Meneer die President, dis die laaste jare van jou termyn

  • 0

Geagte president Ramaphosa

Ek weet niks van hoe om ’n land te regeer nie, en laat dit oor in u hande. U tweede termyn snel teen ’n spoed verby, en ek sit met afwagting en kyk of u die heel eerste president gaan word wat twee volle termyne gaan voltooi. Sedert die instelling van die amp van uitvoerende president in 1984 het nog nie een enkele president twee volle termyne voltooi nie.

Die politiek is so wispelturig dat mens elke jaar wonder of dit u laaste Sona gaan wees.

Ek glo u party het oor die jare veel meer vermag as waarvoor hulle dikwels krediet kry. Veel meer mense het vandag toegang tot water, elektrisiteit, skole, klinieke en ander basiese dienste as ooit in die geskiedenis. Maar sukses skep verwagtinge, en ongelukkig slaag die regering nie daarin om aan al die verwagtinge te voldoen nie. Ek glo ook u is nie u party nie, en u party is nie u nie. Met die einde van u termyn wat op die horison lê en loer, moet u seker soms dink aan die soort nalatenskap wat u gaan laat.

Gemeet aan vorige Sonas, is die prentjie dalk nie aldag so rooskleurig nie. As ek dink aan Suid-Afrika, dan dink ek aan drie sake wat ek as die land se grootste bedreigings beskou. Dit is die gebrek aan ekonomiese groei, die misdaad, waaronder geweldsmisdaad, en die uitdaging van dienslewering in munisipaliteite.

Werkloosheid onder die jeug sou ook gelys kon word, maar dit is gewoon maar die uitvloeisel van die ekonomiese verval. Daarby dink ek nie dat dit die regering se rol is om werk te skep nie, maar dat die regering beslis verantwoordelik is vir die regte klimaat vir ekonomiese vooruitgang.

Tesame met die geweldsmisdaad kan werkloosheid as ’n tragedie beskryf word in Suid-Afrika. Baie jongmense wat ek geken het toe ek jonk was, word nou saam met my oud, maar hulle drome is verwoes, omdat dit opgeoffer was van die leë beloftes van gulsige politici. Hoewel ek geen hoop het dat die politici hierdie kwessies sal oplos nie, is dit die sake waaraan ek sou probeer aandag gee in ’n staatsrede, en ook tydens die laaste jare van ’n termyn as president.

Met waardering vir u tyd.

Barend van der Merwe

Lees die ander briewe hier:

Wat wil jy vir Cyril sê? Wen ’n geldjie met jou antwoord.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top