Foto-indrukke: Merweville en die sewe maer jare

  • 7
  • Teks en alle foto’s deur Stephen Fourie

Ten spyte van die 44 mm reën wat in Oktober op Merweville geval het, voel Die Koup steeds die wurggreep van die afgelope jare se droogte. Van die kinders op die dorp het vir die eerste keer die rivier sien loop. Stephen Fourie het onlangs hierdie dorp en kontrei besoek.

Genesis 41:17–20: Toe sê Farao vir Josef: Kyk, ek het in my droom gestaan op die wal van die Nyl, en sewe koeie het uit die Nyl uit opgekom wat vet van vleis en mooi van uiterlike was, en hulle het gaan wei in die rietgras. En kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie op, skraal en baie lelik van uiterlik en maer van vleis; ek het soos hulle so lelik in die ganse Egipteland nie gesien nie. En die maer en lelike koeie het die sewe eerste vet koeie opgeëet …

NG Kerk Merweville in die voorgrond en die uitgestrekte Koup met belowende wolke wat skadu’s gooi oor die dorre aarde

Na meer as sewe jaar se droogte kan die inwoners en boere van Merweville hulle volkome met Genesis 41 vereenselwig. Daar is bitter min natuurlike voer oor vir diere. Die Leeu-Gamka-dam is dolleeg en so ook die plaasdamme. Die dorp is totaal afhanklik van boorgatwater. Smiddae van 13h00 tot 18h00 word die water toegedraai. My laaste vier dae in Merweville was daar net water van 06h00 tot 09h00 en weer van 18h00 tot 21h00.

Kallie le Roux, eienaar van die Springbok Lodge op Merweville, neem my uit in die kontrei om ’n bietjie rond te kyk. Hy is gebore op die plaas Rooihoogte, ongeveer 30 km buite die dorp. Die impak van die droogte skok jou wanneer jy verder van die hoofpaaie rondom die dorp beweeg. Dit is niks vreemds om dieper as 100 m te boor om ’n ordentlike stroom water uit ’n boorgat te kry nie. Die ondergrondse watertafel sal jare se goeie reën (en opvolgreën) verg om te herstel. Op die oppervlak is die verwoestende droogte egter sigbaar en herinner aan ’n maanlandskap.

Die aarde onder mens se voete is kurkdroog tot stof gebak. Kallie gaan tel klippe op vir sy tuin en ek loop die veld in om foto’s te neem. Soos met byna al die plase in die omgewing kreun die windpompe hul misnoeë in die wind, met bitter min water wat deur die pype na bo opwel. Daar is vele verlate plaashuise wat toe staan. Die eienaars het net eendag besluit om op te pak en ’n slot aan die voorhek te sit. Sommige is verkoop aanryk “leefstylboere” van die Kaap of Gauteng en ander weer aan ander boere in die omgewing wat geen nut het vir die wonings nie en net belangstel in die grond.

Plaaswoning tussen Merweville en Sutherland. Die eienaar het die plaas aan twee boere van die kontrei verkoop. Die huis staan sedertdien verlate.

Daar word hoofsaaklik met skape en bokke geboer. Van die boere hou ook wildsbokke aan en probeer ’n inkomste uit jag genereer. Daar is min sprake van natuurlike weiding en die vee moet gevoer word. Selfs die wildsbokke op sommige plase word gevoer. Droogtehulp van die regering is ontoereikend en hulporganisasies en artikel 21-maatskappye vul die hulp aan.

Tolie Victor (uitgespreek “Fikter”, dalk omdat sy oupagrootjie nie baie van die Britte  gehou het nie!) is ’n boer wat die plaas Die Meul bedryf. Hy sê dat indien Merweville en Die Koup (Khoi-woord vir die vet rondom die skaap se ingewande) hierdie jaar weer oorgeslaan word met somerreëns, gaan die huidige ramp wat hom in stadige aksie afspeel, groter en gevestigde boere wegdryf. Hy trek een keer ’n jaar met sy skape  nader aan Sutherland waar daar meer weiding is. Dis ’n vierdagtrek (voorheen was dit tien). Dit toets die kondisie van sy skape wanneer daar so getrek word. “Wanneer die ooie se kondisie af is, wil hulle nie ram vat nie,” sê hy, “en dit verlaag die lammertelling van die kudde dramaties.” Hy versprei sy risiko deur boerbokke aan te hou. Hulle aard beter in die bergagtige gedeeltes van die plaas en vreet meer aan die hoër bome. Die tradisionele mark vir hierdie bokke is die Indiërgemeenskap van KwaZulu-Natal. Sover dra dit hom deur die moeiliker tye.

