|
||||||||
Opsomming
Hierdie artikel bied ’n verkenning van Afrikaanse swartmetaal, ’n subgenre van ekstreme metaal wat grootliks onbekend is binne die Afrikaanse musiektoneel. Die artikel begin met ’n agtergrond en kontekstualisering van swartmetaal as ’n subgenre van swaarmetaal, met die klem op die Chaotiese temas wat kenmerkend is van die genre, soos monsters, die onderwêreld, dood, rebellie en Satanisme. Die ontwikkeling van swartmetaal vanaf die ontstaan van swaarmetaal in die laat 1960’s tot die volwassewording van swartmetaal in die 1990’s en daarna word nagegaan, met spesifieke verwysing na die pioniers en sleutelfigure in die genre.
Die artikel ondersoek die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaanse swartmetaal, en bespreek verskeie groepe en hul lirieke, insluitend Vrotgot, Nahul, Volkmag, Krygsmag, Ominous Reflections, Droom Alone, Swartwoud, Scathanna Wept, Stille Beendere, Onheilig, VleesAnker, Slagbees, Somerreën en Spectral Bastion. Die lirieke en temas van hierdie groepe word in verband gebring met swartmetaal in die buiteland, en die artikel toon aan hoe Afrikaanse swartmetaalgroepe nie net die temas en estetiese van swartmetaal in die buiteland navolg nie, maar ook die Chaotiese, ’n kernaspek van swartmetaal, in ’n Afrikaanse konteks plaas, wat unieke interpretasies en uitdrukkings tot gevolg het.
Trefwoorde: Afrikaanse musiek; Chaotiese; ekstreme metaal; lirieke; musiektoneel; populêre musiek; Satanisme; swaarmetaal; swartmetaal
Abstract
Misanthropic, repulsive and controversial: an exploration of Afrikaans black metal
This article delves into the largely unknown realm of Afrikaans black metal, a subgenre of extreme metal. It traces the genre’s roots from the origins of heavy metal in the late 1960s to the maturation of black metal in the 1990s and beyond. The article specifically examines the development of Afrikaans black metal, discussing various bands, their lyrics and themes, and relating them to the broader international black metal scene.
Heavy metal, which encompasses diverse styles since the 1960s, is characterised by fast tempos, distorted guitars, powerful rhythms, and often screamed or growled vocals. Extreme metal, a subset of heavy metal, pushes these boundaries further with radical sounds, imagery and lyrics, often considered shocking. Black metal is positioned as the most transgressive space within extreme metal, rejecting societal norms and dealing with controversial themes.
The historical development of black metal is explored in this article, starting with the pioneers of heavy metal like Led Zeppelin, Black Sabbath and Deep Purple. These bands introduced new musical styles and explored themes of the occult, mythology and rebellion. The “new wave of British heavy metal” (NWOBHM) in the late 1970s and early 1980s further solidified heavy metal, increasing speed and aggression while incorporating elements of punk and classical music.
The 1980s saw the fragmentation of heavy metal, leading to the emergence of extreme metal. Thrash metal bands like Slayer used Satanic imagery and explored themes of violence and the occult. Venom, with their albums Welcome to hell and Black metal, became a crucial influence, giving the name to the new branch of extreme metal. Other significant bands in the “first wave” of black metal include Mercyful Fate, Hellhammer / Celtic Frost, and Bathory, which established the musical and aesthetic template for the genre.
During this period, white metal (Christian metal) also emerged as a polar opposite to black metal, focusing on Christian themes and lighter musical styles. The 1980s also marked the beginning of South African heavy metal bands, although black metal did not emerge in the country until later.
The “second wave” of black metal in the 1990s saw the genre solidify and gain notoriety. Norwegian bands like Mayhem and Burzum became central figures. Mayhem was known for its macabre imagery and controversial events, including the suicide of their vocalist and the subsequent actions of their guitarist. Burzum, the solo project by Varg Vikernes, became notorious for using Norwegian lyrics, his association with church burnings, and the murder of Mayhem’s guitarist. Other Norwegian bands, like Immortal, Dark Throne, Satyricon, Gorgoroth and Emperor also contributed to the scene, with some members involved in criminal activities. Swedish band Marduk also gained prominence for its intense style and Satanic themes.
This period also saw the establishment of extreme metal in Sweden and the emergence of death metal and grindcore. These subgenres explored themes of violence, war and the occult, often with graphic lyrics.
The “third wave” of black metal, starting in the mid-1990s and continuing to the present, is characterised by geographical and stylistic expansion. Bands like Cradle of Filth and Dimmu Borgir gained mainstream attention, albeit sometimes dividing the black metal community due to their more polished sound and theatrical elements. This wave saw increased experimentation and the incorporation of various influences, leading to diversification within the genre. The influence of Dimmu Borgir is specifically mentioned as significant for Afrikaans black metal bands, as it proved that singing in one’s native language did not limit the music’s reach.
The article discusses the use of Satanic imagery and themes in black metal. While some bands genuinely explored Satanism, most used it as a symbol of rebellion against Christian society or as a calculated tactic for shock value. The Norwegian documentary Satan Rir Media (“Satan rides the media”) suggests that the media often exaggerated the Satanic element, portraying what was essentially youthful criminality as Satanism.
The article then shifts to the development of Afrikaans black metal. It notes the rise of various Afrikaans music genres in recent decades, including rap, industrial music, extreme metal and punk rock. However, black metal remains largely unknown within the Afrikaans music scene. Despite this, several Afrikaans black metal bands have emerged, incorporating the themes and aesthetics of international black metal while placing the Chaotic element within an Afrikaans context.
Specifically, the article mentions Afrikaans black metal bands such as Vrotgot, Nahul, Volkmag, Krygsmag, Ominous Reflections, Droom Alone, Swartwoud, Scathanna Wept, Stille Beendere, Onheilig, VleesAnker, Slagbees, Somerreën and Spectral Bastion. It emphasizes that these bands do not simply imitate foreign black metal, but rather adapt the genre within their own context, resulting in unique interpretations and expressions. Nahul, Slagbees and Scathanna Wept are specifically cited as drawing inspiration from Dimmu Borgir for using a native language.
The article mentions that before the 2000s, none of the early South African black metal groups recorded songs in Afrikaans. It was only in the early 2000s that Afrikaans black metal truly began to emerge.
The article concludes by highlighting the importance of examining these groups’ lyrics and themes in relation to the international black metal scene. The article sets the stage for further research into this niche but vibrant subculture within Afrikaans music, emphasising that the incorporation of local context leads to unique artistic expressions.
Keywords: Afrikaans music; black metal; Chaotic; extreme metal; heavy metal; lyrics; music scene; popular music; Satanism
1. Inleiding
Afrikaanse musiek het in onlangse dekades ’n oplewing beleef, nie alleen ten opsigte van die hoeveelheid musiek wat opgeneem en versprei is nie, maar ook die verskeidenheid (Steyn 2014:513–5). In hierdie tyd is die eerste Afrikaanse kletsrym- (Klopper 2017), industriële (Senekal 2025), ekstreme-metaal- (Senekal 2011) en punkmusiek (Klopper 2008, 2009) opgeneem.1 Prophets of Da City was in die vroeë 1990’s die eerste groep wat kletsrym in Afrikaans gebruik het (Klopper 2017:54); Battery 9 was die eerste groep wat teen 1994 industriële musiek in Afrikaans opgeneem het (Senekal 2025); Voice of Destruction (V.O.D.) was die eerste groep wat teen 1996 ekstreme metaal in Afrikaans begin opneem het (Senekal 2011:83), en Fokofpolisiekar was teen 2003 die eerste punkgroep in Afrikaans (Klopper 2009:14). Daar het met ander woorde in onlangse dekades ’n groot verskeidenheid binne die Afrikaanse musiektoneel ontstaan met nuwe musiekstyle wat nie voorheen aanwesig was nie. Hierdie verskeidenheid het ook swartmetaal ingesluit, alhoewel die onbekendheid van die genre beteken dat swartmetaalgroepe nie gewoonlik figureer in oorsigte oor die ontwikkeling van Afrikaanse musiek, byvoorbeeld soos deur Van der Merwe (2019), nie.
Swartmetaal is ’n subgenre van ekstreme metaal, wat op sy beurt ’n subgenre van swaarmetaal is. Binne ekstreme metaal is swartmetaal “the most radically transgressive space” (Kahn-Harris 2007:41), waar die mees omstrede klanke, beelde en lirieke gebruik word. Kahn-Harris gebruik die subtitel Music and culture on the edge vir sy boek oor ekstreme metaal (2007), en vir geen subgenre van ekstreme metaal is hierdie beskrywing meer toepaslik nie. Swartmetaal verwerp alles wat in die samelewing aanvaarbaar is, en is daarom ook een van die kleinste en onbekendste musiekgenres. Afrikaanse ekstreme metaal is reeds voorheen bestudeer (Senekal 2011), maar omdat so min Afrikaanse ekstreme metaal op daardie stadium tot die subgenre van swartmetaal behoort het, is daar min oor Afrikaanse swartmetaal geskryf.
Die doel van hierdie artikel is om ’n oorsig te bied oor Afrikaanse swartmetaal soos dit tans daar uitsien. Die artikel begin met ’n agtergrond en kontekstualisering van swartmetaal as ’n subgenre van ekstreme metaal en swaarmetaal, en gaan dan voort na die ontwikkeling van Afrikaanse swartmetaal. Groepe en hulle lirieke word bespreek en in verband gebring met swartmetaal in die buiteland. Die artikel sluit af met slotopmerkings en voorstelle vir verdere navorsing.
2. Agtergrond
2.1 ’n Omskrywing van swartmetaal as subgenre van ekstreme metaal
Eerstens verskaf Tabel 1 ’n termlys vir genres, in die oorspronklike Engels en hul vertalings in Afrikaans.
Tabel 1. ’n Woordelys van terme vir genres
| Engelse term | Afrikaanse term |
| black metal | swartmetaal |
| death metal | doodsmetaal |
| doom metal | doemmetaal |
| extreme metal | ekstreme metaal |
| gothic metal | gotiese metaal |
| Hardcore punk | aggressiewe punk |
| heavy metal | swaarmetaal |
| power metal | kragmetaal |
| symphonic death metal | simfoniese doodsmetaal |
| thrash metal | rukmetaal |
| white metal | witmetaal |
Swaarmetaal is ’n sambreelterm vir ’n groot verskeidenheid musiekstyle wat sedert die 1960’s ontstaan het. Swaarmetaalgroepe se klank word meestal gekenmerk deur vinnige tempo’s, ’n vervormde (“distorted”) kitaarklank, ’n kragtige ritmeseksie, en vokale (meestal manlik) wat dikwels geskree, gekras of uitgegil word, eerder as om tradisioneel gesing te word (Brunner 2006:2). Wallach, Berger en Green (2011a:4) beskryf hierdie musiekstyl soos volg:
The term heavy metal has come to denote a cluster of rock music styles that emphasize loud, distorted guitars; prominent and aggressive drums; emotionally extreme singing techniques; and musical complexity and esotericism (unlike punk, for instance).
Die versterkte elektriese baskitaar is ook ’n bepalende element van die genre en is noodsaaklik vir die skep van swaarmetaal se kenmerkende “swaar” klank deur die bastrom se lae frekwensies te versterk en hoofsaaklik as ’n ritme-instrument te dien (Weinstein 2000:24). Tegnologiese vooruitgang in die 1960’s het hierdie versterkte klank moontlik gemaak (Weinstein 2000:24), wat beteken dat die ontwikkeling van swaarmetaal ook direk gekoppel is aan tegnologiese vooruitgang.
Binne hierdie sambreelterm van swaarmetaal is ekstreme metaal, wat omskryf kan word as ’n diverse en musikaal radikale stel obskure metaal-genres wat ontwikkel het op die rand van die swaarmetaalkultuur, gekenmerk deur die artistieke lewenskragtigheid, dinamiese aard, en dikwels problematiese aspekte daarvan (Kahn-Harris 2007:2, 5). Dit is ’n musiektoneel wat op die rand (en gereeld aan die ander kant) van die aanvaarbare funksioneer en deurgaans samelewingsnorme uitdaag, wat gereeld as skokkend deur buitestanders ervaar word (Kahn-Harris 2007:26), hetsy as gevolg van die klanke self, die inhoud van lirieke (bv. Satanisties), of beeldmateriaal op albumomslae (bv. Sataniese simbole).2
Ekstreme metaal is op sy beurt ook ’n sambreelterm wat kollektief verwys na doods- (“death”), doem- (“doom”), swart- (“black”) en ruk- (“thrash”) metaal, asook vertakkings hiervan (Senekal 2011:80). Ekstreme metaal funksioneer meestal ondergronds en ontvang nie gewoonlik lugtyd op kommersiële radiostasies nie.
