Braille-briewe beloon die leser

  • 0

Titel: Braille-briewe
Skrywer: MM Walters
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869194208

Klik hier om Braille-briewe te koop by Kalahari.com.

Hierdie bundel satires van die gevierde MM Walters het in die najaar van verlede jaar verskyn en sluit aan by ’n lang rits satires en satiriese dramas en vertalings uit Chinees en Japannees. Die digbundels Apochrypha en Cabala is hoogtepunte in sy oeuvre – en ook hoogtepunte van die woordkuns in Afrikaans. Vir laasgenoemde het hy die WA Hofmeyr-prys gekry.

Min digters het die soomlose resonerende en ritmiese slag van ’n Walters, waarin ’n sekere informele poëtikale indruk met onopsigtelike en baie effektiewe onderliggende rigour gekombineer word.

Trouens, dis hierdie “loslit” inslag van Walters se poëtiese woord, hierdie misleidende “gemaklike” indruk, wat al gemaak het dat sy digkuns verkeerdelik as “soos prosa” beskryf is. Dat so ‘n beskrywing vir iemand moontlik kon wees met verwysing na Walters, sê baie oor die histories eng katagorieë waarmee ’n sektor van die Afrikaanse poësiekritiek werk.

Walters se poësie bevat al die elemente van goeie poësie, hoewel nie altyd op die tradisionele manier nie.

Eerder is dit werk wat ’n baanbrekende voorgangerrol vir die hedendaagse losser – en andersoortige – ritmes in die digkuns gespeel het. Walters is niks minder as ’n tegniese meester wat vir homself met hierdie spreektalige inslag ander ruimtes geskep het om te verken wat nie aan bod kom in die meer tradisionele, “hegter” digkuns nie. Hy maak byvoorbeeld interessante kombinasies van die liriek met die beskoulike en die betragtende; en kombineer ook die betogende met die liriese.

Betogende verse word met reg deur vele gesien as die teenpool van hoogstaande poësie, as satire wat die fyn balans van suggestie en meervoudige beduidenis ingeboet het, en dis dikwels ook so die geval. Maar soos alle aannames wanneer die digkuns ter sprake is, het hierdie aanname sy perke; dit het sy presiese plek waar dit sneuwel, en jy kan daardie plek gaan opsoek soos jy Bles Bridges se gedenksteen op die pad buitekant Bloemhof kan gaan opsoek, as jy so wil. Die spel met ironie en satire, die vindingryke en beeldende segswyses wat binne hierdie “onpoëtiese” verband (betoging) by Walters voorkom en plek-plek so diggepak “opdam”, is ’n versagtende omstandigheid en maak die geheel weldeeglik digkuns. Hoewel die saak waarteen betoog word in die tyd enkelvoudig mag staan, is die kommentaar daarop deur die digter vindingryk en snaaks en só verkneukelend problematiserend – so veelvlakkig – dat die eenduidigheid van die saak waarteen betoog word, lankal nie meer eenduidig staan nie.

Maar Walters verskil ook weldeeglik van die hedendaagse spreektalige en praatstrominge hierin: sy ritme is onmiddellik herkenbaar as klassiek, wat nie altyd by eersgenoemde die geval is nie. Overgesetsynde, en effens oorvereenvoudigend: jy hóór Van Wyk Louw en veral Peter Blum iewers in die agtergrond.  Ritmikaal gesproke vind ek Walters een van die beste Afrikaanse digters van alle tye.     

Maar hier iewers – soos ook by sommige ander ouer digters – begin die appeltjie reeds op ’n peer te lyk, en nadere beskouing kan interessante gewaarwordinge oplewer.

Dis interessant dat van die meer tradisionele poësie in Afrikaans soms sintakties so gedronge raak – soos ’n vel papier wat keer op keer na binne gevou word, as’t ware – dat daar eintlik nie meer van ritme sprake is nie. Ritmisiteit is dan veel minder deel van die effek as by sommige ander vorme van minder kriptiese poësie. Walters se vel papier vou egter keer op keer as’t ware eerder na buite uit. Dis poësie wat tegnies juis baie goed is, maar daar is aspekte daarvan wat nie onder die tradisionele plastiese kan ressorteer nie, aspekte wat buite-om die onmiddellik tegniese die beste beskryf kan word.

