Mediavrystelling: Skryf in vir die tweede AVBOB Poësieprojek

  • 2

Toe die AVBOB Poësieprojek op Mandeladag 2017 aangekondig is, was die hoop – weliswaar nederig en eksperimenteel – dat die aanlyn poësiekompetisie ’n belangrike sosiale hulpbron vir alle Suid-Afrikaners sou word. Die doelstelling van die kompetisie, wat geïnspireer is deur die dood van ’n tweejarige kind, was om ’n verbruikersinsig – miskien eerder ’n verbruikerstragedie – aan te spreek wat AVBOB, as ’n begrafnisverskaffer, daagliks ervaar: verlies en smart wat letterlik te groot is vir woorde. Een van die eerste dinge wat agtergeblewenes dikwels vir AVBOB vra, is hulp met die opstel van begrafnisbriewe en -pamflette. Wanneer dit gebeur, is gewone woorde ontoereikend. ’n Nuwe taal – ’n taal van die hart – is nodig. ’n Taal wat by uitstek gestalte vind in poësie – die volmaakte medium vir die uitdrukking van verlies.

Die kompetisie was oop vir alle Suid-Afrikaners, in al 11 ampstale, met die hoop dat amateur- sowel as gevestigde digters na vore sou kom met elegiese gedigte om woorde van troos te bring aan die mense wat dit die nodigste het. Dit was die mikpunt; die eindresultaat het die grootste verwagtinge van almal wat by die projek betrokke was, oortref: 20 774 inskrywings is in jaar 1 van die kompetisie ontvang.

Uit dié totaal is 3 108 vir publikasie op die projekwebwerf aanvaar, en hieruit is die eerste en tweede wengedigte per taal – dus 22 – in ’n gedrukte bloemlesing gepubliseer. Die bloemlesing het altesaam 100 gedigte bevat, aangesien nog 77 gedigte deur van Suid-Afrika se mees gevierde digters, in al 11 tale, in opdrag geskryf is en die 100ste gedig, in ’n volgehoue strewe na algehele inklusiwiteit en as deel van AVBOB se eeufeesviering in 2018,  in die N|uu-taal verskyn het, getranskribeer uit die woorde van een van die laaste oorlewende sprekers van die taal, Ouma Katriena Esau.

Een van die mees verstommende aspekte van die projek was die ontdekking van ’n florerende gemeenskap van digters regoor Suid-Afrika wat deur die aanlyn poësieportaal in staat gestel is om met mekaar in verbinding te tree. Kommentaar in die sosiale-media-ruimte spreek van enorme dankbaarheid en verligting omtrent dié sonderlinge geleentheid om hul laste, sowel as hul kuns, te deel. In samehang hiermee was die toenemende beroep dat die kompetisie ’n jaarlikse instelling word. Ondersteuning van vername literêre figure, onder meer die digter Chris van Wyk en die Nobelpryswenner JM Coetzee, het ingestroom en die projek het plaaslike toekennings ingepalm en selfs internasionale aandag getrek, danksy ’n nominasie deur Media & Marketing (M&M) Global Awards. Alles het daarop begin dui dat poësie uiteindelik ’n lewendige en veilige hawe, en tuiste, in Suid-Afrika gevind het.

Op 1 Augustus 2018 is die tweede jaar van die kompetisie aangekondig, en die resultate is reeds verstommend:

  • Registrasies van nuwe digters in maand 1 van die kompetisie is 15% hoër in 2018 as in 2017.
  • Die totale aantal geregistreerde digters staan tans op 7 756.
  • Die aantal gedigte wat in maand 1 van 2018 ingeskryf is, is 158% hoër as in 2017.
  • 787 gedigte is reeds aanvaar vir publikasie op die portaal in maand 1 van 2018 (dit is reeds 25% van die totale aantal gedigte wat in 2017 gepubliseer is).
  • Die aanvaardingspersentasie van gedigte was altesaam 15% in 2017 en het in maand 1 van 2017 reeds op 20% gestaan.
  • Die persentasie van nie-Engelse gedigte vir 2017 was 49%. Vir maand 1 van 2018 het hierdie persentasie gestyg tot 58%, met inskrywings in Tshivenda wat die grootste proporsionele styging getoon het.
  • Die oudste digter wat ’n gedig vir die 2018-kompetisie ingeskryf het, is 85 jaar oud.
  • Die jongste digter wat ’n gedig vir die 2018-kompetisie ingeskryf het, is 11 jaar oud.
  • Die oudste gepubliseerde digter vir die 2018-kompetisie is 76 jaar oud.
  • Die jongste gepubliseerde digter vir die 2018-kompetisie is 16 jaar oud.
  • 51% van digters wat vanjaar ingeskryf het, val in die 20–29-ouderdomsgroep.
  • 66% van alle inskrywings vanjaar kom uit Gauteng, KZN en die Wes-Kaap.

