Met rooi skoene anderkant die reënboog

  • 2

In Afrikanergesinne het amper almal ’n verwant genaamd Kobus, tweede seun van Koos. Kobus was my neef, omtrent twee jaar ouer as ek. Hy was ’n skraal, valerige seun met ’n vlymskerp, verveelde humorsin en ’n versugting na skoonheid, elegansie en die dramatiese. Hulle plot was langs ons s’n in ’n kort stofstraat.

........

Elke gesin het ’n lid wat nie heeltemal inpas nie. By ons was dit ek, met my neus alewig in ’n boek en min belangstelling in seuns, modes en grimering. By my macho oom-hulle was dit Kobus, wat nie rugby speel nie, ’n gesaghebbende aanvoeling vir vrouemodes het en Queen, Elton John en David Bowie bewonder.

..........

Elke gesin het ’n lid wat nie heeltemal inpas nie. By ons was dit ek, met my neus alewig in ’n boek en min belangstelling in seuns, modes en grimering. By my macho oom-hulle was dit Kobus, wat nie rugby speel nie, ’n gesaghebbende aanvoeling vir vrouemodes het en Queen, Elton John en David Bowie bewonder.

In ons kort stofstraat het nog ’n gesin gewoon. Hulle jongste dogter was ’n tomboy. Sy het ’n hees stem gehad, net kortbroeke gedra en daarop aangedring dat haar krulhare gereeld saam met haar broers s’n kort-kort geknip word. Sy het met perde geskou, dressage, en haar ysere wil kon ’n reusagtige Amerikaanse saalperd na haar pype laat dans. Sy en Kobus was so dik soos diewe, soos my ouma sou sê. Toe hulle eendag vir my wegry op sy fiets het ek soos ’n gesmade biblioteekprefek agter hulle aan geskree: “Vroeg ryp, vroeg vrot.”

Foto verskaf. Deborah is heel links en Kobus is heel regs op die foto.

My broers was altyd aan die skyfskiet, jag, messe maak en slange en spinnekoppe vang vir troeteldiere. Hulle het hulle nie juis aan Kobus gesteur nie en ons het na mekaar gegraviteer; ek en hy en die buurdogter. In daardie dae het ’n mens se ouers nooit gewonder waar jy was wanneer dit donker word nie; hulle het geweet jy is by een van die bure.

........

Kobus het op laerskool opgemerk dat vir iemand wat haar nie steur aan klere nie, ek darem baie verknog was aan my rooi kerkskoene. ’n Mens het maar net een paar kerkskoene gehad, maar dit was waar. In daardie skoene het ek soos Dorothy in The Wizard of Oz gevoel. Hy weer het esse gegooi op sy swierige pers Chopper-fiets. Ek dink nie ons het toe al vermoed dat ons op die reënboogspektrum is nie.

.........

Kobus het op laerskool opgemerk dat vir iemand wat haar nie steur aan klere nie, ek darem baie verknog was aan my rooi kerkskoene. ’n Mens het maar net een paar kerkskoene gehad, maar dit was waar. In daardie skoene het ek soos Dorothy in The Wizard of Oz gevoel. Hy weer het esse gegooi op sy swierige pers Chopper-fiets. Ek dink nie ons het toe al vermoed dat ons op die reënboogspektrum is nie.

Op hoërskool het ons Vrydagaande op sy bed gelê en LM Radio luister. Hy het skelm John Player Special-sigarette gerook en ’n Vespa gery. Hy het op skool ’n boesemvriendin gehad; ’n gewilde, blonde meisie. Een aand, toe hy al sy pa se bakkie kon bestuur, het hy my opgelaai vir ’n KJV-uitstappie na ’n inrigting vir alkoholiste. Ek onthou ek was nogal geskok dat daar ’n (koeldrank)kroeg was met die naam Alkie’s Corner. Spot ’n mens met siekte? Later daardie aand, in die donker bakkie, het hy my vertel dat hy en Minda diep gesondig het; hulle het ’n knippie gehad. Al wat ek geken het, was ’n haarknippie, maar dit het in elk geval baie dekadent geklink.

