Heindrich Wyngaard neem bestek op ná ’n gesprek met twee kundiges.
*
Nadat die eerste deelnemer, Hein Willemse, die onderwerp ingelei het, is alles eintlik gesê. Die letterkundige het nie skielik vir die doel van die gesprek ’n misdaadkenner geword nie; hy praat in sy hoedanigheid as 2025/26-bekleër van die Jaap Durand-leerstoel aan die Universiteit van Wes-Kaapland, wat onlangs ’n seminaar getitel “Bendebedrywighede en sosiale disfunksie in die Wes-Kaap” aangebied het.
Willemse het die probleem as volg uiteengesit: “Die feit van die saak is: Ons sit in ’n situasie waar ons letterlik elke dag hoor van jongmense wat geskiet is, van bendegeweld, van misdaad in die algemeen; en dit is natuurlik ’n verskriklike ondermyning en verwringing van wat ons samelewing kan wees.”
Dit is ’n mondvol, maar sinvol. En dit kom van ver af: “Die feit van die saak is ons samelewing is een wat deur ’n lang geskiedenis van trauma kom en die vraag is hoe hanteer ons dit vandag, en spesifiek as ons kyk wat gebeur met misdaad.” Steeds Willemse: “Die verskillende vlakke van misdaad is besig om die potensiaal van ons mense oor die algemeen eintlik te vernietig, die moontlikhede van wat die samelewing kan wees te vernietig – en dinge soos korrupsie, dinge soos misdaad in die algemeen, is besig om ’n totale wanindruk te gee van wat ons as samelewing kan bereik.”
Saam met “dinge soos korrupsie, dinge soos misdaad in die algemeen” is daar die verhouding tussen die polisie en die publiek wat skipbreuk ly. Goeie, hardwerkende polisie is steeds met ons, sê Willemse se gespreksgenoot, Lennit Max, oudpolisiehoof in die Wes-Kaap, en dit is jammer dat ook hulle beeld geskend word deur die dade van ander lede.
Die wyse waarop aanstellings gedoen word, is ’n ander bydraende faktor, stem die twee saam, hoewel uit verskillende vertrekpunte: Willemse bly van ras weg en fokus op die vlak van bekwaamheid of onbekwaamheid en in watter mate die aangesteldes ’n verhouding of verbintenis met plaaslike gemeenskappe het. “Die beeld [onder die publiek] is dat daar ’n algemene verval is.”
Maar kommer oor die indruk dat daar nou niemand meer in die polisie is wat goeie werk doen nie, bestaan nie slegs aan die publiek se kant nie. Dit pla ook toegewyde polisielede: “Die gewone polisiepersoon op grondvlak voel dat die oomblik wanneer iemand ’n saak kom aanmeld, kan hy of sy net sowel weet daar gaan niks gebeur nie, want die saak gaan verdoesel word, of hierdie kwessie word nie gehanteer op ’n behoorlike vlak nie, of die persoon wat die verklaring neem, is net nie kompetent genoeg nie.”
Max hou nie terug oor die uitdaging wat taal meebring (as jy dan nie ras wil gebruik nie): “Kommunikasie is ’n groot probleem,” sê hy. “Ons bruin mense het ’n manier om dinge te sê in Afrikaans en wanneer jy dit direk uit Afrikaans na Engels probeer interpreteer dan kom dit nie reg anderkant uit nie.”
Dit is ook hoe die staat sake in die howe verloor, meen hy – en hy weet waarvan hy praat, want hy bevind hom ook gereeld in die hof as ’n advokaat wat kliënte teen die staat verdedig. Maar hiermee lewer hy nie ’n pleidooi vir ’n terugkeer na wat in die voor-1994 dae as “wit, bruin of swart [polisie]stasies” beskou is nie, wil hy darem net duidelik stel.
Max, wat ook voorheen Wes-Kaapse minister vir gemeenskapsveiligheid was, sê hoe jy die hart van die gemeenskap terugwen is dus nie deur ope dae waar helikopters gevlieg word of polisiehonde se vaardighede vertoon word nie. “Jy doen dit deur dienslewering,” glo hy. “Mense kom na ’n polisiekantoor met die verwagting om gehelp te word.”
