Mikrodosering?

  • 1

“Self-medicating, however minimally, with under-researched chemicals could be dangerous in ways we might not yet realize.” – Margolis (2019) 

  1. Agtergrond

Heinz Mödler (2019:11) skryf onlangs in ’n dagbladrubriek dat “pasiënte met middelweerstandige depressie en posttraumatiese stres, vir wie daar nie meer raad is nie, kan baat vind deur ’n kort kursus LSD (lisergiensuur-diëtielamied), ecstacy (3,4 metiel-enedioksimetamfetamien) of magic mushrooms (psilocybin) te neem”. Hierdie drie middels val almal in die breë kategorie van hallusinatoriese middels en het ’n psigedeliese effek op die gebruiker, wat volgens die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (Odendal en Gouws 2005) beteken dat ’n gemoedstoestand van kalmte, genotvolle gewaarwordings en verhoogde skeppingsdrif normaalweg by die persoon posvat.

Hallusinatoriese middels veroorsaak in die algemeen sielkundige of sensoriese gewaarwordings wat die denk- en perseptuele funksies van ’n gebruiker wysig. Hierdie kognitiewe simptome kan natuurlik ook met onvoorsiene gevolge in die gedrag (die konatiewe funksies) van ’n persoon gestalte vind. LSD is ’n semisintetiese produk wat in die natuur aangetref word in die vorm van ’n swam (claviceps purpurea) wat op die roggewas aangetref word (Nichols en Grob 2018).

Indien Mödler se opmerking onder die vergrootglas geplaas word, kan die leser met reg vra of sy stelling op kliniese evaring en inligting oor gevallestudiebestuur van mediese praktisyns gebaseer is. Mag LSD deur medici aan pasiënte voorgeskryf word? Wat behels ’n kort kursus LSD en hoeveel milligram LSD bevat ’n daaglikse dosis tydens ’n kort kursus? Wie word verantwoordelik gehou indien LSD ’n onverwagte negatiewe effek op die neurofisiologie van ’n pasiënt sou uitoefen? Die pasiënt besluit byvoorbeeld om tydens die LSD-behandelingsprogram ’n gevaarlike bergspits sonder die hulp van toue en topografiese kaarte uit te klim, of om Robbeneiland toe te swem

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-reguleringsowerheid (Sahpra) is die statutêre liggaam wat beheer uitoefen oor die regulering van geneeskundige middels in Suid-Afrika kragtens die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Middels (Wet 101 van 1965). Hierdie wet maak voorsiening vir die registrasie van medisyne en stel Sahpra in staat om die publiek te beskerm en om te kontroleer dat alle medikasie wat verkoop word, veilig is, terapeuties effektief is en aan aanvaarbare standaarde en gehaltevereistes voldoen. Daar is soortgelyke wetgewing in die VSA (Die Wet op Psigotropiese Middels), en in die Verenigde Koninkryk (Die Wet op die misbruik van Medisyne).

LSD is ’n middel wat tans nie as terapeutiese medisyne erken word nie. Dit het ’n baie hoë risiko vir afhanklikheid en misbruik, en spesiale toestemming is nodig om dit vir navorsingsdoeleindes te gebruik. LSD word tans in die VSA as ’n Skedule 1-middel geklassifiseer met geen veilige of erkende terapeutiese gebruik nie (Nicols en Grob 2018).

Wat navorsing oor LSD betref, het Liechti (2017) ’n literatuuroorsig gepubliseer wat gepubliseerde studies oor die afgelope 25 jaar insluit. Hy het slegs vyf studies opgespoor wat aan spesifieke kriteria voldoen waarin “normaal funksionerende” deelnemers as proefpersone ingesluit is. Een ander studie het “pasiënte” as subjekte gebruik.

Die eksperiment met pasiënte is deur Gasser, Holstein, Michel, Doblin, Yazar-Klosinski, Passie en Brenneisen (2014) uitgevoer. Die navorsingsontwerp wat gebruik is, was ’n omgekeerde dubbelblinde-kontrole-tipe. Twaalf pasiënte met gediagnoseerde algemene angsversteuring wat terselfdertyd ook terminale siek was, is as proefpersone gebruik. Beide die pasiënte en die navorsers was onbekend met watter groep deelnemers aanvanklik die ware eksperimentele middel, en watter groep die kontrole-plasebo ontvang het. Na afloop van die blootstelling aan LSD en die plasebo is die prosedure omgekeer sodat beide groepe na afloop van die behandelingsperiode beide plasebo en LSD ontvang het. Die behandelingsprogram het bestaan uit individuele psigoterapiesessies wat na twee tot drie weke opgevolg is met LSD-ondersteunde psigoterapiesessies. Die Amerikaanse State Trait Anxiety Scale is as meetinstrument van trek-angs en vryswewende angs gebruik. Die resultate dui aan dat indien LSD onder streng-gekontroleerde mediese toesig geadministreer word, die middel wel die voorkoms van angsimptomatologie by pasiënte met gepaardgaande lewensbedreigende siektetoestande verlaag.