Maar soos altyd is dit die stories agter die statistiek – die mense agter die gedigte – wat die meeste saak maak – soos die digters wat hul lof aanlyn betuig het vir die projek se inklusiwiteit: “Dit is ongelooflike nuus dat een van Suid-Afrika se eerstenasietale, Khoekhoe [by die bloemlesing] ingesluit is. Kai gangans, oftewel dankie AVBOB vir jul erkenning van ons Khoe-mense.”

Of die digter wat geskryf het: “Dit beteken dat ek myself vryelik, vloeiend en vlot kan uitdruk.” Of die digters wat gebaat het by die projek se Facebook-blad, waar sensitiewe leiding rondom die vakmanskap van poësie verskaf word: “Deur die AVBOB Poësieprojek het ek my skryfvaardighede verbeter. Ek dink hierdie projek behoort permanent te bestaan. Ek soek so lank reeds na so ’n platform.”

Of die bemagtiging van verlede jaar se naaswenners wat vanjaar met nuwe entoesiasme brand om te dig. Soos Nonhlanhla Mbonani, ’n verpleegster, en die tweede-prys-isiNdebele-wenner in 2017: “AVBOB, ek het nie nog woorde om my dankbaarheid uit te spreek nie. God het ’n saad in my geplant wat so kragtig is dat ek nooit gedink het dit sal ooit groei nie, maar julle het dit met hierdie geleentheid gevorm en ingespan. Ek het gegroei en die kuns van skryf by julle geleer. As julle nie my lewe verander het nie, sou ek nie die lewens van ander deur die beweging van my poësie aanlyn kon verander nie.”

“Dit is geweldig bemoedigend om hierdie tipe terugvoering te kry,” sê AVBOB se bestuurshoof, Frik Rademan. “Ons voorneme was immers uit die staanspoor om troos te bring aan diegene wat dit die nodigste het, om ’n stem en ’n platform te gee aan dié wat dit nooit gehad het nie. Die beloning vir ons almal by AVBOB is die verwesenliking van die vervulling waarvoor ons gehoop het. En dis nie al nie. Die breër Poësieprojek is besig om sy vlerke te sprei. Met ons borgskap van die Schreiner Karoo Skrywersfees in Julie vanjaar, was ons verantwoordelik vir ’n reeks poësiewerkswinkels om geletterdheid in die streek te bevorder en te ontwikkel.”

Die fees se organiseerder, Lisa Ker, beskou AVBOB se borgskap as paradigmaverskuiwend: “Die steun van AVBOB se Poësieprojek het ons jeugprojekte in ’n nuwe rigting gestuur, en dit het die Skrywersfees in staat gestel om vanjaar ’n projek van stapel te stuur waardeur 60 leerders uit Cradock ’n hele dag saam met deskundige poësie-afrigters kon deurbring. Ons droom is om ’n boek in die hande van elke jongmens in die Karoo te plaas. Danksy AVBOB is ons nou baie nader aan die verwesenliking van hierdie droom. Die 60 Cradock-leerders is trouens uitgedaag om met die tema “Woorde van troos” te werk, in aansluiting by die projek se bevordering van die helende mag van woorde. Ná die werkwinkel het hulle hul gedigte aan ’n feesgehoor voorgedra.

Vir die gevierde en bekroonde skrywer Etienne van Heerden het die projek egter ’n selfs groter doel en betekenis: “Hierdie borgskap het die fees in staat gestel om die diversiteit van tale selfs nog verder te kweek en te koester. Dit het die fees se belegging in die ontwikkeling van jong skeppende talent in al ons gemeenskappe gestabiliseer, en aandag gefokus op die taalkundige diversiteit van die Oos-Kaapse Karoo wat so ’n simboliese en interessante streek is.”

Les bes was die aanlyn portaal weer eens ’n letterlik sprekende bewys van die organiese – en eksponensiële – groei van ’n gemeenskap van digters wat betrokke is, gretig om werk van die hoogste kaliber te lewer en vasberade is om die wyds moontlike gehoor te bereik. Laat die bemagtiging van ons digters ook die mense van Suid-Afrika bemagtig!

Die 2018 AVBOB Poësiekompetisie sluit op 30 November 2018. Besoek die projekwebwerf vir besonderhede.

 

Lees ook

I wish I'd said: ’n onderhoud met Johann de Lange

I wish I'd said: an interview with Mantoa Motinyane

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top