Mister God (in die styl van Mister God, this is Anna)

  • 5

Mister God, dis Bettina hierso.

Skies dat ek pla, ek wiet daa’s baie anner belangrike goete wat u besag hou. Maa’ die saak staan soe, Cyril, ôs president, het gesê ôs moet maa’ met u praat oorie land se proebleme. Is anyway maybe bietere soe, want hy is elke kee’ net geskok as daa’ iets gebeur. Mens sal amper sê hy issie in charge vannie land nie, die way hy aangaan.

Miskien moet mens maa’ bid vir ʼn anner government, want dié ene vang net k... – sorry, ek bedoel strooi aan. Ek mien nou maa’, kyk wat gaan aan met die Airways. Ek is nou nie ʼn ekonoom soos die slim mense wat oor die goete praatie, soe ek het maa’ bietjie gaan raad vra. Doris run ʼn spaza shop, en Thobeka ve’koop walkie talkies oppie plein, so hulle ken van besagheid. Toe vra ek hulle, maak die ding van die bailout vi’ hulle business sense? Cyril is mal in sy kop, sê hulle al twie. Thobeka explain die ding soe. As djy meerdere geld wil maak, dan moet djy meerdere walkie talkies ve’koep. Of djy moet jou prys opstoot. Maa’ daai werk oek net tot op ʼn punt. As djy jou prys opstoot, dan moet djy dit virrie customer worthwhile maak om an te hou koep. Annerste gan koep hulle net by ʼn anner merchant. Is soe simpel soes daai.

En Doris vertel haa’ kleinkind het besluit om oek ʼn hair salon te begin. Ma’ sy gie virrie mense op skuld, en dan betaal hulle nie. Toe vra sy vir Doris vir geld. Ek mien, sy wil mos haa’ kleinkind help, toe gie sy die geld. Toe spend die kind dit op klere. Dis haa’ raise, vertel sy. Next time toe sy wee’ innie moelikgeit is, toe sê Doris nee, sy gie nie wee nie. Nie as dit vir nog ʼn raise gaan nie. Soe, Doris en Thobeka sê al twie Cyril bietere uitvind hoevel van daai bailout gan vi bonuses en salaries, en hoevel gan om die problem te fix. Hulle begint al klaa’ ve’keed. Waa’ kan jy meerdere geld maak as djy die flights minnere maak? Is mos versin. Plustens, die flights is altyd laat, hulle drop hulle customers somme’ enage tyd en die airplanes bly permie stukkend. Soe, daa’ issie customer satisfaction ’ie.

Nou hoe mien hulle moet Cyril maak, vra ek. Firstly, fire al daai loafers, die executives ennie consultants wat net elke maand pay collect en niks betieken nie, sê Thobeka. En maak reg die planes. En behandel hulle customers en hulle employees bietere, plak Doris stamps op.

Maa’ toe lyk dit hulle bors raak warm, want toe begin hulle somme’ met Eskom wat hulle prys wil opstoot, maar kantie minner lektriek gie. En dan somme’ enage tyd vannie dag of nag die lektriek ko’ afsit. Besides, wanne’ gaan iemand plan maak met daai Molefe-jong wat ’ie sy pension kan trugbetaal ’ie? Hoe lank issit nou al? Toe Doris net ʼn maand laat was met die R36 wat sy die hospitaal skuld, toe kry sy ʼn lawyer’s letter. Nou hoekom kan niemand vi’ daai jong ʼn lawyers letter stuur ’ie? En virrie Guptas en allie anner wat ôs so gebesteel het? Hoeko’ gebeu’ daa’ niks met hulle nie?

Mister God, ek gan maa’ nie repeat die tale wat Thobeka en Doris gebruik het toe hulle oo’ Zuma beginne praat ‘ie.

En daai outjie van health wat vi’ ôs ammel se pille moet so’g, wat sy niggie in charge sit. Oukei, as sy wiet wat sy doen dan issit sieke’ nie soe bad nie, maa’ sy was dan al klaa’ gloe met haa’ vingers innie till. En as sy ôs pillegeld opiet, dan wat word van ôs siek mense? Moet ôs nou maar net sat gan, finish en klaa’? Hulle vat ôs ammel vi nawtas, soe mien Doris en Thobeka. Dit nadat Cyril soe gebeloewe het vannie new dawn waa’ daai goete nie mee’ gaan gebeu’ nie. New dawn se ma se ... – sorry, Mister God, maa’ my bors raak warm as ek sien hulle dink mens is onnooslik.