Roger Chriss (2019) stel dit pertinent in Pain News Network dat psigedeliese terapie goeie potensiaal toon om chroniese pyn by pasiënte te verlig. Hy beweer dat psigedeliese middels ’n veilige en effektiewe metode is om hardnekkige / moeilik bestuurbare (intractable) toestande soos troshoofpyne en spookledemaatpyn te verlig. Die skrywer motiveer sy standpunt deur na navorsingstudies te verwys wat tussen 2006 en 2015 in die Journal of Psychoative Drugs en Neurology gepubliseer is.

Dit is duidelik dat min navorsing tans met LSD onderneem word, waarskynlik deels omdat die statutêre beheer en kontrole oor die middel besonder streng is. Geen sinvolle gevolgtrekkings behoort op grond van enkele studies gemaak te word nie. Aan die ander kant is dit ook bekend dat die informele en ongekontroleerde gebruik van LSD en ander psigedeliese middels deur die algemene publiek (wêreldwyd) oor die afgelope 50 jaar betreklik vinniger aan die toeneem is (Nichols en Grob 2018).

  1. Mikrodosering

Die hoofdoel van hierdie artikel is om die begrip mikrodosering sowel as die rasionaal daarvoor te omskryf. Daar word ook kortliks op moontlike nadelige en voordelige implikasies gewys wat in onlamgse literatuur oor die onderwerp na vore kom.

Mikrodosering is die gereelde gebruik van baie klein hoeveelhede psigedeliese middels met die doel om sogenaamde normale gedragspatrone van ’n individu te optimaliseer. Sedert die sestigerjare is die spirituele dosis (hoë dosis), die terapeutiese dosis (matige dosis) en probleemoplossingsdosis (ligte dosis) in verband met psigedeliese middels goed bekend. Die moderne verwysings na “mikrodosering” het uit hierdie voorafgaande konteks ontwikkel.

Die Amerikaner James Fadiman se boek The Psychedelic Explorer’s Guide is in 2011 gepubliseer. Dit het meegehelp om die boodskap van psigedeliese mikrodosering opnuut af te stof, te beklemtoon, te versprei en te formaliseer. Hy het weldeeglik daarin geslaag om ’n groep entoesiastiese (bykans evangelistiese) ondersteuners vir sy filosofie beide in die VSA en internasionaal te werf. ’n Voorbeeld van ’n ondersteunende publikasie vir Fadiman se opvattings oor mikrodosering is Ayelet Waldman (2018) se boek A really good day. How microdosing made a mega difference in my mood, my marriage and my life. Die boek (ISBN 978-1-101-97372-1) beslaan 228 bladsye en die sagtebandweergawe word uitgegee deur First Anchor Books, Toronto.

In die onderliggende rasionaal van die begrip mikrodosering word beklemtoon dat die belangrikste farmakokinetiese parameters van ’n nuwe chemiese entiteit gemeet of voorspel kan word deur farmakokinetiese proewe uit te voer waartydens met mikrodosisse van die betrokke middel eksperimenteer word (Tewari en Mukherjee 2010). Omdat sulke lae dosisse (wat gewoonlik 1/100ste van die gewone terapeutiese dosis is) waarskynlik nie enige newe-effekte veroorsaak nie, sou mikrodosering-eksperimente op mense uitgevoer kon word sonder die nodigheid van ’n volledige reeks toksikologiese eksperimente (wat normaalweg Fase 1 farmakologiese eksperimentele navorsing voorafgaan). Die koste-effektiwiteitsvoordele van so ’n benadering spreek vanself.

Dit bly egter ’n vraag of mikrodoseringstudies presies dieselfde resultate of uitkomste kan lewer as vergelykbare voldosis- farmakologiese proewe. Dit kan nie met sekerheid aangeneem word nie. Daar is verskeie komplekse faktore wat die resultate en uitkomste van mikrodoseringnavorsing negatief kan beïnvloed. Om slegs een aspek te noem: Psilosibien bind met serotonien-reseptore, maar presies watter minimum dosis nodig is om ’n waarneembare reaksie te aktiveer bly op hierdie stadium ’n onbeantwoorde vraag.

