In memoriam: Bonaventure Hinwood, OFM (1930–2016)

  • 0

Op 8 September 2016 is vader Bonaventure Hinwood van die Orde van die Franciskaanse Monnike in die ouderdom van 86 jaar en sewe maande in die Holy Cross-tehuis in Pretoria oorlede. Met agt digbundels wat tussen 1981 en 2014 verskyn het, het hy ruim tot die Afrikaanse poësie bygedra, nie net as een van die min Katolieke stemme in die Afrikaanse digkuns nie, maar ook as fasiliteerder van twee digterskringe in Pretoria wat as slypskole gedien het vir ʼn groot getal digters, van wie sommige groter prominensie in die Afrikaanse literêre wêreld sou geniet as Hinwood self. Hierbenewens het hy ʼn besonder belangrike bydrae tot die vestiging van ʼn Afrikaanse Katolieke liturgie gelewer. Diegene wat die voorreg gehad het om hom as priester, digter en/of persoonlike vriend te ken, se lewens is aangeraak deur sy geloof, sy sagmoedigheid, sy goedheid en goedgesindheid teenoor alle mense, en deur sy formidabele intellek.

hinwood1

Lewenskets

Edward Victor Hinwood is in Februarie 1930 in Johannesburg gebore. Hy is in die Metodistekerk gedoop, maar omdat die enigste Sondagskool in die buurt waar hulle gesin gewoon het, dié van die Anglikaanse Kerk was, het hy eenvoudig saam met die ander kinders daarheen gegaan. Jare later, as student aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), was hy een van die stigterslede van die Students’ Anglican Society.

Hy verwerf ’n BA-graad aan Wits, met geskiedenis as een van sy hoofvakke. Daarna skryf hy hom vir ’n honneursgraad in geskiedenis in en behaal terselfdertyd ʼn professionele kwalifikasie in biblioteekkunde.

Hinwood verdiep hom veral in die bestudering van die kerkgeskiedenis. Hierbenewens stel hy, in sy soeke na geloofsekerheid, ondersoek in na die leerstellinge van verskeie Christelike groepe. Hy kom tot die oortuiging dat hy hom by die Katolieke Kerk moet aansluit, waar hy in Oktober 1951 as lidmaat aanvaar word. Hierna, en ten spyte van belowende loopbaanvooruitsigte op grond van sy akademiese kwalifikasies, raak Hinwood óók oortuig “dat die Vader wou hê dat ek Jesus moet volg in die voetspore van die H[eilige] Franciskus van Assisi en in die hoedanigheid van ’n priester” (Hinwood s.j.). Hy kontak gevolglik die lede van die Ierse Provinsie van die Minderbroederorde, wat destyds die Katolieke kweekskool (seminarie) in Pretoria beman het, en hulle verklaar hul bereid om hom te aanvaar. Omdat daar egter geen opleidingsprogram in Suid-Afrika beskikbaar was nie, word Hinwood die eerste Suid-Afrikaner wat Ierland toe gaan om hom daar as priester in die Minderbroederorde (hier te lande meer algemeen bekend as die Franciskanerorde) te bekwaam. In Julie 1960 word hy in Rome tot priester georden.

Na ʼn latere periode van verdere studie verwerf Hinwood sy doktorsgraad in Rome met ʼn proefskrif wat in Latyn geskryf is. Na ʼn periode van amper tien jaar in Rome stuur die Katolieke Kerk hom weer terug na die kweekskool St John Vianney in Waterkloof, Pretoria. Hier sou hy uiteindelik 35 jaar lank dosent in sistematiese teologie wees, asook akademiese dekaan. Op 6 November 2013 word hy (en drie priesterkollegas van die kweekskool) tydens ʼn luisterryke mis vir hierdie besonder lang periode van diens aan die kweekskool met ʼn spesiale pouslike eerbetoon, die Pro Ecclesiae et Pontifice, vereer (St John Vianney Seminary 2013).

Doseerwerk aan die kweekskool was nie die enigste van vader Bonaventure se priesterlike pligte nie. Van 1964 tot 1971 was hy die Katolieke studentekapelaan by die Universiteit van Pretoria, ʼn taak wat hy weer van 2000 tot 2006 beklee het terwyl hy ook priester van die Katolieke parogie van St Pius X in Waterkloof was. (Sy uitvaartmis word gevolglik op 14 September in hierdie kerk gehou.)

Hy was (onder meer) ook vir ’n lang tyd die Katolieke Kerk se segspersoon in die media, en tot 2010 provinsiale sekretaris van die Franciskaanse Orde in Suid-Afrika.

Hy het talle Engelse boekpublikasies oor die Katolieke Kerk en Katolieke godsdiensbeoefening die lig laat sien en ʼn gereelde rubriek in The Southern Cross behartig. ʼn Reeks oggend- en aandoordenkings wat hy oor die radio gelewer het, is in 1984 in Afrikaans vertaal en onder die titel Gee ons vandag: Oordenkinge vir elke dag deur JL van Schaik uitgegee.

