Met liefde wat saamgaan en ander stories deur Annalise Wiid: ’n resensie

  • 0

Met liefde wat saamgaan en ander stories
Annalise Wiid
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320247

Lees jy op Lux Verbi se bladsy oor hul skrywers, staan Annalise Wiid se beskrywing uit tussen die ander. Dit vertel dat sy van woorde en wysies aanmekaargeweef is, dat sy stories en liedjies en rubrieke skryf, wat vertel van God en van die lewe. “Sy reis, sing-sing, die wêreld vol om dit met gehore te deel.” Sy is ’n geleentheidspreker en bied ook kampe en seminare aan. Haar werk weerspieël die sweef- én die strompelkant van die Christelike lewe.

Sy het verskeie boeke op haar kerfstok, waaronder Abjater is ’n kuierkat; Dis weer daai kat!; My eie wysie; Skewe snytjies brood en Driveway divatjie.

In hierdie boek vra sy haarself en die leser: Hoe lief kan ’n mens hê? Lief genoeg om te laat gaan, soos Hanna met Samuel gemaak het? Lief genoeg om selfs ten koste van ander foute oor te sien, soos Eli met sy seuns gemaak het?

Sy weef twee van haar groot liefdes aanmekaar. Oorkoepelend is daar die Bybelse verhale van Hanna, Eli en Samuel en hoe God daarmee verweef is. Onderliggend hieraan is hartroerende, soms komiese stories oor alledaagse dinge en gewone mense.

Met liefde wat saamgaan en ander stories bevat 54 kortverhale, waarvan sommiges jou enkele minute sal neem om te lees. Dis die tipe boek wat jy in jou handsak kan saamneem en terwyl jy in toue staan en wag, gou ’n storie kan lees. Moenie bekommerd wees oor die mense om jou se reaksies as jy hardop lag vir die kwinkslae van kuiers op Laaiplek waar hulle gaan bolling slat (Weskustaal vir gesellig saambondel) of ’n traantjie wegvee vir die aangrypende storie van Nakkie en haar kwilt nie – die een wat haar “stekie vir stekie deur ’n moeilike jaar van verlies en verlange gehelp het. Soos tree vir bang tree deur ’n donker bos, of teen ’n moegmaaksteilte uit”. Of die storie van Clara Schreiber wat in die donker dans: “niemand moes dié belaglike uitspattigheid kon aanskou nie”.

Annalise skryf gereeld rubrieke vir LiG en Lééf en skryf in haar voorwoord dat sy die rubrieke verweef met die “verstommend praktiese verhoudingswaardes uit kosbare ou Bybelverhale” wat sy tydens kampe en retreats met mense deel.

Dat sy woordvaardig is, is gewis. Haar beskrywings is soms só in die kol dit laat jou heeltemal anders na die lewe kyk, met meer begrip en deernis na dié om jou.

Die trefkrag van die boek lê vir my daarin dat jy nie noodwendig ’n gelowige hoef te wees om waarde uit die stories en insigte te put nie; dat die fyner kyk in ander se vreugdes en seer jou deel maak van ’n groter groep: nietige mense met foute en drome en versugtinge; hartseer en teleurstellings. Iemand net soos jy.

Wiid se vermoë om diep te kyk, bring op sy eie manier balsem vir die oorweldigde siel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top