
Ek en Michael Jackson (MJ soos ek hom noem) is ou vriende; ek ken al sy liedjies. Dis deels my pa se skuld – hy het jare gelede een van MJ se live shows vir ons op kasset opgeneem (dit was voor DStv PVR). Ek het elke liedjie, elke sequence en elke wardrobe change gememoriseer. My gunsteling-deel was heel toevallig ook die liedjie waarmee hy die vertoning afsluit: “Heal the world”. Reg aan die einde, oomblikke voor die einde van die liedjie, word die agtergrondmusiek ’n geneurie, en net soos jy dink dis verby, verskyn ’n bedazzled engel. Sy sak stadig en geruisloos af tot op die verhoog en vou haar lewenslange vlerke om MJ … En dít is die einde.
Met hierdie beeld vars in my geheue arriveer ek huiwerig by die Artscape in Kaapstad. Ek vind gou my sitplek en bekyk die mense om my. Die atmosfeer is gelaai met opgewondenheid. Ek gewaar selfs ’n glow stick of drie, ’n bietjie ambisieus na my mening. Ek neem vinnig ’n paar foto’s (vir Facebook natuurlik) en Instagram dit (for added effect) voor die teaterligte verdof en die gordyne oopskuif.
Binne sekondes verskyn Kenny Wizz op die verhoog, en die gehoor gil van ekstase. Kenny Wizz lyk op ’n druppel na soos Michael van krulkop tot toon. Die skok is amper te veel om te hanteer en ek skuif effens vorentoe op my sitplek om seker te maak my oë bedrieg my nie.
Ek onthou niks van die eerste twee liedjies nie – ek was te besig om my aan MJ te vergaap – kompleet met die swierige wit hemp, kenmerkende swart kort-langbroek met wit sokkies en sy wit handskoen.
Teen die derde liedjie kan die gehoor dit nie meer uithou nie en begin hulle (ek inkluis) luidkeels saam sing. ’n Paar tannies in leopard print outfits voel so meegevoer dat hulle besluit dis tyd vir dans. Die vertoning voer ons almal weg na ’n tyd waar Michael nog met ons is, ’n tyd voor die skandale en gerugte van kindermolestasie, terug na die goeie dae van MJ, toe hy nog gesing het.
Kenny, oftewel MJ, is nie soseer die volgende Idol nie, maar hy is ’n goeie performer en dit is duidelik dat hy ure daaraan spandeer het om homself te transformeer. Die beligting en oudiovisuele komponente is ongetwyfeld Las Vegas, in so ’n mate dat ek ’n hele paar keer gedink het daar kort net showgirls. Die vertoning maak gebruik van ’n live band, waarvan die lede van regoor die wêreld afkomstig is, insluitend Johannesburg, Kaapstad, New York, Kanada, en Hollywood natuurlik. Hulle komplementeer MJ (Kenny) uitstekend.
Spoiler Alert!
Ek het die slot-item geantisipeer: Wat is ’n MJ-vertoning sonder sy beroemde “Thriller”? Die kostuums is nie waffers nie, maar ek kan jou waarborg teen daardie tyd sal jy so opgesweep en weggevoer wees deur die out-of-body ervaring dat dit vir jou absolute ekstase gaan wees.
Ek sal beslis hierdie vertoning aanbeveel vir daardie van ons wat al self probeer moonwalk het. Michael Jackson is ongetwyfeld die Koning van Popmusiek. Wees egter gewaarsku: gesinne met kinders jonger as 10 loop die risiko dat hulle na die eerste nommer hul iPhone gaan uitpluk om “Michael Jackson King of Pop” te Google.
Koop kaartjies by Computicket. Vertonings tot 28 Oktober 2012!