Na sy aftrede in 2010 woon Hinwood ʼn tyd lank in die Franciskaanse huis in die suide van Pretoria, tot hy weens swak gesondheid sy intrek in die Holy Cross-tehuis in die noordweste van Pretoria neem, waar hy hom steeds daagliks met vertaal- en skryfwerk, en priesterlike pligte en gebede besig gehou het.

hinwood3

Bydrae tot die Katolieke liturgie in Afrikaans

Een van die vele terreine waarop vader Bonaventure Hinwood ʼn baie groot bydrae gelewer het, was in die vertaling van liturgiese materiaal uit (veral) Latyn en Engels in Afrikaans, soos die Missaal, met al die gebede wat in die Katolieke Kerk gebruik word, en die Leksionarium, die versameling skriflesings en beurtpsalms wat by die Sondag- en weekdagdienste gebruik word. Die hoogtepunt van sy liturgiese vertaalwerk is die Afrikaanse vertaling, spesifiek vir gebruik in die Katolieke liturgie, van die 150 Bybelse psalms en 12 lofgesange. Hierdie vertaling moes voldoen aan die vereiste dat die tekste maklik in groepsverband opgesê of gesing kan word, wat meegebring het dat die vertaler hom streng aan bepaalde metriese (ritmiese) vereistes moes hou. In hierdie werk, wat jare lank geduur het, het Hinwood sy vertalings aan ʼn groepie van sewe persone voorgelê vir kommentaar op die taal en digterlike inkleding, die Afrikaanse kerktaal (register) en die korrekte interpretasie van die Hebreeuse oerteks. Hierdie vertalings beskik oor ʼn besondere poëtiese kwaliteit en neem ʼn volwaardige plek naas die psalmberymings van Totius en TT Cloete in die Protestantse liturgie in. Hinwood se Afrikaanse Psalms en lofgesange is in 1993 deur JL van Schaik uitgegee. Tot sy dood was Hinwood ook betrokke by die jongste vertaling van die Bybel in Afrikaans.

Hinwood se mentorsrol in digtersgroepe in Pretoria

Die antwoord op waar ʼn Johannesburgse, Engelstalige Katolieke priester wat in Ierland en Rome studeer het, se verbintenis met Afrikaans vandaan kom, lê in sy besef dat hy Afrikaans goed sou moes leer beheers om sy pligte as Katolieke studentekapelaan by die Universiteit van Pretoria suksesvol te kon nakom (persoonlike mededeling).

Afrikaans het op ʼn besondere manier by Bonaventure Hinwood aanklank gevind. Hy het in 1964 poësie in Afrikaans begin skryf (Hinwood s.j.), en mettertyd het sy “reaksiepatrone en denke na Afrikaans toe oorgeskakel” (Hinwood 2014, Vooraf), in so ʼn mate dat sy taalvoorkeur in sy persoonlike gebedslewe Afrikaans, Latyn en Engels was (persoonlike mededeling). “[T]ot vandag toe vind ek my gees meer tuis in Afrikaans,” skryf Hinwood in die voorwoord tot sy laaste bundel, Sover (2014).

Van 1966 af (twee jaar nadat hy in Afrikaans gedigte begin skryf het) is Hinwood deel van ʼn digtersgroep wat gereeld in Pretoria bymekaarkom om kommentaar op mekaar se gedigte te lewer. Hierdie groep het digters soos Phil du Plessis, Wilhelm Knobel, George Weideman, Casper Schmidt, DPM Botes, Stephan Bouwer, Pirow Bekker, Jeanne Goosen, Marié Blomerus, Louis Eksteen, Marlise Joubert, Coenie Rudolph, Wessel Pretorius, Barend J Toerien en De Waal Venter ingesluit.

Teen die tagtigerjare het die Pretoriase digtersgroep wat in 1966 ontstaan het, reeds doodgeloop. In Februarie 1986 begin Hinwood opnuut ʼn digtersgroep in Pretoria. Die groep vergader aanvanklik by Santa Sophia, die akademiese klooster langs die kweekskool St John Vianney, waar Hinwood toe gewoon het. Later word die nagenoeg maandelikse byeenkomste om die beurt aan huis van verskillende lede van die groep gehou. Dit behels ʼn bespreking van mekaar se gedigte, gevolg deur die geniet van ʼn glas goeie wyn en iets te ete (op Vrydagaande geen vleis nie). Die keuse van gedigte vir elke bespreking is altyd deur Hinwood saamgestel in sy hoedanigheid as fasiliteerder en skriba van die groep. (As bibliotekaris het hy hierdie gedigte en besprekings ook noukeurig gedokumenteer en geargiveer.) Lede van die tweede digtersgroep sluit onder meer die volgende digters in: Johann Lodewyk Marais (op wie se versoek die digtersbyeenkomste opnuut begin is), Renée Marais, Johann de Lange, Henk Havenga, Joan Lötter, Marié Blomerus, Paula van Rooyen, Marietjie van der Walt, Hennie Meyer, Martjie Bosman, Johann de Jager (wat die uitgewery Bent op die been gebring en bedryf het), Jacobus van der Riet en Costa André Georghiou.

