
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
As ’n veertigtal mense se herinneringe oor die lief en leed van meer as ’n eeu opgeneem is in ’n boek oor hul hartsplek, vir party ’n komvandaan (om dié modewoord te gebruik), wek dit belangstelling.
Sedert 1903 is die plaas Middelpos op die Ghaapse plato in die Noord-Kaap in die Van der Merwe-familie se besit: destyds volgens oorlewering gekoop vir 240 pond en ’n trommel bruin suiker! Meer as 3 000 hektaar hier in die Groen Kalahari.
Middelpos se opstal kon dekades lank van ver af gesien word met die vyf sipresse wat uitgetroon het oor die barre landskap, wat sommige jare lowergroen is danksy baie reën. Die trotse bome het egter afgeleef geraak en net vier staan nog.
Die bome was bekend as die Vyf Sipresse vir die Vyf Susters van Middelpos. Die dogters van Stoffel en Anna van der Merwe: Ansie (reeds oorlede), Liesbeth, Elsie, Susan en Salomé.
Die boek Middelpos se mense – 505 bladsye met baie foto’s en stories – is ’n waardevolle kultuurhistoriese bydrae oor die lewe van nou al vier geslagte Afrikaanse mense wat hegte bande het met hierdie “plaas in Afrika”.
Dit gaan oor mense wat steeds hier gevestig is, Coen en Susan Scholtz, wat die gasvrye Middelpos Gasteplaas bedryf, en ook ander, selfs al hoogbejaard, wat graag hierheen terugkom.
Dit gaan ook oor mense wat terugkom om elke keer tuis te kom, om met waardering terug te dink ook aan altyd hartlike verwelkoming deur Stoffel en Anna van der Merwe, wat al dekades gelede in die begraafplaas tussen die vaalbosse by hul ander voormense ter ruste gelê is.
Die olienhoutbome op die plaas dien as metaforiese kapstok waaraan meer as 100 jaar se geskiedenis, staaltjies en stories gehang word. Middelpos se mense is almal wat hier voetspore op kalkgrond en in vrugbare turf getrap het en steeds trap: die voorouers, grootouers, die vyf susters en hul kinders en kleinkinders en selfs ’n agterkleindogter. Ook skoonkinders, neefs en niggies.
Middelpos se Van der Merwes se familielyn sluit aan by die Franse Aucamps, die Duitse Venters en die Skotse Norvals. Interessant om hierdie familiegeskiedenis te lees.
Stoffel van der Merwe, die patriarg van Middelpos, is in 1905 gebore. Sy pa, Christoffel, het die plaas gekoop en begin boer. Aanvanklik was daar nie water nie, maar ’n gorratjie (’n watergat) is gegrawe en die gesin trek in 1913 na Middelpos en na wat vandag die Ou Huis genoem word, gebou met grondstene wat op die buurplaas gemaak is.
Stoffel se oudste broer, Johannes van der Merwe, het predikant geword, dagboek gehou en kosbare herinneringe nagelaat wat in Middelpos se mense aangehaal is.
Net soos die bydraes van die susters, skoonseuns en kleinkinders, kosbare ervarings en herinneringe, wat deur die samesteller Anneretha Grobler vernuftig en lesersvriendelik byeengebring is, plus baie foto’s om hierdie besonderse boek, ’n magnus opus, die lig te laat sien.
Selfs Oupa Stoffel, of Oupa Middelpos, soos van die kleinkinders hom genoem het, het op tagtigjarige ouderdom sy herinneringe en stories neergepen.
Heel gepas sluit die boek af met ’n keur uit die baie stories wat Oupa Stoffel graag vertel en opgeteken het. Dit is oorgetik en gebundel as Vir 80 jaar op die paaie van Griekwaland / Stories, staaltjies en snaaksighede. En is onder familie versprei.
Wat ’n kosbare nalatenskap! Hy was geseënd met ’n skerp verstand en goeie geheue, en was altyd gereed met ’n storie of ’n bespreking van die sake van die dag.
Stoffel het net standerd twee gehad en is na Gimnasium in Potchefstroom gestuur, maar het gou teruggegaan Middelpos toe. Hy wou net boer!
Sy broers Johannes en Hendrik (Drik) het hulle in Potchefstroom as predikant en onderwyser bekwaam.
Stoffel het egter ’n belese en ingeligte man geword (getroue leser van Die Volksblad en danksy nuus op die radio) en ’n baie suksesvolle boer op Middelpos en die plase Olienpan, Crossridge, Geluk en Hoopveld wat hy later bygekoop het.
Hy was ’n leier in sy gemeenskap en het in die afdelingsraad, skoolraad en kerkraad gedien en was ’n bekende op sinodes van die Gereformeerde Kerke.
Jukskei en skaak was groot liefdes van hom. Hy het selfs in Kroonstad vir Griekwas gaan jukskei speel en tot kort voor sy dood ’n gedugte skaakspeler.
Susan Scholtz, die stem en gesig van Middelpos Gasteplaas, sê die grootste kompliment wat sy ooit gekry het, was van ’n swart besoeker: “Hy roep my en sê baie ernstig: ‘Ek dink as Jesus weer kom, gaan Hy hier op Middelpos kom.’”
Die betekenis van Middelpos Gasteplaas vir die bruin en swart mense van die Noord-Kaap en veral Griekwaland-Wes kan nie genoeg beklemtoon word nie. Hier is ook hulle welkom om te kom ontspan op die uitgestrekte grasperke onder skaduryke bome, selfs ’n dam waarop geroei kan word en ’n paar swembaddens en ’n glybaan.
Middelpos se naam leef voort onder sy mense en sy gaste.
*
Middelpos se mense is gedruk deur Book Printers in Kaapstad en kan bestel word by Anneretha Grobler (e-pos: blouanna@gmail.com).



Kommentaar
So sjarmant soos altyd, Sarel skryf oor Middelpos en die Van der Merwes (plus 'n stewige span afstammelinge) met soveel gevoel dat 'n mens spontaan die gedagte kry: daar sou ek darem graag 'n slag wou gaan uitspan. Iewers in die 80's het ek wel 'n nag as gas daar deurgebring. In die "Ou huis" glo ek. Toe dit nog net 'n plaas-plaas was, geen gasteplaas met swembaddens en dinge nie. En as ek my reg verbeel, was die vyf sipresse, soos ekself ook, toe nog regop en onverweerd. Dankie, kollega. Lekker om op sulke bekoorlike gedagtereise geneem te word.