Binne ekstreme metaal is swartmetaal die mees normdeurbrekende subgenre (Kahn-Harris 2007:41). De Klepper, Molpheta, Pille en Saouma (2007:33) beskryf swartmetaal soos volg:
Black metal can be typified by its screeching vocals, fast guitars with tremolo picking and double bass, blastbeat, and D-beat drumming. Black metal musicians use normally tuned guitars (stark contrast to Death Metal which typically uses down-tuned guitars). Furthermore electronic keyboards are occasionally used. The harpsichord, violin, organ, and choir settings are most common, which gives the music an orchestral feel or a cathedral-like setting. They are generally placed under the symphonic black metal label. Also a distinct rasped vocal style should be mentioned; a very guttural rasp, which is reminiscent of a torture. (Kyk ook Patterson 2014:180.)
Wat die inhoud van lirieke betref, voer Weinstein (2000:35) aan dat die hooftemas van die oorkoepelende swaarmetaalgenre in twee groepe verdeel kan word: Dionisies en Chaoties. Dionisiese ervaring vier die lewenskragte deur verskeie vorme van ekstase, vergestalt in die driemanskap van seks, dwelms en rock ’n roll, terwyl die Chaotiese alles behels wat die orde en hegemonie van die alledaagse lewe uitdaag, soos monsters, die onderwêreld en hel, die groteske en skrikwekkende, rampe, chaos, slagting, onreg, dood en rebellie. Die temas van ekstreme-metaal-lirieke is een punt waar ekstreme metaal sigself van die oorkoepelende swaarmetaalgenre onderskei, veral in die vooropstelling van die Chaotiese en onderbeklemtoning van die Dionisiese. Volgens Kahn-Harris (2007) ondersoek ekstreme-metaal-lirieke gewoonlik temas van geweld, oorlog en die okkulte, ’n fassinasie met dood, moord en verminking, wat dikwels die vernietiging van die liggaam insluit, wat soms fantasieë van beheer en eksplisiete geweld insluit, en ’n volgehoue betrokkenheid by Satanisme en die okkulte, veral binne swartmetaal. Binne die ekstreme-metaal-toneel word seksualiteit óf geïgnoreer óf oorkom met ’n oordrewe manlikheid (Kahn-Harris 2007:137; sien ook Weinstein 2000:50). Terwyl swaarmetaalmusiek oor die algemeen ’n assosiasie met alkohol- en dwelmmisbruik het, vertoon die ekstreme-metaal-toneel ’n meer genuanseerde verhouding met alkohol en dwelms, met beide diegene wat hulle verlustig in selfvernietigende oordaad en diegene wat onthouding of matigheid beoefen, met swartmetaal wat veral selfdissipline omarm (Kahn-Harris 2007:43–4; kyk ook Weinstein 2000:50 en Patterson 2014:192). Die klem val in ekstreme metaal met ander woorde op die Chaotiese (Weinstein 2000:50), wat op die spits gedryf word in swartmetaal.
2.2 Die ontwikkeling van swartmetaal
2.2.1 Die ontstaan van swaarmetaal
Swaarmetaal ontwikkel uit ’n verskeidenheid musiekgenres, insluitend klassieke musiek, blues, jazz en rock ’n roll. Swaarmetaal se pioniersfase was gedurende die laat 1960’s en vroeë 1970’s in Brittanje en die VSA, met groepe soos Led Zeppelin, Black Sabbath en Deep Purple (Weinstein 2000:14; Kahn-Harris 2007:109; Patterson 2014:7), asook Black Widow en Coven (Moynihan en Søderlind 2003:2–8), Blue Cheer (Weinstein 2000:15) en Jimi Hendrix (De Klepper e.a. 2007:10). Weinstein (2000:14) skryf dat óf Led Zeppelin óf Black Sabbath gewoonlik gesien word as die eerste swaarmetaalgroep. Beide groepe het ’n unieke klank geskep deur hul kombinasie van vervormde elektriese kitare en kragtige ritmes. Die term heavy metal self kom vermoedelik van ’n 1968-liedjie deur Steppenwolf, “Born to be wild” (1968), waarin die woorde “I like smoke and lightnin’ / heavy metal thunder / racin’ with the wind / and the feelin’ that I’m under” voorkom (Weinstein 2000:19).
Benewens nuwe musiekstyle het hierdie groepe nuwe temas ontgin. Led Zeppelin se albums bevat dikwels simboliek van Aleister Crowley se Thelemiese godsdiens, saam met elemente van Angel-Saksiese en Noorse geloofstradisies, volksmusiek en temas van J.R.R. Tolkien se mitologiese geskrifte (Moynihan en Søderlind 2003:4; Granholm 2011:526). Moynihan en Søderlind (2003:4) skryf: “If there is any early Rock band [...] exemplifying the basic themes that would later preoccupy many of the Black Metal bands in the ’90s, it is Led Zeppelin.” Led Zeppelin was nie alleen hierin nie, en Black Sabbath, Black Widow en Coven het ook gereeld oor die okkulte gesing (Moynihan en Søderlind 2003:4–7; Granholm 2011:526; Patterson 2014:8). Coven se album Witchcraft destroys minds & reaps souls (1969) het byvoorbeeld ’n 13 minuut lange Satanistiese mis ingesluit, alhoewel hulle styl heelwat ligter was as ander pioniersgroepe s’n (Moynihan en Søderlind 2003:6). Coven was ook pioniers van die duiwelshoringhandgebaar (🤘🏻) wat sinoniem met swaarmetaal sou word (Patterson 2014:8). Ander vroeë groepe wat genoem kan word, is Comus en Pentagram.
Geen Suid-Afrikaanse swaarmetaalgroepe word voor die middel-1980’s gestig nie (Encyclopaedia Metallum 2025). Daar was Engelse Suid-Afrikaanse rockgroepe, byvoorbeeld Freedom’s Children, Radio Rats, Rabbitt en later Corporal Punishment (Klopper 2009:14; Banchs 2022:96), maar niks wat as swaarmetaal beskryf kan word nie. Nietemin het elke musikale ontwikkeling wat in die VSA en Brittanje plaasgevind het, ook sy weg na Suid-Afrika gevind (Banchs 2022:93), wat beteken dat Suid-Afrikaanse gehore nie afgesonder was van hierdie ontwikkelings nie.
2.2.2 Die “eerste golf” van swartmetaal
Na die pioniersfase van die laat 1960’s en vroeë 1970’s volg ’n uitbreidingsfase in swaarmetaal tydens die laat 1970’s en vroeë 1980’s. Anders as swaarmetaalgroepe in die vroeë 1970’s, wat heelwat inspirasie vanaf rhythm and blues geneem het, is dié wat in die laat 1970’s verskyn het hoofsaaklik deur swaarmetaal self beïnvloed (Kahn-Harris 2007:2).
In Engeland was die “new wave of British heavy metal” (NWOBHM) – met groepe soos Saxon, Def Leppard, Judas Priest en Iron Maiden – veral belangrik in die vestiging van ’n nuwe fase van swaarmetaal (Weinstein 2000:44; Moynihan en Søderlind 2003:24; De Klepper e.a. 2007:10; Kahn-Harris 2007:2). Hierdie nuwe golf het nie ’n spesifieke musikale of liriese styl gehad nie, met elke groep wat eerder uniek was; hulle het egter ’n algemene swaarmetaalgevoel, jeugdigheid en ’n sterk fokus op visuele elemente gedeel (Weinstein 2000:44). Die NWOBHM het die ritme versnel, die klank verhard en vinniger gemaak, maar terselfdertyd musiek gemaak wat melodies kon wees (bv. deur klassieke musiek in te voer) of wat klanke van punkmusiek oorgeneem het (De Klepper e.a. 2007:19).
In die 1970’s was daar geen duidelike skeiding tussen swaarmetaalstyle in konsertoptredes en aanhangers binne die swaarmetaaltoneel nie, maar dit het gedurende die 1980’s verander (Weinstein 2000:45). Die fragmentasie van die 1980’s het ’n liriese én musikale skeiding behels: Aan die een kant was ’n melodiese versameling groepe wat die Dionisiese erfenis oorgeneem het, terwyl ’n meer ritmiese versameling groepe rondom die erfenis van Chaos ontstaan het (Weinstein 2000:45). Groepe soos Mötley Crüe, Poison, Van Halen en Def Leppard het die Dionisiese erfenis oorgeneem en het ligte metaal (“lite metal”) geword, terwyl ’n ondergrondse stroming ontstaan het wat die Chaotiese erfenis oorgeneem het, waaronder die Amerikaanse rukmetaalgroepe Metallica, Anthrax, Pantera en Slayer (Weinstein 2000:45; Kahn-Harris 2007:2). Hierdie ondergrondse stroom ontwikkel in waarna verwys word as sowel ekstreme metaal as vertakkings. Hierdie ontwikkeling word ook die omstrede stroom binne swaarmetaal.
Onder die rukmetaalgroepe is dit veral Slayer wat aanvanklik Sataniese beelde gebruik het, byvoorbeeld op hul debuutalbum, Show no mercy (1983). Slayer het gedurende die 1980’s wegbeweeg van simplistiese Sataniese temas om ’n breër belangstelling in geweld te verken deur onderwerpe soos reeksmoordenaars, volksmoord, godsdienstige vervolging en apokaliptiese onderwerpe in hul lirieke in te sluit (Moynihan en Søderlind 2003:29). Sepultura het ook Sataniese beelde op hul eerste opnames ingesluit, byvoorbeeld op hul eerste vollengte album, Morbid visions (1986). Ander rukmetaalgroepe gebruik minder Sataniese beelde as Slayer, maar Metallica verwerk byvoorbeeld Diamond Head se “Am I evil” (Lightning to the nations 1980) vir hulle enkelsnit Creeping death (1984), wat handel oor die verbranding van ’n heks en haar kind se daaropvolgende vergelding.
Geïnspireer deur Led Zeppelin, Black Sabbath en Deep Purple (Moynihan en Søderlind 2003:11), het die Britse groep Venom se 1981-vrystelling, Welcome to hell (1981), en hul daaropvolgende 1982-album, Black metal (1982), ’n deurslaggewende invloed vir ’n nuwe golf van swaarmetaalgroepe geword (Kahn-Harris 2007:2). Venom se lirieke was meer Satanies en godslasterlik as vorige groepe s’n, en deur hul 1982-album het hulle ook die naam vir ’n nuwe vertakking van ekstreme metaal gegee: swartmetaal (Moynihan en Søderlind 2003:12; Granholm 2011:526; Patterson 2014:20; Dyck 2016:57). Swartmetaal is sedertdien bekend as ’n musiekstyl wat ’n antichristelike houding inneem, Satanisme verkondig, en soms Nazisme en Witmag-ideologie verkondig (De Klepper e.a. 2007:33; Dyck 2016:57) (kyk verderaan). Venom begin ook ’n tradisie van laekwaliteit-, amateuragtige opnames, wat ’n punt van trots sou word in die latere swartmetaaltoneel (Patterson 2014:19). Oor die latere swartmetaaltoneel skryf Patterson (2014:420):
While many early bands utilized a basic aesthetic, poor productions, and limited releases – often on cassette format – due to a lack of resources (upgrading as soon as possible) many now employ such elements intentionally (right down to the use of cassette), despite design and recording software being far more widely available and CD and vinyl releases being much more affordable.
Een van die groepe wat direk deur Venom geïnspireer is – tesame met invloede soos Black Sabbath, Deep Purple, Coven en Aleister Crowley – was Denemarke se Mercyful Fate, wat in 1982 met die EP Mercyful fate (1982) debuteer (Moynihan en Søderlind 2003:12; Dyck 2016:57). Soos Venom gebruik Mercyful Fate Sataniese beelde, alhoewel hulle ernstiger met sulke temas omgegaan het. Hul voorsanger, King Diamond, “represents one of the only [sic] performers of the ‘80s Satanic Metal who was more than just a poseur using a devilish image for shock value” (Moynihan en Søderlind 2003:15–6). King Diamond, moontlik die eerste metaalkunstenaar wat homself as ’n Satanis verklaar het, en spesifiek ’n volgeling van die stigter van die Kerk van Satan, Anton LaVey, het soveel berugtheid bereik dat LaVey hom persoonlik vir ’n besoek genooi het (Patterson 2014:28).
Nog ’n belangrike groep in die ontwikkeling van swartmetaal was die Switserse Hellhammer (Granholm 2011:527; Patterson 2014:47; Hoad 2021:98). Soos Mercyful Fate en Bathory is Hellhammer ook deur Venom beïnvloed (Patterson 2014:48). Hellhammer stel drie demo’s in 1983 vry, naamlik Death fiend (1983a), Satanic rites (1983b) en Triumph of death (1983c). Hellhammer ontbind in 1984 en word kort daarna herstig as Celtic Frost (Patterson 2014:57). Celtic Frost sou op sy eie ’n groot invloed op swartmetaal uitoefen, onder andere deur orkestrasie en vroulike vokale in swartmetaal in te bring op ’n tydstip toe beide grootliks ongehoord was (Patterson 2014:66).