Die ledetal van die digtersgroep het later só uitgebrei dat die groep in meer en minder ervare lede verdeel het. Vir baie jare het hierdie byeenkomste ʼn belangrike bydrae tot die ondersteuning en ontwikkeling van die werk van verskeie digters in die Pretoria-omgewing gelewer. ʼn Kerngroep van ses lede (van wie byna almal reg van die begin af tot die groep behoort het) het tot in 2014 nog nagenoeg kwartaalliks bymekaargekom om mekaar se gedigte te bespreek. Daarna het Hinwood se gesondheid dermate agteruitgegaan dat hy eintlik nie meer kon uitgaan nie, en weens beperkte ruimte ook nie besoekers in ʼn groep kon ontvang nie.

hinwood2

Hinwood se digterskap

In 1981 verskyn Hinwood se debuutbundel, Smeulvuur, onder die skrywersnaam Hewitt Visser in ʼn hardebanduitgawe by JL van Schaik. Hinwood kies die van Visser vanweë ʼn familieverbintenis (aan moederskant) met die digter AG Visser. Die sewe daaropvolgende bundels verskyn (in sagteband) onder die naam Bonaventure Hinwood. Sonvis word in 1988 uitgegee, weer eens deur JL van Schaik, wat ook Hinwood se derde bundel, Soenoffer, in 1991 publiseer. Bundels vier tot sewe word deur Bent uitgegee: Serafyn (2004), Afskynsels (2007), Seevlak tot savanna (2008) en Safari (2009). In 2014 word Hinwood se agtste (en laaste) bundel, Sover, deur XLIBRIS gepubliseer. Hierdie bundel, opgedra aan Phil du Plessis (1944–2011), bevat agt afdelings gedigte. Die publikasie is goed versorg en ryklik geïllustreer met talle afdrukke van kleurvolle kunswerke deur die digter se oorlede broer, Lionel Hinwood.

Vader Bonaventure Hinwood se ingesteldheid en geloofsoortuiging as Katolieke Christen is onlosmaaklik aan sy digkuns gekoppel. Talle gedigte bevat subtiele verwysings na die Katolieke teologie, wat nie noodwendig herkenbaar is vir ʼn leser wat nie daarin onderlê is nie. Ten spyte hiervan spreek die gedigte op ʼn primêre vlak tot die leser, sodat herkenning van die teologiese verwysings meer waarde toevoeg en nie absoluut noodsaaklik is vir begrip van die gedigte nie. Hinwood se gedigte handel oor verskeie temas: liefde vir God en medemens, eerbied vir, en verbondenheid met, die skepping en die natuur (veral die see – hy was ʼn goeie swemmer), medemenslikheid, lyding, sosiopolitieke ongeregtigheid, reis (by voorkeur per vliegtuig), vriendskap, dankbaarheid, en die alledaagse lewe. Sy gedigte is heg gestruktureer, met besondere aandag aan metrum en klank. In al sy bundeltitels gebruik hy byvoorbeeld doelbewus [s]- en [f]-klanke, en besprekings en voorstelle tydens die digterlike byeenkomste het meermale getoon met hoeveel aandag aan verstegniese middele en besonderhede sy gedigte gestruktureer is.

Dit is eintlik onverklaarbaar dat die bydrae wat Bonaventure Hinwood tot die Afrikaanse letterkunde gelewer het, nog nie beter opgeteken is nie en dat hy nog nie die erkenning geniet wat hom in velerlei opsigte toekom nie. Afgesien van ʼn huldigingsnommer van die literêre tydskrif Ensovoort (6:1, 1994) is inligting oor hom en sy werk as digter, vertaler, teoloog en mentor maar skraps. Dit is hoog tyd dat ʼn indringende oorsigartikel aan Hinwood se werk gewy sal word, en hy sy regmatige plek binne die Afrikaanse literatuurgeskiedenis sal inneem.

Bronne

Hinwood, Bonaventure. s.j. Ek glo – persoonlike getuienisse van Afrikaanse Katolieke. http://www.dieoratorium.org/new/index.php?option=com_content&id=347:katoliek-wees-beteken (13 September 2016 geraadpleeg).

 —. 2014. Sover: Bepeinsings van Bonaventure Hinwood. Observatory: XLIBRIS.

St John Vianney Seminary. 2013. SJV honours its “magnificent 4!”. http://sjv.ac.za/sjv-npc-honours-its-magnificent-4 (13 September 2016 geraadpleeg).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top