Metamorfose en korona

  • 2

...........

“Fopnuus moet gestop word – daarmee het ek geen probleem nie. Die onnodige aanblaas van vrees is ’n groter probleem as enige siekte – dit stem ek mee saam. Maar om te kenne te gee dat net die regering die antwoorde het, is gevaarlik.” 

...........

Dis nou ’n week nadat ’n ramptoestand in Suid-Afrika verklaar is.

Die eerste paar dae was chaoties. Paniekkoop was aan die orde van die dag. Mense het handgemeen geraak oor toiletpapier. Rye en rye mense het winkels volgepak om hul inkope klaar te maak voor die rakke leeg raak. Foto’s van leë winkelrakke was oral op sosiale media. Elders het ek gesien hoedat vriende huiskonserte begin reël, en in restaurante en kroeë bymekaarkom. Een of twee het gewonder of hulle nie moet gebruik maak van goedkoper vlugte om ’n andersins onbekostigbare vakansie te verwesenlik nie.

Niemand het die impak van die virus ernstig opgeneem nie.

Totdat die eerste plaaslike oordragte plaasgevind het, van mense wat geen internasionale reise onderneem het, of kontak gehad het met sulke mense nie. Totdat die eerste mense van ouderdomsgroepe wat nie veronderstel is om dit te kry nie, aangemeld is.

Ons hoor berigte dat Kaapstad so stil soos ’n spookdorp is. Ons sien foto’s van die N1 tussen Johannesburg en Pretoria wat feitlik leeg van verkeer is.

Foto: Pexels.com

Dis nie die prentjie in my dorp nie. Skole is gesluit, en groepe kinders speel in die strate. Mense kuier rustig voort. Plaaswerkers sit ingepak soos sardientjies agterop lorries, of in busse. Taxi’s het nog nie begin om hul higiënepraktyke aan te pas nie. Business as usual, met ander woorde.

Intussen is die regering gewikkel in ’n magstryd met privaatpraktyke. Enige persone wat deur privaatlaboratoriums getoets is, moet eers weer deur die staat getoets word voordat die resultate aanvaar word. Kenners wat nie in die staatsdiens is nie, word gemuilband en mag nie oor die koronavirus praat nie. Die regering is die enigste kanaal waardeur inligting beskikbaar is.

Soos tydens apartheid.

...........

“Om drankverkope en drankgebruik te patrolleer begin nie naastenby om die probleem aan te spreek nie. Om die verspreiding van fopnuus te kriminaliseer is nie genoeg nie. Wat nodig is, is om werkgewers aan te moedig om hulle werkers van tuis te laat werk, of om hulle tuis te laat bly en steeds te betaal al werk hulle nie.”

...........

Fopnuus moet gestop word – daarmee het ek geen probleem nie. Die onnodige aanblaas van vrees is ’n groter probleem as enige siekte – dit stem ek mee saam. Maar om te kenne te gee dat net die regering die antwoorde het, is gevaarlik. Ons is besig om ’n groot poel van kundigheid net weg te stoot. Kundigheid wat ons gaan nodig kry as ons hierdie ding doeltreffend wil beveg. Dit is nie nou die tyd om kragdadig op te tree nie.

Die regering se houding, soos ook Trump se regering, gee sweempies van onvoorbereidheid. ’n Vriendin wat van oorsee teruggekom het, en van die simptome begin toon het, wou toetse laat doen. Haar ervaring maak dit duidelik dat ons nie naastenby gereed is vir wanneer die epidemie ons werklik tref nie. Sy is weggewys en aanvanklik is daar geweier om haar te toets, want sy het net ses van die agt simptome. Sy is gevra om vanuit die Kaap na die Paarl te reis, waar sy weer weggewys is voordat sy uiteindelik gehelp is.

Wat sou gebeur met iemand wat nie kan bekostig om ’n dag van die werk af te vat nie? Iemand wat van openbare vervoer gebruik moet maak om by die plekke uit te kom? Iemand wat minder assertive as my vriendin is, wat met die eerste “nee” omdraai en huis toe gaan? Wat het geword van die versekering dat as mens bel voordat jy opdaag, jy nie in ’n wagkamer tussen ander sal moet sit en wag nie?

...........

“Ons sien video’s van mense wat nou op ander maniere met mekaar omgaan. Ons sien hoedat mense verhoudinge herrangskik en herprioritiseer. Ons sien hoedat gierigheid plek maak vir wat ons hier ken as ubuntu.” 

...........

Redi Tlabi skryf op Twitter dat sy op Donderdag 19 Maart ’n staatshospitaal aangedoen het. Daar was geen hand sanitiser beskikbaar nie. Personeel het nie beskermende drag gedra nie. Daar was geen proses om mense met koronavirussimptome te skei van die ander pasiënte nie.

Ons is nog maar aan die begin van die siklus hier. Daar is tyd om die aansteekproses te verlangsaam, om te verhoed dat hospitale en gesondheidsdienste oorval word. Ons doen egter nie naastenby genoeg om dit te keer nie. Byeenkomste van 100 is oorgenoeg om die virus geleentheid te gee om te vermenigvuldig. Om drankverkope en drankgebruik te patrolleer begin nie naastenby om die probleem aan te spreek nie. Om die verspreiding van fopnuus te kriminaliseer is nie genoeg nie. Wat nodig is, is om werkgewers aan te moedig om hulle werkers van tuis te laat werk, of om hulle tuis te laat bly en steeds te betaal al werk hulle nie.