Langs ons swembad (daar is ’n foto êrens, ek in ’n swart eenstuk en hy met ’n trots haarlose hoenderbors) het hy eendag vir my gesê hy wil ’n lover met ’n bruingebrande lyf hê. Die gender-onspesifieke selfstandige naamwoord het nie by my verbygegaan nie.

Ons het baie gelag, maar nie hartsgeheime gedeel nie, ons was albei te privaat en te verdronge. Ek het hom nie vertel van my eerste soen een aand voor die Biologieklas nie, met ’n lang seun met bakore. Ek het weer daaraan gedink toe ek in Marita van der Vyver se jongste boek lees oor haar eerste soen met ’n mooi, blonde seun – hoe verruklik dit was, hoe die hormone gebruis het. Geluksalig is diegene wat binne ’n aanvaarbare norm gebore is, het ek gedink en weer onthou hoe grillerig my eerste soen was; nat, indringerig en naarmakend.

Daarna het ek die buurdogter gesoen, maar daardie ondervinding was ook bederf – kondisionering, skuld, verdoemenis en oordeel het harder gebruis as hormone. Ek het in slapelose nagte met die koue stofpad onder my kaalvoete in die maanlig gestap, deur haar kamervenster geklim en by haar gaan inkruip. Dit was in die dae voor diefwering, lemmetjiesdraad en alarms. Daar het ek veilig gevoel. Ons was geheg aan mekaar, maar sy het altyd girlfriends gehad.

My hormone was in koelbewaring, ver onder vriespunt, soos die Pfizer-entstof, teen -94 grade Fahrenheit gestoor. Al wat ek my vergun het om voor te wens, was ’n vriendin saam met wie ek alles kon doen sodat ek niks of niemand anders nodig het nie. Dan, het ek geglo, sal ek die lewe vierkantig in die oë kan kyk.

Kobus is in rooi omsirkel (foto: verskaf)

Ek weet nie of Kobus op skool geboelie is nie, want ons was in verskillende hoërskole. Maar ek dink nie so nie; hy was altyd glad met die mond, slim en gesofistikeerd met ’n beduidende EQ. Cool.

Ná skool het ons uitmekaar gedryf. Of eintlik al daarvóór, toe hy, soos enige wit seun in Suid-Afrika in daardie dae, weermag toe is. Ek weet nie hoe sy ondervinding was nie, maar hy het oorleef. Ons was elkeen afsonderlik op soek na ons skaduwee.

Ek onthou hom op my 21ste verjaarsdagpartytjie, met effens meer lyf, amusant en wêreldwys. ’n Hand vol kere daarna. Ek het via die familieriemtelegraaf verneem dat hy ’n vriend het en dat hulle saam ’n onderneming begin het. “’’n Agtermekaar kêreltjie,” het my ouma sonder ’n sweem van ironie gesê.

........

In ons familie het almal getrou en kinders gekry. Nie Kobus nie. Hy is een aand in sy eie kombuis deur ’n polisiemanvriend met dié se diensrewolwer doodgeskiet. ’n Ongeluk, het die familie gesê en nie verder daaroor gepraat nie.

...........

In ons familie het almal getrou en kinders gekry. Nie Kobus nie. Hy is een aand in sy eie kombuis deur ’n polisiemanvriend met dié se diensrewolwer doodgeskiet. ’n Ongeluk, het die familie gesê en nie verder daaroor gepraat nie.

Sy van was Prinsloo, soos Koos die siek roos en Leo die breker. Hy het nooit oud geword, voor die MIV- of coronavirus geswig of die inperking meegemaak nie.

Die bure se dogter is nog deel van my lewe en ek het liewe vriende, maar ek sal hom altyd nodig hê; Kobus. Ek sou hom graag wou vertel dat dinge mettertyd tog eenvoudiger word, dat ek ná 50 wel iemand gekry het saam met wie ek kan wees, maar dat dit eers gebeur het nadat ek dit reggekry het om (meestal) op my eie die lewe vierkantig in die oë te kyk.

  • 2

Kommentaar

  • Schalk van der Merwe

    Hallo Deborah,
    Duisend dankies vir hierdie ongelooflike mooi stuk. Mag ons elkeen inloer en die ware self ontdek.
    Duisend groete,
    Schalk

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top