’n Ander groep wat ook direk deur Venom geïnspireer is, is die Sweedse Bathory, wat in 1984 met Bathory (1984) debuteer. Saam met Venom, Mercyful Fate en Hellhammer / Celtic Frost staan Bathory bekend as die stigters van swartmetaal of die sogenaamde eerste golf van swartmetaal (Moynihan en Søderlind 2003:12; De Klepper e.a. 2007:33; Granholm 2011:526; Hagen 2011:182; Patterson 2014:34; Dyck 2016:57; Hoad 2021:98). Patterson (2014:34) voer aan: “Of all the bands in the first wave it was Bathory who had the biggest part to play in creating a template both musically and aesthetically.” Bathory se trilogie, Blood fire death (1988), Hammerheart (1990) en Twilight of the gods (1991) was op hul beurt deurslaggewend vir die ontstaan van Vikingmetaal (Moynihan en Søderlind 2003:19; De Klepper e.a. 2007:38; Patterson 2014:44; Von Schnurbein 2016:337). Bathory skep ook ’n ander voorbeeld binne die swartmetaaltoneel deur nooit in die openbaar op te tree nie en eerder op musiekopnames te steun (Moynihan en Søderlind 2003:16) – ’n voorbeeld wat deur Burzum (kyk verderaan) gevolg is en belangrik is in ’n Afrikaanse konteks.
In Duitsland het Sodom, Kreator (voorheen genoem Tormentor) en Destruction ook ’n aandeel gehad in die ontwikkeling van swartmetaal (Patterson 2014:73). Al drie groepe sou byvoorbeeld ’n invloed op die latere Mayhem uitoefen (Patterson 2014:78). Patterson (2014:83–118) noem ook Brasilië se Sarcófago, Kanada se Blasphemy, Switserland se Samael, Griekeland se Rotting Christ en Hongarye se Tormentor as invloedryke groepe tydens die 1980’s.
Doodsmetaal en grindcore ontstaan ook gedurende die 1980’s, met lirieke wat sentreer rondom geweld, oorlog en die okkulte (Kahn-Harris 2007:3). In die VSA was daar Possessed, wat debuteer met Seven churches (1985), asook Death, wat debuteer met Scream bloody gore (1987). Rondom dieselfde tyd ontwikkel die verwante grindcore, waarvan die Britse groep Napalm Death, wat debuteer met Scum (1987), een van die eerstes was (Kahn-Harris 2007:3).
Teenoor swartmetaal ontstaan witmetaal ook gedurende die 1980’s, beter bekend as Christelike metaal (Weinstein 2000:53). Witmetaal is die teenpool van swartmetaal: Waar swartmetaal oor Satan, die dood, en alles boos handel, handel witmetaal oor alles Christelik en goed; waar swartmetaal ten opsigte van styl deel is van ekstreme metaal, is witmetaal deel van ligte metaal. Een van die bekendste witmetaalgroepe in die 1980’s was Stryper (Weinstein 2000:54), wat in 1984 debuteer met die EP The yellow and black attack (1984).
Dit is ook tydens die 1980’s dat die eerste Suid-Afrikaanse swaarmetaalgroepe ontstaan. Banchs (2022:96) skryf dat Black Rose (1981 gestig) die eerste Suid-Afrikaanse swaarmetaalgroep was, gevolg deur Lynx, Pentagon, Razor, Vigilante, Nitro, Tyrant en Warlord. Van hierdie groepe is slegs Black Rose opgeneem in Encyclopaedia Metallum (2025), ’n baie streng ensiklopedie van ekstreme metaal wat byvoorbeeld nie harde rock insluit nie (Encyclopaedia Metallum 2024).3 Suid-Afrikaanse swaarmetaalgroepe uit die 1980’s is volgens Encyclopaedia Metallum (2025) Voice of Destruction (V.O.D.), Immortal Slave, Ragnärok, Aragorn, Raven Wolf en Urban Assault. Black Rose en Aragorn word as swaarmetaal gesien, V.O.D. aanvanklik as aggressiewe punk (“hardcore punk”) en later as doodsmetaal met doem-/ruk-elemente, Immortal Slave as gotiese metaal, Ragnärok en Urban Assault as rukmetaal, en Raven Wolf as kragmetaal (“power metal”) en later Paganistiese metaal (Encyclopaedia Metallum 2025). Al hierdie groepe sing op hierdie stadium slegs in Engels. Aangesien swartmetaal gedurende die 1980’s nog in ’n pioniersfase was, is dit begryplik dat daar in hierdie dekade geen swartmetaalgroepe in Suid-Afrika was nie.
2.2.3 Die “tweede golf” van swartmetaal
Ekstreme metaal word gedurende die 1990’s gevestig. Sweedse doodsmetaalgroepe, byvoorbeeld Entombed, Hypocrisy, Dismember en Unleashed, word in die laat 1980’s gestig en stel hul eerste albums in die vroeë 1990’s vry. Baie Skandinawiese swaarmetaalgroepe word verbind met die melodiese-doodsmetaal-beweging, wat die Skandinawiese swaarmetaalklank onderskei van ander doodsmetaalstyle en wat die grootste sukses van doodsmetaal buite Amerika verteenwoordig (De Klepper e.a. 2007:29). Unleashed se temas wyk af van die Amerikaanse doodsmetaalgroepe s’n, en sedert hul eerste album, Where no life dwells (1991), gebruik hulle gereeld Vikingmateriaal (Moynihan en Søderlind 2003:30; De Klepper e.a. 2007:30). ’n Ander belangrike groep in hierdie opsig is Amon Amarth, wat sedert hul demo, The arrival of the fimbul winter (1994), ’n Vikingmilieu deur middel van hul lirieke en visuele style binne doodsmetaal herskep (De Klepper e.a. 2007:31). Die doodsmetaalbeweging oorvleuel met swartmetaal en die twee subgenres beïnvloed mekaar, veral deur ’n groep soos Marduk (kyk verderaan).
Die eerste golf van swartmetaal het teen die einde van die 1980’s geleidelik in die tweede golf oorgegaan, en dit was bloot die skielike sukses, berugtheid en toename van groepe in die vroeë 1990’s wat die voorkoms van ’n heel nuwe toneel geskep het (Patterson 2014:73). Een van die belangrikste Noorweegse swartmetaalgroepe van die tweede golf wat deur Bathory, Venom en Hellhammer beïnvloed is, is Mayhem (gestig in 1984) (Moynihan en Søderlind 2003:45). Hul eerste opname was die demo, Pure fucking Armageddon (1986), maar hul eerste vollengte album, De mysteriis dom sathanas (1994), is vertraag deur die selfmoord van hul hoofsanger, Per Yngve “Dead” Ohlin, in 1991 (Kahn-Harris 2007:77). Ohlin se selfmoord met ’n haelgeweer gaan gepaard met grusame verhale van hoe Mayhem se kitaarspeler, Øystein “Euronymous” Aarseth, eers foto’s geneem het voor hy die polisie geskakel het; hy het hangertjies van dele van Ohlin se skedel gemaak en daar is gerugte dat hy ook dele van Ohlin se brein geëet het (Moynihan en Søderlind 2003:59; Patterson 2014:177; Dyck 2016:59). In 2012 het Morgan Steinmeyer Håkansson van die Sweedse swartmetaalgroep Marduk aan die pers erken dat hy steeds stukke van Ohlin se skedel en brein besit, aandenkings wat Aarseth ook aan verskeie ander swartmetaalmusikante gestuur het as ’n oënskynlike teken van respek (Dyck 2016:59). Mayhem kultiveer doelbewus ’n opvatting dat hulle “boos” is, en gebruik byvoorbeeld varkkoppe op pale by ’n optrede in 1990, asook baie Sataniese simbole (Moynihan en Søderlind 2003:53; Patterson 2014:172). Aarseth het ook die lykverf- (“corpsepaint”-) styl, wat deur kunstenaars soos King Diamond, die Misfits van Glen Danzig, die Switserse groep Celtic Frost, en selfs vroeër deur groepe soos KISS en Alice Cooper gedurende die 1970’s se vertonings gebruik is, teen die laat 1980’s begin dra, en Mayhem het die gebruik gewild gemaak in swartmetaal (Moynihan en Søderlind 2003:36, Patterson 2014:27, 172). Patterson (2014:27) skryf dat hierdie gebruik terug dateer na Arthur Brown rondom 1968.
In 1991 stig Varg (doopnaam Kristian) “Grishnackh” Vikernes sy soloprojek, Burzum, wat in 1992 debuteer met Burzum (1992). Burzum is een van die eerste swartmetaalgroepe wat Noorweegse lirieke op hul albums gebruik, byvoorbeeld op Det som engang var (1993) en Hvis lyset tar oss (1994), en later sou Dimmu Borgir hul voorbeeld volg op hul albums For all tid (1995) en Stormblåst (1996), terwyl Enslaved Oudnoorse lirieke op Vikingligr veldi (1994) gebruik het. Ander groepe wat lirieke in hul moedertaal opgeneem het in hierdie tyd, sluit in Satyricon, Ulver, Darkthrone, Demonic, Gorgoroth en Troll. Kahn-Harris (2007:99) skryf dat ’n toenemende neiging sedert die vroeë 1990’s ontstaan het om ’n plaaslike karakter aan ekstreme-metaal-klanke te gee, waar kunstenaars, veral in swartmetaalgroepe, toenemend in nie-Engelse tale sing en soms volksmusiek in hul klank integreer, en in hierdie opsig is Burzum dus ’n toonaangewende groep.
Burzum is ook die Noorweegse groep wat die meeste in die nuus is vir omstrede gebeurtenisse. In 1991 het ’n bekende figuur in die Israeliese swaarmetaaltoneel glo ’n briefbom ontvang wat vermoedelik deur Vikernes gestuur is (Kahn-Harris 2007:77). Vikernes is ook verbind met die afbrand van kerke in Noorweë – 50 is tussen 1992 en 1998 aan die brand gesteek (Moynihan en Søderlind 2003:79; Kahn-Harris 2007:45; Granholm 2011:529). Een van die kerke was die 12de-eeuse Fantoft-staafkerk in Bergen, wat op 6 Junie 1992 om 06:00 afgebrand het, ’n tydstip wat volgens Vikernes simbolies was: Dit herroep beide die Satanistiese “666” en die eerste Viking-aanval op Engelse grond by die Lindisfarne-klooster op 6 Junie 793 nC (Dyck 2016:60). Vikernes is skuldig bevind aan die afbrand van drie kerke, naamlik die Holmenkollen-kapel in Oslo, die Skjold-kerk in Vindafjord en die Åsane-kerk in Bergen (Moynihan en Søderlind 2003:89; Patterson 2014:211; Dyck 2016:60). In 1993 vermoor Vikernes vir Øystein “Euronymous” Aarseth van Mayhem, waarvoor hy 21 jaar gevangenisstraf opgelê word (Kahn-Harris 2007:45; Hagen 2011:181; Patterson 2014:211; Dyck 2016:60). Hierna het die afbrand van kerke toegeneem soos mense Vikernes probeer namaak het (Grude 1998). Vanaf 1993 sou Vikernes sy Satanistiese sienings met inheemse Noorse geloofstradisies vervang, en daarvoor stig hy die Norsk Hedensk Front (Moynihan en Søderlind 2003:152, 166; Gunstad 2015:55; Von Schnurbein 2016:337). Hy het sy geloofsienings onder andere uiteengesit in Vargsmål (1997) en Germansk mytologi og verdensanskuelse (2000), en het ook ’n outobiografie geskryf (2025). Rondom 1993 het hy ook pro-Nazi en verregse sienings begin huldig (Moynihan en Søderlind 2003:67, 146).
Mayhem en Burzum word gesien as die twee sentrale Noorweegse groepe van die tweede golf van swartmetaal. Ander Noorweegse groepe van die tweede golf sluit in Immortal, Dark Throne, Satyricon, Gorgoroth en Emperor (Moynihan en Søderlind 2003:38; Granholm 2011:526). Alhoewel Mayhem en Burzum die bekendste groepe was wat by kriminele aktiwiteite betrokke was, is Emperor se Bård “Faust” Eithun later skuldig bevind aan die moord op ’n homoseksuele man in 1992 (Moynihan en Søderlind 2003:94; Kahn-Harris 2007:45; Hagen 2011:181; Patterson 2014:211), terwyl Samoth (ook van Emperor) en Jørn Tunsberg (van Hades) ook gevangenisstraf opgelê is vir die afbrand van kerke (Patterson 2014:211).
In Duitsland het drie lede van die swartmetaalgroep Absurd in 1993 ’n jongman vermoor, waarvoor hulle ook tronkstraf opgelê is (Moynihan en Søderlind 2003:242–8; Dyck 2016:61). Hulle was na bewering ook betrokke by Satanisme (Moynihan en Søderlind 2003:243). In Pole is lede van die swartmetaalgroep Thunderbolt ook skuldig bevind aan brandstigting by kerke (Patterson 2014:482).
