Mister Japp en Thoroughly Modern Milly

  • 1

Foto: https://www.mtishows.com/thoroughly-modern-millie

Potchefstroom in die vroeë tagtigs. Deur my nuwe glansvriende Thea en Marisa ontmoet ek vir Attie Japp. Mister Japp, het Marisa hom genoem, omdat hy so ouwêrelds hoflik was dat hy haar ma nie soos die res van ons as "tannie Kobie" nie, maar as "mevrou Esterhuizen" aangespreek het. Mister Japp het reeds by Kovsies drama geswot en diensplig gedoen toe hy sy honneurs in Afrikaans aan die PUK kom doen het. Hy was uiters pittig en lief vir woordspeletjies, my gunstelingding. Ek onthou dat hy vyf jaar ouer as ek is omdat hy eendag gesê het hy is seks-en-twintig, waarop ek antwoord ek is been-en-twintig.

Mister Japp was ’n weeskind. Sy ouers is kort ná mekaar tragies oorlede, voordat ek hom ontmoet het. Sy ma, weet ek van foto’s, het soos Elizabeth Taylor gelyk en sy pa was ’n goeie mens. Sy ouma het "suiker" gehad en soms steierend ’n fles konfyt van die spensrak gestamp en bewend daarvan geëet om ’n insulienkoma vry te spring. Hy was as kind lief vir gebraaide aartappels en was, volgens hom, die vet seun wat jy in elke skool aantref. "An egg-shaped boy," het hy gesê. Toe hy eendag langs die openbare swembad in ’n groot T-hemp skuil, het ’n onderwyser vir hom gesê: "Jý verdien ook somer en son en saffier."

Toe ek hom ontmoet, was hy ondergewig met ’n broeiende aantreklikheid wat aan Hans Strydom herinner. Hy was ’n groot aanhaler uit stokou Afrikaanse gedigte, nog een van my gunstelingtydverdrywe. "Waar kuddes waaigras huppel oor die veld." "En daar sal beter dae kom, my Vrou; Beter dae vir die bleek klein Bet, Vir Boetman wat nog weg is en vir jou." Hy het ook uit Shakespeare aangehaal in sy gemoduleerde dramadepartementstem. Ek was in Pretoria-Noord op skool waar ons redelik plat gepraat het, maar ek het in navolging my vokale gerond en stadig en duidelik begin praat.

Hy en sy broer het twee plase geërf: Bospan en Klipdrift in Ottosdal se omgewing. Elk het sy eie huis en werf gehad. Hy was ’n buitestander op ’n dorp vol fornikerende, owerspelige rassiste en suipers. Ek onthou hy het eenkeer met siddering vertel van ’n party waar die gasheer ’n voorskoot dra waarop daar staan: "Die manne braai met Kellerprinz."

Hy was nie een van die manne nie. Hy was ook nie ’n metroman nie. Hy het nie veel aandag aan sy voorkoms of kleredrag bestee nie. Hy het van Grasshoppers gehou. Maar sy siel is so fyn en sy gesigtaal so dramaties dat my ma oortuig was hy is gay.

Ek het soos ’n eendemossel aan hom vasgesuig, want hy was vir my hiperslim, pittig, ingelig en volwasse en het my aan my pa laat dink – iemand met wie ek min kontak gehad het, al het ek in sy huis grootgeword.

Later, toe ek gewerk het, het ek elke vakansie vir hom op die plaas gaan kuier. Dan gesels ons tot laatnag op sy koordferweelbanke. Hy was my familie en hy het elke week vir my briewe geskryf. My lewe was een groot trek en oral het ek kartondose vol papiere agtergelaat soos ’n slang wat vervel. Oor sy wonderlike briewe is ek hartseer.

Mister Japp was die eerste liberale Afrikaner wat ek van naby gesien het. Hy het vir die PFP gestem en was uitgesproke anti-apartheid. Ek kon nog nie eens my eie binnelandskap orden nie en was polities agtergeblewe. Die tyd in die army en daarna op jaarlikse kampe as polisiereservis het sy oë oopgemaak. Hy het vertel hoedat hulle laatnag ’n sinkkaia oopskop, die hele getraumatiseerde gesinnetjie uitjaag en voor almal die hoof van die huis hardhandig ondervra. Wat sy hart gebreek het, sê hy, was dat daar dikwels afdrukke van die Voortrekkermonument of selfs dr Verwoerd teen die binnemure van die huisies gehang het.

