
Skermgreep uit die musiekvideo van "Dis ’n land" deur Van Coke Kartel en die MK-logo
Liné Loff gesels met Magdalize Carstens oor haar en Martina Viljoen LitNet Akademies-artikel “MK as kultuurverskynsel: ’n dokumentering en tematiese ontleding van die kanaal se opkoms en invloed op die ontwikkeling van marginale Afrikaner-identiteite, 2005–2013”.
Hallo, Magdalize. Vir die meeste lesers sal die musiekkanaal MK waarskynlik net ’n vae herinnering wees. Hoekom het julle nou, nadat die kanaal reeds 10 jaar van die lug af is, besluit om daaroor navorsing te doen? En hoekom dink jy is daar tot nou toe nog geen navorsing daaroor uitgevoer nie?
MK was deel van my grootword en identiteit toe ek op hoërskool en universiteit was. Dit was die enigste kanaal wat wit, jong Afrikaanssprekende kinders geken het. Die kanaal het baie in terme van musiek en leefstyl gebied, en deur my man en sy vriendekring, met hulle ondersteuning vir die minder bekende/populêre Afrikaanse kunstenaars, het ek ’n groter waardering vir Afrikaanse musiek ontwikkel. Later het ek besef daar was in die akademiese literatuur niks oor MK gepubliseer nie en besluit om die kanaal te eer deur hierdie groot projek aan te pak. Hulle was immers ’n huishoudelike naam vir my ouderdomsgroep/-era.
Dit is natuurlik makliker om navorsing te doen oor ’n TV-kanaal wat steeds op die lug is en werknemers of medewerkers het wat maklik gekontak kan word vir inligting. Hoe het julle te werk gegaan om navorsing oor die kanaal te doen?
Ons het ’n hele paar vriende wat nog vir kykNET werk, en hulle het my raad gegee oor wie om te kontak en wie groot aandeel in die kanaal gehad het. So het die verwysingsraamwerk begin vorm aanneem en deur die video’s by DStv se argief te bestudeer, kon ek deur na die programme te kyk sien wie groot rolspelers in daardie stadium was. Sosiale media het ook baie gehelp, aangesien ek van die mense deur hierdie kanale kon bereik.
Die Afrikaanse taalgemeenskap het in die postapartheid tydperk nie die beste reputasie gehad nie. Het MK die groep se kulturele waardes uitgedaag en moontlik veranderinge aan die beeld van die groep in sy geheel teweeggebring?
Definitief. MK het deur bemarking en sosiale navorsing gehelp om ’n ruimte te gee vir die Calvinistiese waardes waarmee ons grootgemaak is, maar ook om dit uit te daag en die grense te bevraagteken.
Dink jy MK het op taalkundige vlak ’n rol gespeel in die verbreding van Afrikaanse woordeskat en bewusmaking van niestandaardvariëteite van Afrikaans?
Ek dink nie soseer op ’n suiwer taalvlak nie, maar dit het gehelp om slengwoorde meer in die alledaagse woordeskat te stimuleer – woorde wat steeds deur sekere Afrikaanse kunstenaars gebruik word, soos aweh, bru en hoezit; woorde wat op ’n groter insluiting teenoor alle Afrikaanssprekendes dui.
In julle artikel verwys julle na die “De la Rey”-verskynsel en Zef-kultuur. Sal jy miskien kortliks kan verduidelik wat die terme beteken en hoe dit neerslag gevind het op MK?
“De la Rey” verwys na die lied “De la Rey” wat deur Bok van Blerk gesing is. Die musiekvideo beeld visueel en deur lirieke ’n nostalgiese gevoel uit wat die luisteraar na die verlede terugvat na waar daar ’n trots op taal en kultuur was. Die lied het onder bepaalde groepe so gewild geword dat sommige skrywers dit as ’n soort alternatiewe “volkslied” vir ultrakonserwatiewe groeperings beskryf het – onder die oppervlak verwys die lied na die soeke vir Afrikanerleierskap (teen onderdrukking).
“Zef-kultuur” verwys na die beeld wat Die Antwoord in hul beginjare vertoon het – groot en goue juwele, tatoes, ’n gemengde taalgebruik van verskillende Suid-Afrikaanse tale en ook ’n sinspeling op alles wat taboe is in die Afrikaanse kultuur – seksuele toespelings, soms van ’n kru aard, die omverwerp van genderrolle binne die Afrikaanse kultuur, uitdagende tatoes en eksplisiete (dikwels platvloerse of skokkende) taalgebruik. Terwyl Zef ’n tipe utopie bied, waar al die kulture en rasse in Suid-Afrika as een “ubuntu” verteenwoordig word, was daar in meer onlangse literatuur en in die media beswaar oor Die Antwoord se mediabeeld – veral waar dit “blackface” behels het.
Dink jy die Afrikaanse musiekbedryf is slegter af sedert MK van die lug af is? Of word die leemte wat MK gelaat het, gedeeltelik of volledig gevul deur ander kanale (soos kykNET Nou!), kunstefeeste of selfs YouTube en Spotify?
Die geleenthede wat MK in die musiekbedryf gebied het, is tot vandag toe nie geëwenaar nie. Benewens geleenthede vir musiekgroepe en individuele kunstenaars, het hulle werk vir grimeerkunstenaars, akteurs, klank- en beligtingspersoneel en stelontwerpers verskaf. Daar is nog steeds ’n groot leemte in die Afrikaanse bedryf vir instansies wat ’n platform bied vir opkomende alternatiewe of minder bekende Afrikaanse kunstenaars. Dié leemte word slegs gedeeltelik gevul met programme wat kykNET oorgeneem het soos LuisterNou en Skole Top 10 – programme wat groot aanklank gevind het in MK se dae.
Dink jy daar sal in die toekoms ruimte wees vir ’n kanaal soortgelyk aan MK? Sal dit ekonomies volhoubaar wees, en sal dit dieselfde formaat kan aanneem as MK? Of moet daar vernuwend gedink word oor ander modusse of platforms?
Die formaat wat MK gehad het en die blootstelling wat dit aan opkomende tegnici, kunstenaars en musici gebied het, was – en is nog steeds – ongeëwenaar. Daarmee saam die formaat van ’n lewenstylkanaal om die kyker te help om ’n identiteit te vind onder ’n nuwe politieke bedeling – dit het jonger kykers destyds beslis gehelp om die soeke na ’n nuwe postapartheid identiteit te bemiddel.
Die probleem is egter hoe so iets finansieel volhoubaar sou kon wees, veral as die fokus op ’n Afrikaanse nismark (alternatiewe mark) is. Ons navorsing het getoon dat laasgenoemde maar iets soos 3% van die plaaslike mark beslaan, waarvan die grootste kykerstal (hoërskoolleerders en studente) nog nie ’n werk, of inkomste, het nie.
Dit sou egter verfrissend wees om ’n kanaal te hê wat uniek fokus op ’n spesifieke taal en kultuur, soos Afrikaans, maar dit sou deeglike marknavorsing verg, aangesien die meeste jongmense deesdae nie meer TV kyk nie, maar vir musiek en films eerder aanlyn stroom.

