Mirakel by Momentum Beleggings Aardklop 2023
deur Reza de Wet
met Dawid Minnaar, Bettie Kemp, Rolanda Marais, Edwin van der Walt, Carla Smith, Eben Genis
Regie deur Marthinus Basson
Beligtingsontwerp en verhoogbestuur deur Nicolaas de Jongh
130 minute, insluitend 10 minute pouse
Mirakel is Reza de Wet se middelstuk in haar Vrystaat-trilogie Mis, Mirakel en Drif.
Die stuk speel af in 1936, kort ná die Groot Depressie, in ’n tyd waar akteurs nog van dorp tot dorp gereis het. Danté du Pré en sy brandarm toneelgeselskap besoek ’n klein dorpie en berei voor om hulle stuk Elkeman op die ou, verwaarloosde Katolieke kerk se planke te bring. Die akteurs is moeg en uitgeteer en het nie veel hoop vir die komende vertoning nie, maar Du Pré verseker hulle dat daardie aand se optrede suksesvol gaan wees. Verskeie struikelblokke staan egter in die pad van die geselskap se sukses en hulle plaas hulle vertroue in die ryk, slinkse vrou van een van die spelers.
Mirakel lewer kommentaar op wat dit is om ’n kunstenaar te wees: Die opofferings en swaarkry vir jou kuns, asook die hartseer en verlies wat daarmee gepaard gaan.
Stel, ligte, aksie!
Twee kenmerke van hierdie produksie wat amper so indrukwekkend soos Marthinus Basson se regie is, is die stel en beligtingsontwerp. Die stel is groot, realisties en nie ’n enkele detail is gespaar nie. Dit was so verfrissend om spesiale effekte reg voor jou oë te sien gebeur: Van die eet van die aartappelslaai tot werklike vuur wat in die staalkoffer brand. Die beligting komplementeer die atmosfeer van die stuk en dra by tot die geloofwaardigheid daarvan. Ek kon myself volledig inleef in hierdie karakters se werklikheid.
........
Dawid Minnaar as Danté du Pré het dit reggekry om ’n verskeidenheid emosies by die gehoor te ontlok: Hy het ons laat lag, huil, kommer en nadink oor die lewe. Wat anders is ’n tragedie se doel as katarsis?
........
Die groot rolverdeling en die akteurs se uitstekende spel het natuurlik ook tot die geloofwaardigheid bygedra. Elke akteur bemagtig sy/haar karakter byna presies hoe De Wet dit geskryf het. Carla Smith beeld haar broos, swanger karakter, Lenie, uitstekend uit. Teenoor haar speel Edwin van der Walt, wat sy hardkoppige Abel-karakter beliggaam. Sy sagtheid teenoor Lenie en hardheid teenoor Anna, gespeel deur Rolanda Marais, maak vir ’n mooi jukstaposisie in die stuk. Rolanda Marais in haar rol as Anna is ’n krag om mee te reken. Haar toneelspel hou jou oë vasgenael op die verhoog. Die skreeusnaakse Bettie Kemp en Eben Genis het vir komiese verligting gesorg in hulle rolle as Salomé, die verouderde skoonheid, en Antoine, die gewese musiekonderwyser. Dawid Minnaar as Danté du Pré het dit reggekry om ’n verskeidenheid emosies by die gehoor te ontlok: Hy het ons laat lag, huil, kommer en nadink oor die lewe. Wat anders is ’n tragedie se doel as katarsis?
Elkeman
Dit is nie per toeval dat De Wet die Middeleeuse drama Everyman, vertaal na Elkeman, in haar teks gebruik nie. Elkeman verken die lewe van die hoofkarakter, Elkeman, terwyl hy sy sterflikheid en gevolge van sy dade in die gesig staar. In sy soeke na verlossing soek Elkeman bystand by sy vriende Skoonheid, Wete, Bieg, Sintuie, Krag, Nefie, Dokter, Goeie Dade, Besittings, Familie en Oordeel. Uiteindelik verlaat almal behalwe Goeie Dade hom. Hierdie stuk dien as ’n kragtige allegorie vir die belangrikheid van ’n morele lewe en die onvermydelike afrekening met jou dade ná jou dood. Regdeur Mirakel plaas Du Pré klem op die feit dat toneelspel hoër is as enige aardse besittings of sensasies. Aan die einde prys Du Pré vir Abel omdat hy besluit om aan te hou speel, al is hy in pyn. Dus kan Abel se storie vergelyk word met Elkeman s’n deurdat hy verlossing gevind het in die “verhewe kuns”.
........
Hierdie stuk dien as ’n kragtige allegorie vir die belangrikheid van ’n morele lewe en die onvermydelike afrekening met jou dade ná jou dood. Regdeur Mirakel plaas Du Pré klem op die feit dat toneelspel hoër is as enige aardse besittings of sensasies.
........
Teater is nie dood nie
Tot my verbasing was die gehoor nie slegs vol gryskoptannies en De Wet-liefhebbers nie, maar die verhouding van jong mense, middeljariges en ouer gehoorlede was byna ewe en almal het ewe hard gelag. By die eerste vertoning van die week was die Elgro Hotelsaal reeds stampvol. Die feit dat talle teatergangers van alle ouderdomme bereid was om deur twee uur se toneelspel te sit, en boonop ’n staande ovasie aan die akteurs te gee, is bewyse dat teater nie dood is nie en in realiteit floreer.
Die volgende vertonings van Mirakel vind van 10 tot 13 Oktober by die Toyota US Woordfees in Stellenbosch plaas.