Swede se Marduk verdien spesiale vermelding, aangesien hierdie groep, met hul eerste vollengte album, Dark endless (1992), legendaries binne die swartmetaaltoneel is. Ook geïnspireer deur sowel Hellhammer / Celtic Frost en Bathory as Mayhem, het Marduk ook doodsmetaal-elemente onder invloed van Deicide en Morbid Angel ingebring (Patterson 2014:442–3). Marduk het veranderinge in die swartmetaaltoneel oorleef en is steeds aktief.
Morgan Steinmeyer Håkansson van Marduk het ook Abruptum begin, wat pioniers sou word van atmosferiese swartmetaal (Patterson 2014:541) en saam met Dissection (Patterson 2014:455–61) die kern van die Sweedse swartmetaaltoneel tydens die vroeë 1990’s gevorm het (Moynihan en Søderlind 2003:268). Ander belangrike Sweedse swartmetaalgroepe in hierdie tyd sluit in Dark Funeral, Lord Belial en The Black. VON, rondom 1987 gestig, was die eerste swartmetaalgroep in Noord-Amerika (Patterson 2014: 129) (sien ook Patterson 2014 vir ander swartmetaalgroepe tydens die vroeë 1990’s).
2.2.4 Die “derde golf” van swartmetaal
Die derde golf van swartmetaal, wat in die middel-1990’s ontstaan het en tot vandag toe voortduur, word gekenmerk deur ’n aansienlike uitbreiding van die genre, beide geografies en stilisties. Hierdie golf het swartmetaal na verskillende streke versprei, wat gelei het tot verhoogde eksperimentering en die inkorporering van verskeie invloede. Volgens Granholm (2011:530) het die bevordering van “Sataniese swartmetaal” deur die media (kyk verderaan) gelei tot die vorming van sulke groepe, en die derde golf van swartmetaal, wêreldwyd, is meer geneig om Sataniese temas te gebruik as groepe soos Mayhem en Burzum. Granholm (2011:530) noem Cradle of Filth in Brittanje, wie se eerste vollengte album, The principle of evil made flesh (1994) was, asook Dimmu Borgir in Noorweë, met hul eerste album, For all tid (1995). Cradle of Filth het inspirasie geneem uit ’n groot verskeidenheid groepe, insluitend Venom, Mercyful Fate en Bathory, maar ook Dark Throne en Burzum, asook ander genres (Patterson 2014:390–5). Dimmu Borgir het ook ’n eklektiese benadering gevolg en invloede soos Celtic Frost en Enslaved met klassieke orkeste gekombineer (Patterson 2014:403–15). In die proses het Dimmu Borgir volgens Patterson (2014:415) wegbeweeg van swartmetaal, alhoewel hulle steeds as deel van die genre gereken word, terwyl Cradle of Filth soms nie as deel van die genre gesien word nie. Oor die algemeen het swartmetaal sedert die middel-1990’s gediversifiseer en wêreldwyd uitgebrei (Patterson 2014:441 e.v.). Dit is ook belangrik dat Luhan du Plessis van die Afrikaanse swartmetaalgroepe Nahul en Slagbees (kyk verder aan) spesifiek Dimmu Borgir uitsonder in sy besluit om swartmetaal in Afrikaans te sing, want Dimmu Borgir het bewys dat swartmetaal in ’n mens se moedertaal nie die musiek se reikwydte inperk nie (Du Plessis 2025). Dimmu Borgir het ook ’n invloed op ’n ander Afrikaanse swartmetaalgroep, Scathanna Wept, uitgeoefen (Botha 2025) (kyk verderaan).
Sommige segmente binne die ekstreme-metaal-toneel, en veral binne die swartmetaaltoneel, spreek ’n voorkeur uit vir hierdie genres se oorwegend wit demografiese profiel. By geleentheid het Mayhem se tromspeler, Axl “Hellhammer” Blomberg, omstredenheid veroorsaak toe hy aanvoer: “Black metal is for white people” (Moynihan en Søderlind 2003:305; Patterson 2014:477). Varg Vikernes merk in Vargsmål (1997) op dat rassisme nie “fremmedfrykt, eller hat, eller et mindreverdighetskompleks. Det er et tegn på åndelig sunnhet og kjærlighet til seg selv og sin egen rase!” (xenofobie, of haat, of ’n minderwaardigheidskompleks is nie. Dit is ’n teken van geestelike gesondheid en liefde vir jouself en jou eie ras!) (aangehaal in Gunstad 2015:36). Kunstenaars van groepe soos Mayhem en Dimmu Borgir het ook swastikas4 en/of rassistiese taal in onderhoude en korrespondensie gebruik (Patterson 2014:477). In 1995 sê Pantera se hoofsanger, Phil Anselmo, vir ’n skare in Montreal:
All you white kids out there, let me tell you something that no other motherfucking band, no other white band, in the world has any guts to say. I’m just saying right now, when you wake up in the motherfucking morning, and you look at yourself in the goddamn mirror, hey, have all the fucking pride in your heart man, have all the fucking pride in the world man. Because we are the great people and hey, you know what, maybe, just maybe, tonight is a white thing. (Aangehaal in Hoad 2021:1)
In uitsonderlike gevalle lei hierdie etnosentrisme tot Nasionaal-sosialistiese swartmetaal (National Socialist Black Metal of NSBM), wat in besonderhede beskryf word in Hochhauser (2011), Patterson (2014) en Dyck (2016). Sulke groepe verteenwoordig ’n nis binne swartmetaal, eerder as die kern van die swartmetaaltoneel (in die geval van Mayhem en Burzum vind politieke stellings eerder neerslag buite die musiek) (Patterson 2014:479). In die reël is swartmetaal nie polities nie (Patterson 2014:485). Daar is ook ’n teenstrydigheid wanneer verregse groepe swartmetaal as meer as net ’n vernietigende krag probeer bevorder, wat dikwels ideale van solidariteit aanbied wat te verdraagsaam is vir die swartmetaaltoneel se mensveragtende en samelewingvernietigende beginsels (Patterson 2014:489). Swartmetaal is kenmerkend mensveragtend (Kahn-Harris 2007:40) en NSBM se ideale bots met ander woorde met die wese van swartmetaal.
In Suid-Afrika word groepe soos Agro (rukmetaal), Brutal Awakening (swaarmetaal), DieVersion (doodsmetaal), Groinchurn (grindcore), SacriFist (simfoniese doodsmetaal) en TRYST (rukmetaal) gedurende die 1990’s gestig (Encyclopaedia Metallum 2025). Die eerste swartmetaalgroepe in Suid-Afrika word ook gedurende die 1990’s gestig, naamlik Retribution Denied (Johannesburg, 1991), Nocturnal Dominion (Bloemfontein, 1995), Stygian (Oos-Kaap, 1997), Mjöllnir (Pretoria, 1998), Wrath (Kaapstad, 1998), Crystal Dawn (Roodepoort, 1998), Funeral God (Pretoria, 1998) en Thy Soul Devoured (Kaapstad, 1999) (Encyclopaedia Metallum 2025). Nie een van hierdie swartmetaalgroepe het ’n liedjie in Afrikaans opgeneem nie, en dit sou eers in die vroeë 2000’s wees dat swartmetaal in Afrikaans ontstaan, soos later in hierdie artikel bespreek word. K.O.B.U.S.!, wat in 2000 gestig is, sou ook die eerste vollengte swaarmetaalalbum (Swaarmetaal 2007) opneem, maar hulle musiek word as swaarmetaal eerder as swartmetaal geklassifiseer.
2.3 Beelde van Satan en die gemeenskap se reaksie op ekstreme metaal
Verskeie groepe in die ekstrememetaal-toneel gebruik Sataniese temas en beelde, byvoorbeeld liedjies soos Bathory se “Satan my master” (Jubileum – Volume III, Bathory 1998),5 of Samael se “Into the pentagram” (Worship him, 1991). Kahn-Harris (2007:35) noem ooglopend Sataniese lirieke en albumkuns deur ’n groep soos Deicide, en hierby kan ’n mens veral Marduk byvoeg. Ook gewild in die ekstreme-metaal-toneel is die gebruik van helname (“infernal names”) – ’n lys van figure uit verskeie mitologieë en gelowe, bedoel vir gebruik in Satanistiese rituele – soos beskryf deur Anton LaVey in The Satanic Bible (1969:145–6). Twee lede van Venom, Mantas en Abaddon, het byvoorbeeld hul name uit The Satanic Bible (1969:145–6) geneem (Patterson 2014:16), wat van die eerste gebruike van helname in ekstreme metaal was. Euronymous, die bynaam van Øystein Aarseth van Mayhem, is ook een van LaVey se helname, asook Marduk (LaVey 1969:145). Daar moet egter in gedagte gehou word dat hierdie helname uit verskeie mitologieë geneem is en dit kan moeilik wees om te bepaal of groepe name uit die oorspronklike mitologieë of uit The Satanic Bible (1969:145–6) geneem het.
Omdat swartmetaal mensveragtend is en veral in die Weste aangetref word, gebruik swartmetaalgroepe Satan as ’n afstootlike simbool van rebellie teen ’n oorwegend Christelike samelewing, “shorthand for the forces of disorder” (Weinstein 2000:41; kyk ook Hochhauser 2011:173), want “In the West there is no better symbol of rebellion” (Weinstein 2000:54). Die lede van Mayhem het byvoorbeeld aangevoer dat hulle nie Sataniste was nie, maar eerder antisosiaal (Patterson 2014:157). Die invloedryke Venom word op hul beurt beskou as ’n groep wat Sataniese simbole gebruik het sonder om werklik Satanisties te wees (Kahn-Harris 2007:149–50). Moynihan en Søderlind (2003:13) beaam dat die Sataniese beeldspraak wat in Venom se opvoerings en lirieke gebruik is, hoofsaaklik ’n berekende taktiek vir aandag en bekendheid was, sonder ware filosofiese diepte, en eerder as ’n vorm van jeugdige rebellie gedien het. In hierdie opsig voer die liriekskrywer van Venom, Cronos, aan:
[S]ince people assume all sorts of bad things when you mention Satanism, we were hell-bent on using that against them, to create something that would shock people, the same as punk shocked people or Sabbath shocked people. (Aangehaal in Patterson 2014:18)
Moynihan en Søderlind (2003:192) sluit hierby aan:
[I]n general, Satanism has generally been for show only, following in the footsteps of Venom and Bathory, and concerned solely with cartoonish efforts to assume “evil” poses in promotional photographs or make outlandishly uninformed statements in interviews.
Mercyful Fate is ’n uitsondering met betrekking tot bostaande, aangesien hulle selfs sosiale bande met LaVey aangeknoop het. Daar was nietemin ’n duidelike onderskeid tussen Mercyful Fate se lirieke en egte Satanistiese oortuiging, aangesien hul uitbeelding van Satan in ’n tradisionele (Christelike), letterlike rol gestaan het teenoor LaVey se siening, wat nie ’n verpersoonlikte Satan behels nie (Patterson 2014:28).
Die dokumentêr Satan rir media (Satan ry die media) (Grude 1998) wys hoe die Noorweegse media die idee geskep het dat bogenoemde gebeurtenisse rondom Mayhem en Burzum met Satanisme te make gehad het, terwyl dit eerder jeugdige kriminaliteit verteenwoordig het. Verskeie persone met wie onderhoude gevoer is vir hierdie dokumentêr, kon met sekerheid sê dat daar geen werklike Satanisme rondom die Noorweegse swartmetaaltoneel in die vroeë 1990’s was nie. Noorweegse swartmetaalgroepe het ’n beeld van hulself probeer skep wat deur die media bemark is – daar is geen Satanistiese rituele, offers of dergelike gebruike nie (Grude 1998).
Tydens die 1990’s word hierdie Sataniese beelde deur verskeie swartmetaalgroepe met inheemse Noorse geloofsbeelde vervang (Moynihan en Søderlind 2003:182; Dyck 2016:57), waarvan die reeds genoemde Varg Vikernes ’n toonaangewende voorbeeld is. Granholm (2011:529) voer aan dat Noorweegse swartmetaal in die vroeë 1990’s wel antichristelik was, maar teenstand teen die Christendom beteken nie noodwendig Satanisme nie; dit moet volgens hom eerder as Heidens beskryf word, aangesien Satanisties die besonderhede daarvan nie voldoende vasvang nie. Granholm (2011:538) skryf dat hierdie inheemse Noorse geloofstematiek verskeie funksies vervul:
The turn to a pre-Christian Germanic and Scandinavian past catered to a multitude of needs. It adhered to a common esoteric appeal of the exotic, as it represented something which was far removed in time as well as from the dominant cultural and societal trends, norms, and values of the time. It satisfied the rebelliousness of rock discourse, and provided legitimacy both by being outside the mainstream and part of perceived “authentic native culture”. It could also be used as a tool in anti-Christian pursuits, and was therefore within the “tradition” of Extreme Metal discourse while at the same time being sufficiently different from the satanic themes of “first wave” Black Metal to be regarded as novel.
