saak waarteen betoog word in die tyd enkelvoudig mag staan, is die kommentaar daarop deur die digter vindingryk en snaaks en só verkneukelend problematiserend – so veelvlakkig – dat die eenduidigheid van die saak waarteen betoog word, lankal nie meer eenduidig staan nie.

"Maar Walters verskil ook weldeeglik van die hedendaagse spreektalige en praatstromige  hierin: sy ritme is onmiddellik herkenbaar as klassiek, wat nie altyd by eersgenoemde die geval is nie.

"Overgesetsynde, en effens oorvereenvoudigend: jy hóór Van Wyk Louw en veral Peter Blum iewers in die agtergrond. Ritmikaal gesproke vind ek Walters een van die beste Afrikaanse digters van alle tye. Maar hier iewers – soos ook by sommige ander ouer digters – begin die appeltjie reeds op ’n peer te lyk, en nadere beskouing kan interessante gewaarwordinge oplewer.

"Dis interessant dat van die meer tradisionele poësie in Afrikaans soms sintakties so gedronge raak – soos ’n vel papier wat keer op keer na binne gevou word, as’t ware – dat daar eintlik nie meer van ritme sprake is nie. Ritmisiteit is dan veel minder deel van die effek as by sommige ander vorme van minder kriptiese poësie. Walters se vel papier vou egter keer op keer as’t ware eerder na buite uit. Dis poësie wat tegnies juis baie goed is, maar daar is aspekte daarvan wat nie onder die tradisionele plastiese kan ressorteer nie, aspekte wat buite-om die onmiddellik tegniese die beste beskryf kan word."

Met MM Walters se 90ste verjaardag op 23 Januarie 2019 skryf Daniel Hugo ’n artikel in Die Burger van 21 Januarie 2019 getiteld "’n Welverdiende voetstuk vir Walters op 90" om hulde te bring aan Walters as skrywer: "Die letterkundige kánon is ’n vreemde ding. Oor die statuur van sommige skrywers bestaan daar groot eenstemmigheid. Hulle staan stewig op hulle voetstukke in die literêre beeldetuin ... (...) Geen kanón kan hulle wegblaas nie; geen engel kan hulle uit die paradys van die geletterdes verjaag nie.

"Ander digters staan en rondtrap by die poort en kyk verlangend na die vakante voetstukke onder die weelderige lower van daardie lushof. (...)

"En dan is daar digters soos MM Walters wat deur sommige kanoniseerders bekritiseer en selfs geïgnoreer word, maar deur ander weer geloof en gelourier word. Hy staan dus halfpad tussen die hek en sy voetstuk wat vir hom wag. En Walters se poësie is so uniek dat daar werklik niemand anders is wat sy plek kan inneem nie.

"Walters was in ’n mate self verantwoordelik vir sy onsekere posisie. Hy het nooit deelgeneem aan openbare skrywersdebatte en bekgevegte nie, hy was nooit lid van ’n skrywersorganisasie nie en het ver weggebly van die literêre stromings en teorieë van die oomblik.

"As satirikus was dit natuurlik noodsaaklik dat hy ’n buitestander moes bly wat met ’n ontroebel oog kon kyk na die onnoselhede van die samelewing om hom, na die opgeblasenheid van die kerklike en politieke leiers, en na die karpatse van sy skrywende kollegas. Vanaf sy debuut in 1967 was hy ’n vlymskerp waarnemer eerder as ’n luidrugtige deelnemer."

Hugo wys voorts in sy artikel hoe Walters, wanneer dit by toekennings gekom het, misken is in sy loopbaan as skrywer. Hoewel hy drie pryse vir Cabala, sy debuutbundel, ontvang het, het die destydse moderator van die NG Kerk, Koot Vorster, hom in die pers aangeval as ’n vyand van die volk. In Perspektief en profiel, waarvan HP van Coller die redakteur was, is daar nie veel ruimte aan hom en sy werk bestee nie, en ook JC Kannemeyer is in die tweede deel van Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur nie baie beïndruk met Walters se poësie nie.