En die slim mense wat sê is net vasbyt, ôs is biesag om te wen, hulle praat str... – sorry Mister God, hulle praat nonsens. Hulle het mos hullese blue chip en black card en allie anne’ kleure vannie rainbow om hulle te cushion. Maa’, sê Thobeka, die brood raak al hoe duurdere, en ’ie taxi se prys gan op, en ’ie hout. En ’ie slaghuis het die hoenerpote se prys oek opgestoot, wan die petrol gan op. Maa’ die allpay bly dieselfde, en sy kan nie haa’ walkie talkies se prys opstoot ’ie, want dan kan haa’ customers dit ’ie afford nie. Ammel trek swaar. Behalwe die slim ekonome wat klomp geld het. Ennie politicians wat dikgevriet is an ôs tax geld. Sorry Mister God, maa’ dis wat Thobeka gesê het. En die arm mense wat die swaarste trek, het die minste tyd om te wag vir Cyril om sy vinger uit te trek.

Want sien, Mister God, dis ’ie ding. As djy geld het, kan djy afford om te wag. Djy kan investments in kontant omsit, of djy kan property vekoep. Ammel wil hoeka nou ve’koep, want hulle willie ge-expropriate sonner vergoeding wiesie. Stupid virrie ou wat nou dink hy kry ʼn gelukkie en koep, ma’ daai issie my besagheid ’ie. Maa laat ek trugkom na die punt toe. Die punt is, hulle het options. Die arm mense hettie options nie. Hulle maag is al kla aan ’ie rugstring vas, daa’ issie nog bietjie cushion nie. En dis wat die slim mense vegiet. Vasbyt en deurdruk we’k net as djy iets het.

As djy klaa’ op jou laaste is, wat is daa’ dan? Sweet blow all. Al wat dan oorbly, is ommie N2 toe te maak en karre met klippe te gooi. En af te brand, want dis al taal wat ’ie government verstaan, smaak my. En ’ie wit mense begin dan moan, want hulle word mos oek nou ge-inconvenience. Hulle worry nie as ôs ôs eie skole afbrand ’ie, en ôs eie plekke ve’niel nie. Maa’ die moment hulle eie convenience at stake is, dan sien djy hoe vinnag develop hulle ʼn social conscience. Met die white privilege colonial houding ko’t oppie hakke. Dan moet ôs hoor hoe hard hulle gewe’k het om te kom waa’ hulle is. Nevermind dat apartheid hulle ʼn lekke’ leg-up gegie het. Nevermind dat hulle bietere skole gehad het, en sommige jobs vi’ hulle gereserve was, en ôs uitgesit was solat hulle ôs property vi’ ʼn appel en ʼn ei kon koep.

Nou, Mister God, Cyril het gesê ôs moet met u praat oorie saak. Nou wonner ek net. Ko’ visit hy darem soe nou en dan vi’ u? Of wag hy tot ‘it wee’ election time is, dan issit mos somme’ elke Sondag innie kerk.

Dankie virrie oor. Ek voel somme’ al klaa’ bietere. Ek willie vra vi’ iets ‘ie, ek wiet u is biesag. Die Chinamense het mos daai Corolla-virus. En daa’ is altyd oorlog iewers. En hongersnood, en brande. En climate change wat ôs ammel nog gaan sat maak as Cyril se policy dit ’ie ee’ste doen nie.

Soe’ ek wiet u hanne is vol. Maa’ as u ʼn omblikkie het, ko’ sort ôs uit asseblief?

  • 5

Kommentaar

  • Mooi man! Ek gaan lees sommer nou weer my Mr God, this is Anna. Maar hierdie keer met jou stem.

  • Johann Basson

    Beste Bettina,

    Puik gestel. Groot dankie.

    Wat is ons Skepper se Visie met Sy skepping?

    En wat is Sy Raadsplan met Sy skepping? En waar en hoe pas ons as mense in Sy Raadsplan?

    Moet elke mens nie strewe vir die bevordering van geregtigheid en ‘n kultuur van omgee vir mekaar en naasteliefde nie?

    As ons mekaar nie kan vergewe nie, hoe kan ons verwag dat ons Skepper empatie met ons menslike sondige gebreke kan hê en ons vergewe vir ons wandade teenoor Hom en Sy skepping, inbegrepe ons medemens?

    Laat ons handevat vir groter geregtigheid en omgee vir Sy skepping, inbegrepe ons naaste en die omgewing en natuurlewe.

    Gaan geniet ‘n lekker koppie koffie en dink na: die menslike lewe is uiters kortstondig. Ons Skepper gaan rekenskap van ons vra oor welke opbouende verskille ons op hierdie aarde gemaak het.

    Mag ons vonke wees wat ‘n opbouende verskil in ander se lewens maak en dat hulle ook transformeer tot vonke vir groter geregtigheid en naasteliefde.

    Groetnis.

    Vrydenker Vlakvark Johann Basson

  • Barend van der Merwe

    Goeie vrae

    Cyril het so baie plase en so baie buffelbokke, waar kry hy tyd vir 'n persoonlike verhouding met Abba Vader? Hoe weet ons hy is 'n kind van die Here? Dit alles terwyl Suid-Afrika die laaste ware respektabele Christenleier wat die land gehad het, Jacob Zuma, nou in die tronk wil stop.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top