Meesters in aksie in Kunene and the King

  • 0

Foto’s: Ellie Kurttz (RSC), Claude Barnardo (Fugard-teater)

Die veteraanakteur Jack Morris (Antony Sher) word met terminale lewerkanker gediagnoseer en die versorgingsoord ken ’n senior verpleegsuster toe om na hom om te sien. Hy verwag ’n jong vroulike “suster Koen”, en met die intrapslag is die feit dat sy versorger nou suster Lunga Kunene (John Kani) manlik en boonop swart is, ’n groot struikelblok vir dié selfvoldane ouer wit man.

Hy erken wel dat die vrees vir kanker ’n krag is wat uit die middel van die aarde uitskeur – dat dit só groot en só oeroud is.

Jack leer die sinne van sy volgende vertoning as King Lear en so saam-saam werk hulle deur die teks. Deur Lunga se oë kry die teks nuwe betekenis vir Jack en ook vir Lunga, wat dit met groot waardering uit sy kinderjare onthou, maar vir wie dit ’n heeltemal ander betekenis gehad het omdat hy as onderdrukte in ’n apartheidsbestel grootgeword het.

Voor die aanvang van die produksie lees ek John Kani se nota in die program. Hy vertel dat sy eerste ontmoeting met Shakespeare in 1959 was toe sy onderwyser, mnr Budaza, in die klaskamer ingestap het en Julius Caesar (vertaal in Xhosa deur WB Mdledle) voorgestel het. Hy beskryf daardie oomblik “asof die kennis-rewolusie in ons lewens ingekom het”. En hoewel die destydse apartheidregering ander bedoelings as bemagtiging gehad deur dié werk in skole toe te laat, het hul onderwyser hulle oortuig dat Caeser sal val soos die Afrikaner-diktators wat apartheid dryf.

Hy vertel voorts dat hy 51 jaar oud was toe hy die eerste maal kon stem in 1994. Hy erken dat hy met 51 jaar se apartheidnagmerries saamleef, “altyd aan die weghardloop of vallende in die reuse gat. Wat my pyn draagliker maak, is die herinneringe aan daardie Shakespeare-sonnette wat ek in die 1950’s geleer het. Nou weet ek wat daardie sonnette beteken”.

Hy verduidelik dat Othello, Claudius in Hamlet, en Caliban in The Tempest van sy hoogtepunt-rolle was om as akteur te vertolk en met die skryf van Kunene and the King hy weer in sy ou vriend, Shakespeare, se geselskap is.

Janice Honeyman sê in haar regisseursnota dat die toneelstuk uit baie skaafwerk tot “ tot dit uiteindelik hergebore is as oorspronklike en outentieke storie van twee ou mans”.

Sy sê tydens repetisie het hulle baie fasette van moeilike verhoudings ontgin en John het ’n stuk geskep wat die “politiek, rassistiese vooroordele van mense met verskillende agtergrond, ons pynlike geskiedenis, die uitwerking van verslawing, vernedering, kulture kontras en menslike konflik reflekteer, maar dat die fyn draadjie wat alles verenig, Shakespeare is”.

Die toneelstuk se tydsberekening is puik: met die verkiesing vandeesweek is die geykte stereotipiese gesprekke langs die kleur- en kultuurlyn van “ons” en “hulle” weer in die voorgrond. Die aannames wat die verskillende rasgroepe in Suid-Afrika oor mekaar maak, lyk belaglik in die twee volwasse manskarakters se monde. Jy hoor die gehoor se proesslag gereeld en besef dan hoe skuldig ons almal aan daardie aannames of verwere is.

Dis 25 jaar sedert Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing. ’n Kwarteeu waarin die wonde van baie dekades moet begin genees. Of só glo diegene dalk wat nie met wonde saamleef nie.

As iemand wat versot is op teater en die gesprekvonkies wat dit laat spat, wat soms groot brande veroorsaak wat die land suiwer, kan jy nie anders as om iewers tydens die vertoning net in absolute oorweldigende dankbaarheid te sit en besef dat jy in die teenwoordigheid van grootsheid is nie: om John Kani, akteur, aktivis en teksskrywer saam met Sir Antony Sher (The Tempest, The Fugard Theatre se produksie van Broken Glass, die Royal Shakespeare Company (RSC) se produksie van King Lear (2016 & 2018) en Death of a Salesman op die verhoog te sien en in die regisseurstoel sit Janice Honeyman (The Tempest, …Missing, Nothing But The Truth, Hello and Goodbye, The Fugard Theatre se produksie van The Mother), is veteraan-teater op sy beste.

Hoe hulle met die teks omgaan, dat jy vir die duur van die produksie in hul wêreld en debatte verlore raak, kort-kort in jou kop wil deelneem aan die gesprek tussen hulle, is ware teater-vreugde. Behalwe dat John Kani Apartheid eerstehands e rvaar het en daarom met soveel insig daaroor kan skryf, is hy ’n uitstaande akteur en bring hy nie net jare se teaterervaring na die verhoog nie, maar ook lewensperspektief. Hy sê op een plek vir Jack dat “witmense vir Mandela gestem het om beskerming teen swartmense te verkry. Swartmense het vir Mandela gestem vir ’n beter lewe. Jy het jou beskerming gekry, maar ek het nie my beter lewe gekry nie”.

Sy verhaal is een van verlore geleenthede; sy drome om dokter te word, is destyds in die wiele gery deur die opstande en beperkinge van Apartheid. Jack se ervaring van dieselfde tydperk in ons geskiedenis was meer een van “goeie tye” en op daardie twee uiteenlopende, maar gedeelde geskiedenis, word hul aweregse vriendskap gebou.

Die stuk is beide teatergenot - om veterane met hul skerp instink en ondervinding te sien omgaan -  sowel as tyd vir oordenking en introspeksie. Die kruisie wat jy op 8 Mei getrek het kry nuwe betekenis en die besef van daardie kruisie se mag, word weer beklemtoon.

  • Die toneelstuk het sy wêreldpremiere by die Royal Shakespeare Company (RSC) se Swan-teater in Stratford-upon-Avon in Engeland gehad. Kunene and the King is ’n ko-produksie tussen RSC en die Fugard.

Kunene and the King

Met John Kani, Antony Sher

Deur: John Kani

Regie: Janice Honeyman

Musikant op die verhoog: Lungiswa Plaatjies

Produksieontwerp: Birrie le Roux

Die Fugardteater, Harringtonstraat, Kaapstad.

Tot 25 Mei 2019

Kaartjies aanlyn by www.thefugard.com of by die Fugardteater se kaartjieskantoor by 021 461 4554.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top