Die jaarlikse MK-toekenningsgeleentheid het hom pas vir ’n sewende keer afgespeel. Stephan Potgieter, die hoof-inhoudsbestuurder van MK, beantwoord ’n paar vrae hieroor.
Goeiedag, Stephan. Hoe’s dinge?
Hi. Great dankie.
Die MK-toekennings het Sondag 24 Maart in die Staatsteater in Pretoria plaasgevind. Hoe is daar op dié venue besluit en hoe voel jy het dit op die ou end bygedra tot die geleentheid?
Ons het besluit om by die Staatsteater te bly omdat dit in 2012 so goed gewerk het vir ons. Dit is ’n interessante scenario, omdat die teater nou nie eintlik “rock star” is nie, maar ons het dit omskep in ’n markrelevante venue.
Hoe is vanjaar se geleentheid anders benader deur MK in terme van die proses wat gelei het tot die benoemdes en die uiteindelike wenners, in vergelyking met vorige jare?
Die kanaal het dieselfde proses gevolg as die vorige jaar. Ons het natuurlik ’n paar nuwe kategorieë gehad, maar die proses vir genomineerdes ens was dieselfde.
In dieselfde asem, hoe is die geleentheid self anders benader?
Dit is nie anders benader nie. As mens ’n wenresep beet het, dan karring jy nie daaraan nie.
Bouwer Bosch en Jaco van der Merwe het opgetree as MC’s. Hoe het hulle gevaar?
Hulle was great. Veral as mens in ag neem dit was hulle eerste werklike awards MC gig.
Van Coke Kartel was die groot wenners van die aand, met vier toekennings. In watter mate weerspieël dit wat ’n band moet doen om só ’n indruk onder kykers te maak?
As mens kyk na hoe hard die band werk, van rehearsals tot live shows en die besigheidskant van dinge, dan kan mens sien hoekom hulle so gewild is. Die grootste ding vir ’n kunstenaar/band is om nederig en na aan jou fans te bly.
Dink jy dit kan dui op ’n moontlikheid dat daar ’n gaping in gehalte is tussen die top-bands in Suid-Afrika en die res? Indien wel, hoe moet dit oorbrug word?
Daar is definitief ’n gaping. Tegnologie is half te blameer. Rede hoekom ek so sê is dat enigiemand nou kan musiek maak, ’n video bygooi en dit aan die publiek uitsit. Maar dit is nie te sê dat daai produk goed is nie. Ek dink dis nogals half die YouTube-fenomeen. Maar die video’s met die meeste “hits” op YouTube is nie noodwendig goeie video’s nie.
Oorbrugging is moeilik, en kan net gebeur as die kunstenaars nie net ernstig is oor hulle kuns nie, maar ook werklike talent ens het. Dit help nie jy’s in ’n band met die beste guitarist maar die slegste vocalist nie. Die gehoor is nie dom nie.
Hierdie was die sewende jaarlikse geleentheid vir die MK-toekennings. As daar teruggedink word aan die heel eerste geleentheid, watter belangrikste vorderinge is gemaak deur die jare, beide vir die geleentheid en vir MK in die algemeen?
Ek dink die feit dat elke jaar die Awards net beter en groter geword het. Daar is ook meer variëteit in terme van performances tot genomineerdes.
Wat kan kykers, bands en vervaardigers van musiekvideo’s verwag van die MK-toekennings in die toekoms?
Ek sou graag wou sê groter en beter, maar wil nou nie beloftes maak nie. Ons sal graag wil kyk om meer variëteit in te bring. Ons het byvoorbeeld hierdie jaar die Beste Festival-kategorie gehad, en dit was great.
Hoe lyk die nabye en verre toekoms vir MK in die algemeen? Enige interessante planne wat jy kan verklap?
Planne = Digitaal. Daar gaan ’n groot verskuiwing plaasvind vir die kanaal. Hierdie gaan nie ’n negatiewe ding wees nie en gaan inteendeel die kanaal meer toegangklik maak vir mense wat dit tans nie kan “access” nie.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


Kommentaar
Wel gedaan Henry!