Dit kos geld, geld wat tans heerlik in Gupta-sakke sit. Ons kan nie bekostig om insentiewe uit te betaal nie, want daar is nie geld nie. Ons kan nie reguleer dat huurders ’n tydperk blaaskans gegun moet word van huur/verband ens te betaal nie, want daar is nie geld nie. Baie binnekort sal die regering kospakkies moet voorsien aan mense wat nie kos kan bekostig nie. Wanneer die siekte ons regtig tref, sal die regering hospitaalbeddens en mediese toerusting moet voorsien wat eenvoudig nie bestaan nie, en waarvoor daar nie geld is om aan te koop nie.

Vir die navorsing van my nuwe boek, voorlopig getitel Lokval, het ek aangesluit by ’n preppergroep. Niemand wat voorheen met preppers spot gedryf het, spot nou nie. Nie een enkele prepper het nodig gehad om paniekkope te doen nie. Hulle was voorbereid. Die algemene gevoel in daardie groep is dat ons eers hier teen Mei die volle impak van die pandemie gaan voel. Daar is dus tyd om voor te berei.

Die chaos wat ons die afgelope week ervaar het, en wat ons nog in die toekoms gaan ervaar, is maar simptome van groei en verandering. Ons moet regmaak vir verdere inperkings op ons bewegingsvryheid. Ons moet regmaak vir paniekerige mense wat irrasioneel optree rondom ons. Ons moet regmaak vir ’n situasie soortgelyk aan die situasie in Italië, waar die weermag nou liggame in trokke vervoer want daar is gewoon nie genoeg lykshuise en krematoriums om te voorsien in die behoefte nie.

...........

“Wanneer ons aan die ander kant van hierdie krisis uitkom – en ons sal hierdeur kom –  staan ons veranderd. Die groot uitdaging dan gaan wees: Gaan ons voort op die nuwe pad wat ons begin loop het, of gaan ons terug op die ou, bekende en vernietigende pad van consumerism en dog eat dog?”

...........

Ons moet kophou en kalm bly.

Dis deel van die verandering wat ons as samelewing deurgaan.

En dis nie noodwendig sleg nie.

Ons sien berigte dat die natuurlewe besig is om te herstel oorsee. China, bekend vir sy lugbesoedeling, ervaar skoner lug vir die eerste keer in dekades sedert daar beperkings op lugvaart en beweging van mense geplaas is. In Japan loop wildsbokke in die strate. In Italië swem swane en dolfyne in die kanale.

Ons sien video’s van mense wat nou op ander maniere met mekaar omgaan. Ons sien hoedat mense verhoudinge herrangskik en herprioritiseer. Ons sien hoedat gierigheid plek maak vir wat ons hier ken as ubuntu. Ons sien hoedat mense ’n dieper waardering vir mekaar en vir ons ouer mense openbaar.

Foto: Pexels.com

Ons sien hoedat die koronavirus die groot gelykmaker tussen rasse, kleure, kulture en sosiale stande is. Ons sien hoedat mense by veranderde omstandighede aanpas en plan maak op maniere wat so min as twee weke gelede onmoontlik sou gelyk het.

Ons is besig om, te midde van die chaos en die verwarring, te verander. Vir sommiges lyk die verandering dalk so stadig dat dit onsigbaar is. Ons is besig om ’n nuwe manier van saamwees te ontdek. Social distancing is besig om tot social renewing te lei.

Ons is besig om te ontdek dat dit moontlik is om van die huis te werk. Dis moontlik om vergaderings oor Skype te hou in plaas van in persoon. Dis moontlik om jou inkope af te laat lewer in plaas daarvan om ure in groepe in winkels deur te bring. Ons is besig om te besef hoe afhanklik ons van mekaar is.

In die maande vorentoe, vermoed ek, gaan ons ’n oplewing in groentetuine by huise sien, soos wat in ons ouers en hulle ouers se tyd die norm was.

Daar is hoop.

Wanneer ons aan die ander kant van hierdie krisis uitkom – en ons sal hierdeur kom –  staan ons veranderd.

Die groot uitdaging dan gaan wees: Gaan ons voort op die nuwe pad wat ons begin loop het, of gaan ons terug op die ou, bekende en vernietigende pad van consumerism en dog eat dog?

Ons het die potensiaal om van hierdie kokon- en ruspefase waarin ons nou is, anderkant uit te kom as vlinders, vry van die verwagtinge waarmee ons ingegaan het.

Ons kan kies om korona te sien as papie, as chrysalis. Dis nie net ’n negatiewe ding wat verskrikking saai nie, dis ook ’n geleentheid om die toekoms anders te benader.

Daar is bitter min wat op hierdie stadium seker is. Ons sal hierdeur kom is een daarvan.

Vasbyt en moenie kop verloor nie. Hou moed. Sien julle aan die ander kant.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Natuurliefhebber Meerkat

    Geagte Bettina,

    Hierdie epidemie gaan nie ’n duik maak in die wêreld se ongebreidelde bevolkingsaanwas nie. Die wêreld is totaal oorbevolk en gevolglik word die omgewing en natuurlike hulpbronne gestroop en geplunder en die omgewing en see besoedel. En die gekonsentreerde verstedelikte massas mense is ’n ideale teelaarde vir enige kwaadaardige virus.

    Daar is net één oplossing: elke vrou mag nie meer as 3 kinders hê nie.

    Ek sal my hoed afhaal vir enige politieke leier of joernalis wat die waagmoed sal toon om hierdie aantelery van enige openbare platform aan te spreek.

    Tyd dat ons eerlik en openhartig fokus op die wêreld se kernprobleem: OORBEVOLKING. Duideliker kan ek dit nie stel nie.

    Intussen is die mensdom ’n verleentheid vir die mede soogdier spesies.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    "Soos tydens apartheid." Ons kan nie toelaat dat die land (en die wereld) in 'n noodtoestand verkeer en apartheid (en die blankes/Afrikaners) nie die skuld daarvoor kry nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top