Mense agter boeke: Leana Lategan, Museumgeesteswetenskaplike by NALN

  • 5

Leana Lategan, die eerste Museumgeesteswetenskaplike by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundemuseum en Navorsingsentrum), gesels met Jaco Botha.

Vertel asseblief van jouself?

Wanneer ’n mens “oud genoeg” word, begin jy maklik die frase “in die goeie ou dae” gebruik (hulle was natuurlik allesbehalwe goed).

Nou ja, in die “goeie ou dae” is ek gebore op 6 April, oftewel Van Riebeeckdag. (Omdat ek in 1974 ’n Vrystater moes word, is ek tot met die geskiedkundige 1994 elke jaar op die 6de met ’n kanonsaluut vanaf Bloemfontein se Naval Hill met my verjaardag gelukgewens. Ná 1994 was my vakansiedag daarmee heen, en die salvo ook. Poetic justice het egter gesorg dat 27 April ’n vakansiedag geword het, en ek dus steeds in April kan verjaar én rus.) My geboorteplek was Upington, ’n dorp wat in daardie jare (1955) 13 myl langs die Oranjerivier gestrek gelê het. Ek dink die waterslang van die Grootrivier (soos die Oranje ook onder sy bewonderaars bekendstaan) het my getoor, want in my kop het ek nooit oud geword nie: Ek het vasgehaak by Siembamba en Liewe Heksie en tannie Bep se stories, en min of meer gevorder tot “Sus en Daan”.

Toe ek vier jaar oud was, het ons Springbok toe getrek. Daar is my enigste broer gebore, en het die blomme (waarvan onder andere George Weideman en Thomas Deacon so pragtig skryf) by die waterslang se roersels oorgeneem. Op een van ons Sondagmiddagstaptogte in ’n droë rivierbedding net buite die dorp het my pa my ’n skilpaddop gewys – wat ek dadelik wou optel en saamneem, maar my pa het belowe ons sal dit tydens ’n volgende keer doen. Dit het natuurlik nie gebeur nie, en ek het met ’n verdere fassinasie opgeskeep gesit: skilpaaie.

Matriekklasfoto

Ek het matriek geskryf aan die Hoërskool Upington, waar ek en die later bekende skrywer Louis Krüger klasmaats was. Dis ook vir my vreeslik lekker dat daar ánder Afrikaanse skrywers is wat ’n emosioneel-kreatiewe verbintenis met my geboortewêreld gehad het: Engela van Rooyen, George Weideman, Thomas Deacon, Gerhard Beukes, Dricky Beukes, Gretha Sauerman, Annamarie Scheepers ... En so op die kantlyn die Hobsons en Sangiro, en sekerlik nog baie ander. Mense sonder wie ek my my lewe nie kan indink nie, is my ouers, my man Pieter (wat in 2003 oorlede is en ook by NALN gewerk het, as kunstenaar); verder my seun Heinrich, wat met musiek kan toor; en nou ook my verloofde Pieter, my buurman (maar dis ’n ander storie).

Vertel ons van NALN, en wat presies julle doen?

NALN is die akroniem vir die Nasionale Afrikaanse Letterkundemuseum en Navorsingsentrum en het in 1973 tot stand gekom met PJ Nienaber aan die stuur van sake. Soos die naam aandui, is die versamelveld dié van die Afrikaanse letterkunde, en sluit dit die kreatiewe skryfkuns in sy heel breedste vorm in. Besoekers en navorsers beland hier letterlik in ’n paradys van woorde, want hulle het toegang tot die gepubliseerde teks sowel as allerlei dokumente wat daarmee verband hou. Vir die nuuskieriges, en diegene wat biografies na ’n bepaalde skrywer wil kyk, is daar fotomateriaal, korrespondensie en, in baie gevalle, ook persoonlike items wat die leefwêreld van daardie skrywer binne tydskonteks plaas. Al die verskillende museologiese funksies kry binne die museum aandag: insameling, ontsluiting, navorsing, bewaring, en daarná die beskikbaarstelling van materiaal en die ontwerp en inrig van uitstallings.

Wat is julle grootste uitdagings?

