CJ Langenhoven het in 1923 Loeloeraai geskryf. Die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans het dus ’n eeu gelede verskyn. Op 12 Augustus 2023 is die 150ste herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag gevier. Om hierdie dubbele herdenking te vier, daag LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds alle skrywers uit om ’n wetenskapfiksiekortverhaal voor te lê vir publikasie. Hier is meer inligting.
***
Mignon reduks
Mignon gooi die handgranaat en hardloop. Agter haar hoor sy ’n ontploffing. Sy voel hoe die geweldige rukwind van die uitbarsting haar vorentoe gooi, van haar voete af. Sy rol en swets en sukkel weer orent, met haar vinger op die sneller van haar vuurwapen. Waar is hulle?
’n Blikstem sê: “Simulation ended”, en alles verdwyn.
Sy is in ’n grys kamertjie, die enigste geluid haar eie gejaagde asemstote. Vir ’n oomblik het sy die aakligste gevoel van déjà vu.
“Wat de —?” sê sy, oudergewoonte deurmekaar ná die hiperrealistiese avontuur.
O ja. Opleiding. En eendag gaan sy vir daardie blikbrein ’n Afrikaanse woordeskat gee. Sodra sy tyd kry. Maar hoe de joos vertaal ’n mens iets soos simulation ended? Dalk “simulasie beëindig”?
Haar gewrigtemplaat biep en sy kyk af – sien dat sy twee oproepe gemis het terwyl sy in die simulasiekamer was. Die kaptein...
“O vrek,” sê sy, kyk rond vir die deur en hardloop
Die kaptein loop op en af op die brug van die ruimteskip en sy lyk nie baie gelukkig nie.
“Waar was jy?”
“Opleiding, Kaptein,” antwoord Mignon terwyl sy salueer. Die brug is ’n miernes; mense loop net ’n bietjie té vinnig en lyk té haastig. Iets is aan die gang, iets groots.
“Ons het ’n planeet op die scanners,” sê donkerkop Manuel hier kort agter haar. “Kyk ’n bietjie of jy iets uit die spektrale lesings kan wys word, toe?”
Sy kyk vir die kaptein en dié knik haar toestemming. Mignon gaan na haar werkstasie toe en sien die lesings, en sê saggies: “Bliksem...”
Want dis die Aarde. Sy wéét dis die Aarde, soos sy haar eie naam ken. Die planeet is nog klein en ver op die groot skerm, maar sy kan haar reeds verbeel dat sy blou seë en groen kontinente sien, met groot sluiers wit wolke wat oor die bol dryf. Sy byt op haar onderlip, onbewus van die besige brug om haar. Sy roep ’n spektrale analise van die werklike Aarde op en dis feitlik identies. En sy wil bly raak.
Maar iets skort. Iets —
Toe sien sy wat dit is: Daar is nie ’n maan nie.
“Um, Kaptein,” sê sy.
Die kaptein is binne oomblikke agter haar en buk om na die skerm te kyk. “Ja?”
“Dit lyk soos die Aarde, dis identies. Maar daar is nie ’n maan nie.”
Die kaptein staan terug. Mignon sien uit die hoek van haar oog hoe die vrou – middeljarig, bekwaam, fronsend – vir Manuel wink. Toe hy naby is, sê die kaptein een woord: “Parallaks.”
Mignon word yskoud. Parallelle dimensies, aangrensend maar onbereikbaar ver, teoreties feitlik identies, maar met daardie één groot verskil... Party wetenskaplikes, en wetenskapfiksieskrywers, het al gespekuleer dat die verskil iets so alledaags soos die naam van ’n motor kan wees: Almal ry byvoorbeeld Zoiky’s en niemand het al ooit van Mercedes gehoor nie. Of die letter “k” bestaan nie in die parallelle dimensie se alfabet nie. Of – wel, die alternatiewe Aarde het nie ’n maan nie. En daar is gewoonlik ’n distorsie in die tyd-ruimtelike veld betrokke.
Die kaptein kyk ondersoekend na haar en Mignon vermy haar oë. Sy buk oor haar sleutelbord. Bly besig – want as jy nie besig bly nie, gaan hulle vir jou iets krý om te doen, het Minuet altyd gesê. Wyse woorde wat in die 13 jaar sedert hul laaste ontmoeting al honderde kere waar bewys is.
13 jaar. Kan dit al so lank wees? 13 jaar gelede was Mignon 15, hoopvol en hartlik gatvol vir die rooi stof van Mars. 13 jaar gelede was die oorspronklike Aarde lank reeds ’n rokende bal modder wat nog so nou en dan ’n vuurspuwing-ekstravaganza opgelewer het, sodat al die Marsiete – wat ’n naam, klink soos ’n siekte – met hul teleskope op die aardkant van Mars vergader het en ge-oe en ge-aa het oor die skouspelagtige vuurwerke doer ver in die ruimte.