Ongeveer 30 ton geskenkte voer word deur ’n kontrakteur van Stellenbosch op eie koste by Merweville afgelewer.

Hennie Alberts, voorsitter van Karoo Droogtehulp, laat weet daar word die volgende dag voer afgelewer. Dis ’n groot en raserige affêre wat goed gekoördineer word. Mens kry egter die gevoel dat die boere hierdie hulp met gemengde gevoelens ontvang. Dis trotse mense wat al geslagte lank in Die Koup boer. Die droogte dwing egter baie van hulle om in die tou te staan vir voer.

Baie van die boere met wie ek praat, probeer ook om met gewasse te boer wat goed aard in die omgewing. Uie is een gewas, mits daar genoeg water vir besproeiing is. Die volwasse uieplant maak ’n saadbol wat gedurende November–Desember geoes en gedroog word. Die sade word dan na China en Amerika uitgevoer. Granaatbome aard ook goed hier, maar dit verg groot kapitaalinsette en lewer eers na ’n aantal jare opbrengste.

Soos met al die klein dorpies in die Karoo bly armoede en werkloosheid hier ’n geweldige uitdaging. Stap ’n mens deur die tradisionele bruin woonbuurt, stuit die absolute armoede jou teen die bors. Dis ’n siklus wat herhaal word van generasie tot generasie. Selfs hier eis die droogte ’n tol met al hoe minder beskikbare werk op die plase. Lone is laag en die werkers meld dat indien hulle wel werk kry, hulle meestal toegelaat word om net beperkte ure te werk.

Deur alles heen bly Merweville ’n funksionele gemeenskap met ’n besonder warm hart. Toeriste besoek steeds die dorp om te kom kyk waar die TV-reeks Die Boekklub geskiet is en gaan eet dan by die restaurant met dieselfde naam. Die NG Kerk teen die bult domineer die dorpsaangesig. Zena van Schalkwyk (orreliste, koster en alles tussenin) neem besoekers op in die kerktoring vir ’n uitsig oor die dorp en om haar te help om die kerkhorlosie twee keer ’n week op te wen. Die vrouens van Karoo Blessings vervaardig hul wêreldberoemde nougat en Chris van Douvoordag Slaghuis sal vir jou propperse Karoo-skaaptjops sny wat jou sal laat terugkom vir nog.

Die Koup Stoftrappers kappityt by Merweville Laerskool. Hier vertoon een van die dansers se voete.

Gina Mans, skoolhoof van Merweville Laerskool, nooi ons vir ’n vertoning deur die Koup Stoftrappers. Die rieldans is een van die oudste inheemse dansstyle in Suid-Afrika en hierdie klomp laerskoolleerlinge is langarm op steroïede!

Vol stof kom ek by my verblyfplek aan en draai die kraan buite teen die muur oop. ’n Druppel water drup traag uit die kraan. Ek het vergeet dat die water daardie tyd van die dag toegedraai is. My gedagtes dwaal onwillekeurig na die bruin, geskroeide aarde rondom my – mag daar gou sewe vet koeie kom om hierdie sewe maer koeie op te vreet – anders sal ons dalk die Koup Stoftrappers se hulp moet inroep om ’n reëndans iewers in Merweville se Voortrekkerstraat te doen …

  • 7

Kommentaar

  • Marinda, Fourie

    Pragtige foto's, vang die Merweville-omgewing op. Foto's wys die mense van die omgewing, asook die pragtige wolke.

  • Baie dankie aan almal vir die baie opbouende kommentare. Ek waardeer dit geweldig. Die grootste dank kom egter die wonderlike mense van Merweville toe. Groetnis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top