Ons grootste uitdagings lê juis in die feit dat ons ’n gebrekkige personeel-infrastruktuur het: ’n kritieke tekort aan professionele en vakkundige mense, juis omdat hierdie tipe werk vakkennis vra. Ander leemtes bestaan ten opsigte van proaktiewe insameling en noodsaaklike skrywersbesoeke; die opspoor en vaslê van mondelinge vertellings; en die byeenbring van skryfwerk wat digitaal geskep word. Ons behoort ook aandag te kan gee aan uitgawes van tekste deur private persone en kleiner uitgewers, iets wat ons tans nie kan doen nie, juis vanweë te min werkers. Hierdie is maar enkele leemtes, en slegs ten opsigte van die versameling. Dan het ’n mens nog nie die finansiële implikasies en praktiese probleme wat met elke bedryf saamgaan, aangeraak nie.

Gelukkig het ons onlangs weer die sogenaamde Vriende van NALN in die lewe geroep en is daar ook mense wat op ’n praktiese en vrywillige wyse hulp aanbied met dinge waarby ons nie sou kon uitkom nie. Wanneer ons byvoorbeeld skrywersgeleenthede aanbied, of boekbekendstellings, is hulle die hande wat raakvat. Hulle organiseer en help ook met die bedryf van ons Boekemark in die Kelder, waar tweedehandse boeke verkoop word.

Waar kom jou liefde vir boeke vandaan? Vertel ons so ‘n bietjie van jou kinderjare? Wie was jou gunstelingskrywers en watter boeke het 'n invloed op jou gehad?

Ek was van stories bewus lank voordat ek van lees geweet het. My ouers was gebore storievertellers. My ma was die een wat elke keer ’n splinternuwe “Jakkals en Wolf”-verhaal uitgedink het, of ’n sprokie vertel het, of saam met my in knoetserige boomstamholtes na dwergies en feetjies gesoek het. Sy’t ook vir my familiestories oor die Boereoorlog en die Rebellie, waarin my oupa geveg het, vertel. My pa het, baie lank voordat Sue van Waart haar Swartberg-kontreiverhale opgeteken het, vir my die allermooiste ware verhale van die soms vreemde bewoners van Prins Albert, Die Hel (Gamkaskloof) en die Swartberg vertel. En albei my ouers was lesers, met die gevolg dat daar altyd boeke was. My eerste storieboek-ervaring was my ma se voorlees uit wat ek die Bokkie-boekie genoem het. Bokkie die Grysbok, deur Dorothy Bagnall geskryf en deur Anna Rothmann, TaMiem (MER) se dogter, in Afrikaans vertaal, is in 1962 gepubliseer. My ma het hierdie boekie oor ’n veldbrand en die verwoestende gevolge daarvan voos gelees. Soos sy ook AG Visser se getoonsette gedig “Amakeia” weer en weer en weer moes sing, want die balladeagtige aard van die gedig het my gefassineer en bekoor.

Toe ek eers self kon lees, was die ontdekking van boek ná boek, in Audrey Blignault se woorde, ’n “eindelose avontuur”. Ek het op besproeiingsgrond langs die Oranjerivier grootgeword, wat beteken het dat Upington, en gevolglik die openbare biblioteek (’n baie goedtoegeruste een!), slegs een keer per week, wanneer ons “dorp toe” gegaan het, besoek kon word. Aanvanklik het ek al wat ’n sprokiesbloemlesing is, verslind. Toe Marita van der Vyver se blitsverkoper Griet skryf ’n sprokie dekades later in my hande beland, was ek beïndruk met die wyse waarop sy die doodgewone sprokie in die gedaante van ’n roman kon laat verskyn. Hoewel ek ook reeksboeke soos die Uile van Cor Dirks en die Mientjie-reeks gelees het, en Saartjie en Trompie en Die Swart Kat my ’n rukkie besiggehou het – ek het gehou van die idee dat daar steeds nóg ’n boek lê en wag! – het ek spoedig ’n ander opwindende weiveld ontdek, naamlik dié van die vertaalde boek. Een van my boekpryse op skool in daardie tyd was Nicholas Kalashnikoff se jeugverhaal Turgen die Beskermer. Jare later, in NALN, het ek ook sy roman Tojon te lese gekry (die beste verhaal ooit oor ’n hond).

