Metamorfose

  • 0

Foto: Canva

Metamorfose

“Ag my fok, Hermien, wat vang jy nou weer aan?”

Bart gluur die baldadige Hermien met mening aan. Sy is salig onbewus en maak haar tuis in ’n bedding petunias, bene in die lug, ogies op skrefies, ’n lag in haar stem. Sy wikkel haar lyfie om sy aandag te trek. Bart en Hermien woon al jare langs mekaar in die kommune, in Apis-laan naby die Makro in Springfield, Durban. Hul werk ook saam.

Bart onthou die eerste keer dat hy Hermien gesien het. Maya, met haar Engelse maniertjies, het die kommune begin. Sy het Bart van ’n vorige blyplek geken en gevra of hy by haar plek wil kom inwoon. Hy was nie werklik lus vir ’n groot trek nie, maar die eerste aanskoue van die lewenslustige Hermien het hom soos ’n mier na ’n piekniek getrek. Sy het onblusbare energie gehad, het dit steeds. Dit was sy Achilles-hak; die volgende dag het hy sak en pak daar opgedaag om te bly. Sedertdien spook hy nog heeltyd om by haar by te hou.

Bart weet hy is lief vir Hermien, sommer baie lief. Na al hierdie tyd kon hy dit net nog nooit aan haar betuig nie. Hy wens hy kon. Hy wens uit sy hart dat sy ook so oor hom voel. Hy weet als van haar af; hy het dit ’n lewensdoel gemaak om te weet. Haar gunstelingblom is ’n lelie. Meer spesifiek, die vurige Ifafa-lelie wat in die erf langs hulle groei. Sy hou van rooi, die robynagtige weergawe van goeie wyn. Sy word verkwik deur die pienkmalvakleure van sonsondergange oor die see, en sy is op haar beste wanneer dit volmaan is.

Hy kan ure net na haar staar; dit is gereeld die hoogtepunt van sy dag. Bart is nie meer seker waarom hy na al hierdie tyd nog steeds skugter is om sy gevoelens te deel nie. Miskien sal hy eendag kan. Dalk sal hy braaf genoeg wees om dit te sê. Intussen is dit genoeg om langs haar te bly en saam met haar te werk.

Hul is vandag besig met sy gunstelingtydverdryf. So tussen die werk maak hul geleentheid daarvoor. Hy lief woordspeletjies. Hierdie ene is sonder twyfel die beste waarmee Hermien nog vorendag gekom het. Hul het die idee gekry by die ou man wat elke dag op The Coffee Shop Café se stoep sit en ’n heerlike soete Creme Soda drink, sy koerant lees en blokraaisels invul. Hermien het ’n paar weke terug oor sy skouer geloer, om te sien waarmee hy besig is. Die idee is om ’n woord te kies wat beide betekenis in Engels en Afrikaans het, maar in altwee tale dieselfde gespel word.

“STAMP,” skree hy tussen die lawaai van ’n verbygaande vragmotor.
“BROOD,” skree Hermien terug.
“HELD,” is Bart se volgende poging.
“BRAND,” offer Hermien, sonder om te aarsel.
Hul verwyl die res van die oggend met hierdie woordewisseling.
“SWEEP, KEEP, JIG, BYE, STOUT, POWER!”
As jy eers begin het, kan jy nie ophou nie. Die woordverslawing, noem Hermien dit. Dit is soos ’n towerdraad wat die woorde tussen hulle spin. Laas maand het Hermien vir hom ’n gediggie gelees wat sy op iemand se selfoon gesien het. Hy dink op Facebook of so iets. Dit was wonderlik:

 My stories begin as letters

 My pen is my wonderland.
Word water in my hand.
In my pen is wonder-ink.
Stories sing. Stories sink.

 My stories loop. My stories stop. 
My pen is my wondermop. 
Drink letters. Drink my ink.
My pen is blind. My stories blink.

 – Joe Public 2013

 Dat sy dit met hom gedeel het, was soos ’n liefdesbetuiging. Hul geheime spel, hul wonder-ink. Dit het hom nuwe hoop gegee, dat Hermien dalk tog ook ’n plek in haar hart vir hom het.

Bart het amper die dag na die gedig, uiteindelik, aan Hermien sy hart oopgemaak. Dit was ’n heerlik soel aand, in die warm klouerige hitte van Durban. Hul het buite die kommune gesit, die ligte briesie het die verfrissende seereuk gedra waarvoor Hermien so lief is. Dit was donkermaan, maar ten spyte van die straatligte om hulle, kon hul selfs van die sterre sien.
“Bart, weet jy waar om die Suiderkruis te vind?”
Bart het oorgeleun en saggies teen Hermien se lyf gedruk. Sterre is iets waarvan Bart baie weet. Om die waarheid te sê, is hy ’n kenner. Seker maar van die dae waar een van sy vorige huise op ’n boer se plaas in Sutherland was. Oom Arnold en tannie Maggie het gereeld hul teleskoop uitgehaal en ure saam die hemelruim besigtig. Soms het hy by hul aangesluit en ook gekyk.