Die bundel is geskryf as “briewe”: “aan die Groot Onbekende”, “aan Lucifer”, die “ontslape Heer Arnoldus” (Pannevis), aan die Ou Gode, en die Nuwe Gode; Calvyn kry ook ‘n ou notatjie, en die “Boertjies in die Buiteland” bly ook nie vergete nie. Die leser kry dus ’n indruk van die bestek van onderwerpe, eietyds en tydloos, wat hier aan bod is.

Die briefmotief herinner onmiddellik aan die briewe van Paulus, wat self ook ’n onverpoosde korrespondent was, en wie se geopinieerdheid oor die heelal nie hoef terug te staan vir Walters s’n nie, hoewel met veel minder humor gedoen as by renegaat-apostel Walters.       Alreeds in die titel is ‘n groot gevaar vir Walters se huidige bundel geleë: die gestroopte helderheid van sy segginsgwyse loop hier gevaar om te direk te word en sodoende die subtiliteit waarvoor hy bekend is, te kelder. Braille-briewe: geskryf vir die blindes.

Maar die digterstem (j.w.w.) bou ook selfafstand in sy bundel in deur sake van twee kante te beskou, soos die brief aan die ou gode, wat onvermydelik jukstaponeer met die brief  aan die nuwe gode.

Die “jy-weet-wie” oftewel “j.w.w.” waarmee elke brief afgesluit word,  suggereer iets van die uitgeslote, die profane, die apokriewe, die alter ego, die anima selfs – wat hier honend terugskryf aan die onbevraagtekende en onbevraagtekenende, piëtistiese “sentrum” – en só sy eie plekkie in die annale opeis.

Die effek is dikwels skrynend. En heerlik. As jy die brief aan Lucifer saam met die een aan Calvyn lees, wonder jy oplaas maar wie is die régte Lucifer ...

Die brief aan Calvyn begin so: “Verstaan my goed:/ Ek wil nie aanstoot gee nie.” Maar dis presies wat die digter wel gee, op die mees verteerbaar denkbare manier, omdat dit net so fyn en skerpsinnig gestel is.

Sarkasme (die aspoester van humor) is selde so fynsinnig as in die afloop van die brief aan Calvyn, veral in die veelduidigheid van die woord “lig”, waar gesinspeel word op al die mense wat deur Calvyn tot die brandstapel verdoem is: “Die vuur van louter liefde/ wat jy aangesteek het,/ is lank nie uitgewoed nie./ In die Genève wat jou naam dra,/ moet elke nuwe Servetus steeds lig loop.”

Die woord “kanon” kom onmiddelik op as jy Calvyn deur hierdie bril sien. Die kanon van die godsdiens, van kennis, selfs van die letterkunde. Want die satire is ’n uitkringende vuurtjie.

En dit bring mens by implikasie ook by die gevaar van literêre pouse. As die leser hom mag verstout.

Die kriptiese en snydende bewoording van diep insigte ontbreek nie. Die leser sal goed beloon word hierin. Soos byvoorbeeld in die tipies postmoderne gelykstelling van die volgende: “Dis om’t ewe of afgode gemaak word/ van klip of klei of klatergoud/ en of dit saamgestel word uit geïnspireerde gesigte.” Die paradokse van oënskynlik onproblematiese aannames word deurgaans in hierdie bundel poëties gedekonstrueer op maniere wat die leser wil laat hardop lag.

Walters skryf in ’n effens gedrae, sonore en beeldryke Afrikaans wat wissel tussen erns en humor, swaarwigtigheid en speelse vlugvoetigheid.  Woorde soos “blufferige” bewyse; vrugbare jong meisies wat nie ophou “molstoot” nie; die “kerk van afsonderlike voortreflikheid”; “die ‘windpomp-kerk’ wat draai onder druk/ en wind pomp” ... dit hou nie op nie.

In ’n onderhoud beskryf Walters homself as iets in dier voege: verknog aan die grond, bodemgebonde (my woorde), gebind aan sy mense. Hier is ’n uiters kritiese digter, maar hy bly deel van sy mense. Die posisie laat mens dink aan “lojale verset”, die beginsel van Van Wyk Louw.

Dis ’n bundel wat dieper bespreking verg as wat ek hier geleentheid het om te gee. Dit beloon herhaaldelike lees en vervaal nie.

Ja, daar ís slaggate waarin die digter trap.

Waarna die slaggate beter daaraan toe is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top