Een van die boeke wat Krismisvader vroegtyd vir my gebring het, was Ou Mi’kai vertel. Dié boekie, deur Pieter W Grobbelaar, het my ore oopgemaak vir ritmes en klank in prosa. Vandag nog, wanneer ek Etienne van Heerden se 30 Nagte in Amsterdam lees, of Audrey Blignault se essays, of E Kotze se kortverhale (om maar drie voor die hand liggende voorbeelde te noem), is ek verstom oor die wyse waarop die skrywer van ’n prosateks dit kan regkry om soveel klánk in hulle sinne te kry.

Twee vertaalde jeugverhale wat ek jaarliks herlees, is Die baai van die swart bote (Barbara Bartos-Höppner) en Waar die towerhaselaar groei (Vera en Bill Cleaver). Albei boeke het onder meer verlies en armoede as tema, maar dis só mooi geskryf dat ’n mens eintlik net ’n gevoel van vreugde en voldaanheid oorhou wanneer jy die boek weer toemaak.

Vertaalde jeugboeke wat 'n indruk gemaak het

Die jaar toe ek toegelaat is om aan die “grootmenskant” van die biblioteek boeke uit te neem, was ’n droewe keerpunt, en ek moes formeel toestemming vra om steeds kinderboeke te mog uitneem; daar was gewoon te veel om nog te lees. Tuis was daar buitendien genoeg om my mee besig te hou: Daar was vakliteratuur in my ouers se boekrak, en ek het met groot belangstelling die boek oor regspraktyk en -teorie gelees. Ek het CJ Langenhoven se boerewysheid slim en bruikbaar gevind, en graag sy essays gelees. Brolloks en Bittergal kon ’n mens in elk geval beter verstaan eers wanneer jy ouer was. Verder het ek, met woordeboek byderhand, probeer om Pride and prejudice te lees en dit, om die heel minste te sê, vermoeiend gevind. Ook Wuthering Heights was aanvanklik moeilik, maar het ’n “towerboek” geword toe my man, Pieter, dit ’n paar jaar later een aand presies om twaalfuur (op pad na Upington vir ’n vakansie by my ouers) kort anderkant Groblershoop vir my as ’n Kerfeespresent gegee het, kompleet met die woorde van die gelyknamige liedjie van Kate Bush voorin geskryf.

'n Persoonlike brief van Nan Henning aan Leana Lategan

Vertel ons meer oor jou studies en watter skrywers en boeke toe 'n invloed op jou lewe gehad het? Enige spesifieke aanhalings uit boeke wat jou bybly?

Ek het in 1974 as plattelandse kind in Bloemfontein aangekom om musiek te studeer aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, vandag die Universiteit van die Vrystaat. Na ’n onsuksesvolle jaar, waarin hierdie droom skipbreuk gely het, het ek van studierigting verander, en was in 1977 die eerste student wat ’n BA Tale-graad by Kovsies ontvang het. Die volgende jaar doen ek ’n BA Tale Honneurs, met Duits as hoofvak, en wysbegeerte.

Drie boeke wat ’n besonderse invloed op my gehad het gedurende my studiejare, was Hettie Smit se ikoniese briefroman Sy kom met die sekelmaan, Jan Rabie se kortverhaalbundel 21, en Goethe se Die Leiden des jungen Werthers. Al drie hierdie tekste, wat in daardie jare waarskynlik hoofsaaklik emosioneel aanklank by my gevind het, sou later, in NALN, binne groter konteks verstaanbaar en belangrik word: Hettie Smit en Rabie as enig in hul soort in Afrikaans, en Goethe se werk wat op een of ander wyse in talle Afrikaanse skrywers se werk ’n eggo gehad het. Franz Kafka se werk het my heeltemal uitgeboul, en tot vandag toe is Gregor Samsa en die soekende man van Der Prozess karakters wat in my kop leef. Ek het in daardie jare ook André P Brink se Aspekte van die nuwe prosa en Aspekte van die nuwe drama ontdek, en dit dikwels herlees. Brink het, soos JC Kannemeyer en TT Cloete later, vir my die wêreld van Afrikaans oopgemaak, en ek het vinnig weer op die “vertaal-wa” van veral Rabie en Brink geklim, en begin om hulle vertalings, veral uit Frans, te lees. Dít is hoe ek die jeugverhaal Verlorevlei ontdek het, waaruit een enkele sin my tot vandag toe steeds bekoor: “Agter die huis se vensters word die nag langsaam gebore.”