Uit sy praktiese ervaring in die polisie stel Max ook ’n ander uitdaging aan die orde: Naas dié dat die polisie se “militêre”, “onmenswaardige” en “verdrukkende” benadering van die verlede reggestel moes word, moes transformasie ook binne gesagstrukture plaasvind.
“Die veronderstelling was dat swart mense meer simpatiek sou optree teen die mense wat so onmenswaardig behandel is, wat nie noodwendig die geval is nie,” sê hy, onder meer met verwysing na die Marikana-tragedie en ander gevalle van buitensporige geweld wat deur die polisie ingespan word. Dit is die onderwerp van sy doktorale proefskrif. Ander inisiatiewe, soos die instelling van gemeenskapspolisiëringsforums, moes ook help met ’n nuwe institusionele kultuur in die polisie.
Waaraan Max egter ’n groot broertjie dood het, is die eksklusiewe samestelling van die polisie se nasionale topstruktuur: Nie één is bruin, wit of Indiër nie. Dit kom dan ook vir hom voor asof die belangrikste oorweging in die aanstelling (of nie-aanstelling) op hierdie vlak slegs die persoon se velkleur is; en intussen word ’n ander goeie gebruik uit die verlede – volgehoue leer en opleiding – ook agterweë gelaat.
Wat is die oplossing hiervoor? Een manier, sê Max, is om die polisiediens vry te stel van die vereistes van die Wet op Gelyke Indiensneming, soos die geval is met die Nasionale Intelligensiediens. Hierdeur sal jy die bekwaamste mense kan aanstel sonder om deur rasseteikens teruggehou te word.
’n Ander voorstel as teenmisdaadoplossing of vir meer effektiewe polisiëring wat dikwels voorgehou word, onder meer deur burgerregteorganisasies soos Kaapse Forum,* is die afwenteling van polisiemagte van nasionale na provinsiale en munisipale vlak. Willemse stel ’n beginselstandpunt wat wil wegstuur van ’n mening “wat spesifiek inspeel op politieke organisasies of sulke burgerlike organisasies [se standpunte] soos julle s’n”: “Ek dink dienslewering moet gereguleer word deur wat die naaste aan die mense is ... organisasies en entiteite wat inderdaad ’n belang het by wat daar gebeur op gemeenskapsvlak.”
Wat ons op die oomblik het, sê hy verder, is ’n “te groot, oorverdowende poging tot sentralisering van daardie dienste in die staat”. Dit verwyder die dienste van gemeenskappe. “Uiteindelik, as ’n beginselstandpunt, lyk dit vir my is dit belangrik dat jy daardie dienste op gemeenskapsvlak moet het en effektief moet uitvoer,” beklemtoon hy.
Wat ons addisioneel daartoe het, is die drie-eenheid van “die geleentheid om misdaad te pleeg, die begeerte om misdaad te pleeg, en die vermoë om misdaad te pleeg”, sê Max. Die ingryping deur die polisiediens en die ontplooiing van die weermag help die situasie stabiliseer, sê hy. Die samewerking van die gemeenskap bepaal egter die volhoubaarheid van vrede.
Maar dan, nogmaals, kom die afwesigheid van vertroue in die polisie ter sprake, wat ’n hindernis is vir die gemeenskap se bereidwilligheid om inligting met die polisie te deel. Hoe nou gemaak? Beveilig jouself, so goed moontlik. Dis Max se raad. “Jy moet altyd oplettend wees. Jou moet ’n waarneming maak waar jy ook al is. Moenie wag tot die misdaad tot by jou kom nie.”
Solank as wat “die misdaad tot by jou kom”, is die gevolg daarvan vir ons land, soos wat Willemse reg aan die begin gesê het, die “verskriklike ondermyning en verwringing van wat ons samelewing kan wees”.
* Belangeverklaring: Wyngaard is die voorsitter van Kaapse Forum.