2.1 Anekdotiese persberigte

Berigte oor die belewenisse en subjektiewe ervarings van persone wat mikrodosering gebruik, verskyn deesdae gereeld in die populêre pers. Hierdie artikels is meestal van anekdotiese aard, en omdat middels op ’n ongereguleerde en ongekontroleerde basis gebruik word, moet die inhoud van die artikels teen die agtergrond van die beperkings van anekdotiese verslaggewing gelees word.

Hattie Garlick (2019) skryf in The Guardian oor die ervarings van ’n groep mikrodoseerders. Die wondersampioene is aanlyn vanaf Nederland deur die gebruikers bestel en tuis gekweek. Een van die gebruikers (’n moeder met pre-tienerkinders) rapporteer haar “positiewe ervaring” met psilosibien soos volg: “I move from a place of anxiety to a normal state of confidence, not overconfidence. Microdosing [means] taking doses of psychedelic drugs so tiny they are considered to be subperceptual. In other words you don’t feel high, just… better”.

Verskeie gevaarligte flikker hier summier, veral wanneer ouer-kind-verhoudings ter sprake kom. Is die “positiewe ervaring” die gevolg van ’n plasebo-effek (wat met sielkundige gewaarwordings verband hou) of die gevolg van ’n werklike farmakologiese effek? Mikrodosering kan moontlik ’n negatiewe effek op die verloop van ’n swangerskap uitoefen, asook op rolmodellering van ouers teenoor kinders.

Enkele ander gevare sluit die volgende aspekte in: eksperimentering met onwettige middels is ’n strafbare oortreding wat verskeie negatiewe implikasies soos byvoorbeeld tronkstraf inhou. Bakterieë sou op sampioene kon groei wat deur amateurs gekweek word, en die gesondheidsrisiko’s wat die gebruik van besmette mikrodoseringprodukte inhou, is ’n wesenlike gevaar. Indien die differensiële effek van middels op pasiënte in ag geneem word, kan mikrodosering by sommige gebruikers dalk juis ’n teenoorgestelde uitwerking hê as wat hier bo beskryf word. Is die effek gelyktydige alkoholgebruik en mikrodosering as ’n moontlikheid gekontroleer in gevallestudie soos deur Garlick (2019) beskryf word?

Daar is ook ’n teoretiese moontlikheid dat ’n mikrodosis LSD wat daagliks geneem word, tot vernouing van die aortiese kleppe kan lei. Alhoewel die risiko vir fisieke afhanklikheid met mikrodosering verlaag word, bly die risiko vir sielkundige afhanklikheid hoog. Mikrodosering kom dus op ’n kits- of korttermynoplossing neer om gesonde funksionering te bewerkstellig, maar dit is ’n veel meer riskante prosedure as professionele langtermynpsigoterapie om dieselfde uitkomste te bereik.

Victoria Turk (2019) het ’n praktiese werksessie oor LSD en mikrodosering in Amsterdam bygewoon. Die program is gesamentlik aangebied deur die Nederlandse Psigedeliese Vereniging en ’n vrywilligerorganisasie bekend as Microdosing. Aan die deelnemers is onder andere gedemonstreer hoe om ’n mikrodosis voor te berei. Hulle het op ’n vrywillige basis ingewillig om aan ’n plasebogekontroleerde studie oor LSD-mikrodosering onder toesig van die Universiteit van Leiden deel te neem. Die eksperiment strek oor vier weke en sluit gereelde metings van kognitiewe en affektiewe funksionering, kreatiwiteit en sielkundige welsyn in. Geen koffie of tee mag ses uur voor die assesseringsperiodes ingeneem word nie. Ook geen ander psigedeliese middels nie, behalwe kannabis. Indien ’n proefpersoon ’n gereelde kannabisgebruiker is, kan daarmee voortgegaan word. Indien die gebruik daarvan gestaak sou word, kan onttrekkingsimptome ’n ongekontroleerde effek op die assesseringsresultate uitoefen.

Die resultate van die Leiden-studie word tans verwerk, en dit word beoog om die resultate daarvan binnekort te publiseer.

Ruth Margolis (2019) skryf in The Week oor die wenslikheid van byvoeging van “goedvoelmolekules” tot ouers se “wapentoerusting” om sodoende hul spektrum van vaardighede met betrekking tot kinderopvoeding aan te vul. Die skrywer spreek haar sterk uit teen die moontlike gereelde gebruik van mikrodosering deur ouers van skoolgaande kinders. Ouers behoort eenvoudig te aanvaar dat die moeilike proses van ouer-kind-interaksie op basiese harde en roetinewerk neerkom. Die taak van ouers word deesdae dikwels deur elektroniese media soos Instagram sodanig gefilter dat ’n vals ouer-kind-utopie voorgehou word. Die gevolg is dikwels dat ouers se verwagtinge nie met die alledaagse realiteite strook nie. Dié verskynsel maak ’n kitsverligter soos mikrodosering baie aantreklik vir ouers.