Vertel ons van jou loopbaan? Waar het dit begin? Wat was van die hoogtepunte in jou loopbaan?

En dit is natuurlik waar die skatkamers van NALN nou ter sprake kom. Want hoewel die museum ’n staatsinstelling is, is elke dag so lank en so vol as wat ’n mens dit wil maak, en elke item in die versameling ’n potensiële navorsingsbron. In 1979, nadat ek rêrig hard probeer het, kry ek ’n pos as klerklike assistent hier. My werk was om heeldag fotostate te maak. Met prof PJ Nienaber aan die stuur was dit ’n über-voltydse werk: ’n mens begin soggens halfagt by die fotostaatmasjien, en teen vieruur mag jy daarvandaan huis toe gaan. Dit was sewe maande lank my werk. Daarna het ek vakkundige werk begin doen, soos navrae beantwoord en navorsingsmateriaal ontsluit, besoekersgroepe ontvang, en skoolprogramme doen. Uiteindelik, na ’n jaar, het ek in die pos beland waar ek steeds is, en waar ek enigiets doen wat met Afrikaanse boeke te make het. Dit moet die lekkerste werk op aarde wees! Om elke dag met boeke van elke denkbare aard en inhoud te werk, beteken dat ’n mens toegelaat word om in die mees intieme emosionele en kreatiewe denkruimte van die skrywer te mag vertoef. Dit impliseer verder dat jy die verpligting opgelê word om eties en omsigtig met daardie skrywerspersoonlikheid en sy werk om te gaan. Ten laaste dwing dit jou om aan te gee wat jy lees en ontdek, en om dit op so ’n wyse te doen dat jou gehoor alleen die maatstaf is.

My werkinhoud is hoofsaaklik gerig op navorsing binne die versameling in NALN, en bronne sluit dus in boeke, foto’s en ander beeldmateriaal, tydskrifte en koerante, alle tipes dokumente in ’n skrywer of uitgewer se versameling en, uiteraard, ook alle driedimensionele items in so ’n versameling. Die doel met hierdie tipe navorsing varieer na behoefte. Daar word uitstallings gemaak met skrywersaangeleenthede as tema of uitgangspunt; ek skryf artikels of koerantberigte; doen radiopraatjies oor bepaalde onderwerpe; of doen leeswerk met die oog op ’n spesiale geleentheid wat aangebied word. Verder is ek baie besig met leeskringbesprekings; tree ook op wanneer ons huldigingsgeleenthede vir skrywers aanbied, en besoek skole en ander geïdentifiseerde teikengroepe met interessante en toepaslike bemarkingsgesprekke. Ek het ook ’n Bloemfonteinse boeketoer ontwikkel, waartydens die reeds meer as 150 Afrikaanse skrywers wat op een of ander wyse met die stad verbind kan word, aan die publiek bekendgestel word.

Die foto van Jan Rabie, Robert Pearce, Marjorie Wallace en Vernon February is in 1993 geneem tydens ’n skrywersgildeberaad wat buite Bloemfontein by Maselspoort gehou is. Die fotograaf was Jakkie Pretorius wat desjare NALN se amptelike fotograaf was.

’n Blywende bonus en hoogtepunt in elke dag se werk is natuurlik die feit dat ek moet “lees vir ’n lewe”. Daar kan geen groter vreugde (én uitdaging!) wees as om tussen die werk van skrywers soos Ingrid Winterbach, Etienne van Heerden, Deon Meyer, Dan Sleigh, Chris Karsten, Willem Anker en al die nog lewendes te pendel nie. Dan het ek nog nie eers genoem van die skrywers wat reeds dood is, en van wie ons nou slegs hulle boeke te lese oorgehou het nie. En ek praat van álle Afrikaanse skrywers, van Ena Murray tot Ernst van Heerden. Want by NALN mág ons, en moet ons, hulle in dieselfde asem noem. As leser en navorser het ek hier die verantwoordelikheid om die vergrootglas reg te gebruik; om te weet watter hoek ek wanneer moet probeer belig. Ek het ’n jaar of wat gelede as eksperiment JC Kannemeyer se Afrikaanse Literatuurgeskiedenis (albei bande) weer deurgeblaai, en was verstom om te ontdek hoeveel van daardie skrywers ek persoonlik kon ontmoet. Baie van hulle aan huis, en in gesprekke wat langer eerder as korter geduur het. ’n Mens is nooit weer dieselfde nadat jy by Ina Rousseau, of Petra Müller, Freda Linde, Jan Rabie, TT Cloete, PW Buys, Dot Serfontein, ens ens gekuier het nie, of hulle in NALN kon ontmoet nie.

