MiNNAAR: Louis en Magdalene stel Volcano bekend

  • 0

Die broer-en-suster-span Louis en Magdalene Minnaar het kragte saamgesnoer en ’n nuwe musiekprojek, MiNNAAR, van stapel gestuur. Louis, bekend as ’n vooraanstaande visuele kunstenaar en ook as lid van Bittereinder, en Magdalene, bekend as ’n bekroonde en gewilde operasangeres, beantwoord ’n paar vrae oor dié projek.


Foto: Louis Minnaar

Dagsê, Louis en Magdalene. Hoe's dinge, onderskeidelik?

L: Baie lekker – sien uit na ’n nuwe jaar vol opwindende dinge.

M: Gaan goed na ’n lekker vakansie!

Geluk met die vrystelling van die Volcano-EP. Is dit ’n projek waaraan julle lank beplan het en hoe het julle tot die besluit gekom dat die EP opgeneem en vrygestel moet word?

L: Ons het lankal begin saam werk aan liedjies, maar sonder ’n noodwendige projek in gedagte. Op ’n punt het dit maar net te duidelik geraak dat ons ons broer-suster-kaartjie moet trek en die dinge behoorlik moet doen.

Magdalene, jy is bekend as ’n bekroonde operasanger en Louis, jy is ’n lid van die elektro-hip-hop-groep Bittereinder. Dit is besonder uiteenlopende genres – hoe het julle te werk gegaan met die konseptualisering van die album in terme van die “klank” wat julle wou bereik?

L: Omdat ons twee in sulke verskillende style werk en ons elkeen weet wat ons individueel tot die tafel bring, was dit van die begin af redelik eenvoudig. Ek het die musiek geskryf en die elektroniese instrumentasie gedoen, waarna Magdalene toe lirieke geskryf het en die sangwerk gedoen het. Die resultaat was toe wat dit was sonder dat ons te veel daaraan gedink het.

M: Ons het ook van die begin af besluit om onsself nie te beperk deur spesifieke genres nie, en net uit die hart geskryf – wat ook al vir ons gemaklik voel en lekker klink.

Die “klank” op die EP herinner nogal aan kunstenaars en groepe soos Björk, Portishead en die plaaslike groep Lark. Uit watter kunstenaars se werk het julle inspirasie geput om jul onderskeie style en ook die “klank” wat julle wou hê vas te stel?

L: Ons luister albei na so ’n wye verskeidenheid musiek dat dit moeilik is om ’n definitiewe lys te maak. Ek luister wel meer donker elektroniese musiek en baie soundtracks wat sekerlik ’n invloed het op my bydrae.

M: Kunstenaars na wie ek luister vir vokale inspirasie is Lana Del Rey, Nathalie Dessay, natuurlik Björk en ook mense soos Imogen Heap en Regina Spektor. Maar soos gesê, het ons uit die vuis uit gewerk en was nie regtig gelei deur ’n spesifieke kunstenaar nie. (Ek dink dit kan gevaarlik raak, en dan begin alles dieselfde klink!)

Die musiek wat julle voortgebring het, is beslis nie iets wat ’n mens om elke hoek en draai in Suid-Afrika aantref nie. Glo julle daar is ’n plaaslike mark hiervoor, of mik julle eerder op die internasionale mark vir aanhangers?

L: Ons benadering sover is bloot om lekker musiek te maak. Ek sou sê ons mark is die mense wat daarvan gaan hou. Die lekker ding van die projek is dat ons nie vir iemand hoef te "cater" nie. Die musiek wat ons maak, is musiek wat ons wil maak sonder dat die gehoor ons kreatiewe keuses beïnvloed.

M: Ons het definitief reeds ’n hele paar ore wat luister in Suid-Afrika, maar ek glo dit sal ook goed doen in die Europese mark, en beslis die wyer Amerika, waar mense heeltyd soek vir iets vars en nuut.

In dieselfde asem: Wat wil julle graag bereik met die EP in terme van blootstelling, verkope, toer ensovoorts? Watter soort planne het julle om jul musiek verder te bevorder?

L: Ons EP is vrylik beskikbaar by www.minnaar.net, so ons gaan nie verkope hê nie. Ons doen die projek vir die liefde van musiek, so enige blootstelling of shows sal ’n bonus wees.

M: Ons wil graag meer "live" optree, maar dis maar ook net omdat ons dit geniet. Ons het nie ’n vreeslike PR-plan of bemarkingstrategie nie, maar daar is definitief nog musiek op pad.

Louis, jou watermerk as vervaardiger verskyn by van die top-musiekvideo's in die land, en Magdalene, die dagboek op jou webwerf toon dat jou program vol bly. Julle is dus albei baie besig. Hoe beplan julle om hierdie gesamentlike projek te laat voortleef? Het julle planne vir nog gesamentlike projekte in die toekoms?

L: Dis ’n geval van tyd maak eerder as om tyd te hê. Die projek gebeur maar tussendeur die brood-en-botter-dinge – maar ons hou daarvan om saam te werk en gaan aanhou musiek maak. Die plan is om binnekort die volgende vyf tracks vry te stel soos die vorige een. Ons wil ’n reeks sulke “releases” uitbring wat dan een projek vorm.

M: Ons sal nooit ophou om saam te werk nie – ek en Louis is albei redelike "workaholics", en die idees is volop. Ons beplan wel baie goed vir die skryf van MiNNaar-songs, aangesien dit "na ure" moet gebeur.

Volgens jul mediavrystelling het julle grootgeword in Pretoria met jul argitek-ouers "in a household bursting with a love of culture and creativity". Hoe glo julle het hierdie grootword-omgewing bygedra tot hoe julle jul passies uitgeleef en nagevolg het? Dink julle dit is in die algemeen belangrik vir kunstenaars om uit só ’n ondersteuningsbasis te kom om die selfvertroue en so aan te hê om ’n loopbaan in die kunste te volg?

L: Ons is van kleins af aangemoedig om kreatief te wees en onsself op verskillende maniere uit te leef – so dit het ’n groot aandeel gehad in ons vorming as kunstenaars.

M: Ek dink dit is wonderlik as ouers vir hulle kinders die geleenthede skep om kreatief te wees en dit heeltyd aan te moedig. Ons ouers het nooit verwag dat ons dokters of prokureurs moes word nie, en ons is albei (per keuse) na ’n kunsskool gestuur om onsself te gaan vind ... Dis natuurlik ook lekker om ouers te hê wat heeltyd teken en musiek maak!

Wat geniet julle die meeste daarvan om met mekaar saam te werk en watter haakplekke is daar?

L: Ja, broers en susters het maar altyd haakplekke, maar omdat ons mekaar goed ken, is dit maklik en lekker om saam te werk.

M: Dis so ’n voorreg om (eerstens) so goed oor die weg te kom met jou broer dat julle wíl saamwerk, en tweedens om mekaar goed genoeg te ken dat ons mekaar se sinne kan klaarmaak. Ons stem nie altyd oor alles saam nie, maar ek dink dis ’n goeie ding, en sorg vir baie interessante oomblikke!


Foto: Louis Minnaar

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top