Al genoemde besware kan op hierdie stadium slegs as ongetoetste bewerings beskou word. Dit kan egter in toetsbare hipoteses vir navorsingsdoeleindes omskryf word.

2.2 Selfrapporteringsnavorsing

Polito en Stevenson (2019) het die persepsies oor mikrodosering van twee verskillende groepe aktiewe mikrodoseerders ondersoek. Die deelnemers het psigedeliese middels, insluitende LSD (6-25 mikrogram) en psilosibien (0,1–0,5 gram) op ’n gereelde basis gebruik. Die groepe is oor ’n periode van ses weke noukeurig opgevolg, en het daaglike psigometriese-assesseringsinstrumente voltooi. Daar was ’n algemene toename in selfverklaarde sielkundige funksionering (depressie- en stresgeneigdheid sowel as afleibaarheid het afgeneem) op die dae waarop die mikrodosis wel geneem is. Op niedoseringsdae het hierdie positiewe uitkomste egter heeltemal verdwyn. Die verwagtinge van die respondente oor watter effekte mikrodosering behoort teweeg te bring, het ook nie met die werklike waargenome gedragsveranderinge ooreengekom nie (“... effects believed most likely to change were unrelated to the observed pattern of reported outcomes”). 

Anderson, Petranker, Rosenbaum, Weissman, Williams, Hui, Hapke en Farb (2019) wys op ’n kliniese voordeel van mikrodoseringstudies in die laboratorium. Perseptuele verwringings wat by voldosis- eksperimentele navorsing voorkom, is afwesig by mikrodoseringstudies onder soortgelyke omstandighede. Anderson ea (2019) se ondersoekgroep is deur middel van aanlyn forums gewerf, en het bestaan uit 594 persone met vorige ervaring van mikrodosering teenoor 315 deelnemers met geen vorige ervaring nie. ’n Reeks sielkundige vraelyste is aanlyn voltooi. Die mikrodoseerders het statisties beduidend van die kontrolegroep ten opsigte van die volgende veranderlikes verskil: minder disfunksionele houdings en emosionaliteit, meer wysheid, openheid (open-mindedness) en kreatiwiteit. Die navorsers beveel aan dat mikrodosering moontlik oorweeg kan word as ’n samewerkende strategie saam met langtermyn- individuele psigoterapie, waarvan die uitkomste met longitudinale navorsing bestudeer word.

  1. Gevolgtrekkings

Hoewel die internasionale belangstelling in die uitvoering van goedgekontroleerde navorsing oor die terapeutiese effekte van voldosis-LSD en ander psigedeliese middels op gediagnoseerde pasiënte en gesonde vrywilligers besonder beperk is, verskyn populêre artikels en wetenskaplike navorsing oor mikrodosering tans meer geredelik. Ernstige besware en bekommernisse oor die impak van mikrodosering word in beide populêre en wetenskaplike literatuur aangetref. Dit is wenslik dat die geldigheid van hierdie bewerings deur middel van goedgekontroleerde studies verder ondersoek word. Die belangrikste aspekte is die implikasie van sielkundige- (psigiese-) afhanklikheidsvorming, die diskrepansie tussen verwagtinge van mikrodoseerders en werklik waargenome gedragsveranderinge wat mikrodosering meebring. Verdere aspekte is die feit dat die chemiese impak van die middels kortstondig is en spoedig hul sielkundige uitwerking verloor. Vinnige en tydelike oplossings wat hierdie kwessie betref, is nie altyd ’n doeltreffende strategie nie, veral indien persoonlikheidsintegrasie en -ontwikkeling sowel as die verligting van kliniese simptome die uiteindelike doel is wat nagestreef word.

Eindnotas

  1. Die inligting in hierdie artikel is gebaseer op die skrywer se interpretasie van toepaslike literatuur oor die onderwerp, en verteenwoordig geensins enige mediese of sielkundige advies, of voorstelle oor diagnose of behandelingsprosedures nie. Die inhoud weerspieël ook nie die standpunte van LitNet oor die onderwerp nie.
  2. Dawie van Velden en Melindie van Zijl (beide mediese praktisyns) word bedank vir hul kritiese kommentaar en insette wat die gehalte van hierdie artikel verhoog het.
  3. Serotonien is ’n neurotransmitter, en daar bestaan bevindings (Albert en Benkelfat 2013) wat aandui dat ’n afname in serotonien aanleiding gee tot ’n verhoogde predisposisie vir depressie.