’n Verdere hoogtepunt is die daaglikse moontlikheid van ontdekking: ’n foto, ’n manuskrip, ’n vergete of minder bekende skrywer se werk, ’n tydskrif uit vergete tye. En die speurtog wat daarmee op tou gesit kan word, sodat daardie vergeelde kennis op ’n vars manier by ander lesers, ouer maar ook jonger, kan uitkom. Dis ook my boodskap vir lesers: om ontvanklik te wees vir die groot verskeidenheid boeke wat op ons rakke beland; self te koop, onderling uit te ruil, daaroor te praat ... veral met jonger (potensiële) lesers. En ’n boodskap vir skrywers? Nee sjoe, so aanmatigend durf ek nie wees nie! Ek sou net vir elkeen wat hierdie werk doen, ’n persoonlike DANKIE wou sê!

Leana Lategan

Behalwe boeke, wat is die ander passies in jou lewe? Gee ons asseblief 'n bietjie meer persoonlike blik op jou lewe.

Passies? Baie min, en eenvoudig. Enigiets wat met die see te doen het; musiekkonserte; om ’n perfekte koek te kan bak; om kinderboekillustrasies te bestudeer; om die liefde te behou.

Ek is ’n wenser: ek wens ek kon Marthinus Versfeld ontmoet; ek wens dit was ék wat 30 Nagte in Amsterdam geskryf het, of die boenk uitgedink het, of vir Kupido Kakkerlak “die woord van God” laat eet het ... En ek wens my hart bly oop vir als wat ek nog wil lees, en daar bly iemand oor vir wie ek daarvan kan vertel!

Wat is jou top 10 boeke van alle tye? En wat het hierdie boeke oor die algemeen na jou lewe gebring?

My top 10 boeke sal Afrikaans moet wees, en ek sal boete doen vir dié wat ek nie noem nie:

Die swye van Mario Salviati (Etienne van Heerden)

Van eensame mense (Elise Muller)

Fees van die ongenooides (PG du Plessis)

Bidsprinkaan (André P Brink)

Moerbeibos (Dalene Matthee)

Agaat (Marlene van Niekerk)

Die laaste Afrikaanse boek (Karel Schoeman)

My beskeie deel (MER)

Draaijakkals (George Weideman)

Bloemfontein. Die ontstaan van ’n stad 1846–1946 (Karel Schoeman)*

(*Aangesien laasgenoemde ’n niefiksiewerk is, kan ek dalk ’n 11de boek inglip: Waar die towerhaselaar groei” van Vera en Bill Cleaver, en saam hiermee al die “Kadette” en “Klein Kadette” en “Libri’s”, en al die ander vertalings in Afrikaans, waarvoor ons ons begaafde skrywers moet bedank ... soos vir Daniel Hugo se Nege oop arms en Die hemel van Heivisj).

Die gemene deler van hierdie keuse is vir my die wyse waarop die skrywers hulle karakters hanteer en die brose web van menseverhoudings weef. Daarom bly dit ook boeke wat ek telkens weer sal herlees: ’n mens se emosionele ontwikkeling dikteer jou kompas vir sinvol lees, en hierdie handvol tekste lees elke keer ánders!