Granholm (2011:537) maak die belangrike stelling dat inheemse Noorse geloofstemas verdere reëloortredende krag gebied het deur hul historiese verband met die begrip ras, wat sedert die Tweede Wêreldoorlog ’n ongemaklike kwessie in die Weste is. Die Nazi’s se gebruik van inheemse Germaanse gelowe en simboliek saam met ’n Witmag-ideologie (kyk bv. Von Schnurbein 2016) word met ander woorde binne swartmetaal as ’n raamwerk van rebellie aangewend omdat dit so omstrede is.
Die oordrewe Sataniese simboliek van ekstreme-metaal-groepe veroorsaak deurgaans wrywing met die gemeenskap en ook die owerhede van die lande waarin hulle gefunksioneer het – soos dit trouens bedoel was. ’n 1969 Detroit Black Arts Festival, geadverteer as ’n Halloween-heksebyeenkoms met Coven, Anton LaVey en ander, is uiteindelik gekanselleer nadat die Detroit Council of Churches teenkanting teen LaVey se verskyning en die beplande “Swart Mis” uitgespreek het (Lyons 1970:125). In 1985 het die Parents Music Resource Center in die VSA, onder leiding van Tipper Gore, ’n Senaatsverhoor gehou rondom swaarmetaal, wat gelei het tot die Parental Advisory: Explicit Content-waarskuwingstelsel op albums (De Klepper e.a. 2007:12). Gedurende 1991 het beide Earache Records in Nottingham en Plastic Head Distribution in Oxford regsuitdagings met betrekking tot obseniteit in die gesig gestaar: Die Britse polisie het beslag gelê op Earache se voorraad, hoewel die vervolging misluk het, en doeane het onsuksesvol probeer om Plastic Head se invoer van Dismember se album Like an ever flowing stream (1991) te verhoed (Kahn-Harris 2007:28). Na bewerings in die pers van Nazi-verbintenisse en diereoffers, het Israeliese swartmetaalmusikante berig dat hulle polisieondersoeke ervaar het en dopgehou is (Kahn-Harris 2007:28). In 1997 is talle jongmense in Egipte gearresteer op aanklagte van godslastering en beskuldig van duiwelaanbidding nadat owerhede ekstreme- en swaar-metaal-opnames in hul huise ontdek het (Kahn-Harris 2007:28; Falkof 2015:200). In 2006 het Mayhem hul beplande konsert in Kuala Lumpur gekanselleer nadat lede van die Maleisiese parlement besware geopper het (Kahn-Harris 2007:117).
Dieselfde wrywing tussen owerhede en die gemeenskap aan die een kant en persone vanuit die ekstreme-metaal-toneel aan die ander kant, kom ook in Suid-Afrika voor. Tydens die 1980’s is swaarmetaalgroepe dopgehou deur die Suid-Afrikaanse polisie en wanneer hulle ’n subversiewe politieke boodskap verkondig het, is optredes soms met traangas ontwrig en beëindig (Banchs 2022:99). Sensuur het volgens Banchs (2022:92) beteken dat speeltyd op radio nie ’n moontlikheid was onder die apartheidsregime nie, alhoewel opnames self selde verban is, maar selfs na 1994 was dit slegs Barney Simon wat soms ekstreme metaal op 5FM sou speel, en ook binne perke. In 1992 het die Suid-Afrikaanse polisie ook die Okkulteenheid onder leiding van Kobus Jonker gestig om Satanisme te ondersoek (Falkof 2015:35, 2019:282; Banchs 2022:101), wat uiteraard ook ondersoeke na ekstreme metaal sou ingesluit het.
Tydens die 1980’s en vroeë 1990’s was daar ’n “Satanisme-paniek” in die VSA, Brittanje en Suid-Afrika (Kahn-Harris 2007:27 e.v.; Falkof 2015:40, 2019:278 e.v.; Hoad 2021:123; Banchs 2022:100), en ook in Noorweë (Grude 1998; Granholm 2011:530). Die Satanisme-paniek het plaaslik neerslag gevind in ’n vrees dat alle musiek wat donker simbole, beeldmateriaal en temas gebruik het, “duiwels” sou wees. Swaarmetaal was die hooffokus van die paniek (Falkof 2015:85; Banchs 2022:100). Volgens sommige “kenners” was Bloemfontein die sentrum van Satanisme, of andersins Oos-Londen, Durban, Johannesburg of die Oos-Rand (Falkof 2015:43, 48). ’n Leierfiguur in hierdie veldtog teen Satanisme was Rodney Seale, wat deur boeke soos Rock musiek: Die reg om te weet (1988) en Satanisme: Die reg om te weet (1991), probeer het om mense van rock en swaarmetaal te weerhou (Banchs 2022:100). Seale was baie invloedryk en sy sienings is wyd in skole verkondig (Banchs 2022:100). Falkof (2015:19–20) skets die toneel:
Pentecostal preachers toured South African high schools giving dramatic lectures and evangelists like Rodney Seale, James van Zyl and David Nel published pamphlets on the consequences of exposure to popular music. Foreign bands like Iron Maiden became indicative of the disaster befalling South Africa’s youth. Crazed with lust, drugs and heavy metal, young people were said to be willingly surrendering themselves to the devil.
Vrese vir Satanisme is in Suid-Afrika gereeld ook vervleg met vrese vir homoseksualiteit (Falkof 2015:40; 2019:278 e.v.). In 1988 het James van Zyl die net selfs wyer gegooi en die volgende simptome van Satanisme gelys:
[I]nterest in horoscopes, astrology, witch doctors, chain letters, hypnosis, colour therapy, yoga, karate, homeopathy, reflexology, acupuncture; taking marijuana, alcohol, LSD, sleeping pills; visits to the Dome of the Rock, to Hindu or Muslim ceremonies or cemeteries, to heathen temples in Mexico or Greece; watching Exorcist, Rosemary’s Baby or The Omen; pornography; reading Jonathan Livingstone Seagull or books on cults like Mormonism or Buddhism; homosexuality, lesbianism, extra-marital sex, sexual fantasy, masturbation; feeling restlessness, fear, loneliness, anxiety, pride, depression, jealousy or any other persistent negative emotion. (Aangehaal in Falkof 2015:40)
Hierdie pogings om swaarmetaal en Satanisme te stigmatiseer het in sommige gevalle die teenoorgestelde uitwerking gehad deur belangstelling in Satanisme of swaarmetaal aan te wakker. In Noorweë het mediadekking van swartmetaalgroepe daartoe gelei dat meer kerke afgebrand is soos tieners hul helde (of liewer die beelde van hul helde) probeer namaak het (Grude 1998). In Suid-Afrika haal Falkof (2015:89) ’n anonieme bron aan wat vertel dat hulle meestal van Satanisme geleer het by predikers wat skoolbesoeke afgelê het, en ’n vriendin van die bron het dan predikers se beskrywings van Satanistiese praktyke nageboots, soos om haar arms te sny en met bloed op mure te skryf. Banchs (2022:101) haal ook vir Christo Bester van Groinchurn en later Insek (sien Senekal 2011:84–6) aan wat sê dat hulle nie van swaarmetaal sou geweet het as dit nie vir Rodney Seale was nie: “He did us a tremendous favour by what he was doing. He went to great lengths to find these bands.”
Falkof (2015:88) beklemtoon dat daar geen bewyse is van grootskaalse hekserypraktyke onder die swaarmetaal-tienersubkulture in Suid-Afrika nie, ten spyte van die geringe gewildheid van okkultiese of “alternatiewe” klere en musiek, en enkele geïsoleerde uitsonderings van tieners wat hulself as Sataniste identifiseer. Die ekstreme-metaal-toneel is boonop te klein om enige wydverspreide geloofsverandering onder die jeug te bewerkstellig, en dit geld des te meer vir swartmetaal, wat altyd ’n baie klein groep aanhangers het.
3. Afrikaanse swartmetaal
Omdat swartmetaal ’n ondergrondse musiekgenre is, is inligting oor Afrikaanse groepe en opnames nie algemeen beskikbaar nie. Daar bestaan byvoorbeeld bykans geen resensies of mediaberigte oor enige van hierdie groepe nie, en akademiese studies oor ekstreme metaal is beperk tot terloopse vermeldings van enkele swartmetaalgroepe in Senekal (2011) en Hoad (2021), met geen vermeldings in Banchs (2022) nie. Groepe se musiek is ook nie gewoonlik beskikbaar op musiekstroomdienste soos Spotify en Apple Music nie (met die uitsondering van Scathanna Wept en VleesAnker), wat beteken dat dit moeilik is om die gewildheid van groepe te bepaal. Boonop bestaan daar nie musiekfeeste in Suid-Afrika wat spesifiek rondom swartmetaal gehou word nie – vele swartmetaalgroepe volg die voorbeeld van buitelandse groepe soos Bathory en Burzum deur nooit in die openbaar op te tree nie, en selfs rolspelers binne die toneel is nie altyd bewus van ander Afrikaanse swartmetaalgroepe nie (Botha 2025; Du Plessis 2025). Dit beteken dat Afrikaanse swartmetaal ’n uiters gefragmenteerde en ondergrondse musiektoneel verteenwoordig.
Vir die lys van groepe hier onder het ek begin by die ekstreme-metaal-ensiklopedie, Encyclopaedia Metallum (2025), en dit aangevul met soektogte op YouTube (https://www.youtube.com), Reddit (https://www.reddit.com), Bandcamp (https://bandcamp.com) en MetalKingdom (https://www.metalkingdom.net). Al die groepe wat hier bespreek word, word beskryf as swartmetaal op Encyclopaedia Metallum (2025) en soortgelyke webwerwe, en indien daar ander nuanses ten opsigte van genre is, word dit hier onder so vermeld. Die bespreking hier onder is chronologies volgens groepe se eerste opnames. Daar bestaan ook ’n aantal Suid-Afrikaanse swartmetaalgroepe met Afrikaanse name wat nie lirieke in Afrikaans opgeneem het nie, byvoorbeeld Verkrag en Bokgot, wat nie hier onder ingesluit word nie omdat hulle nie in Afrikaans sing nie. Skakels na waar gratis na hierdie groepe se musiek geluister kan word, is in die Bylaag ingesluit.
3.1 Vrotgot
Die eerste Afrikaanse swartmetaalopname wat gevind kon word, is deur Vrotgot, wat ’n demo genaamd Vieslik (1998) opgeneem het (African and South African Black Metal 2016). Daar kom een Afrikaanse liedjie hierop voor, wat dan ook die eerste Afrikaanse swartmetaalopname is, sover bekend, naamlik “Stink bloed poes”. Dit is moontlik dat ander sulke opnames kan bestaan wat nooit versprei is nie. Geen verdere inligting is oor Vrotgot beskikbaar nie, en die lirieke van hierdie liedjie is ook nie beskikbaar nie.
3.2 Nahul
Nahul6 was die soloprojek van Luhan du Plessis van Nocturnal Dominion, ’n Engelse swartmetaalgroep uit Bloemfontein wat van 1995 tot 2000 aktief was (Encyclopaedia Metallum 2025). Nahul se enkelsnit “Drome van rebellie” is in 2005/2006 opgeneem, maar is aanvanklik nie versprei nie (Senekal 2011:85) (dit is wel later deur middel van YouTube versprei). Na “Drome van rebellie” het Nahul ook “Bittereinde” opgeneem, en later die groep Slagbees (kyk verderaan) gestig (Du Plessis 2025). Anders as Nocturnal Dominion het Nahul nooit in die openbaar opgetree nie.
“Drome van rebellie” is ’n kragtige aanklag teen ’n figuur van tirannie en bedrog, ’n “sedelose vrou” wie se “beker [oorloop]”. Die liedjie bevat die reël: “Die bloed is nog warm, vars uit ons harte”, wat ’n onlangse en pynlike lyding impliseer wat deur hierdie figuur veroorsaak is. Daar is ’n voorspelling van ondergang (“Jou val sal kom, drome van rebellie”) en ’n openlike verwerping van haar gesag (“Skarlaken rooi bedrieër, jou wette staan my nie aan nie”). In geheel gesien verwoord die lirieke van “Drome van rebellie” die Chaotiese deur verbrokkeling, verval en pyn te betrek.
Terwyl “Drome van rebellie” handel oor die “sedelose vrou”, het “Bittereinde” ’n meer tradisionele swartmetaaltema deur op die Christendom te fokus:
Sinnelose tog na goue strate en leë beloftes
Ons bloed sal jou paradys bedek, die strate vlek
Terwyl jy op jou knieë staar na ’n leë troon
Gee jy my steeds die doringkroon
Gemeentes ploeg voort en draai die ander wang
Tog te heilig, God sorg mos
Nee dwaas, net jy het die mag
Ja dwaas, jou voet is in die graf
Net jy het die mag.
Hierdie liedjie kan gesien word as een wat die illusie en bedrog van die gepredikte paradys voorstel, wat die passiewe aanvaarding van lyding verwerp en die mens se eie verantwoordelikheid en krag beklemtoon. Die liedjie is ’n oproep tot opstand teen blinde geloof en ’n erkenning van die mens se vermoë om sy eie lot te beheer.