“Ja, Hermien, as jy nou so kyk ...”

Hy het na Alfa Centauri gewys, maar sy blik was na haar gedraai. Sy bors geswel van haar nabyheid. Hy kon nie ophou kyk vir haar nie. Sy het probeer sien waar hy beduie. Sy kop het gegons. Sê vir haar, Bart, sê vir haar. Sê vir haar sy is jou oggendster, jou aandster, jou eie Venus, die konstellasie waarom jou son draai, die ringe om jou hart, jou Suiderkruis. Helaas kon hy nie die woorde uiter nie. Hy, die flinke woordespeler, was stom. Hy het vir haar die wetenskaplike verduideliking van die Suiderkruis gegee, nag gesê en ingegaan. Verspeelde geleentheid.

“Kom ek help jou op uit die blombedding,” bied Bart galant aan.

Voor jy kan sê Durbankerrie, spring Hermien op. Sy is plek-plek vol stuifmeel. Sy lag net verder en haas voor Bart uit. ’n Pragtige Indian myna sit naby in ’n mangoboom hul en dophou. Sy kraalogies fyn ingestel. Hy draai sy koppie in alle rigtings, maar bring dit weer terug, kyk stip na Bart en Hermien. Skielik vlieg hy op en duik af.
“Hiert, jou gedierte!”
Bart skrik hom flou as die gevlerkte indringer hom rakelings mis.
“Jou lawwe ding,” skree Hermien agterna.
“Ons het nie lus vir jou speletjies nie.”
Dit lyk vir Bart of Hermien ook geskrik het. Daar is ’n groot brommer naby haar en sy waai dit vies weg.
“Voertsek, jou vullis-agie! Kom, Bart, ons moet liefs verkas; hier is niks joy in hierdie straat nie.”
Haar ligte gemoed sommer skielik ’n donderwolk.
Hul begin hul pad terugbaan kommune toe. Dit is ’n bekende roete: werk, huis; huis, werk.
“Kyk, Bart, wat gaan daar by Makro aan?”
Dit wemel van mense. Honderde hardlopende miertjies.
“Kom ons gaan kyk, Hermien!”

Lank voor hul by Makro uitkom, sien hul al die massas in die strate afkom. Hul voel die kwaad, die aggressie, hoor die krete. Ook die sirenes loei tevergeefs. Die wêreld het mal geword. Mense spaander in duisende rigtings. Ketels, yskaste, televisies en selfs banke onder die arm, op die kop, agter op bakkies. Plunder ’n ouma, protesteer ’n pikaninie, paradeer ’n pronkhaan.

“Wat de fok?” is al wat Bart kan uitkry.

Hul probeer uit die gedrang kom. Hermien is ver vooruit. Bart beland amper voor ’n motor, hoog gelaai met kos van elke beskrywing. Hy kan glad nie meer vir Hermien sien nie. Dit is ’n rumoer, erger as die mark op ’n Saterdag in Chatsworth, ’n kakofonie van geluide, ’n allegaartjie van reuke en ’n getjommel van siele. Dit is oorweldigend. Bart stop vir ’n oomblik, net om sy energie weer te sentreer. Van Hermien is daar geen teken nie.

Hy beweeg in die rigting van die kommune. Dan ruik hy dit voor hy dit sien. Dit is die reuk van sy nagmerries. Sy demone wat lewendig geword het. Rook. Hy haas hom na die kommune; die rookbolle versper sy sig en dryf hom weg. Hy beur heldhaftig voort. In sy binneste ’n swaar klip. Die kommune brand. Die vlamme is wild. Al Hermien se gunstelingkleure, dink hy, maar vir al die verkeerde redes, aangewaai deur die gewoonlik lafenis van ’n windjie. Die hitte skroei alles in sy aansig. ’n Wrede draak wat vergelding soek. Hy sukkel vorentoe, struikel, word omgetol deur die aanslag. Steeds soek hy net na haar. Waar de hel is sy? Hoekom het dit hom so lank gevat om hier uit te kom? Hoe kon hy dat sy vooruitgaan en by hom verbyglip?

“HERMIEN, HERMIEN, HERMIEN!” bulder hy tevergeefs.
Sy stem raak weg.
Dan sien hy haar, by die ingang van hul huis, hul gewoonlik veilige hawe.
“HERMIEN, EK IS LIEF VIR JOU!” kry hy dit hees uitgewurg.
“Ek vir jou ook, Bart.”
Skielik is sy weg. Verswelg deur die vlamme. In ’n blitssekonde. Weg.

Bart staar oor die ou man se skouer waar hy sy koerant lees op The Coffee Shop Café se stoep.

MAKRO IN SPRINGFIELD AFGEBRAND
Die onlangse geweld, plundertogte en verwoesting het ook een van Springfield, Durban se oudste natuurbates geëis. Saam met die verwoesting aan die Makro, is een van die grootste byekorwe in die omgewing onherroeplik beskadig. Die bye daarmee saam uitgewis.

Uitgewis: sy mense, sy huis, sy Hermien.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top