Melvin Whitebooi: mag sy siel in vrede rus

  • 0

Die gerespekteerde Afrikaanse veteraan-joernalis Melvin Whitebooi se dood in November het ’n groot leemte in die Afrikaanse joernalistiek gelaat – veral in swart Afrikaanse joernalistiek.

Whitebooi het aan ’n hartaanval by sy huis in Kaapstad gesterf. Hy was in lewe ’n bekende en geliefde spesialis-joernalis by die Kaapse dagblad Son.

Hy was ’n boorling van die Oos-Kaap en spesifiek Shauderville in die Baai se noordelike gebiede.

Whitebooi het aan die Hoërskool Uitenhage op Uitenhage gematrikuleer.

Melly het reeds sedert sy skooljare begin skryf en het sy loopbaan as joernalis by Die Burger begin en is daarna na Metro-Burger. Hy het bekend geword toe hy destyds by Rapport-Ekstra en later by Rapport-Metro begin werk het as kuns-en-vermaaklikheidskrywer. Veral sy musiek-rubriek “Pop met Melly” het aan hom ’n soort kultus-status in die bruin gemeenskap verleen.

Hy het die hartklop van sy gemeenskap geken en sy pen het baie musikante, soos Jonathan Butler, bekend gemaak.

Dit is veral tragies dat Whitebooi dood is in dieselfde week dat Kaap-Rapport die laaste keer verskyn het. Kaap-Rapport se voorgangers, naamlik Rapport-Ekstra en Rapport-Metro, was publikasies waardeur Melly in voeling met sy lesers en sy gemeenskap was. Hul albei se “afsterwe” sluit beslis ’n era af!

Benewens ’n gesoute joernalis was Melly ook ’n dramaturg, kortverhaalskrywer, mentor van ’n geslag jong joernaliste en skrywer van verskeie TV-verhale. Die destydse bruin TV-reeks Die Allemans het uit Melly se pen gekom.

Ek het die voorreg gehad om in 2001 vir die kuns-en-vermaak-blad van die Oos-Kaapse uitgawe van Kaap-Rapport te skryf. Gedurende dié tydperk het ek nou met Melly saamgewerk om aan die kunstenaars in die Oos-Kaap dekking in Kaap-Rapport te gee.

Ek het hom leer ken as ’n baie gedissiplineerde, harde werker wat spertye altyd stiptelik nagekom het. Hy was ’n gesoute joernalis wat altyd bereid was om raad te gee aan veral jongmense.

Mag sy siel in vrede rus ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top