13 jaar gelede het sy en Minuet mekaar ontdek. Sy onthou nog die dun lug en die rooi stof op die bed, ’n deinserige pienk streep sonlig oor haar geliefde se rug...
Mars was interessant, dink Mignon partykeer. Natuurlik was die Amerikaners se gewaande terraforming of veraardsing net tot ’n mate suksesvol. Die atmosfeer was net-net daar, die stof rooi en verstikkend. Daar was geen sprake van ’n transformasie na ’n groen planeet nie. Daarvoor was Mars net ’n bietjie te ver van die son af en was daar te min water. Maar ’n mens kan aan enigiets gewoond raak. Selfs Mars.
En toe het die Duitsers op ’n dag besluit om ’n klomp ruimteskepe te bou, maar oudergewoonte was daar struwelinge en onderlangse rugstekery. Die skepe is nooit voltooi nie en die Duitsers (wat van hulle oorgebly het) het in drie verskillende rigtings getrek en hul elders op die rooi planeet hervestig.
Die halfvoltooide ruimteskepe is net daar in die rooi woestyn gelos. Oomblikke later het die res van die inwoners op die oorblyfsels toegesak. Die begin van die einde. Skielik het elke voormalige derdewêreldlandjie sy eie ruimteprogram gehad, ruimtevaarders opgelei, ensovoorts.
Vandaar die Vaderland.
Intussen het Mignon vir Minuet ontmoet en sy is betower – onmiddellik, onomkeerbaar. Sy was 15. Minuet was ’n lid van die een of ander ondergrondse subversiewe beweging. Die verhouding het net-net meer as ses maande geduur en elke oomblik was ekstaties. En toe...
Toe gaan blaas Minuet die Britse watersuiweringsaanleg op. Sy sterf in ’n teenaanval – meer as 50 patrone is uit haar oorskot herwin. En daar sit Mignon: up the creek without a paddle. Of in die verknorsing, as ’n mens nou goeie Afrikaans wil gebruik.
Gelukkig het die Vaderland juis toe bemanningslede gesoek.
Die kaptein was nog skepties, maar haar tweede-in-bevel, ’n oud-Johannesburger genaamd Manuel, het haar omgepraat. Mignon se rekenaargeletterdheid, sowel as die verskeie onwettige vaardighede wat Minuet se makkers haar geleer het, het die deurslag gegee.
Mignon skud haar kop. Nee. Dis verby. 13 jaar gelede het Minuet haar in die steek gelaat. Dis hoe sy in die eerste plek op die Vaderland beland het. Die enigste Afrikaansbemande ruimteskip ooit. Moerse. As ’n mens nou net die rekenaar kan kry om ook Afrikaans te praat, sal dit beter gaan. Mignon was nog nooit baie goed met die rooi taal nie, maar sy moes leer.
Hier sit ek nou, dink Mignon terwyl haar vingers oudergewoonte vinnig oor die sleutelbord dans. Op haar skerm flikker diagramme en analoogsketse verby, byna te vinnig om te lees. Hier sít ek nou.
“Mignon,” sê die kaptein iewers agter haar. “Kom sien my.”
Kaptein Nienaber staan naby die groot uitkykvenster toe Mignon haar kantoor binnekom. Sy draai om toe sy die deur hoor toegaan. “Mignon.”
“Kaptein,” sê Mignon en wonder waaroor die ontmoeting sal gaan. Wat het sy nou al weer verkeerd gedoen?
“Toe jy op Mars gebly het, ná die... die ontploffings...”
H’m. Ontploffings – as ’n mens die vernietiging van ’n planeet deur saboteurs bloot “ontploffings” kan noem.
“Ja, Kaptein.”
“Jy het ’n verhouding met ene Minuet de Wet gehad?” gaan die kaptein voort.
Wat de —, dink Mignon. Daar is seker iewers ’n lêer oor Mignon Rabie wat al haar voorkeure en afkeure en swakhede punt vir punt uiteensit. “Ja, Kaptein.”
Die kaptein sug en beduie na die diep leunstoel voor haar lessenaar. “Sit, asseblief.” Self gaan sit sy in haar groot stoel agter die lessenaar. Sy sug en kyk voor haar uit asof sy oor ’n woestyn uitkyk. Mignon kry die idee dat daar groot moeilikheid is. Iets groters as die blote verskyning van ’n planeet wat nie eintlik veronderstel is om meer te bestaan nie.
“Ons het ’n noodoproep ontvang,” sê die kaptein. “Sy identifiseer haarself as Minuet de Wet, en sy raak onsamehangend. Ons vermoed sy is al ’n hele ruk aan die uitsaai. Sy het jou naam genoem.”
Mignon sit terug. Sy voel verlam. Wat —? Hoekom voel dit so dikwels asof sy een tree agter al die ander mense aan boord van die Vaderland is, asof die res van die bemanning alles net so ’n bietjie vinniger as sy snap?