Ondubbelsinnige Sataniese beelde word nie gereeld aangetref in die titels van Afrikaanse swartmetaalliedjies nie, met Scathanna Wept se “Bladsy ses ses ses” (Bladsy ses ses ses 2021) en Swartwoud se “Drink bloed van Satan teef” (ABNONBA 2017) twee seldsame gevalle (kyk verderaan). Die albumomslae van Afrikaanse swartmetaalopnames skep egter ’n bose beeld wat vergelykbaar is met dié van groepe in die buiteland. Die albumomslag van “Drome van rebellie” (Figuur 1) vertoon ’n spookagtige figuur (Nahul self) in ’n bosagtige, perskleurige omgewing, wat die grimmige atmosfeer van een van die eerste Afrikaanse swartmetaalliedjies vasvang.

Figuur 1. Die albumomslag van Nahul se enkelsnit “Drome van rebellie”. Beeld met vergunning van Nahul.
3.3 Volkmag
Die eerste Afrikaanse swartmetaalgroep wat ’n verskeidenheid opnames gemaak en versprei het, is Volkmag, wat in 2008 deur “Naam Loos” gestig is (Encyclopaedia Metallum 2025). Volkmag se eerste opname was die EP Volkmag (2008), en die daaropvolgende jaar is Volkmag se eerste vollengte album, Op oorlogs vlerke (2009), vrygestel. Hierop volg Afrikaner (2012), Eendracht maakt macht (2013), Op oorlogs vlerke II (2014b), Op oorlogs vlerke III (2014a), Die bittereinder (2015) (EP), Staan vas (2017b) (EP), Operasie X: Die slag van Volkmag (2017a), asook verskeie demo’s en enkelsnitte (Encyclopaedia Metallum 2025). Hulle opnames is nie wyd versprei nie, en daar is byvoorbeeld slegs 887 kopieë elk van Eendracht maakt macht (2013) en Die bittereinder (2015) vervaardig (Encyclopaedia Metallum 2025). Ten spyte van hul baie opnames is daar min inligting oor die groep beskikbaar, en lirieke is ook nie bekombaar nie.
Volkmag is ’n Nasionaal-sosialistiese swartmetaalgroep (Hoad 2021:138), en daardeur ’n uitsondering in Afrikaans. Die temas wat in hul lirieke neerslag vind, word beskryf as Nasionaal-sosialisme, wit oppergesag, Afrikaner-erfenis, weerstand en rassisme (Encyclopaedia Metallum 2025). Dit is ook interessant dat sommige van Volkmag se opnames, byvoorbeeld Die bittereinder (2015) en Staan vas (2017b), vrygestel is deur Barbatos Productions in Rusland, wat spesialiseer in “Raw Black Metal, NSBM, NS Power Electronics, NS Dark Ambient, Oi!, RAC [Rock Against Communism]” (Encyclopaedia Metallum 2025), genres wat met die Neo-Nazi-beweging verbind word (Hochhauser 2011; Patterson 2014; Dyck 2016).
Volkmag se albumomslae fokus op Afrikaner-erfenis, met die standbeeld van die Bittereinder by die Vrouemonument in Bloemfontein op die EP Die bittereinder (2015), foto’s uit die Anglo-Boereoorlog op Op oorlogs vlerke (2009) en van hul enkelsnitte, en die Voortrekkermonument in Pretoria op die EP Staan vas (2017b).
3.4 Krygsmag
Volkmag het ook ’n album gedeel met ’n ander Afrikaanse swartmetaalgroep, Krygsmag, getiteld Bose magte (Volkmag en Krygsmag 2017). Krygsmag is in 2004 in die Verenigde Koninkryk deur ’n onbekende Suid-Afrikaner gestig wat later na Kaapstad verhuis het en ’n demo (2009) en die album 4 (2016) opgeneem het (Encyclopaedia Metallum 2025). In 2015 het hulle ook ’n heropname van Swartwoud (kyk verderaan) se liedjie “Eindelik” opgeneem (Krygsmag 2015). Soos Volkmag is Krygsmag polities verregs, en die temas van hul lirieke word beskryf as Afrikanernasionalisme, wit trots en rassisme (Encyclopaedia Metallum 2025). Soos die geval is met Volkmag, is daar min inligting oor Krygsmag beskikbaar, en hul lirieke kon ook nie bekom word nie.
3.5 Ominous Reflections
In 2010 stig Raven (Jacques Snyman, later van Onheilig) Ominous Reflections in Alberton, wat in 2014 ’n demo, Inversion of the holy (2014), met die instrumentele liedjie “Die ondergang van hemel” vrystel (Encyclopaedia Metallum 2025). Hierop volg die EP Die ewige swart lig (2021), met ’n gelyknamige Afrikaanse liedjie. Die tema van Ominous Reflections se lirieke word beskryf as Teïstiese Satanisme (Encyclopaedia Metallum 2025), en OccultBlackMetal (2021) beskryf Die ewige swart lig (2021) as “very raw, melodic, satanic and traditional sounding, [t]he production sounds very dark and raw while the lyrics cover True Theistic Satanism.” Die albumomslag van Die ewige swart lig (2021) beeld juis drie figure uit, in swart geklee by ’n altaar waarop ’n naakte vrou lê, wat die indruk van ’n Satanistiese ritueel skep. Die lirieke van “Die ewige swart lig” kon nie bekom word nie.
3.6 Droom Alone
In 2014 begin Rudegardt Britz sy soloprojek Droom Alone in Kaapstad (Metal Kingdom 2025). Droom Alone stel sowel die vollengte album Brooding skadu (2017a) as ’n enkelsnit, Nag kreature (2017b), vry. Geen verdere inligting of lirieke is beskikbaar vir Droom Alone nie.
3.7 Swartwoud
Swartwoud is die soloprojek van Lord Ogün (werklike naam onbekend), wat in groepsverband saamwerk met Swartvoud (so, met ’n v), wat nie ’n Afrikaanse opname gemaak het nie (Encyclopaedia Metallum 2025). Swartwoud, wat beskryf word as “Ambient, Black/Sludge Metal/Crust” (Encyclopaedia Metallum 2025), het vier opnames vrygestel wat Afrikaanse liedjies bevat, naamlik die demo’s Ater limus (I) (2013) en Nusquam (2015), en die vollengte albums ABNONBA (2017) en Lokval (2020). Swartwoud is gebaseer in Los Angeles, VSA, terwyl al die ander groepe wat hier bespreek word, in Suid-Afrika gebaseer is (Encyclopaedia Metallum 2025). Die temas van Swartwoud se lirieke word beskryf as hartseer, verlies, pyn, verraad en vergelding (Encyclopaedia Metallum 2025). Groepe se invloede word nie gereeld vermeld nie, maar Swartwoud self noem Burzum, Triptykon, Behemoth, Sunn O))) en Vangelis (Swartwoud s.j.). Die albumomslag van ABNONBA (2017) versterk hierdie verbintenis met groepe in die buiteland deur ’n donker, vae figuur in ’n bosagtige omgewing uit te beeld, omring deur ’n onheilspellende atmosfeer, wat herinner aan die albumomslag van Burzum se debuutalbum, Burzum (1992).
3.8 Scathanna Wept
Scathanna Wept, wat beskryf word as atmosferiese swartmetaal, is rondom 2017 deur Daniel Botha in Durban gestig, met ander groeplede wat sedert 2023 by die groep aangesluit het (Encyclopaedia Metallum 2025). Hulle neem ’n aantal slegs Engelse albums op, maar ook Afrikaanse liedjies op die EP Massa uitwissing (2017a), op die vollengte album Die dood onder ede (2017a), en op die enkelsnit Bladsy ses ses ses (2021) (Encyclopaedia Metallum 2025). Scathanna Wept is een van slegs twee Afrikaanse swartmetaalgroepe (die ander een is VleesAnker) wie se musiek op Apple Music en Spotify beskikbaar is. Volgens Botha (2025) is Scathanna Wept se aanvanklike invloede Dimmu Borgir, Old Man’s Child, Noumena, Insomnium, Bloodbath en Summoning, en later Advent Sorrow en Mgta.
Figuur 2 wys Scathanna Wept wat in 2022 op ’n verhoog optree voor ’n geesdriftige skare, met intense musikale uitvoering en kenmerkende swartmetaalvoorkoms. Let ook op die duiwelshoringshandgebaar wat in die laat 1960’s deur Coven ingebring is.

Figuur 2. ’n Vertoning van Scathanna Wept in 2022. Foto’s deur InkBlack Visual Art, met vergunning van Scathanna Wept.
In ooreenstemming met swartmetaal se klem op die Chaotiese, skets Scathanna Wept se “Stille waters” (Die dood onder ede 2017a) ’n somber en versteurde toneel van konflik en geweld:
In stille waters, gesuiwer deur bose skaduwee
verlei die gedagte van die verleë.
Dae wat voorlê is swaar,
kwaadheid rou in die bewussyn
gebore in ’n onbekende land,
rou op valse hoop en sand
Die slag, metaal aan metaal
’n lyk leweloos in die aand
Die nuus verbreek in ’n slapelose nag.
“Sewe swaarde” (Die dood onder ede 2017a) skets eweneens ’n beeld van duisternis en geweld, moontlik ’n metafoor vir Suid-Afrika wat deur konflik geteister word. Die openingsreëls, “Skemer volg die donker nag / sewe swaarde lank” skep ’n gevoel van dreiging en ’n lang periode van duisternis. Die beskrywing van “land verbrand, eensaam en magteloos” dui op ’n verwoeste en kwesbare toestand. Die herhaalde reëls “Die dood beweeg stadig deur die lig / verplaas deur haat en krag” beklemtoon die onvermydelikheid van geweld en die motiverende kragte daaragter. Die woorde “Ontskep deur bloed van Afrika / ontrus van generasies / jy betaal die prys van / vryheid ...” suggereer ’n geskiedenis van stryd en opoffering in die konteks van Afrika. Ten spyte van die “nasie gebou op afval / en leuens” is daar ’n sikliese aard van vergifnis (“tog vergewe ons weer”), wat ’n komplekse verhouding met die verlede impliseer. Die herhalende titel “Die nag van die sewe swaarde” dien as ’n sentrale, sinistere beeld wat die temas van geweld en lyding verenig.
“Verminder na as” (Massa uitwissing 2017b) is ’n voortsetting van die gebruik van die Chaotiese en skets ’n donker en nihilistiese prentjie van lyding en die verlies aan geloof. Die openingsreëls, “Waar die heuwels en aarde ontmoet / verskyn die dagbreek ongelukkig” dui op ’n fundamentele ongelukkigheid en ’n gebrek aan hoop in die skepping self. Die herhaalde frase “vas gebrand aan hout / geseën en verniel” kan ’n verwysing na ’n kruisiging wees, wat ’n beeld van lyding en verraad skep. Die woede en twyfel word direk uitgespreek in die vraag “hoe de fok kan jy vir my sê dit is reg / hoe kan ’n god so iets laat gebeur”, wat die spreker se diepe teleurstelling en bevraagtekening van ’n regverdige god uitdruk. Die vergelyking van mense met “skaap na die slaghuis” beklemtoon ’n gevoel van hulpeloosheid en ’n onvermydelike, gewelddadige einde. Die spreker verwerp georganiseerde geloof (“’n boek geskryf deur man”) en vertrou eerder op sy “eie vermoed”, wat lei tot ’n gevoel van isolasie en afskeiding van die samelewing (“ek het my verskoon van die glashuis af / daar dis niks vir my”). Die beelde van “bloed vertrap tot die laaste druppel” en “die reuk van lyke” skep ’n atmosfeer van geweld en dood, wat die liedjie se sombere boodskap verder versterk.
3.9 Stille Beendere
Stille Beendere, wat, soos Scathanna Wept, as atmosferiese swartmetaal beskryf word, is in 2018 deur onbekende lede in Kaapstad gestig en het in dieselfde jaar ’n EP, Stilte van die beendere (2018), vrygestel (Encyclopaedia Metallum 2025). Hierop volg die enkelsnit “Isolasie” (2020). Geen lirieke van Stille Beendere is beskikbaar nie.
3.10 Onheilig
Onheilig, van Alberton, is gestig deur Raven (Jacques Snyman) en Doodsengel (Encyclopaedia Metallum 2025). Tot op hede het hulle slegs ’n demo vrygestel: His will, my craft (2020), waarop ’n Afrikaanse liedjie, “Verloor”, voorkom. Lirieke van Onheilig kon nie bekom word nie.
3.11 VleesAnker
VleesAnker, ’n soloprojek in Kaapstad van Llewellyn Daniel van der Berg, het tot op hede slegs ’n enkelsnit, Bang is ’n dier (2020), en ’n EP, Verspeelde tyd (2021), vrygestel (Encyclopaedia Metallum 2025).