André P Brink het egter van Walters se gedigte in sy 2008-samestelling van Groot verseboek ingesluit, terwyl Walters se gedigte sedert 1975 in voorgeskrewe bloemlesings vir skole verskyn het. Van Walters se vertalings uit die Japannese digkuns is ook deur Brink gebloemlees, skryf Hugo: "Die vertalings het in 2006 verskyn onder die titel Aki no kure / Herfsskemering, Die nugtere, rasionele aard van Walters se geestelike pelgrimstog word mooi geëggo in die volgende haikoe van Karai Senryuu (1718–1790): ‘Zen-priester/ ná meditasie/ soek vlooie.’ (...)

"In latere bundels soos Sprekende van God (1996) en Satan ter sprake (2004) gebruik Walters sy enorme kennis van die teologie, kerkgeskiedenis en mitologie om sowel skerp satiriese as ontroerend persoonlike verse – ek dink veral aan ‘Haven om te landen’ – te skryf. Wat Koot Vorster en die Kerkbode destyds misgelees het, is dat die digter ’n opregte hoewel aweregse soeker na God is."

Daniel Hugo sluit sy artikel af: "En wat is die slotsom waartoe die digter, wat vandeesweek sy 90ste verjaardag vier, gekom het? In Sprekende van God staan die volgende reëls:

God sélf, die objektiewe, werklike, die Één
wat skuil gaan agter ons metafisiese projeksies,
bly op geen enkele wyse te benader.

"Matthys Michielse Walters het die afgelope halfeeu die Afrikaanse letterkunde verryk en verruim met sy andersdenkendheid en eiesoortige verse. Ek plaas hom graag op sy welverdiende voetstuk."

Ook ter viering van MM Walters se 90ste verjaardag vertel Gunther Pakendorf, ’n vriend van Walters, aan AJ Opperman in Beeld  van 23 Januarie 2019 dat Walters "eintlik nog nooit in pas was met die norm nie. Thys was nog altyd uniek vir sy tyd in ag genome die kritiek wat hy gelewer het. Selfs sy geboortejaar (1929) is jare lank as 1930 verkeerd op sy dokumente aangedui.

"Ek het hom in die 1980's ontmoet toe ons albei aan die Universiteit van Kaapstad verbonde was. Ek dink ek het in die 1970's van sy werk bewus geword met sy kritiek teen die NG Kerk en sekere dominees wat hy in sy werk geopper het. Ek onthou dat Koot Vorster (die voormalige eerste minister John Vorster se broer) hom vreeslik kritiek op die hals gehaal het.

"Hy is ook nie iemand wat hom ’n rat voor die oë laat draai nie. Hy het nog altyd ’n afkeer gehad van skrywers met ’n opgeblaasde selfbeeld. Hy het ’n ongelooflike humorsin. So droog ... Hy het my al laat skater."

Zandra Bezuidenhout vertel ook aan AJ Opperman dat MM Walters as digter ’n groot talent het om kommentaar te lewer op die gemeenskap: "Daar is nie nog so ’n Afrikaanse digter wat die satiriese mes so raak kan inlê wanneer hy kommentaar lewer op die samelewing en selfs Bybelse inhoud aan die kaak stel nie. Sy tematiese inkleding strek egter veel verder. Wat styl betref, durf hy die kort Japanse versvorms aan, en het hy trouens van daardie soort verse in Afrikaans geskryf en vertaal. Van Walters se ander gedigte is deur Michiel Heyns in Engels vertaal.

"Nog belangriker is dat Walters sy uiteenlopende denkinhoud by wyse van verstegnies afgeronde verse vol verrassende wendinge oordra, en dit altyd vervleg met woord- en klankspel om die wind uit jou seile te haal, soos net hy dit kan doen. Hy is ’n unieke figuur in die Afrikaanse letterkunde wat mense opnuut behoort te lees."

Johann Nel, die akteur wat al verskeie van MM Walters se werke op die verhoog aangebied het en van sy verse op radio en by ander geleenthede voorgelees het, sê dat vir hom as persoon en sy persoonlike groei Walters se werk baie beteken het. "Hy het ’n ongelooflike teologiese kennis, maar ek dink nie ’n mens kan hom etiketteer wat geloof betref nie. Hy is Suid-Afrika se grootste satirikus wat poësie betref.

