
Liewe President
Soms is oorgee die beste opsie. Ek glo dis ’n opsie wat u sterk moet oorweeg. Gee die leisels aan iemand wat bekwaam is.
Madiba was reg toe hy gepraat het van ’n Salomo, ’n Dawid en ’n Moses wat nodig is om die land te lei. Ek is nie mooi seker wie die regte persoon is om aan hierdie kombinasie te voldoen nie. Siende dat dit ongrondwetlik is en waarskynlik nie kan gebeur nie, moet ons seker werk met wat ons het.
Dalk sou die tweede beste wees om verskillende wyse mense se raad te vra en dit dan te implementeer. Iemand soos Dawie Roodt wat weet wat nodig is om die land se snelle afdraande te tem. Ek weet hy het al genoem dat stap een is om die land skoon te maak. Dit kos basies niks. Maar maak sommer skoon onder die kabinet ook. Nie jou drankkabinet nie, maar daardie klomp staatsamptenare wat ons land in die verleentheid stel, dié wat steel en klagtes teen hulle het, en dié wat droogmaak. Minder is meer. Laat alle staatsamptenare wat swak rekords het opleiding kry met die voorwaarde dat, as hulle punte-toekenning nie verbeter nie, moet hulle ander werk soek.
U het met groot fanfare met u eerste toespraak as president aangekondig “thuma mina” of te wel, “stuur my”. Rig u koers tog op die regte rigting. Kies om die regte pad vir die land se omstandighede te kies. Ja, dis nie die soustrein- of die geel-swart-en-groen-pad nie, maar dis waarskynlik die beter pad. Gepraat van paaie, doen asseblief iets aan die vervalle strate wat ons ekonomie beïnvloed en herstel die treinnetwerk sodat ons paaie langer kan heel bly.
Laat die skuldiges asseblief gevolge dra en doen iets aan al die kommissies se papierwerk. Daarmee bedoel ek laat die skuldiges aan die pen ry, anders was dit weer net nog geld gemors.
Nog ’n manier om geld te spaar, is om ’n verbod te plaas op uitspattige funksies, ook die getal staatsamptenare wat afgevaardig word na allerhande funksies en oorsese kongresse, en dan spyseniering te verbied by alle vergaderings en ander staatsfunksies. Die meeste staatsamptenare kan doen met minder kos en hulle kan soos die gemiddelde Suid-Afrikaner ’n kosblik met oorskietkos werk toe vat.
Terloops, wat het geword van u stapsessies by die Kaapse waterfront? U as leier moet mos die voorbeeld van ’n gesonde lewenswyse stel, tensy u wil hê dat die kabinet aan vetsug en hartkwale sterf sodat ander politici by die trog aan ons belasting kan vreet?
Om op te som, gryp die vet wolwe wat skaapwagters is, stap meer en neem besluite wat die burgers van die land sal baat en nie die kaders se spaarrekeninge onder hul bankkussings nie.
Sterkte met u toespraak. Mag u die moed van u oortuiging kry om vir ’n slag die land en haar mense eerste te stel.
As ’n nar in die paleis kom, word die paleis ’n sirkus.
Groete
Gerda-Marie van Rooyen