  • Erkenning aan Amanda Groenewald vir hulp met die foto's in hierdie onderhoud gebruik
  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    'n Kultuur-historiese kunsskat in die hartjie van Bloemfontein, 'n klipgooi van die Appèlhof wat mens laat glo hy is 'n soort "ouboet" wat 'n wakende ogie hou oor een van 'n handjie vol instellings en taal hier aan die Suidpunt van Afrika. NALN is in terme van waarde en betekenis soos die spreekwoordelike pot goud aan die punt van die reënboog ... Daar is so baie om te ontdek en nog te doen.
    In hierdie verband wys Leana Lategan hierbo op die volgende: "Ons grootste uitdagings lê juis in die feit dat ons ’n gebrekkige personeel-infrastruktuur het: ’n kritieke tekort aan professionele en vakkundige mense, juis omdat hierdie tipe werk vakkennis vra. Ander leemtes bestaan ten opsigte van proaktiewe insameling en noodsaaklike skrywersbesoeke; die opspoor en vaslê van mondelinge vertellings; en die byeenbring van skryfwerk wat digitaal geskep word. Ons behoort ook aandag te kan gee aan uitgawes van tekste deur private persone en kleiner uitgewers, iets wat ons tans nie kan doen nie, juis vanweë te min werkers. Hierdie is maar enkele leemtes, en slegs ten opsigte van die versameling. Dan het ’n mens nog nie die finansiële implikasies en praktiese probleme wat met elke bedryf saamgaan, aangeraak nie." Dis 'n bek vol en kan jou neerslagtig maak of inspireer en tot aksie dwing.
    Vraag is; wat kan die breër Afrikaanse gemeenskap (maar ook ander kultuurgroepe wat belangstel, besigheidsmense, kultuur organisasies en vele ander wat 'n belang het) doen om hierdie prysenswaardige instelling (EN ANDER SOOS HY) staande, lewendig en dinamies te hou. Om op voortgesette bydraes van die Regering staat te maak is ietwat van 'n dobbelspel waarvan talle voorbeelde reeds onder gras toegegroei is of stuk vir stuk weggedra is ....
    NALN se ywerige en toegewyde personeel, ondersteuners en vriende versit berge om die "bal in die lug te hou" en 'n besoek bring 'n onbeskryflike warmte en trots terwyl jy as mens al kleiner en kleiner begin voel namate die groot name uit ons geskiedenis deur middel van boeke, geskrifte, foto’s en artefakte oral sigbaar word. Hier haal Afrikaans asem, herinner jou aan 'n vasberade stryd wat in oorwinnings maar ook nederlae ge-eindig het maar van opgee nooit sprake was nie, nie toe nie en ook nie nou. As jy stil en alleen sit kan jy jou maklik verbeel dat hierdie klomp skrywers en digters "saamsweer" om jou tot aksie aan te moedig. So asof hulle wil sê; "... nou toe, as julle dit wat Afrikaans is en wat Afrikaans bied lewendig, dinamies en vry wil maak en hou, doen iets ... ons het reeds ons bydrae gemaak en tussen die buiteblaaie van ons boeke, digbundels en geskrifte, sal julle genoeg inspirasie vind om te doen wat nodig is."
    Daar is geen waarborge in die lewe nie, net keuses en vir ons geslag lê hef aan voor. As die Afrikaanse taal en sy instellings onder skoot kom waar sommige aanslae reeds soos "sluipmoorde" wil begin lyk, dan is dit nou die tyd nou om aandagbte gee en energie te spandeer aan iets wat almal na aan die hart lê. Dalk het die tyd aangebreek vir 'n soort oorhoofse "Indaba" waar oor instellings soos onder andere die een gepraat moet word terwyl monumente, museums en ander soortgelyke sake aangespreek kan word. Die doel moet doodeenvoudig een wees van gesprek, die wissel van gedagtes, idees ensomeer. Hieruit kan die behoeftes bepaal word en na aksieplanne met doelwitte gekyk word. Almal, almal en almal wat Afrikaans is, daarvan hou en wil praat behoort hul menings te kom lug; geen eksklusiwiteit nie. Die breë spektrum van Afrikaans wees, moet gedek word; van skrywers, digters, musikante, filmmakers, akteurs/aktrises ensomeer. Dis sal hulle Indaba wees, een wat die silo's wat tans bestaan en waar hierdie groepe en mense bymekaar verby beweeg, op een plek saamkom waar na almal se behoeftes en idees geluister kan word en ook net lekker gesels word.
    Tans vind duplisering van aktiwiteite op groot skaal plaas, hierdie groepe en mense kry nooit kans om net vir 'n slag bymekaar te kom, stoom af te blaas en net te kom sê wat hulle in hul harte omdra nie. Dis tyd vir 'n holistiese benadering tot 'n soort probleem wat by al die verskillende Afrikaanse groeperinge ervaar word en dalk sal so 'n soort saamtrek 'n energie skep en laat posvat wat nuwe hoop sal bring ... vir hulle almal en daarna ook die gewone man op die straat. Dit moet egter 'n inklusiewe oefening wees wat niemand uitsluit wat by so 'n geleentheid wil wees nie. Ook nie een waar voorgeskryf word en/of eie belang gedien wil word nie. 'n Voorvereiste sal juis moet wees dat 'n Indaba soos die se aktiwiteite en verrigtinge op 'n wyse gestruktureer word wat al die ou negatiewe goed (waaraan meeste bekend is) nie hier kom nesskop nie.
    Die bespreking self? Wel, hoe die verskillende genres in terme van befondsing gehelp kan word, hoe om die bestaan van huidige instellings soos NALN en die hordes andere toe te rus met wat nodig is, te bemagtig en meer lewensvatbaar te maak. Hoekom nie weer 'n soort "Helpmekaar" fonds maar die keer ter ondersteuning en uitbouing van die Afrikaanse Kultuur- van kuns, digkuns, die breë literatuur bedryf, filmwese, liedjieskrywers, sangers ensomeer. Daar kan dan ook planne beraam word om kapitaalkragtige instellings te nader vir investering van sommige projekte wat ook nie noodwendig net op nasionale vlak hoef te geskied nie. Daar is talle organisasies in ander lande wat fondse bewillig vir sake en dinge soos die.
    Dit wat in die kuberruim gebeur (wat dinge soos sosiale media insluit) asook die deurbrake op wetenskaplike vlak dwing baie van die groepe waarna hierbo verwys word om nuut te dink ten einde relevant te bly in hul bedryf. Die idee behoort slegs een te wees om 'n gevoel van sekuriteit te gee en ook dinge soos mediese fondse, pensioen en dies meer aan te spreek. Dit sal neerkom op 'n soort Advies en Koördineringsforum; een wat geen bindende besluite kan neem en afdwingbaar maak op ander genres nie. Op die wyse sal onverwagte geleenthede hulle voordoen, insette sal ly tot nuwe skeppende idees en indien een besondere groep of dan individu probleme ervaar (hetsy finansieel, persoonlik of wat ook al) bevind hy hom tussen geesgenote wat verseker nie hulle koppe weg sal draai nie.
    As ek bietjie gedroom het, dit was aangenaam. Die idee is/was beslis nie om vir al hierdie bestaande instellings, belangegroepe of mense nagmerries te gee nie ... Miskien net 'n beter fokus, meer inklusief en op groter akkommoderende skaal.