VleesAnker se lirieke verwys gereeld na die dood, byvoorbeeld “Bang is ’n dier” op die gelyknamige titelsnit (2020). Hierdie liedjie skilder ’n grimmige en gewelddadige toneel, gekenmerk deur ’n gevoel van hopeloosheid en die alomteenwoordigheid van vrees. Die openingsreëls, “Op die dromdroë dorsvloer / Versmoor jy jou enigste kans / Hang jou hoop op aan ’n draad / Skote klap in ’n stofstraat”, skep ’n atmosfeer van droogte, verlore geleenthede en geweld wat uitbreek. Die herhaling en uitbreiding van die woord “bang” deur verskillende metafore (“Bang is ’n dier / bang is ’n lettergreep ... Bang is ’n ondier / Doodsmasker / Lem in jou hand”) beklemtoon die allesoorheersende aard van vrees in hierdie konteks. Die reëls “Bang en jy ken mekaar / Bang en jy waardeer mekaar / Bang is jy” suggereer ’n intieme, byna onvermydelike verhouding met vrees. Die afsluiting met “Drie kruise / Twee skote / Een graf” bring ’n gevoel van noodlottigheid en die tragiese uitkoms van die geweld en vrees wat deur die liedjie verken word.
“Kleindood” (Verspeelde tyd 2021) skets ook ’n sombere prentjie van verval en die naderende einde van ’n lewe. Die openingsreëls, “Ontblote klowe met bodems van vel / sporadies beboomde rye gryswoud”, skep ’n beeld van ’n uitgeputte en lewelose landskap, wat moontlik die fisieke toestand van die persoon simboliseer. Die kontras tussen toenemende inspanning (“Al hoe meer brandstof / vir al hoe minder beweging”) en afnemende lewenskrag (“Pote skuifel onseker / oë blink en verdof”) beklemtoon die frustrerende stryd teen die onvermydelike. Die verwysing na “tyd se wrede middelganger / ’n Pond gees nader aan die vuur sleep” verpersoonlik die dood as ’n meedoënlose krag wat die gees nader trek. Ten slotte dui die reëls “Jou gesig gaan by my spook / soos die nabeeld van die son / agter my ooglede / na jy weg is” op die diep impak van die persoon se afsterwe en die blywende herinnering wat agterbly.
3.12 Slagbees
Slagbees is die latere projek van Luhan du Plessis in Bloemfontein (Du Plessis 2025). In 2022 het Slagbees ’n demo, “Boosaardig”, vrygestel, wat ’n Afrikaanse vertaling van Diamond Head se “Am I evil” (Lightning to the nations 1980) is. Nahul en Slagbees se Afrikaanse lirieke spruit uit Du Plessis se affiniteit vir die taal, asook ’n artistieke doel om die stilistiese reikwydte en aanpasbaarheid van Afrikaans binne ’n diverse musikale spektrum te demonstreer (Du Plessis 2025).
Die Afrikaanse vertaling van “Am I evil?” behou die kernnarratief van wraakgedagtes ná die gruwelike dood op die brandstapel van die spreker se ma, maar daar is ’n subtiele verskuiwing wat ’n effens ander emosionele en sosiale konteks impliseer. Die herhaalde vraag, “Am I evil?” word direk vertaal, maar die antwoorde verskil effens; waar die oorspronklike telkens “I am man, yes I am” antwoord, word dit in die Afrikaanse weergawe afgewissel met “Ek’s ’n mens, ja ek is” en die meer spesifieke “Ek’s ’n wit man, ja ek is.” Hierdie toevoeging van ras in die Afrikaanse weergawe voeg ’n laag van sosiale kommentaar en ’n spesifieke identiteit by die spreker wat nie in die oorspronklike teenwoordig is nie, naamlik dat die spreker gesien word as boos omdat hy wit is. Dit is ’n treffende omvorming, omdat die boosheid van die oorspronklike in verband gebring word met witheid; die wit man word as ’t ware die kind van die heks, wat die wit mens se posisie in Suid-Afrika uitbeeld.
3.13 Somerreën
Somerreën, wat as depressiewe swartmetaal beskryf word, is in 2024 in Durban deur onbekende lede gestig (Encyclopaedia Metallum 2025). Hulle stel tot op hede twee enkelsnitte vry: Disforie (2024a) en En niks was gesê nie (2024b) (alhoewel laasgenoemde nie ’n Afrikaanse liedjie bevat nie). Somerreën se lirieke is nie beskikbaar nie.
3.14 Spectral Bastion
Spectral Bastion is in 2024 deur Sarphi (regte naam onbekend) gestig en het een Afrikaanse liedjie, “Die Druïdiese pad” op ’n gelyknamige enkelsnit (2025) vrygestel (die ander liedjie op hierdie opname is instrumentaal) (Encyclopaedia Metallum 2025). Hulle musiek word beskryf as “Atmospheric Black Metal / Dungeon Synth” met temas wat sentreer rondom Middeleeuse verhale, legendes en volksvertellings (Encyclopaedia Metallum 2025).
“Die Druïdiese pad” is ’n ode aan die natuur en ’n gevoel van verbondenheid daarmee, uitgebeeld deur die oë van ’n spreker wat homself met ’n wolf vergelyk. Die reëls “Ek het gejag soos ’n wolf, met honger in myn siel, / Die smaak van die aarde, so wild en ongetem” vestig onmiddellik hierdie intense, instinktiewe verhouding met die natuurlike wêreld. Die spreker sien homself nie as heerser nie, maar as “net ’n deel van die spel, / In die hartjie van die natuur maak ek myn aanspraak.” Daar is ’n erkenning van ’n dieper, byna spirituele band, soos uitgedruk in die koor, “Bewakers van die nag, met ons geeste in harmonie, / Ons huil saam met die wolwe, in die sirkel van die maan.” Die natuur word verder gepersonifieer en aanbid in strofes soos “U is die fluistering van blare in die lug, / Jou geur van die denne, o, ek verlang om daar te wees” en “O, Godin van die nag, watter verhale weef jy? / Met skoonheid en reinheid mislei jy nooit”, wat ’n gevoel van eerbied en troos in die natuurlike omgewing oordra. Die liedjie vier die krag, skoonheid en misterie van die natuur en die spreker se plek daarin. In hierdie opsig sluit Spectral Bastion aan by Skandinawiese swartmetaalgroepe wat inheemse Noorse geloofstemas betrek, omdat hierdie ook natuurgebaseerde gelowe is (kyk bv. Von Schnurbein 2016). Wat ook opvallend is, is die argaïese gebruik van “myn”, wat ’n poging kan wees om Afrikaans in ’n ouer idioom te gebruik.
4. Bespreking
Afrikaanse swartmetaal verwoord ook temas rondom die Chaotiese, soos aangetref in swartmetaal in die buiteland. Sataniese temas kom voor, byvoorbeeld in Scathanna Wept se Bladsy ses ses ses (2021), Swartwoud se “Drink bloed van Satan teef” (ABNONBA 2017) en Ominous Reflections se Die ewige swart lig (2021). Ook Nahul is krities teenoor die Christendom in “Bittereinde”, en Scathanna Wept in “Verminder na as”, alhoewel hierdie liedjies nie ooglopend Satanies is nie. Andersins is dood en geweld alomteenwoordig in die lirieke van Scathanna Wept en VleesAnker. Spectral Bastion sluit weer aan by natuurgodsdienste in “Die Druïdiese pad” op hul gelyknamige enkelsnit (2025), wat ’n ooreenkoms met Skandinawiese swartmetaal se gebruik van inheemse Noorse geloofstradisies verteenwoordig. Verder sluit albumomslae meestal aan by dié van swartmetaalgroepe in die buiteland deur donker, onheilspellende tonele uit te beeld.
Die Chaotiese word ook herkontekstualiseer in ’n Suid-Afrikaanse milieu in liedjies soos Scathanna Wept se “Sewe swaarde” (Die dood onder ede 2017a) en Slagbees se “Boosaardig”. Alhoewel subtiel, toon hierdie herkontekstualisering hoe groepe bekende swartmetaaltemas uniek binne ’n Afrikaanse konteks aanwend.
NSBM is ’n periferale nis in swartmetaal, en alhoewel hierdie musiek ook in Afrikaans aangetref word by groepe soos Volkmag en Krygsmag, is hierdie groepe se musiek nie maklik bekombaar nie. Die moeilike bekombaarheid van hul opnames beteken dat hulle nie werklik ’n invloed op die Afrikaanse swartmetaaltoneel kan uitoefen nie.
5. Ten slotte
In hierdie artikel is ’n oorsig gebied van Afrikaanse swartmetaal, ’n subgenre wat grootliks onbekend is binne die Afrikaanse musiektoneel. Daar is begin met ’n agtergrond en kontekstualisering van swartmetaal as ’n subgenre van ekstreme metaal en swaarmetaal, en daarna is die ontwikkeling van Afrikaanse swartmetaal ondersoek. Die artikel het verskeie groepe en hul lirieke bespreek, en dit in verband gebring met swartmetaal in die buiteland. Dit blyk duidelik dat Afrikaanse swartmetaalgroepe nie net die klank en estetiese van swartmetaal navolg nie, maar ook die temas en filosofieë wat met die genre geassosieer word. Die Chaotiese, ’n kernaspek van swartmetaal, word in ’n Afrikaanse konteks geplaas, wat unieke interpretasies en uitdrukkings tot gevolg het.
Swartmetaal verteenwoordig die uiterste uithoek van Afrikaanse musiek en is ’n ruimte waarin Afrikaans funksioneer wat nie voorheen bestudeer is nie. Indien ’n mens die funksies van Afrikaans wil ondersoek, sal ander uithoeke ook betrek moet word, nie slegs die bekende skrywers en musikante nie.
Bibliografie
African and South African Black Metal. 2016. Vrotgot – Vieslik. YouTube, 27 September. https://www.youtube.com/watch?v=K_ZKPDt8d_A (20 Maart 2025 geraadpleeg).
Banchs, E. 2022. Scream for me, Africa!: Heavy metal identities in post-colonial Africa. Bristol: Intellect Ltd.
Botha, D. 2025. Onderhoud deur skrywer gevoer.
Brunner, I. 2006. Taken to the extreme: Heavy metal cover songs. PhD-proefskrif, Bowling Green State University.
De Klepper, S., S. Molpheta, S. Pille en R. Saouma. 2007. Cultural heritage and history in the metal scene. Wageningen: Belvedere Chair in The Chairgroup Land Use Planning.
Du Plessis, L. 2025. Onderhoud deur skrywer gevoer.
Dyck, K. 2016. Reichsrock: The international web of white-power and neo-Nazi hate music. New Brunswick, New Jersey: Rutgers University Press.
Encyclopaedia Metallum. 2024. Rules & Guidelines. https://www.metal-archives.com/content/rules (12 Maart 2025 geraadpleeg).
—. 2025. Encyclopaedia Metallum. https://www.metal-archives.com (20 Maart 2025 geraadpleeg).
Falkof, N. 2015. Satanism and family murder in late apartheid South Africa. Londen: Palgrave Macmillan UK. DOI: 10.1057/9781137503053.
—. 2019. Sex and the devil: homosexuality, satanism, and moral panic in late apartheid South Africa. Men and Masculinities, 22(2):273–93. DOI: 10.1177/1097184X18774097.
Granholm, K. 2011. “Sons of northern darkness”: Heathen influences in black metal and neofolk music. Numen, 58(4):514–44. DOI: 10.1163/156852711X577069.
Grundlingh, A.M. en S. Huigen (reds.). 2008. Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar: Kritiese opstelle oor Afrikaanse herinneringsplekke. Stellenbosch: Sun Press.
Gunstad, M.F. 2015. Rase og religion. Særtrekk ved Varg Vikernes’ ideologi sammenlignet med den klassiske nazismen. MA-verhandeling, Universiteit van Oslo.
Hagen, R. 2011. Musical style, ideology, and mythology in Norwegian black metal. In Wallach e.a. (reds.) 2011:180–99.
Hoad, C. 2021. Heavy metal music, texts, and nationhood: (re)sounding whiteness. Cham: Springer International Publishing. doi: 10.1007/978-3-030-67619-3.
Hochhauser, S. 2011. The marketing of Anglo-identity in the North American hatecore metal industry. In Wallach e.a. (reds.) 2011:161–79.
Kahn-Harris, K. 2007. Extreme metal: music and culture on the edge. Oxford: Berg.
Klopper, A. 2008. “In wrede woede het ek die hand wat beheer gebyt.” Die opkoms van Afrikaanse (punk)rockmusiek. In Grundlingh en Huigen (reds.) 2008:207–18.
—. 2009. Die opkoms van Afrikaanse rock en die literêre status van lirieke, met spesifieke verwysing na Fokofpolisiekar. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.
—. 2017. Identiteitskonfigurasies in wit Afrikaanse rap-musiek, met spesifieke verwysing na Die Antwoord, Jack Parow en Bittereinder. PhD-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.
Krygsmag. 2015. Krygsmag – Eindelik (Swartwoud cover). YouTube. https://www.youtube.com/watch?v=cccfa33FsCw (3 April 2025 geraadpleeg).
Lavey, A.S. 1969. The Satanic Bible. New York: William Morrow Paperbacks.
Lyons, A. 1970. The second coming: Satanism in America. New York: Dodd Mead.