"As hy sy eie verse voorlees, is dit so ernstig. Hy klink eintlik soos ’n predikant. Selfs al is dit hierdie vlymskerp satire met inhoud waaroor ’n mens eintlik wil lag. Op sy verjaardagpartytjie wil ek beslis vir hom dankie sê dat hy vir soveel mense gedink het."

In reaksie op Daniel Hugo se huldeblyk skryf Johann Penning van Bloemfontein in Volksblad (28 Januarie 2019) dat Walters ’n "reus is wat deur baie volksgenote eerder geïgnoreer wil word. Sommige sou ’n vuurtjie rondom sy voete wou maak terwyl hy aan ’n paal vasgemaak is. Hy het ’n reuse-intellek, uiters skerp waarnemingsvermoë en ’n sensitiewe gees met die insig in die menslike toestand. (...)

"As satirikus is en was daar nog nie sy gelyke in Suid-Afrika nie. Hy kloof twak en nonsens oop tot op die been, en laat nuwe insigte oopgaan vir die leser. En dit in die keurigste Afrikaans. Hy het ’n ereplek in my heldegalery. ’n Reus inderdaad."

Vir Daniel Hugo (op Versindaba) is Walters se "Haven om te landen" een van die ontroerendste gedigte wat hy ken. Vanuit die stoepkamer van sy hooggeleë huis in Seaforth, Simonstad, hou die digter die aandskemer oor Valsbaai dop:

In die koue grys skemer van die Agterberg
laveer die laaste bote huis toe:
dun wit seile in ʼn wintersee soek
na ʼn haven om te landen.

Die meeue trek saam op Duikersklip
dig teen die donker en die wind
en oor die water hang ʼn hunkerende roep
na ʼn haven om te landen.

Die stomp neus van die Steenberg
los op tussen see en lug,
die nag word swart sonder lig wat wink
na ʼn haven om te landen.

En ou herinneringe en vertwyfeling
sak oor my soos ʼn swaar seemis
en heelnag deur dreun die branders en nêrens
is ʼn haven om te landen.

                      (Uit: Sprekende van God)

Terug na bo

Publikasies:

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Terug na bo

MM Walters as samesteller

Die tiende muse: Afrikaanse satires . Johannesburg: Perskor, 1986 [ISBN 9780628030573 (hb)]

Terug na bo

MM Walters as redakteur

Poësie uit Verre Lande (reeks). Johannesburg: Perskor, 1991

Terug na bo

MM Walters as vertaler

Shih-Ching Liedereboek . Pretoria: Protea Boekhuis, 2004 [ISBN 9781869190415 (sb)]

Aki no kure – Herfsskemering: ’n bloemlesing Japannese gedigte . Pretoria: Protea Boekhuis, 2006 [ISBN 9781869190521 (sb)]

Terug na bo

Artikels oor en deur MM Walters beskikbaar op die internet 

 

Terug na bo

Bygewerk: 2019-06-06
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

  • 2

Kommentaar

  • Ek moet net noem dat ek Afrikaans as tweedetaal-onderrig het en ook vir jare hoof eksaminator was vir die TOD. Elke gedig van MM Walters was ’n hoogtepunt! Ook vir my leerders.
    Dankie MM

  • Avatar
    Johnnes Comestor

    In die jare sestig het ek 'n brief of twee met Thys Walters gewissel. Hy het toe groete gestuur aan Dawie van Dyk, wat toe 'n professor in Opvoedkunde was en 'n oud-kollega van hom aan die Opleidingskollege Graaff-Reinet. Die Van Dyk-egpaar was kinderloos. Dawie het graag vir sy kollegas wat kinders gehad het, gevra dat hulle aan hom die reseppie moet gee. My vrou het met Thys kennis gemaak toe hy die les-aanbieding van aspirantonderwysers by 'n skool geëvalueer het. Hy was toe aan die Opleidingskollege Paarl verbonde. Ons albei huldig hom as 'n groot gees. Dit word in sy literêre werk weerspieël.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top