Goed. Minuet lewe – hiér. Minuet lewe hier, in hierdie dimensie. Mignon Rabie tien teen een ook. En sou Mignon probeer om met hierdie Minuet kontak te maak, mag sy dalk net die ander-Mignon se liefdeslewe in die wiele ry...
Klassieke paradoks. Wat sou een van HG Wells se karakters gedoen het?
Wel, nee. Want Wells se karakter sou die régte ding doen, kom wat wil. Wells se karakter sou ’n moreel-aanvaarbare besluit neem en sommer terselfdertyd die wêreld van algehele uitwissing red. Mignon self is nie so altruïsties nie. Sy wil net vir Minuet hê.
“Ons oorweeg dit om jou te stuur om ondersoek in te stel,” sê die kaptein, “maar ek moet dit eers met die ander lede van die beheerliggaam bespreek.”
Mignon gaan terug na haar werkstasie op die brug en dink. Sy dink hard. Minute later raak die kaptein aan haar skouer.
Mignon, ons het besluit.”
Mignon draai om in haar stoel. “Ja, Kaptein?”
“Jy het 20 minute, net lank genoeg om kontak te maak, uit te vind wat aangaan en terug te kom.”
Mignon staan in die lugsluis en kyk vir oulaas oor haar skouer na die angstige gesigte van die bemanningslede, anderkant die dubbele glasvenstertjie in die binneste deur. Die wind van hierdie wêreld ruk-ruk aan haar. Hulle het al die nodige toetse uitgevoer, na atmosferiese lesings gekyk. Dit behoort veilig te wees. Daar was geen ander lewenstekens nie, net Mignon.
Dit lyk asof iets daar onder brand. Sy gaan in die rookwolk moet inspring, onseker wat op haar wag. Hul sensors kon nie veel uitmaak nie. Behalwe Mignon. Sy is definitief daar.
Vir die hoeveelste keer dink sy wat ’n cliché haar lewe is.
Voor die sogenaamde ontploffings was sy ’n getroue Star Trek-kyker. Sy het al die reekse en flieks gesien en selfs die boeke verslind. En nooit gedink dat sy self eendag op ’n ruimteskip sal werk nie. Alles voel nog steeds onwerklik. Dit het altyd meer glamorous op TV gelyk. Dalk was dit net omdat al die bemanningslede van die Enterprise (en later Voyager) – en feitlik alle ruimtewesens waarmee hulle kontak gemaak het – perfekte Engels magtig is.
Manuel waai vir haar en sy waai terug. Toe gryp sy haar valskermpak se gespes en spring.
Sy val sleg, maar breek gelukkig niks. Net sowat ’n 100 meter van haar teiken af: Minuet wat langs ’n radio-antenna sit, in die middel van ’n slagveld. Ander-Minuet. Die enigste, nou. Sy is 15 jaar ouer as toe Mignon haar laas gesien het, maar nog steeds mooi. Rook hang oor die veld, brand Mignon se longe en laat haar hoes. Sy sukkel orent en neem die eerste paar treë.
Uit die rook aan haar linkerkant: ’n gestalte. ’n Vrou met lang rooi hare soos haar eie. En die gesig: haar tweeling. Haar sélf.
Sy haal diep asem, lig haar wapen en vuur. Die ander-Mignon val. Mignon tik haar gewrigtemplaat: “Help my, ek is geskiet! Help!”
Sy gaan kniel langs haar dubbelganger en gaan vinnig te werk. Die uniform en die gewrigtemplaat. Wat nog? Sy het die ander-Mignon in die kop geskiet, sodat daar nie ’n koeëlgat in die uniform sal wees nie. Dis alles. Sy los haar kommunikator bo-op die lyk.
Minuet wag vir haar.
Maar Minuet is nie meer daar nie. Terwyl Mignon besig was, het ’n nuwe groep die slagveld betree. Minuet lê eenkant, bebloed. Dood. Mignon gaan staan. Onder haar hand kan sy die ander-Mignon se wapenbelt voel. Daar is ’n paar handgranate en ’n vuurwapen. Sy vat ’n handgranaat, trek die pennetjie uit en hou haar duim op die knip. Een van die mans draai om toe hy haar uit die hoek van sy oog sien. Hy wil uitroep.
Mignon gooi die handgranaat en hardloop. Agter haar hoor sy ’n ontploffing. Sy voel hoe die geweldige rukwind van die uitbarsting haar vorentoe gooi, van haar voete af. Sy rol en swets en sukkel weer orent, met haar vinger op die sneller van haar vuurwapen. Waar is hulle?
Sy is in ’n grys kamertjie; die enigste geluid haar eie gejaagde asemstote. Vir ’n oomblik het sy die aakligste gevoel van déjà vu.
Lees die ander inskrywings hier:
LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds soek jou wetenskapfiksieverhaal!