Metal Kingdom. 2025. Droom Alone. https://www.metalkingdom.net/band/droom-alone-33515.
Moynihan, M. en D. Søderlind. 2003. Lords of chaos. The bloody rise of the Satanic metal underground. Los Angeles: Feral House.
OccultBlackMetal. 2021. Ominous reflections / Die ewige swart lig / Rigor mortis Productions/2021 EP Review. https://occultblackmetalzine.blogspot.com/2021/09/ominous-reflectionsdie-ewige-swart.html?m=1 (12 Mei 2025 geraadpleeg).
Patterson, D. 2014. Black metal: Evolution of the cult. Port Townsend: Feral House.
Seale, R. 1988. Rock musiek: Die reg om te weet. Witbank: M.F.Y.
—. 1991. Satanisme: Die reg om te weet. Menlopark: Hans Kirsten Uitgewery.
Senekal, B.A. 2011. Vervreemding in die ekstreem: ’n Oorsig oor normloosheid en sosiale isolasie in Afrikaanse ekstreme metal. LitNet Akademies, 8(1):76–101. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2021/01/LA_8_1d_senekal.pdf.
—. 2025. Battery 9 as pioniers van industriële musiek binne die Afrikaanse rockmusiektoneel. LitNet Akademies, 22(2):160–86. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2025/09/LitNet_Akademies_j22n2b5_Senekal.pdf.
Steyn, J.C. 2014. “Ons gaan ’n taal maak”. Afrikaans sedert die Patriot-jare. Centurion: Kraal-Uitgewers.
Swartwoud. S.j. Swartwoud. https://swartwoud.bandcamp.com (4 April 2025 geraadpleeg).
Van der Merwe, S.D. 2019. Plate en politiek. Populêre Afrikaanse musiek en die samelewing, 1900–2017. Bloemfontein: SunPress.
Vikernes, V. 1997. Vargsmål. Noorweë. Uitgewer onbekend.
—. 2000. Germansk Mytologi Og Verdensanskuelse. Cymophane Publishing. Plek van publikasie onbekend.
—. 2025. To hell & back again: My complete story. Hyperborean League. Plek van publikasie onbekend.
Von Schnurbein, S. 2016. Norse revival: Transformations of Germanic neopaganism. Leiden: Brill.
Wallach, J., H.M. Berger en P.D. Greene. 2011. Affective overdrive, scene dynamics, and identity in the global metal scene. In Wallach e.a. 2011 (reds.) 2011:3–33.
Wallach, J., H.M. Berger en P.D. Greene (reds.). 2011. Metal rules the globe. Durham: Duke University Press.
Weinstein, D. 2000. Heavy metal: The music and its culture. New York: Da Capo Press.
Diskografie
Amon Amarth. 1994. The arrival of the fimbul winter. Onafhanklik.
Bathory. 1984. Bathory. Black Mark/Tyfon.
—. 1988. Blood fire death. Black Mark/Tyfon.
—. 1990. Hammerheart. Noise Records.
—. 1991. Twilight of the gods. Black Mark Production.
—. 1998. Jubileum. Volume III. Black Mark Production.
Burzum. 1992. Burzum. Deathlike Silence.
—. 1993. Det som engang var. Cymophane.
—. 1994. Hvis lyset tar oss. Misanthropy, Cymophane.
Coven. 1969. Witchcraft destroys minds & reaps souls. Mercury.
Cradle of Filth. 1994. The principle of evil made flesh. Cacophonous Records.
Death. 1987. Scream bloody gore. Combat.
Diamond Head. 1980. Lightning to the nations. Onafhanklik.
Dimmu Borgir. 1995. For all tid. No Colours.
—. 1996. Stormblåst. Cacophonous Records.
Dismember. 1991. Like an ever flowing stream. Nuclear Blast.
Droom Alone. 2017a. Brooding skadu. Onafhanklik.
—. 2017b. Nag kreature. Onafhanklik.
Enslaved. 1994. Vikingligr veldi. Deathlike Silence.
Hellhammer. 1983a. Death fiend. Prowling Death Records.
—. 1983b. Satanic rites. Prowling Death Records.
—. 1983c. Triumph of death. Prowling Death Records.
K.O.B.U.S.!. 2007. Swaarmetaal. Rhythm Records.
Krygsmag. 2009. Demo. Onafhanklik.
—. 2016. 4. Onafhanklik.
Marduk. 1992. Dark endless. No Fashion Records.
Mayhem. 1986. Pure fucking armageddon. Funny Farm.
—. 1994. De mysteriis dom sathanas. Deathlike Silence.
Mercyful Fate. 1982. Mercyful fate. Rave-On Records.
Metallica. 1984. Creeping death. Music for Nations.
Napalm Death. 1987. Scum. Earache.
Ominous Reflections. 2014. Inversion of the Holy. Onafhanklik.
—. 2021. Die ewige swart lig. Onafhanklik.
Onheilig. 2020. His will, my craft. Avgrundsklanger.
Possessed. 1985. Seven churches. Combat.
Samael. 1991. Worship Him. Osmose Productions.
Scathanna Wept. 2017a. Die dood onder ede. Onafhanklik.
—. 2017b. Massa uitwissing. Onafhanklik.
—. 2021. Bladsy ses ses ses. Onafhanklik.
Sepultura. 1986. Morbid visions. Cogumelo Records.
Slayer. 1983. Show no mercy. Metal Blade.
—. 1986. Reign in blood. Def Jam Recordings.
Somerreën. 2024a. Disforie. Onafhanklik.
—. 2024b. En niks was gesê nie. Onafhanklik.
Spectral Bastion. 2025. Die Druïdiese pad. Onafhanklik.
Steppenwolf. 1968. Steppenwolf. ABC Dunhill.
Stille Beendere. 2018. Stilte van die beendere. Onafhanklik.
—. 2020. Isolasie. Onafhanklik.
Stryper. 1984. The yellow and black attack. Enigma.
Swartwoud. 2013. Ater limus (I). Verdriet Rekords.
—. 2015. Nusquam. Verdriet Rekords.
—. 2017. ABNONBA. Verdriet Rekords.
—. 2020. Lokval. Onafhanklik.
Unleashed. 1991. Where no life dwells. Century Media.
Venom. 1981. Welcome to hell. Neat Records.
—. 1982. Black metal. Neat Records.
VleesAnker. 2020. Bang is ’n dier. Onafhanklik.
—. 2021. Verspeelde tyd. Onafhanklik.
Volkmag. 2008. Volkmag. Onafhanklik.
—. 2009. Op oorlogs vlerke. Onafhanklik.
—. 2012. Afrikaner. Onafhanklik.
—. 2013. Eendracht maakt macht. Barbatos Productions.
—. 2014a. Op oorlogs vlerke II. Onafhanklik.
—. 2014b. Op oorlogs vlerke III. Onafhanklik.
—. 2015. Die bittereinder. Barbatos Productions.
—. 2017a. Operasie X: Die slag van Volkmag. Onafhanklik.
—. 2017b. Staan vas. Barbatos Productions.
Volkmag en Krygsmag. 2017. Bose magte. Verspreider onbekend.
Vrotgot. 1998. Vieslik. Onafhanklik.
Filmografie
Grude, T. 1998. Satan rir media. Noorweë: Subfilm/TV2.
Eindnotas
1 Engelse terme word gewoonlik vir musiekgenres gebruik. Klopper verwys byvoorbeeld na rock en punk (2008, 2009), en na rap (2017), eerder as Afrikaanse vertalings van hierdie genres (byvoorbeeld kletsrym). In Senekal (2011) verwys ek na death, doom, black en thrash metal, en Van der Merwe (2019) gebruik ook die term metal. Gunstad (2015), wat in Noorweegs skryf, gebruik ook die Engelse term black metal. K.O.B.U.S.! se album Swaarmetaal (2007) wys egter dat Afrikaanse terme ook gebruik kan word. In die gees van swartmetaal, wat in die huidige artikel uitgewys word as ’n genre wat vroeg reeds by plaaslike tale aangepas het, verkies ek om in hierdie artikel begrippe met terme in Afrikaans te benoem en te omskryf.
2 In Afrikaans verwys Satanies tipies na enigiets wat met die figuur van Satan as ’n simbool van boosheid en rebellie verbind word, terwyl Satanisties spesifiek verwys na die beoefening van Satanisme as ’n geloof of filosofie, wat nie noodwendig die aanbidding van ’n letterlike Satan behels nie. Ek gebruik die term Satanisties derhalwe wanneer na die geloof verwys word en andersins Satanies.
3 In die konteks van hierdie spesifieke ekstreme-metaal-ensiklopedie word metaal streng gedefinieer deur die oorheersing van metalriffs binne ’n groep se musiek, wat dien as die grondliggende maatstaf vir insluiting (Encyclopaedia Metallum 2024). Hierdie definisie noodsaak dat ekstreme-metaal-elemente swaarder weeg – volgens die samestellers van Encyclopaedia Metallum – as enige nie-ekstreme-metaal-invloede, en vir minder-bekende groepe word verifieerbare bewyse soos oudiomonsters of resensies vereis om hul ekstreme-metaal-status te staaf. Vir insluiting is dit noodsaaklik dat ’n groep minstens een volle, ondubbelsinnige ekstreme-metaal-album vrygestel het om oorweeg te word, terwyl talle genres en subgenres, insluitend nuwemetaal (nu-metal), metaalkern (metalcore) (tensy dit oorwegend ekstreme metaal is), en harde rock, eksplisiet uitgesluit word (Encyclopaedia Metallum 2024). Groepe soos AC/DC, Van Halen en Steppenwolf is hiervolgens nie ingesluit nie, maar Iron Maiden, Judas Priest en Motörhead wel (Encyclopaedia Metallum 2025). Hierdie streng benadering prioritiseer die kernelement van metaalriffs en behou ’n gefokuste omvang vir die ensiklopedie om te verseker dat slegs groepe wat aan hierdie streng maatstawwe voldoen, as ekstreme metaal geklassifiseer word (Encyclopaedia Metallum 2024). Encyclopaedia Metallum is derhalwe nie ’n oop ensiklopedie soos Wikipedia waar enigeen bydraes kan lewer nie, maar bydraes word aan streng keuring onderwerp deur die bestuurders van Encyclopaedia Metallum. Gegewe die omvang van die ensiklopedie kan veronderstel word dat die bestuurders van Encyclopaedia Metallum kenners op die gebied is.
4 Slayer maak ook gereeld gebruik van Nazi-simbole, byvoorbeeld hul gebruik van die Nazi Schutzstaffel (SS) se “S” in hul logo (Kahn-Harris 2007:41), Nazi-arende in hul logo, ’n liedjie oor Josef Mengele (“Angel of death” op Reign in blood, 1986), en ’n kitaar versier met Joodse konsentrasiekampfoto’s (Moynihan en Søderlind 2003:29–30).
5 Hierdie liedjie kom op 128 opnames deur verskeie groepe op Encyclopaedia Metallum voor, wat dui op sy gewildheid onder ekstreme-metaal-groepe.
6 Dit is nie uitsonderlik vir “groepe” om uit een persoon te bestaan nie. Die verskynsel kom gereeld in die buiteland voor, waar die bekendste voorbeeld Varg Vikernes se “groep” Burzum is, wat in wese net uit homself bestaan het (Kahn-Harris 2007:85; Dyck 2016:57).
7 Die getal 88 is ’n bekende neo-Nazi-getal, aangesien H die agste letter van die alfabet is en 88 daarom ’n afkorting vir Heil Hitler is.
Bylaag: Groepe by hierdie studie ingesluit
Hierdie tabel lys die groepe wat in die huidige ondersoek ingesluit is en verskaf by die meeste van hulle skakels na waar gratis na hul musiek geluister kan word.
| Groep | Eerste opname | Skakel |
| Vrotgot | 1998 | https://www.youtube.com/watch?v=K_ZKPDt8d_A |
| Nahul | 2005 | https://www.youtube.com/watch?v=PRY3kjY95Rs&list=PLemUl-cYRhWq9Q-9jqPF7DmqIPjU2bHHD&index=2 |
| Volkmag | 2008 | |
| Krygsmag | 2009 | https://www.youtube.com/@krygsmag2262 |
| Swartwoud | 2013 | https://swartwoud.bandcamp.com |
| Ominous Reflections | 2014 | https://ominousreflections.bandcamp.com |
| Droom Alone | 2017 | https://www.metalkingdom.net/band/droom-alone-33515 |
| Scathanna Wept | 2017 | https://scathannawept.bandcamp.com |
| Stille Beendere | 2018 | |
| VleesAnker | 2020 | https://vleesanker.bandcamp.com |
| Onheilig | 2020 | https://ominousreflections.bandcamp.com |
| Slagbees | 2022 | https://www.youtube.com/watch?v=JvF6zT2ik0k&list=PLemUl-cYRhWoyQcfX6k7_6KNJcVvMkvSB |
| Somerreën | 2024 | https://somerreen.bandcamp.com |
| Spectral Bastion | 2025 | https://spectralbastion.bandcamp.com |
| LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. |

