Meertaligheid op lughawens

  • 1

Die hantering van taaldiversiteit, by name die kwessie van Afrikaans, in munisipaliteite en op lughawens in die Wes-Kaap geniet tans die ernstige aandag van die Wes-Kaapse regering. Die leier van die DA in die Wes-Kaap, dr. Ivan Meyer, het by sekere munisipaliteite onder sy beheer dit duidelik gemaak dat dit onaanvaarbaar is om byvoorbeeld eentalige webwerwe in stand te hou en nie die taal van die meerderheid van inwoners in ag te neem nie. Hy het ‘n oudit ingestel ten opsigte van al die webwerwe van munisipaliteite met verwysing na die gebruik van drie amptelike tale in die Provinsie. Die stappe is geneem nadat die Afrikaanse Taalraad in onderhandelings met die DA-regering en in ‘n skrywe aan die premier en leier van die DA, me. Helen Zille, beswaar gemaak het teen die toenemende eentaligheid (slegs Engels) op amptelike vlak in die Wes-Kaap, het die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad, prof. Jacques van der Elst, gesê.

Die Taalraad het ook ernstig kapsie gemaak teen eentaligheid op die Kaapse lughawens (Kaapstad en George) en op die Kaapse stasie. Vir toeriste is die eerste kennismaking met ‘n land die belangrikste. Die eerste indruk wat tans gewek word, is tans dat Engels die enigste taal in die land is. Oorweging word nou daaraan geskenk om op die terrein van die Kaapse lughawe verwelkomingsborde in Afrikaans, Engels en isiXhosa aan te bring. Die ATR verwelkom die uitnodiging van die bestuur van die lughawe om oor taaldiversiteit op die lughawe in gesprek te tree.. Dr. Meyer het versoek dat elektroniese borde op die Kaapse lughawe aangebring word waar reisigers in elf amptelike tale verwelkom word.

In ‘n amptelike skrywe van die DA aan die ATR is aan die Taalraad die versekering gegee dat dr. Meyer in sy hoedanigheid as Minister van Kultuursake en Sport in die Wes-Kaap alles in sy vermoë sal doen om Afrikaans binne die konteks van taaldiversiteit te bevorder.

Prof. Jacques van der Elst
Uitvoerende Hoof
Afrikaanse Taalraad
012 9972647

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Stappe word gedoen en nie geneem nie. Dit moet nie net gaan om watter talle gebruik word nie, maar ook watter voorrang hulle geniet. In die Kaapse metropool is die rangorde: Engels, Xhosa, Afrikaans. Dit is onaanvaarbaar omdat die meeste belastinggeld van Afrikaanssprekendes kom.
    Johannes Comestor

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top