 

Bibliografie 

Albert, PR en C Benkelfat. 2013. The neurobiology of depression. Revisiting the serotonin hypothesis. II. Genetic, epigenetic and clinical studies. Philosophical transactions of the Royal Society of London. Series B, Biological sciences, 368(1615), 20120535. doi:10.1098/rstb.2012.0535. 

Anderson, T, R Petranker, D Rosenbaum, CR Weissman, LD Williams, K Hui, E Hapke en NAS Farb. 2019. Microdosing psychedelics: personality, mental health, and creativity differences in microdosers. Psychopharmacology, 236:731–40.
file:///F:/MicrodosingAnderson2019_Article_MicrodosingPsychedelicsPersona.pdf. 

Brits, E. 2018. Beheerraad vir medisyne vervang. Netwerk 24, 14 Februarie.
https://www.netwerk24.com/Nuus/Gesondheid/beheerraad-vir-medisyne-vervang-20180213.

Chriss, R. 2019. Magic mushrooms, psychedelics and chronic pain. Pain News Network, 16 Mei. https://www.painnewsnetwork.org/stories/2019/5/16/magic-mushrooms-psychedelics-and-chronic-pain.

Garlick, H. 2019. “It makes me enjoy playing with the kids”: Is microdosing mushrooms going mainstream? The Guardian, 3 Mei. https://www.theguardian.com/science/2019/may/03/psychedelic-drugs-women-taking-tiny-doses-hattie-garlick.

Gasser, P, D Holstein, Y Michel, R Doblin, B Yazar-Klosinski, T Passie, en R Brenneisen. 2014. Safety and efficacy of lysergic acid diethylamide-assisted psychotherapy for anxiety associated with life-threatening diseases. The Journal of Nervous and Mental Disease, 202(7):513–20. doi:10.1097/NMD.0000000000000113.

Liechti, ME. 2017. Modern clinical research on LSD. Neuropsychopharmacology, 42(11):2114–27. doi:10.1038/npp.2017.86.

Margolis, R. 2019. Psychedelic parenting: The sad new trend of microdosing moms. The Week, 16 Mei. https://theweek.com/articles/840210/psychedelic-parenting-sad-new-trend-microdosing-moms.

Medicines and related substances. Act No.101. Government Gazette, 26 Mei 2017.
https://www.sahpra.org.za/documents/abdb0bc7MedicinesandRelatedSubstancesAct101of1965,asatMay2017.pdf.

Mödler, H. 2019. Dokters kyk weer ns LSD as behandeling. Netwerk 24, 24 April. https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/dokters-kyk-weer-na-lsd-as-behandeling-20190423

National drug master plan 2013-2017. Department of Social Development, Republic of South Africa. file:///F:/MicrodoseringZAF_B10_National%20drug%20masterplan.pdf. 

Nichols, DE en CS Grob. 2018. Is LSD toxic? Forensic Science International, 284:141–45.

Odendal, FF en RH Gouws. 2005. HAT: Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal
https://books.google.co.za/books?id=UMM3R6giBDwC&pg=PA899&lpg=PA899&dq=psigedelies+handwoordeboek&source=bl&ots=s-joPlBdn1&sig=ACfU3U3cTeFnarKYxj2MppJ3HeD7zhNDXQ&hl=en&sa=X&ved=2ahUKEwjJvpu69pDiAhUQWxoKHSM4Ch4Q6AEwCXoECAgQAQ#v=onepage&q=psigedelies%20handwoordeboek&f=false.

Polito, V en RJ Stevenson. 2019. A systematic study of microdosing psychedelics. Plos One, 6 Februarie. https://journals.plos.org/plosone/article?id=10.1371/journal.pone.0211023.

Staff Writer. Business Tech, 25 Augustus 2015.
https://businesstech.co.za/news/lifestyle/96707/96707.

Tewari, T en S Mukherjee. 2010. Microdosing: concept, application and relevance. Perspectives in Clinical Research, 1(2):61.

Turk, V. 2019. Inside the first placebo-controlled studies. Testing if microdosing LSD actually works. Wired, 14 Mei. https://www.wired.co.uk/article/microdosing-lsd-psilocybin-placebo-trials.

 

  • 1

Kommentaar

  • Jy het die storie mooi en raak omskryf! Dankie. Kontroversiële onderwerpe is moeilik om uit te pluis!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top