  • Avatar
    Corlietha Swart (Ondervoorsitter: Vriende van NALN)

    Leana, baie dankie ook vir jou groot bydrae oor jare heen in belang van NALN en die Afrikaanse letterkunde - elkeen by NALN se bydrae is onvervangbaar en belangrik, omdat jul so min personeel is wat so 'n reuse taak in belang van die Afrikaanse Letterkunde met soveel erns, verantwoordelikheid (en vreugde) met onderskeiding aanpak.

  • Avatar
    Estelle Haasbroek

    Dankie tog dat NALN nog bestaan. Dankie Leana en al haar mede-helpers dat julle voortgaan met die liefdeswerk.

  • Avatar
    Riana de Beer

    Ek vluglees gou vanmiddag die onderhoud en sien net skrams een van my geliefste boeke uit my kinderdae, "Tojon". Ek het die boek as verjaardaggeskenk ontvang in st 2 en die voosgelese toestand getuig van die baie ure se plesier. Dankie Leana vir soveel heerlike boekbesprekings saam met jou en die Langenhovenpark Leeskring. Jy slaag altyd daarin om 'n roman te help oopmaak tot 'n spesiale leesplesier en dwing ons gewoonlik terug na die boeke wat ons saam kon lees, waardeer en geniet.

  • Avatar
    Thariza Steyn

    Ek is diep geraak deur die pragtige Afrikaans waarin Leana ons van haar liefdes, haar passie en haar oop hart vir die Afrikaanse boek vertel en hoe die foto lewe gee aan haar geskrewe woorde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top