Ons klein vriendekring het gereeld naweke op sy plaas deurgebring. Dit het altyd vir my gevoel asof daar nie grootmense was nie. Dit was gesuspendeerde tyd, soos drome. Ons het geslaap, geëet, gedrink en rondgelê en gesels. Naas die huis was ’n dam waarin ons afgekoel het, met skemerkelkies (selfs in die oggend) waarin maraskynkersies en gekleurde sambreeltjies dryf.

Hy het min of meer van droë roosterbrood, swart koffie en sigarette geleef en soggens en saans gaan draf. Maar vir ons het hy driegang-etes gekook wat die tafel laat kreun. Keurig, stoksielalleen: "Ek soek nie ’n vrou in my kombuis nie," het hy gebrom. Sy huishulp was Bettie, wat hy Kimera genoem het, omdat sy die Suid-Koreaanse sangeres se dubbelganger was.

Hy is ’n bederwer. Wanneer hy van die dorp af kom, staan ons soos kinders nader en hy sê: "Koeitjies, kyk wat het die oom vir julle gebring!" Hy was nie ’n drinker nie; het net soms laataand ’n paar vingers goeie brandewyn in ’n ballonglas rondgerol. Hy was gesofistikeerd soos Europese mans was, ver verby my verwysingsraamwerk.

Hy het my, soos almal, koddig gevind en graag na my stories geluister. Self kon hy ’n storie beter vertel as die meeste verhoogproduksies: in verskillende stemme, met ’n fyn oor vir dialoog, trefseker lyfspel en dodelike tydsberekening. Kurkdroog.

Ek het gedink as ’n mens dan nou moet trou, sou ek dalk met Mister Japp kon trou. Maar trolle het gereeld my aandag afgetrek en gelukkig vir hom het ek hom geglo toe hy sê hy gaan nooit in der ewigheid trou nie. Hy het ook geen aanstalte in my rigting gemaak nie, behalwe om my soos ’n vorstin van ver te behandel en hand en voet te bedien. En te leer: oor politiek, geskiedenis, klassieke musiek, opera, letterkunde, drama, films.

Hy het ’n versameling ou flieks gehad, nog in videoformaat. Ons het oor en oor na dieselfde flieks gekyk tot ons die dialoog kon voordra (veral hy) en dit deel van ons spreektaal geword het. In Thoroughly Modern Milly het die nare losieshuiseienaar jong meisies as slawe ontvoer, verkieslik weeskinders. "Sad to be all alone in the world," het sy temerig gehuigel wanneer sy hulle ontmoet. En vir hulle van haar roofie-pons aangebied met die woorde: "My own recipe ... FROOT!" Dit het ons altyd gesê wanneer ons vir iemand ’n drankie aangee.

Nog ’n gunsteling was Who is killing the great chefs of Europe? waar die kosskrywer van homself sê: "I've eaten my way to the top! I'm a work of art, created by the finest chefs in the world. Every fold is a brush stroke! Every crease a sonnet! Every chin a concerto."

Mister Japp is ná aftree-ouderdom steeds skoolhoof. Hy is met Marisa getroud en liefde hét soveel jaar geduur. Hy is weer, soos toe hy ’n seuntjie was, op pad egg-shape toe. Steeds met ’n kraakdroë humorsin en ’n manier om jou te beledig dat jy trots en raakgesien voel.

May your days be bright and sunny, may your husband be fat and funny. Jy was my finishing school, my plaastelefoon en my projektor, Mister Japp. Dankie.

  • 1

Kommentaar

  • Henning Janse van Vuuren

    Hier in die donkerte in Berg-en-Dal, KNP, lees ek met genoegdoening van mister Japp. Iets agter my, in die swart struike, breek takkies en nie te ver van my af nie is 'n familie besig met boekevat. 'n Vrouestem lees gedemp en gemoduleerd voor. Die kamp is verlate en die klank dra sonder om te steur.

    Rituele bring berusting. Ook die herinneringe wat ons deel van mense soos mister Japp. Ek kan nie glo hy kry nie 'n liedjie nie. Dis haglike omstandighede, haglik.

    Moeilike tye.

    Maar Japp verdien 'n song.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top