
Geagte meneer Ramaphosa
Tegnies moet u aangespreek word as Meneer die President, maar dit sal lol om die sarkasme wat tans met die aanspreekvorm geassosieer word te vermy. Derhalwe bloot meneer.
Dis seker onwaarskynlik dat iemand wat dollars in meubels versteek hom aan goeie raad sal steur, maar kom ons vergeet vir ’n oomblik van die vooroordele en gesels ten spyte daarvan. Die vind van gemeenskaplike grond is altyd ’n goeie begin, so laat ons minstens saamstem dat niemand lank genoeg leef om elke fout in die boek te maak nie, daarom leer ons uit die voorbeelde – en foute – van ander.
Hy is nie noodwendig ’n held in my wêreld nie, maar laat my toe om u te herinner aan Rudy Giuliani se wegspringplek vir New York destyds: Begin met die klein dingetjies. Mense tree dikwels ooreenkomstig hulle omgewing op; sorteer die slaggate, vullis, waterskaarstes en betreurenswaardige infrastrukture uit, en maak inwoners trots op hulle onmiddellike omgewing. Dis nogal uitdagend om vrolik te stap terwyl jy in ’n slaggat trap wat jy nie gesien het nie omdat dit onder ’n berg vullis versteek is en die straatligte in elk geval nie werk nie, en dan gesig eerste in ’n bol beesmis neer te slaan.
As u nie dink dat dit ’n probleem is nie, reik dan ’n bevel uit dat geen opruiming vir ’n ministersbesoek gedoen mag word nie. ’n Omgewing wat na bewering aanvaarbaar is vir die inwoners, is sekerlik ook aanvaarbaar vir ampsdraers.
Van stap gepraat, ons moet ernstig werk aan wetsgehoorsaamheid. Weinig voetgangers is in staat om die begrip “sypaadjie” te snap, om van voetoorgange nie eers te praat nie. Motoriste se vullisdromme is hulle voertuie se oop vensters, elke boom is ’n potensiële toilet, en wat nie vasgeanker is nie, word onregmatig toegeëien. Elfduisend en vier nuwe wette is nie die oplossing nie, die bestaande wette word dan nie eers afgedwing nie. Hierdie magdom nuwe wetgewing mag interessante parlementsdebatte tot gevolg hê, maar dis omtrent so effektief soos om muskiete met ’n R4 te probeer skiet.
Terwyl ons nou oor die reg praat, stel asseblief mense aan wat die werk kan doen. Zuma (nee, ek gaan hom nie meneer noem nie) se Stalingrad-taktiek het die norm in die howe geword. ’n Alledaagse winkeldiefstalsaak word gemiddeld nege keer uitgestel. Dit kan derhalwe geen verrassing wees dat staatskapingsake nie uit die blokke kom nie. Weinig sake word deur ’n uitspraak gevolg. Die meerderheid van mense word nie 100 jaar oud nie, en dis hoe lank getuies moet wag om uiteindelik te getuig. Metusalem was ’n uitsondering.
Ek het onlangs uit die regsberoep getree en is van verskeie dinge baie oortuig, maar een daarvan staan uit: Om met begrip te kan lees, is deesdae ’n superkrag wat aan die uitsterf is. Onthou die nuwe wette waaroor ons pas gesels het? Dis so nuttig soos sand in die Sahara as dit nie met begrip gelees kan word nie. Landdroste spreek beskuldigdes vry wat met vingerafdrukke aan ’n toneel verbind word as daar meer as sewe punte van ooreenstemming op die afdrukke is. Verskoon my dat ek daaroor lag, dis eintlik eerder ’n moedelose snork. Die gemene reg vereis ’n minimum van sewe punte, nie ’n maksimum nie. Sien u die probleem?
Daar word dikwels – tereg – gesê dat dit onnodig is om die wiel te herontwerp, maar wanneer mense basiese beginsels vergeet het, is dit soms wel nodig. Ek het nog altyd gewonder hoe groot beskawings bloot kon verdwyn, maar ek begin nou verstaan hoekom dit gebeur het.
Kom ek maak dit maklik. Keer terug na die basiese wiel en kom woon op voetsoolvlak. Ruik die ontlasting en rommel met geen water om dit te hanteer nie, val in ’n slaggat en wag vir ’n ambulans totdat die perde horings kry, en sê dan weer vir my dat ons verby die ontwikkeling van die wiel is. Ons was; ons is nie meer nie. Ons leef asof daar nog nooit wiele was nie.
Siende dat ek nou u aandag het, herinner die regbank ’n slag aan vergoedende boetes. Geletterdheid sal ’n hupstoot kry indien sodanige boetegelde aan ’n organisasie soos LitNet toegewys word.
Die slot van hierdie skrywe is nogal vir my ’n uitdaging. Dienswillig sal ’n leuen wees, as afgetredene het ek nie meer lus daarvoor nie. Beste wense sal eweneens vals eggo. Gun my asseblief dus die luukse om slegs tot siens te sê.
Anschen Conradie


Kommentaar
Goed verwoord, Anschen.
Politici het géén idee wat in die ware wêreld aangaan nie.
Amen, Anschen! Meer kan ek nie met iemand saamstem nie. Preek suster, preek .... al luister die donners nie.